Louisa du Toit Omnibus 5. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 5 - Louisa du Toit страница 16
Sy is al etlike weke by hulle, en maak onder protes ’n bydrae tot die huishouding, soos sy by haar ma-hulle ook gedoen het. Sy het alles anders beplan. Sy wou net een of twee nagte daar slaap, totdat sy ander plek gevind het. So ’n warme ontvangs was sy nie te wagte nie. Die ouers sê sy het lewe in die huis gebring. Hulle wil nie hê sy moet weggaan nie. Saam met Johnny, skimp hulle in die rigting van ’n trouery.
Soms sien sy geen ander logiese uitweg nie. Dit is asof alle paaie vir haar saamgeloop het tot by hierdie punt. Saans, wanneer hulle saam gesels en skerts, voel sy ontspanne, tuis. Sy het dit tog nie teen eenvoud nie, besluit sy dan. Sy het dit teen eenvoudigheid. Teen verarming, eerder as teen armoede. Om stap vir stap terug te gly sonder dat jy dit agterkom. Sy voel bevry toe sy eers tot hierdie besef gekom het.
Dis of Johnny sagter van voorkoms geword het. So nie, versorg hy hom net beter noudat Elna pal in die huis is. Hy het bely dat hy klere nodig het, maar dom is met die aankoop daarvan. Sy het saam stad toe gegaan en hom ’n keuse help maak. Daarin lyk hy skoon anders, beide in die dienlike werksklere en die goed passende klere vir ontspanning. Sy hare is goed gesny by ’n regte haarkapper, waar sy pa dit maar voorheen “reggevat” het. Dit groei langer uit en krul effens.
’n Huwelik tussen ons kan heel goed uitwerk, besluit sy male sonder tal. Hy het al die potensiaal in hom, en dit geld nie net voorkoms nie. As hy ’n vrou kan kry wat ’n bietjie sterker as hy staan. Soms ry hulle rond en kyk na huise in die beter buurte. Met twee inkomstes sal hulle kan bekostig om te koop.
Dan, dikwels, kom die insinking. In die grys voordagmôre hoor sy die wekker lui in sy kamer verderaan, en sy hoor hom opstaan en regmaak vir sy skofwerk. Sy hoor hom die garagedeur oopstoot en sy fiets uithaal, want hy spaar graag sy motor. Dan dink sy: dit kon net sowel my pa gewees het, of Boet.
Nee, dink sy dan, en draai onrustig om in haar geleende bed. Nee, nee. Daar is ’n ander lewe. Met ’n man wat saans inkom met ’n tas in sy hand, wat soggens uittrek met die swaard van sy brein en iets, enigiets saam met haar belewe wat nie bloot om bestaansnood gaan nie.
Christopher, dink Elna as sy die knoppie druk en wag op die hyserdeur wat sal oopgaan om haar ondertoe te voer. Sy sal haar moet roer om betyds by die bushalte te kom. Sy het haar tyd tot op sekondes leer uitwerk.
Christopher Ligthart het vanmiddag teen haar verbygery, en saam met hom in die motor was ’n poel van stilte en opwinding; in die glimlag om sy mond was ’n wêreld van kultuur en diepte.
Maar die bees het my daardie aand laat voel of ek optelgoed is, onthou sy met ’n ruk in haar asem wanneer die hyserdeure agter haar toegly. Sy vind haar weerkaatsing in die wandspieël asof vanuit ’n ander wêreld, kyk bevreemd.
Ek lyk tog … ek lyk soos een van hulle, vereenselwig sy haar ademloos met die gesiglose massa wat beter daaraan toe is as sy. Ek kon net sowel ’n klasmaat van Christopher gewees het, wat met ’n tas in die hand sorgeloos aansuiker en skertsend gesels oor Plato en die Renaissance, Picasso en bloedplasma.
Sy kyk op haar horlosie en versnel haar pas. Johnny wou haar op- en aflaai, maar sy het daarteen vasgeskop. Dit sou beteken dat hy sy goed opgepaste en uitgespaarde kar elke dag moet gebruik. Dis opsigtelik ’n ou model, hoewel nie oud genoeg om klassiek te wees nie. Ironies, hoe waardes kan verskil. Sy, wat eintlik nooit iets beters geken het nie, wil uitsoek. Arme Johnny – hy wou hierdie offer vir haar bring.
Sy hoor by Johnny dat Boet getroud is. Sy wil nie eers weet met wie nie. Die een of ander tyd sal sy wel uitvind. Die een of ander tyd, ja, wanneer sy ook sal gaan uitvind hoe dit met haar ma gesteld is. En ’n geldjie sal gee. Net nie dadelik nie. Wat dit betref, is die huis van die Ponters ’n oase. Daar is ten minste altyd netheid, gepaard met die deurwintering van gelowige lewens en naastediens.
Elna blik vinnig op haar horlosie toe sy op die sypaadjie voor die gebou staan. Nou is die vergalste verkeerslig ook nog teen haar. As sy nie binne drie minute …
Haar gedagtes word summier onderbreek toe ’n motor langs haar teen die randsteen optrek. Een blik oortuig haar dat dit vir haar is dat hy stilgehou het.
Onmoontlik, is haar eerste gedagte. Dis tog onmoontlik dat sy en Christopher mekaar twee keer op ’n gewone dag raakloop. Die waarheid registreer feitlik net so onmiddellik by haar: toe hy haar vanmiddag sien loop, langs ’n ander man nogal, het hy weer van haar onthou. Soos ’n onderbroke gedagte wat jy voortsit wanneer dit vir jou geleë is. Hy het spesiaal vanmiddag weer gery, weer vir haar uitgekyk, spesiaal gewag. Dalk is sy manlike kompetisiedrang wakker geskud.
“Kan ek jou oplaai?” vra hy beleef. Dan, as sy huiwer: “Dit sal veilig wees, ja. Is dit wat jy wou vra?”
“Nee. Maar dankie vir die versekering, in elk geval.”
Toe sy langs hom sit, besef sy hoe futiel die oplaai is. Waarheen sal sy hom laat ry? Dalk ry hy met haar na haar ma-hulle toe.
“Ek bly nou op ’n ander plek,” sê sy gedemp toe hy wegtrek.
“Ek weet.” Hy kyk nie na haar nie.
“O?”
“Ja, my ma het my gesê. Sy was daar, het toe by Malie gehoor.”
Elna voel na kreun. Hoe sou Malie dit tog meegedeel het?
“Maar ek neem jou nie dadelik soontoe nie. Of verwag hulle jou op ’n sekere tyd?”
Hulle … wat bedoel hy? Wat het Malie nog alles vertel? Verseker dat sy, Elna, “by haar kêrel” bly. Dit klink na ’n yslike stigma as ’n mens nie alles weet nie.
Sy vra nie waarheen hy ry nie. ’n Vreemde willoosheid het haar oorweldig, asof sy net op hierdie klein, gekoesterde kolletjie wil sit en sit. Laat hom maar die leiding neem. Laat iemand net een keer die besluite neem sonder dat sy deur skemer hoef te struikel. Instinktief weet sy dat hy van voorneme is om sy hande ten alle koste tuis te hou.
Vanmiddag vertrou sy hom. Sy voel ’n gees van goedgesindheid by hom aan, van beskerming amper. Asof hy waarlik wil goedmaak en niks wil ontsien nie.
“Sal dit jou pas om vanaand by ons te eet, Elna? Jy kan jou mense daarvandaan bel. Het hulle ’n telefoon?”
“Ja, maar … ek weet nie …”
“Wat weet jy nie? Wat op die spyskaart is nie?” skerts hy, by wie ’n ligte toon nooit juis maklik kom nie.
“Jou ma verwag my nie, daarvan is ek seker.”
“Liewe land, jy sal nie sê ons is familie nie. Familie vat tog alles soos dit kom.”
“Ek weet nie, Christopher, ek en jou ma …”
“Dan wil ek net vir jou sê: my ma soek jou spesiaal om jou uit te nooi na die uwe se verjaardag. Dis hoekom sy by julle huis was.”
“Jy gee my eintlik nie ’n keuse nie. Baie dankie, dan. Maar laat ons net saggies op jou ma afklim, sodat sy haar nie doodskrik nie.”
“Goed. Deur die kombuisvenster?”
Sy lag, en hy dink daaraan hoe goed dit is dat sy saam met hom lag oor ’n brokkie lawwigheid. Hy dink daaraan hoe goed dit is dat die son skyn op mense, op strate, en