Louisa du Toit Omnibus 5. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 5 - Louisa du Toit страница 19
In die badkamer binne die geslote deur staan Elna, en sy kom agter dat sy minute lank reeds so staan. Aan opknap het sy nie veel behoefte nie. Net voordat sy die kantoor verlaat het, was sy in die kleedkamer. Maar dis nietemin ’n weelde om hier te staan. Wat styl darem nie kan doen nie. Ryk is die Ligtharts tog seker nie. Hulle het ook heel onder begin, hy sekerlik met studieskuld, en sy glo nie hy kry ’n indrukwekkende salaris nie. Tog is alles so strelend, gerieflik, smaakvol. Ook hier, soos in die res van die huis, ruis atmosfeer. Hier groei eksotiese plante met blink, versorgde blare, en die salmkleur bad is laag in die vloer ingebou. Dit voel soos ’n oord, ’n plek wat jou lok vanweë die ontspannings- eerder as reinigingswaarde. Die spieëls weerkaats haar vanuit elke hoek, sodat sy haar as ’t ware vir die eerste keer in haar lewe objektief kan sien, gebaai in sagte lig en kleur. En sy weet dat sy mooi is.
Sy is stil as Christopher in die trapportaal weer by haar aansluit. Sy sou graag die kamers ook wou sien, maar onderdruk die drang. Waarom sal sy haar benoud van siel maak by die besef van alles wat sy ontbeer?
Swyend klim sy die trap langs Christopher af. Van altyd af, dink sy met ’n innerlike dwang wat hom nie laat ontwyk nie, wou ek beter leef as wat die geval was. Waar sou dit dan tog vandaan kom? Waarom kry sy hierdie begeerte nie uitgeroei nie, om op te hef, te verfraai, aan die kant te maak? Aard sy dan tog na haar tante en, indien wel, sal Corlia kan voortgaan om dit te probeer verloën? Sy is vanaand vriendelik, maar daar is nie onvoorwaardelike oorgawe nie. Dis asof sy bang is om verlok te word om meer te gee as waarvoor sy begroot het. Bang om meer te erken as waarvoor sy ryp is. Of voel sy skuldig-skaam? Elna kan nie anders as om deernis te voel nie. Die ou geneentheid wat sy voorheen vir Corlia Ligthart gevoel het, is nie totaal vernietig nie.
Hulle eet aan die sykant van die huis, waar daar ’n soort somerhuisie langs die swembad is. Die gesprek het geswaai na oppervlakkige dinge, beweeg soos ’n ligte pendule van vraag na antwoord, van opmerking na wederopmerking. Klaas mopper oor die instandhouding van die swembad, en Christopher beraam ernstig ’n plan. In Amerika, sê hy, kry die president se swembad glo nie chemikalieë nie, maar die minister van buitelandse sake kom gereeld met die bakterieë redeneer.
“Of ’n slim student?” sit Klaas hom koud. “Nee, dan kry ek liewer een van daardie watermonsters wat hulle oorsee gebruik om die waterhiasinte op te vreet.”
“Pa, hier is darem nie hiasinte nie. Nog nie.”
“Nee, maar dalk help so ’n monster om jou vriende uit die swembad te hou. Ek kom eers op ’n warm dag agter hoeveel vriende jy het. En dan floreer die bakterieë.”
“Ag, wie nou so danig? Blomerus Graham het anderdag hier kom lyf natmaak, en ek en Phoebe het een keer hierdie week geswem.” Sy stem weifel nadat hy die naam van Phoebe genoem het, asof hy te laat daaraan dink dat hy dit liefs moes verswyg het.
“Praat van die duiwel,” sê Corlia half onderlangs. “Hier kom sy aan.”
Die meisie is meteens by hulle, en die ontnugtering op haar gesig ontgaan nie een in die groepie nie. Is dit nie die scenario wat Corlia ten opsigte van die jeugsaamtrek voorsien en gevrees het nie? wonder Elna. As iemand haar tog maar dadelik as ’n familielid voorstel. Terselfdertyd kan sy dit nie verhelp om die meisie met ’n soort verterende nuuskierigheid te ontleed nie. Sy het so dikwels al gewonder oor hierdie Phoebe. Sy het gedink dis ’n wipstertmens, ’n bedorwe brokkie wat haar pa se geld en so ook Christopher se studietyd mors.
Een blik oortuig haar egter dat dit ’n meisie van gehalte is wat voor haar staan. Volwasse, ernstig, besinnend. ’n Diep leed sak in Elna se hart vas, ’n besef van haar agterstand by so iemand.
Klaas se stem is gewoon as hy hulle aan mekaar voorstel.
“Osman?” sê Phoebe. Sy het ’n ernstige manier van praat, asof elke moment werd is om oopgebreek te word vanweë die pit, die inhoud wat dit kan verberg. “Dit klink bekend. Ek dink ek het nou die aand jou vader hier ontmoet. Nie waar nie, Christopher? Die aand toe die bolognaise op jou skoen geval het.”
“Ja,” sê Christopher, en die kort woord kan enigiets beteken. Enigiets tussen geheimhouding en ontnugtering, verleentheid en geamuseerdheid. Elna se vingers vou, vou die servet op haar skoot, en sy het nooit in haar lewe minder lus gehad vir kos as juis nou nie. Haar pa? Haar gedagtes staan stil, weier om ’n koers te neem. Kom geld leen, dis al wat sy op hierdie onryp moment kan dink. O, as sy maar geweet het, dan het sy ver van hierdie huis af weggebly, vir altyd.
“Nee, ek ry hier verby, toe dag ek ek kom hoor of jy vanaand varsity-bib toe wil gaan, Christopher. Ons gaan dikwels daar werk,” sluit die meisie bedagsaam vir Elna by die gesprek in.
“Ja,” sê Elna dof. “ ’n Goeie gewoonte.”
“Ek het ’n vermoede my pa en ma betaal haar omkoopgeld om my bib toe te lok sodat ek ’n bietjie kan swot,” glimlag Christopher flou.
Waarom, dink Elna, moet alles opeens so dof en ver voel en klink? Die glans op die blare van die tuinbome het getaan, en die keurige geroosterde broodjies met ham- en pynappelvulsel se geur het skynbaar verslaan. Die skaduwees het gaan lê … dit lyk of hulle op ’n elmboog neergesak het en nou van die grond af loer na die menslike wesens op die tuinstoele.
“Eet of drink iets, Phoebe,” nooi Corlia. Vir Elna klink die stem swewend.
“Dankie. Ek moet nog gaan eet, maar ek sal hiervan proe. Dit lyk allerheerliks.”
“Hoor hier, Phoebe, gaan jy maar vooruit. Ek sluit later by jou aan. Ek gaan net vir Elna terugneem.”
“Moet jou nie oor Elna bekommer nie, ek sal haar vat,” sê Klaas gou. Ook maar beter dat hy eerste gepraat het, want Elna het dit klaar op haar lippe voel vorm, die woorde dat Christopher hom nie oor haar moet bekommer nie.
Christopher kyk na sy pa en ofskoon sy blik uit en uit op Klaas gerig is, sluit dit op ’n manier tog almal in, en is die angel van sy woorde vir almal bedoel: “Ek het haar gebring, en ek neem haar terug,” sê hy streng, asof hy teenstand verwag. “Is dit nie basiese goeie maniere nie?”
“Natuurlik,” sê Corlia. “En dit sal mos ook nie so lank duur nie.”
“Ag, geld goeie maniere dan vir ’n ou se niggie ook?” lag Elna met ’n sorgvryheid wat sy nie in haar diepste hart gewaar nie.
Dit was nodig dat sy hierdie opmerking maak, besluit sy wanneer almal met ’n soort verligting saamglimlag. Waar sy netnou oor die telefoon gepraat het van “vriende” by wie sy kuier, asof sy die Ligtharts die familiariteit wou spaar, het sy dit nou dwingend nodig geag om te noem dat sy Christopher se niggie is. Sy is dit verskuldig aan elkeen hier rondom haar.
Maar veral is sy dit verskuldig aan Phoebe van Duifhuis, wat net so besonders as haar naam is, en oor wie se gesig die luierende spanning nou uiteindelik verbreek is.
“Ja, Christopher,” sê Phoebe, “dit geld vir niggies ook. Ek sal vir jou wag by die bib. Moet net nie te gerus raak nie. Onthou, dis tradisie dat cousins op mekaar verlief raak. Of lees jy nie Victoriaanse romans nie?”
En sy, die ernstige meisie, glimlag hom stralend toe.
8
In die motor op pad na die Ponters se huis is Elna broeiend stil. Dis ’n ander soort stilte as die vergenoegde swyes van Phoebe, waaraan