Anderman se vrou. Chris Karsten

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Anderman se vrou - Chris Karsten страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Anderman se vrou - Chris Karsten

Скачать книгу

wou hy die polisie op hulle spoor sit? Dit maak nie vir haar sin nie. Wim wat skielik ná al die jare ou vriende en ou kollegas in die rug wil steek, Jack se moorde gebruik om háár te probeer frame om Simon by te kom? Nee, daar moet ’n ander verklaring wees en sy is seker dat Simon, soos altyd, weer goed vir haar wegsteek. Dit was mos kastig daardie wet op ampsgeheime wat hulle verbied het om selfs met hulle eie vrouens oor hulle werk by Bon Accord te gesels. Simon praat nou nog nie daaroor nie. En Mira het oor dieselfde ding gekla, gesê dis hoekom sy Wim gelos het, oor sy geheime werkslewe.

      Sy staan langs die bed en kyk na hom af. “Dink jy regtig ek’s so naïef, Simon?”

      Ook die moord op die gewese minister was groot nuus, nadat hy nog so ewe skynheilig die voete gaan was het van daardie vroue in Bonteheuwel. Die einste een wat destyds alles gaan staan en oopkrap het met sy gebiegtery voor die aartsbiskop. Meer lieg as bieg, vermoed sy.

      “Wat is die eintlike rede hoekom jy besluit het om te vlug? Het die polisie nuwe leidrade gekry ná die minister se dood, oor daardie geknoeiery in julle geheimsinnige laboratorium?”

      “Ons het goeie werk daar gedoen, Rachel, daar was géén getuienis oor onwettighede nie, die koerante het liegstories die wêreld ingestuur. Ingeligte bronne. Dis mos wat hulle sê as hulle goed uit die duim suig.”

      Sy beduie. “Het jy gesien, daar op my bedkas?”

      Hy leun oor na haar kant toe en bestudeer die kennisgewing, gerig aan: Simon Pope, Poste Restante, George Town, Grand Cayman.

      Sy gaan terug badkamer toe. “Wat’s dit?”

      “O,” sê hy, meteens ’n wip in sy stem, “dis my messe, uiteindelik aangekom, gedog ek sien hulle nie weer nie.”

      SERGE

      Augustus 2006

      Montreal, Quebec, Kanada

      Die prosessering van sy vrylating duur nie lank nie, al die papierwerk is vooraf afgehandel, nou teken hy net die laaste paar vorms en kry afskrifte. Daarna word hy na ’n toonbank begelei waar ’n amptenaar ’n deurtjie van pleksiglas tussen tralies oopskuif, en ’n bevel na hom blaf oor die boks wat hy na hom uitstoot. Hy druk die bril teen sy neus op, vee sy lang hare van sy wang weg, vou die flappe oop, beskou emosieloos die paar persoonlike besittings wat twaalf jaar vir hom bewaar is, knik, en teken vir ontvangs van die boks se inhoud.

      “Geniet jou dag … sien jou oor ’n paar maande weer,” sê die siniese amptenaar en klap die deurtjie toe.

      “Fok jou ook,” brom Aimé Simard met die boks onder die arm. Sy jeans, T-hemp en windjekker is vroeër die oggend uit dieselfde bewaarplek gehaal en in sy sel vir hom gegee. Ook sy ou tekkies en keps. Die jekker en hemp span om sy skouers, die jeans om sy heupe en bobene, van twaalf jaar met gewigte speel in die tronk se gimnasium.

      “Kom iemand jou haal?” vra sy wag in die lang gang af, hulle deurtog deur die lense van CCTV-kameras en bewegingsensors gevolg, en elektroniese hekke wat outomaties vir hulle oop- en toeskuif.

      Hy brom net in sy digte baard, sy oë donker en intens agter die bril.

      Uiteindelik die voordeur van die admingebou, die deur na vryheid. Die slot klik, dié een trek die wag self oop.

      ’n Koue vlaag tref hom. Simard ril effens, trek die jekker se rits hoër op en stap uit, vul die longe in sy groot borskas met die vars, vry lug, kyk op na die enkele wolkies, swewend deur die blou.

      ’n Kar kom aangery en hou by hom stil. Hy ignoreer dit en asem eers sy vryheid in, laat dwaal sy oë soos ’n voël in vlug, oor woude en riviere en gholfbane en fabrieke en woonhuise waar mense hulle daaglikse lewe bedryf het terwyl hy al die jare agter hierdie hoë mure en hekke en tralies gekluister was.

      Nou eers kyk hy na die kar, ’n gewone wit Chevrolet Impala, ouerige model. Die agterdeur word van binne oopgestoot en hy klim in, sit sy boks langs hom op die sitplek. Geen groetery nie. Die swyende bestuurder trek weg en sy swyende metgesel maak sy venster op ’n kier oop, asof hulle nuwe saamryer ’n reuk in die kar gebring het wat hom nie aanstaan nie. By die T-aansluiting uit die Archambault-tronkkompleks draai die Impala links in Boulevard Gibson, en ná ’n paar kilometer se stilte, regs op Roete 335 in die rigting van Montreal.

      Eers nou draai die voorste passasier skuins in sy sitplek en Simard kyk na hom, na die borselkop, die snor, die pokkerige letsels wat die wange, ken en nek bestippel. Hy sou die senior amptenaar wees, die bestuurder die junior, maar hulle word nie aan hom voorgestel nie. Ook nie eintlik nodig nie, want Simard het ’n goeie spesmaas wie hulle is, nie hulle name nie, hulle werkgewer: Justisie.

      Pokgesig gee ’n dokumentetassie oor die sitplek agtertoe aan. Simard voel iets vets binne, rits dit oop en onder, tussen dokumente, lig hy ’n kleiner sak uit, trek die velcro-strook oop. Dit is styf geprop. Hy laat gly sy voorvinger oor die gebruikte note, skat so vyfduisend dollar.

      Hy frons. “Is dit al?”

      “Voorin is ’n bankkaart. In jou nuwe bankrekening by BMO is nog vyf. Dis genoeg. Ons is nie Krismisvader nie.”

      Hy trek die eerste dokument uit met die mashoof van die Banque de Montréal, ’n uitdruk van ’n bankstaat wat die bedrag van vyfduisend dollar bevestig in ’n spaarrekening in die naam van Serge Baribeau, Fayette 9, Rue Goupil, Longueuil.

      Die tweede dokument is ’n lywige een van die Ministère de la Justice. Dit gee in Frans ’n gedetailleerde uiteensetting van Serge Baribeau se status en verpligtinge as “kollaborateur van justisie”, en die voorwaardes van sy opname in Quebec se getuiebeskermingsprogram, onderteken deur Sabin Lemieux, Procureur en chef, Directeur des Poursuites Criminelles et Pénales.

      ’n Dokument van tien bladsye het ’n opskrif wat sê dit bevat Serge Baribeau se werksgeskiedenis, resente persoonlike omstandighede en agtergrond, en volledige biografie met familiegeskiedenis tot twee voorgeslagte her. Natuurlik sonder vermelding van enige tronkstraf, daarvan is hy seker. Serge Baribeau is so rein soos ’n fokken baba. Hy druk dit in die sak terug. Dié inligting oor wie hy nou is en waar hy vandaan kom, sal hy later rustig inneem.

      Nog ’n dokument het die mashoof van die Gouvernement du Canada, met aangeheg ’n nuwe SIN-kaart vir Serge Baribeau wat die “verlore” een vervang; sonder dié Social Insurance Number bestaan jy nie.

      Ander dokumente bevat Serge Baribeau se huurkontrak vir die woonstel in Longueuil, ’n Quebec-rybewys met baardlose gesigfoto wat nog geneem is vir sy tronk-ID, en aanstellingsbrief by Service Canadien de la Faune. Hierdie brief amuseer hom. Dit bevestig sy nuwe plek van werk, sy toesighouer, wanneer hy hom moet aanmeld vir diens, sy werksure, en sy loon van $12 per uur.

      “Ek werk nou vir Wildlewe?”

      “Op Couvée-eiland, ja,” sê Pokgesig.

      “Maar is dit nie ’n voëlreservaat nie?”

      “Vir migrasievoëls. Bestudeer vanaand al jou dokumente, alle agtergrond is daarin.”

      Hy loer na die kort beskrywing van sy nuwe werkplek. Die reservaat is in 1986 begin spesifiek om die neste en eiers van ringbekmeeue te beskerm. In 1994 was daar glo nog dertigduisend pare, vanjaar is skaars negehonderd getel. “Wat word van hulle?” wonder hy hardop.

      “’n Familie rooijakkalse se skuld,” sê Pokgesig. “Jou nuwe werkgewer sal jou presies inlig

Скачать книгу