Uit die Beek 2019. Barend Vos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Uit die Beek 2019 - Barend Vos страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Uit die Beek 2019 - Barend Vos

Скачать книгу

Ek is by jou. Ag, en dan hierdie woorde wat geen Godskind genoeg kan hoor nie: “Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet …” (v. 4).

      Só is God. So was Hy van altyd af, en so sal Hy altyd wees. Hy is begaan oor sy handewerk, Hy waak jaloers oor die lewe wat Hy geskep het. Die Naam wat Hy aan sy seuns en dogters gegee het, laat Hom sonder ophou roep en soek, en verseker: Jy is Myne.

      ____________________

      Dit is my grootste trots, Here, dat ek u Naam dra. En my enigste troos dat ek aan U behoort.

      Maandag 14 JANUARIE 2019 Lees Psalm 106:1-12

      ’n Geskiedenisles

      Ons het gesondig, net soos ons voorvaders … (v. 6).

      Die hele lange Psalm 106 (48 verse lank) bied ’n oorsig van die Ou Israelvolk se geskiedenis. Al die groot en goeie dinge, al die minder groot en minder goeie tye word in herinnering geroep.

      Daar kom egter telkens iets by: Dit word ’n geskiedenisles met ’n verskil.

      ’n Vername verskil. Want die digter sien die Here in elke hoof­stuk van hierdie geskiedenis raak. Hy stip sy rol in elke episode aan. Ent-ent praat hy sommer met Hom. Sê hy dankie dat die Here nie sy voorouers behandel het soos hulle verdien het om behandel te word nie. Loof hy Hom vir sy redding uit ellendige situasies, ten spyte van die volk se halsstarrige verset. Uiteindelik, sê hy, het die volk die Here se beloftes geglo “en sy lof besing” (v. 12). Uiteindelik.

      Net in die daaropvolgende vers, egter, wat met ’n “maar” begin, hervat die siklus opnuut: die volk se skandelike gedrag teenoor die Here se liefde; die volk se ongeloof versus die Here se vergifnis. ’n Skynbaar nimmereindigende kringloop …

      Wie is dit tog wat gesê het ons leer net een les uit die geskie­denis en dit is dat ons nooit enigiets uit die geskiedenis leer nie? In Psalm 106 leer ons dit opnuut. Ook in ons eie mense se geskiedenis, én in ons persoonlike verhale. Ons storie met die Here lê mos besaai met ons verbreekte beloftes, ons krokodiltrane, ons gejammer en geasseblief, ons uitgesnikte ek-sal-dit-nooit-weer-doen-nie.

      En om die eerste hoek en draai doen ons weer wat ons wil. Sê ons wat in ons kop opkom. Dink ons soos ons nog altyd gedink het. Ontken ons dat ons aan die Here behoort.

      Ons leer nie.

      ____________________

      Here, tog! Keer my, maak my stil, moet my net nie los nie!

      Dinsdag 15 JANUARIE 2019 Lees Rigters 5:12-21

      Volkslied

      “Hou moed! Wees sterk!” (v. 21).

      Dit is jammer dat die meeste van ons nie die ou Bybelse Hebreeus magtig is nie. Dink net hoeveel ekstra plesier ons dan uit hierdie lied sou put! Nou moet ons tevrede wees met die verskillende vertalings daarvan. En dikwels is dit so onmusikaal, so poësieloos, dat ons bloot daardeur waad, dikwels worstel. Ag, en soms liefs verby­blaai na iets anders, iets meer opwindends. Minder name, minder on­bekende beelde.

      Dit sal jammer wees. Want selfs in sy vertaalde gedaante is hier­die rigterslied van Debora en Barak vol bemoediging, die ene troos. Bloot ’n vinnige kykie na die name in hierdie lied vertel ’n hele storie – een van dapperheid en heldemoed, maar ook van onbegryplike weifeling. Van mense wat bly wonder of hulle die regte ding doen, en sterre wat uit die hemel tot die stryd toetree.

      Ten slotte sou die vertellers sing-sing uitroep: Moenie moed ver­loor nie! Sou hulle vol oortuiging jubel: Moenie vergeet dat julle die Here se eiendom is nie!

      Mense soos ons – met ’n geskiedenis wat ook deur ’n ver­skei­den­heid halfvergete name bevolk word én deur ’n klomp oorvertelde heldedade wat deesdae al hoe onwaarskynliker klink – óns vermoed reeds dat die helfte ons nog nooit vertel is nie. Dat die waarheid iewers tussen die triomf en die twyfel verskuil lê. Dat die superhelde van weleer ook maar voete van klei gehad het, al is dit deur die jare in alle tale verswyg.

      Ons sal egter goed vaar, skeptisisme en al, om fyn te luister na die luidrugtige volksliedere wat in hierdie tyd aan ons opgedis word. Spits maar die ore, totdat jy iets van God hoor, van sy troos en sy triomf. Dit kan jy goed glo, en by daardie stukkie lied kan jy gerus inval.

      ____________________

      Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees – God regeer!

      Woensdag 16 JANUARIE 2019 Lees Numeri 27:1-11

      Vyf vroue

      Die dogters van Selofgad het na Moses toe gekom (v. 1).

      Dit moes sekerlik moed van hulle gevra het, dié vyf vroue uit die Manassestam. Want dit is eenvoudig nooit gedoen nie. Verbeel jou: vroue wat hulle by die leier aanmeld. Boonop eise stel. Só: “Gee vir ons grond …” (v. 4).

      Sien, Selofgad het nie seuns gehad nie. Nou is hy dood, en vol­gens die destydse tradisie was hierdie vroulike nakomelinge op niks geregtig nie. Wanneer Moses die grond in die beloofde land uitdeel, is dit vir die manne en die seuns. En as daar slegs dogters in die familie is, soos hier? Dan is dit nou maar jammer vir hulle …

      Dit is hierteen dat die dogters in verset kom – “voor Moses en die priester Eleasar en voor die leiers en die hele gemeente” (v. 2). Nie skroomvallig nie, nie met allerlei kniebuigings en verskonings en askies-dat-ons-lewe nie. Pront. Voor almal. Gee ons wat ons toekom, ons is nie tweedeklasmense nie.

      En Moses, sê die skrywer van die verhaal, het dié saak voor die Here gebring.

      En die Here? Hy is wat Hy is en Hy doen wat Hy doen. En Hy sê vir Moses: “Jy moet beslis vir hulle hulle eie grond … gee” (v. 7).

      Hierdie klein insident kan natuurlik ’n hele reeks gesprekke stimuleer: oor vroue en hul regte, oor dapperheid, oor die rol van grond in ’n gemeenskap. Vanselfsprekend ook oor leierskap – staat­kundig én godsdienstig. En, natuurlik, oor God.

      Altyd oor Hom. En wanneer ons met mekaar oor Hom praat, moet ons tog nie té seker van ons saak wees nie. Sodat ons gereed is om verras te word deur sy denke, juis ook in kwessies waaroor ons nooit onbevange dink nie.

      ____________________

      U gedagtes is nie ons gedagtes nie, Here. Vorm ons en maak ons net soos U dit goeddink.

      Donderdag 17 JANUARIE 2019 Lees Jeremia 3:1-5

      Onverklaarbaar

      … jy het geweier om jou te skaam. En nou noem jy My skielik: “My vader …” (v. 3-4).

      Die skrywer stel die Here aan die woord, die Een wat met trane in sy stem aan sy mense sê: “Jy het soos ’n hoer geen berou getoon nie …” (v. 3).

      Sterk woorde. ’n Hartgrondige verwyt. Hoekom doen julle dit, my volk? Hoe het dit dan gebeur dat julle jul liggaam aan die hoog­ste bieër verkoop? Kyk net wat het julle gedoen. Weet julle nie dat julle dit aan My gedoen het nie?

      En dit hou eenvoudig nie op nie! Intussen hou julle julle vroom, maak julle of daar niks verkeerd is nie. Beroep julle julle op die ou dae, op my trou in die verlede.

Скачать книгу