Anderman se vrou. Chris Karsten

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Anderman se vrou - Chris Karsten страница 8

Автор:
Серия:
Издательство:
Anderman se vrou - Chris Karsten

Скачать книгу

bedoel Pope.

      Die ander.

      Lionel Booyse, Sella Janeker, Alexandro Fransman, Rosemary Sonto, Melville Miggels.

      Die polisie het miskien nie bewyse nie, maar Simon Pope is so skuldig as die duiwel self. En hy is maar net een van so baie wat aanspreeklik was vir gruwels in daai ellendige jare. Om die woedende massas teen te werk en te ondermyn was daar geen tekort aan applikante nie. Vir hulle, ook vir dié by Bon Accord, was dit ’n byna gesalfde roeping, ’n oproep met beuel en ramshoring tot hoër diens, om die godgewyde poorte teen die gepeupel te gaan bewaak. Maar ek deel Portis se sentimente oor Simon as marionetspeler. Ten minste is Simon van vlees en bloed, nie een van die baie ander gesigloses wat so meedoënloos en ongenadig die bloedige toutjies agter die skerms getrek het nie. En ná die intuimeling van die mure het hulle handewringend gaan bieg en lieg, selfs voete gaan was, of andersins die vaseline aangesmeer om o so skaamteloos en skynheilig in die einste eertyds vyandige holle in te glip.

      En Simon het van die radar verdwyn, daar in sy en Ben se nuwe laboratorium waar hy gesig- en naamloos biologiemonsters toets en diagnoseer.

      Portis pak die koppies op die skinkbord terug. “Busi wil weet of jy lus is vir pap en wors vanaand?”

      “Sê vir haar sy weet mos ek’s altyd lus vir pap en wors. Eet jy saam, of by –”

      “Ek eet saam. En ry môre vroeg Kaap toe … as dit oukei is.”

      “Dis oukei.” Arme Marsie. Sterk teenstand van Vanessa van die Kaap. Vanessa Sonto, suster van vermiste Rosemary. En ek voel-voel na my selfoon. Tyd dat ek weer bietjie nader aan Molly Onkers beweeg, met dié dat Mira al hoe verder van my af wegbeweeg.

      BERNIE

      Augustus 2006

      Montreal

      Bernie Noble se malers is vrot en die korsies hard. Maar dit is ’n lot wat hy lankal aanvaar het; hoe keer mens dan die loop van Gods water? Al besef hy alte goed dat dié houding nog sy dood gaan beteken. Want soms saans op sy armlastige katel kry hy die gevoel dat ’n voorbode hom iewers uit ’n donker hoek staan en betrag en kopskuddend die sekondes na sy sielsverhuising aftel. Dan dink Bernie: Wat de moer … álmal moet die een of ander tyd omkap, vet, maer, ryk, arm. Die verskil is, die rykes sterf in die arms van fariseërs, ten minste gaan hý in sy eie eerlike arms sterf. Tot dan is sy lewe eenvoudig – bedags is sy boerplek die Jean Talon-mark in Little Italy, sy lêplek snags in Chez Saint-Lambert, ’n skuiling vir haweloses so halfpad tussen die mark en die park.

      In slaapsaal B waar ’n katel met matras van klapperhaar aan hom toegewys is, is sy een buurman hardhorend (of maak of hy is), die ander een praat in tale. Tipies. Deel van sy miserabele toeval; die geluksgodin wat nogeens haar dik gat vir hom wys. Maar Larry en Claude het nie ’n keuse as om saans na hom te luister nie, hulle gaan nêrens heen nie, hulle is, soos hy, vasgevang in hulle eie ellende. Larry lyk na ’n seningrige klein otter, taai en glad gehaar, gemene ogies te na aan die neus, skerp tandjies wanneer die punt van sy rooi tong sy skurwe dun lippe benat. Sê nie boe of ba nie. Maar dit skeel Bernie min. Dit lyk darem of Claude soms probeer luister. Maar dan lag hy en begin chant en laat spat mistiese plofklanke saam met kwylsproei uit sy mond, en Bernie dink: Dis ook oukei, dis nie eintlik gespreksgenote wat ek soek nie, net luisteraars, ek het goed in my wat moet uit.

      Hy vertel van sy dag by die Talon-mark. En hy vertel hoe hy in beter dae nooit ’n bofbalwedstryd van die Montreal Expos in Jarry-park gemis het nie. Voor hy dakloos, kosloos en familieloos geword en die Expos uitgewyk het States toe, glo nou die Washington Nationals genoem. Hulle moere ook! sê hy driftig vir Larry en Claude. Ook destyds twee voetbalwedstryde in Jarry gaan kyk – Patriots teen die … teen die … wag, wag, op die punt van die tong. Dis die swaarkry, sê hy, dalk bietjie wyn en whiskey ook, wat die geheue so stomp maak. Larry se ogies beloer hom en Claude lag. Die ander wedstryd was die Giants teen … Daar in die laat sestigs, g’n mens kan só ver terug onthou nie.

      Julle vra: Beter dae?

      Larry en Claude bekyk hom stom.

      Alles voor 1990 was beter dae! sê Bernie driftig. Sy slegte dae het in Desember 1990 begin. Nee, eintlik was dit in die aanloop tot die herfs al, September, Oktober se koers. In Desember was dit net die finale toneel van die laaste bedryf. Einde November het sy baas hom ingeroep, die hawemeester, hom die slegte nuus meegedeel en die afdankingsbrief gegee: Sorry, Bernie, dis ook nie vir my lekker nie, maar die druk kom van bo af, jy weet. Hulle sê ons was toegewend, ons het uit ons pad gegaan om jou te probeer help. Jy’t baie kanse gehad. Nou’s die einde van die pad bereik. Jy weet jy’t ’n probleem, nè? My raad is gaan weer rehab toe, kry weer hulp, dringend. Hou oud is jy … veertig? Gaan droog uit, jy sal weer werk kry, dis nie te laat nie.

      Vir Doris sê hy niks. Te skaam. Sê hy vat sy af dae in Desember, is in die nuwe jaar terug by die werk. Gaan aan’t suipe. Boxing Day kry Doris die brief onder sy kouse, skop sy besope gat by die huis uit, smyt die koffertjie met klere agterna: En moenie terugkom nie, ek het genoeg gehad! Vat jou nie weer terug nie!

      Doris …

      Skoert!

      Dit is waar sý afdraand begin het. Maak die tas oop, inspekteer die inhoud, loop met die tas na die naaste drinkplek, tot hy ook daar uitgemoer word, slinger stasie toe, vir ’n trein na Sherbrooke, sy suster sal tog nie haar broer op straat wil sien nie. Bel haar van die tiekieboks. Nee, sê sy, hy kan nie kom nie, hy’s ’n slegte voorbeeld vir haar kinders, gaan droog eers uit, dalk kan ons dán iets uitwerk. Natuurlik was dit Doris wat haar gebel en gewaarsku het.

      In Montreal, dwalend deur ysige winterstrate, kry hy snags slaapplek en sop met ’n paar snye brood by die Old Brewery Mission. Sluip op Nuwejaarsdag terug huis toe, verlang na Jenny en Henry. Verlang na Doris. Verlang na sy huis, sy bed, sy vorige lewe. Het nie ’n sleutel nie. Klop. Doris maak die deur oop, sê niks, druk die stuk papier teen sy bors, klap die deur in sy gesig toe.

      Hy gaan sit op die trap en vou die papier oop. Beskermingsbevel. Mag nie binne honderd meter van die huis kom nie, mag nie binne honderd meter van Doris of die kinders kom nie. Trek die halfbottel Jack Daniels uit sy jas se sak, skroef die prop af.

      Cheers!

      Dit is 1 Januarie 1991.

      RACHEL

      Augustus 2006

      George Town

      Liewe Lea

      Voor ek enige woord verder skryf, wil ek eers dadelik sê: Jammer, jammer, ek is só jammer, Sus! Wat ek aan jou gedoen het, is onvergeeflik, maar wanneer jy klaar gelees het, hoop ek jy sal beter begryp en my nie te hard oordeel nie. Dalk laat jou hart selfs vergifnis toe.

      Hierdie brief is sonder S se wete en teen sy uitdruklike opdrag, maar langer kon ek nie stilbly nie, want ek en jy’t tog nooit iets vir mekaar weggesteek het. Het ons nie selfs ons persoonlikste en intiemste brokkies met mekaar gedeel nie?

      Ek weet ek het nou daardie vertroue op die ergste moontlike manier geskend en ek sukkel om my in te dink in jou skok en hartseer oor my kastige “dood”. Watse soort mens doen só iets aan ’n geliefde suster? Daarom is verskonings die laaste ding wat ek wil aanbied. Jy verdien die waarheid en ek hoop jy sal dan besef hoekom dit die beste is dat ons moes verdwyn het en hoe min beheer ek oor alles gehad het. Dit het so skielik gebeur en is vir my net so moeilik om te verwerk.

      Soos

Скачать книгу