Louisa du Toit Omnibus 5. Louisa du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 5 - Louisa du Toit страница 17

Louisa du Toit Omnibus 5 - Louisa du Toit

Скачать книгу

moet net nie uitvind dat hy waarlik gespanne voel oor hulle aankoms tuis nie. Natuurlik vermoed Corlia niks. Natuurlik sal sy stomverbaas wees. As sy dit tog maar net nie wys nie.

      Hy het hierdie ganse middag doelloos rondgedool. Hy wou skryfbehoeftes in die stad koop, en het bewustelik sy pad gekies om voor haar werksgebou verby te ry. Dit was teen twee-uur, na die etebreuk. Dit doen hy meermale: om daardie spesifieke straat te kies. Tog kon hy nog nie voorheen daarin slaag om Elna raak te sien nie.

      En toe, vanmiddag. Hy sou impulsief langs haar kon stilhou, as die verkeer dit toegelaat het. En as sy nie in die geselskap van iemand anders was nie. ’n Man. Ouer as sy, met die kenmerkende grys slape en die snyerspak van die suksesvolle man.

      Dit, haar verskyning sowel as die geselskap waarin sy was, het hom dwalende gehou, die ganse middag. Hy het sy tyd omgetreusel tot skuins voor vyf, en toe vir Elna voor die gebou gaan wag.

      Nee, sy moenie uitvind dat die spanning soos ’n senuweekabel in hom loop ter wille van hulle aankoms by Sedersingel 16 nie.

      Sy moet hierdie uur van hulle saamwees ook goed vind.

      7

      Corlia Ligthart is geskool in die kuns om haar emosies te beheer. Sy het baie oefening daarin gehad, sedert die dae toe sy net Struisie Simons was. En al maak sy soms naïewe foute, soos met Elna ’n paar maande gelede, bedoel sy nooit werklik kwaad nie.

      Aldus roer sy geen ooglid toe Christopher met Elna Osman tuis aankom nie. Die verbasing in haar binneste maak haar ewenwel eintlik kortasem.

      “Dis ’n verrassing,” sê sy vriendelik en soen vir Elna, met ’n drukkie daarby.

      “Ek het haar in die stad raakgeloop, en toe daaraan gedink dat Ma haar nog wil uitnooi vir my verjaardag.”

      “Dit is dan nou sommer klaar gedoen,” sê Corlia. “Maar jy eet tog seker vanaand by ons?”

      “Ongenooide gaste hoort agter die deur,” gooi Elna wal.

      “Nee wat, dit geld nie vir familie nie. Dis so ’n mooi dag, ek het juis gedink ons eet vanaand sommer in die tuin.”

      “Mag ek net die telefoon gebruik, asseblief, tannie Corlia?” wil Elna weet.

      “In die portaal is een.”

      Corlia kan nie anders, wil ook nie, as om te hoor wat Elna oor die telefoon sê nie. Sy klink vriendelik en ontspanne teenoor die persoon aan die ander kant. “Tannie Ellen, julle moenie bekommerd wees nie, en moenie vir my vir ete wag nie. Ek kuier by my vriende, en ek sal sommer hier eet. Ekskuus? O … nee, ek kom die roksoom nog vanaand vir tannie afsteek. En oom John kan die dambord bêre vir môreaand, dan probeer ek hom ’n slag wen. Sê vir Johnny hy kan na ete maar na sy kamer toe, hy is seker pootuit. Ek en hy het gisteraand so laat sit en gesels, en ek het hom vanoggend vieruur al hoor ry.”

      Elna het met haar rug na die voordeur gestaan en praat. Toe sy die gehoorbuis terugplaas en omdraai, met ’n glimlaggie nog op haar gesig, sien sy vir Christopher in die wye, oop deur staan.

      “Ek het net gaan kyk of die tuinstoele skoon is,” maak hy verskoning, asof hy bang is dat hy van afluister verdink kan word.

      “Ja. Ek het net gebel om te sê hulle moenie vir my wag vir ete nie.”

      Net so asof ek en sy enige verantwoording hoegenaamd verskuldig is aan mekaar oor ons doen en late, dink Christopher. Nietemin lê die verligting in hom soos ’n groot koelte. Elna se woorde oor die telefoon het so spontaan gekom: “Ons het gisteraand so laat sit en gesels …” Al was dit dalk daarop gemik om die Ligtharts daarop te wys dat sy nie met haar kêrel ’n kamer deel nie, voel hy nogtans verlig. Hy hoop sy ma het dit ook gehoor. Sy dink mos Elna kan soos die ouer sussie wees.

      Klaas kom terug vanaf ’n laat byeenkoms. As hy verbaas is om vir Elna te sien, steek ook hy dit goed weg. Hy het haar trouens nog so min en so lank laas gesien, dat hy ’n oomblik lank twyfel of dit wel die dogter van Ossie Osman is. Hy tref haar aan voor die boekrakke in die biblioteek, by die afdeling vir klassieke werk. Sy staan met die Engelse vertaling van die Ilias van Homeros in die hand, en hou die boek dwars om van die kantaantekeninge in potlood te lees.

      Half skuldig slaan sy die boek toe terwyl sy groet, maar hy merk dat sy haar vinger nog by die plek hou waar sy laas gelees het.

      Hy soen haar lig op die mond. “Waar is die ander mense dan?”

      “Christopher het gaan stort, en tannie Corlia is in die kombuis besig. Ek wou haar help, maar sy het my uitgejaag.” Sy glimlag darem toe sy dit sê.

      “Dis ook reg. Jy trap nou regtig nie ons drumpel so deur dat ons jou sal laat werk as jy hier kom nie.” Hy dink aan die besoek van Ossie nou die aand, en wonder wat sy sal doen as sy weet dat hy hier kom geld leen het. Hy wat Klaas is, het dit wys gedink om maar ’n tjekkie te skryf. Kry hy dit nie terug nie, is dit tot daarnatoe. Hy het Corlia lief en voel in ’n sekere sin dat hy haar teen haarself moet beskerm, en dit sluit haar familie in.

      Elna se teenwoordigheid is ewenwel baie meer strelend en aangenaam as dié van haar pa. “Ek sien jy staan met daardie Ilias. Dis een van dié wat ek nog gekoop het toe daar skaars geld vir kos en klere was. Antikwaries, sommer by ’n boekverkoping op straat. Kyk net al die name van vorige eienaars.”

      “Dit het persoonlikheid.” Sy hou nog ’n beleefde toon voor, maar ’n sekere honger slaan deur in haar blik, die aanraking van haar hande, die toon van haar stem. “Ek het al so baie hiervan gehoor, maar nooit regtig geweet dat dit eintlik poësie is nie. Ek het gedink dis iets soos ’n lesing of vervelige letterkundige opstel.”

      “Letterlik beteken ‘Ilias’ eintlik ‘Gedig oor Ilion’, wat die hoofstad van Troje was.”

      “Natuurlik, Helena van Troje,” peins sy. “Dis mos Agamemnon wat die stad nege jaar lank beleër het om Helena, sy broer se vrou, terug te kry.”

      “Maar dan ken jy dit mos,” sê Klaas.

      “Ek onthou daardie stukkie van skool af. Maar ek het nie gewonder hoe en waar dit inpas nie.” Haar oë blink van ’n soort verwarring, ’n soort pret, ’n soort verwagting. Klaas Ligthart kyk na die bruin fluweel van haar sprekende oë, na die heuningkleurige vloed van die hare teen haar wange, en ’n verlange na die dogter wat hy nooit gehad het nie word in hom wakker. Wat ’n pragtige meisiekind. Hy het dit nooit besef nie. Dat sy uit so ’n huis kon kom … dit wys jou net. Sy het dieselfde bloed as Corlia in haar are. Corlia, ’n voortreflike vrou wat sterk genoeg was om haar agtergrond in boustene te omskep.

      Wat room is, moet boontoe kom. Maar eintlik hoef Elna nie “boontoe” te kom nie, sy is reeds bo, en dalk was sy dit van kleins af. Haar soeke is deel van haar bekoring. Vir hom is soeke altyd ’n teken van openheid, van toeganklik wees vir ander beskouings as jou eie.

      “Christopher het natuurlik net een kyk hierna gegee, toe besluit hy nee dankie. Wil jy die boek leen en huis toe neem?”

      Hoe fyn van aanvoeling sy is, blyk uit haar antwoord: “Dan liewer nie. Ek wil my nie slimmer as my geleerde nefie probeer hou nie. Ek sal sommer rondblaai en pik-pik lees.”

      “Dis jammer ’n mens kan dit nie in oorspronklike Grieks lees nie.”

      “Ja nè, dit sou … wel, Grieks wees.

Скачать книгу