Louisa du Toit Omnibus 5. Louisa du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 5 - Louisa du Toit страница 20

Louisa du Toit Omnibus 5 - Louisa du Toit

Скачать книгу

ontsluit te word.

      Haar swyes is sprekend, nie swaar soos Phoebe s’n nie. Ek en Phoebe is baie eenders, besluit hy. Te eenders. Ons sal die spreekwoordelike skepe word wat in nagtelike mis by mekaar verbyvaar.

      Twee eenderse pole.

      Hy het nou die aand met twee magnete sit en speel, opnuut bevestiging gevind daarvoor dat teenoorgestelde pole mekaar aantrek, eenderses mekaar wegstamp.

      En hy het gedink, baie gedink. Hy is ’n dinker, te onderskei van denker, want hy is geen groot filosoof nie. Wanneer sy gedagtes te diep wil delf in groot waarhede, onbegryplikhede, is dit of daar ’n barrikade verskyn, ’n versperring, wat hom terugneem na vlakker waters toe. Hy sal beslis nie eendag een van daardie gevierde huisdokters word wat, benewens medisynemeester, ook filosoof en algemene raadgewer en sielkundige vir die gesin is nie.

      As hy eendag in ’n algemene praktyk te staan kom, bygesê. Dis al asof daar ’n newelagtige gordyn tussen hom en sy toekomstige beroep hang. Wat doen ’n mens, wonder hy soms benoud, as jy by omdraai verby is en jy vermoed dat jy die verkeerde pad ingeslaan het? Selfs met sy pa durf hy nie daaroor praat nie. Klaas is ’n man met baie begrip, maar dis te veel gevra dat selfs hy sal verstaan hoedat iemand etlike lewensjare en baie geld kan verspil deur ’n onbesonne keuse van beroep. Hy is ’n man wat daarin glo om figuurlik gesproke ’n gebou klaar op te rig as jy getender het.

      Christopher se gedagtes wentel terug na Elna hier by hom in die motor. “Weet jy,” begin hy blindweg bieg voordat hy hom kan besin, “ek was ernstig netnou oor die studie. Ek sit nie alles in wat ek kan nie.”

      “Jy weet nie wat jy het nie.” Dit klink soos ’n vermaning, en nogal ’n taamlik gewigtige een.

      “My hart is nie daarin nie.” Noudat hy in enkele woorde die hele mandjie patats voor haar omgekeer het, is die poorte ontsluit. Hy praat, kies holderstebolder sy woorde soos wat dit lukraak op sy tong beland. “Almal het altyd maar aangeneem dat ek dokter sal word omdat dit my keuse sou wees. My ma, natuurlik, het ’n vleiende, romantiese prentjie van ’n geneesheer. So dink ek. Alle vrouens het. Hulle besef skynbaar nie dat dit een van die beroepe is wat die kwaaiste eise stel en die meeste sleur het nie. Baie bloed en derms. Jy kan net daarvan ’n sukses maak as jou hele hart daarin is. Dis glad nie soos in die boeke nie, weet jy?”

      “Ek kan nie sê nie. Ek lees nie romans oor dokters en nursies nie.”

      Die tweede vermaning, deksels. Die woorde rol heftiger oor sy tong noudat sy dit so koelerig ontvang. “Op ’n keer wou ek koerantman word, maar ek dink dis die gedagte aan die vreemde wat my betower het. ’n Korrespondent, iewers ver hiervandaan. Ek is nog altyd benou deur die gedagte aan ruimtelike gebondenheid.”

      “Wie nie?” sê Elna Osman nugter. “Wie voel nie soms hy moet ’n berg uitklim, maar sy bene word vasgehou nie?”

      “Jy ook?” strompel Christopher Ligthart deur die oerwoud van sy belydenisse. Hy, die dikwels swygsame, sit nou amper beskaamd by die besef dat hy sy woordevloed nie kan keer nie. Die volryp stilte van Elna het as ’t ware ’n sluis by hom oopgetrek en dit stroom, stroom uit sy diepste hart.

      “Weet jy, Elna, jy sal lag, maar weet jy wat het my oë oopgemaak? Dis televisie. Met programme soos lugvaart, vlieëniers. Dit voel vir my ek kan opspring en ‘Joeghoe!’ skreeu as die ouens so deur die lug skeer.”

      “Is dit nie ’n algemene seunsdroom nie? Ek vra maar, want ek weet nie.”

      “E … wat?” ’n Bondel opdrifsels het in die weg van sy woordestroom beland.

      “Ek sê, droom alle seuntjies, en dus mans ook, nie om ’n lugmagvlieënier te word nie? Iets om hulle bo die aardgebondenheid … en hulle maatjies, te verhef.”

      Hy hou stil, sommer iewers langs ’n straat, ontnugter. “Ek het tog gedink jy sal verstaan,” prewel hy gekneus. Die ou, broeiende ingekeerdheid slaan onmiddellik terug. Ook die gedagte dat sy werklik begryp, maar toneelspeel. Haar volgende woorde bevestig dit.

      “Waarom ek?” vra Elna met ’n nugterheid wat amper wreed aandoen. “Waarom moet ek begryp, as niemand ooit na my drome wou luister nie? Ek weier. Jy het geen aanspraak op my begrip nie. Nóg jy nóg enigiemand anders. Ek moes op my eentjie droom, en ophou droom. As daar iewers ’n stukkie droom oorgebly het, kan niemand daarvoor bedank word nie. Dit was dan maar net ’n baie taai en onvernietigbare droom.”

      “Soos wat?” Hy brand om te weet.

      “Vir my om te weet, en vir jou om uit te vind. Sal jy nou maar ry, Christopher. Jou meisie wag in die bib.”

      “Laat sy wag. Ek vat jou nie na daardie mense toe nie. Jy smyt jou naam weg, om sommer by die vent in te trek.”

      “Asof dit saak maak. Is ek dan nie maar net Malie se suster nie? En Makkie en Ossie se meisiekind? Boet se suster? Jy onthou mos tog dat hy ’n paar jaar terug sy enkel gebreek het toe hy vir die polisie vlug. Jy onthou tog Malie se voorkind, met die swak ogies, wat dalk die Osmans se bloed is, want ons het ’n blindemol-grootoom gehad?”

      Toe kom die stilte, sodat hulle net langs mekaar kan sit. “Wat probeer jy doen.” Christopher vra dit nie, want na die laaste woord daal sy stem swaar afwaarts. ’n Vraag het ’n vraagteken agteraan, ’n oplig van toon, asof daar hoop is, verwagting op ’n antwoord.

      “Ek … ek weet nie.” Een ding weet sy, en dis dat daar skielik besinning in hulle woordestorting gekom het.

      “Ek sal jou sê wat jy probeer doen,” sê Christopher Ligthart. Hy merk asof deur ’n waas hoedat eentonig flitsende neonligte hulle beurtelings baai in rooi, blou, rooi. Hy sien die esoteriese gloed oor Elna se skoot skuif, waar haar hande in mekaar geklem is. “Ek sal jou sê, Elna, en moet waaragtig nie stry dat dit nie so is nie. Jy probeer ontken dat daar by ons ’n aanvoeling vir mekaar is. Nee, wag, ek het dit swak gestel. Jy probeer ons helse aangetrokkenheid tot mekaar verloën.”

      “Praat namens jouself.”

      “Jy weet goed dat dit ons albei se gevoel is. En gee vir my ’n beter woord as ‘helse’, dan gebruik ek dit. Solank dit sterker is. Maar daar is geen sterker woord voor nie. Dis ’n vuur, dis ’n lyding. Jy het gemaak of jy verontwaardig is daardie aand toe ek jou vasgegryp en wild gesoen het. Maar jy was elke oomblik mét my. Jy wou met jou hele lyf in my mond inklim.”

      Sy praat nie. Net haar asem stoot in ligte, onderdrukte snikke.

      “Toe maak jy of ek ’n wellusteling is,” vervolg hy. “Soos een wat die son met sand probeer toekrap wanneer dit opkom, om die hitte weg te praat.”

      Sy praat steeds nie ’n woord nie. Dis net haar snikkerige asem.

      Sodat hy oplaas die motor aanskakel en verder deur die verligte vroegaandstraat ry, waar mense en motors en beweging by die verkeersligte opdam.

      “Elna, daar moet ’n manier wees.”

      “Daar is nie,” adem sy op die gevoude hande in haar skoot.

      Hy weet nie of sy praat van ondertrouery, van die mistieke gene in die chromosome in die sel-nukleus nie. Van dominant of resessief nie. Hy kan haar ’n lesing daaroor gee. Dis alles in sy kop. Wat hy nie geweet het nie, het hy reeds nageslaan. First cousins may be called consanguineous of the third degree. En die kans van een uit sestien for inheriting a pair of identical alleles. Of dink sy eerder aan die sosiale stigma, familieteenkanting?

Скачать книгу