Louisa du Toit Omnibus 5. Louisa du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 5 - Louisa du Toit страница 18

Louisa du Toit Omnibus 5 - Louisa du Toit

Скачать книгу

eers verstaan en aanvaar, vou die lewe voor jou oop soos ’n driedimensionele prentjie.”

      Hy, die andersins gemaklike, het dit hartstogtelik gesê. Sy wonder oor die diep gloed wat deur sy oë geflits het. Dit was of hy op die rand van ’n belydenis is, maar betyds besin het. So het elke hart sy eie, eienaardige smart, dink sy. Was daar dalk ’n ander meisie voor tannie Corlia? Dis moeilik om te aanvaar dat Corlia vir hom tweede beste sou kon wees.

      Hy gesels verder oor die boek in haar hand en ’n warmte, ’n vrede bou om haar op soos sy nooit geken het nie. Sy ruik leer en ou papier, pyptabak en meubelolie. Deur die wye venster met sy swaar, oopgetrekte roomkleur gordyne sien sy die tuin lê, hoe die laatson op die blare van lukwart, blomgranaat en tamarisk kantel. Selfs die hond draal tevrede buite rond, soos in ’n idille. Uit die binnehuis klink daar musiek, ’n deinende oseaan van klank. Musiek wat normaalweg vir haar te swaar sou wees, maar wat hier ’n aanvulling van die gedrae lewenstyl is. Ook die gedempte egtheid van die skilderye.

      Sy kom tot die ontsettend weeïge besef dat ’n volle lewe besig is om by haar verby te gly soos ’n voedende stroom, terwyl sy in die vlak watertjies plas. Sy het ’n ouer, net één ouer, nodig gehad wat ook na kennis en wysheid soek, wat boeke van gehalte die huis in bring, wat haar gereeld biblioteek toe vat. Sy moes maar altyd self sukkel om daar te kom. Die biblioteek in die hoërskool het in ’n mate die leemte gevul, maar tuis was daar geen rugsteun nie, net die boeke wat haar ma armsvol by die bure uitruil, met haar pa wat enige “gelesery” as tydmors bestempel. Nooit ’n interessante gesprek oor wêreldsake of lewensfilosofie nie, net ’n gemaal en gekarring om te bestaan. En musiek soos hierdie op die agtergrond, sou eweneens as “gemors” bestempel word.

      “Oom Klaas,” sê sy plotseling innig, oorstelp, “wat doen ’n mens as jy besef dat jy … ’n onterfde is?” Sy weet self nie waar hierdie rou, onverwagte belydenis vandaan kom nie. Dis nie soos Elna Osman om haar diepste gevoelens ten toon te stel nie. En dit nog voor Klaas Ligthart, die man van die tante wat haar so diep gekwets het.

      Maar hy is so stil, so kalm, so sterk. Sy dink aan haar eie pa, aan Ossie Osman, en sy wil huil. En huil, en huil. Hy is soos ’n versadigde luislang; daar kom net roering solank jy hom met ’n stok aankarring, maar onmiddellik daarna laat hy weer sy kop sak om te dommel.

      “Jy is nog jonk,” sê Klaas gedemp. “En jy is ’n instinktiewe outodidak, jy is in staat om jouself sommer so in die loop te verryk en op te voed, soos iemand wat met ’n mandjie oor die arm loop en blomme uitsoek-pluk … links een, regs een, sonder om tot stilstand te kom.”

      “Oom prys my so hoog aan sonder om my eers te ken.”

      “Ek het jou leer ken … nou.” Die afgelope kwartier, ja. Hy het haar skerp intelligensie leer ken, haar gesmoorde ambisie, haar vertroulikheid en soeke na krag.

      “Ek sal maar die paadjie loop wat vir my gebaan is. Ek sal my ambisie smoor en trou en kinders kry en op hulle skree en …” Dit klink of sy wil stik.

      Die man kyk haar aan. Hy dink skielik: As ek Christopher was, sou ek op haar verlief geraak het. Maar nee, hy weet tog hoe Corlia daaroor sal voel. Hy dink verder, dink aan Phoebe van Duifhuis, die meisie wat die grond aanbid waarop Christopher loop, en ’n meisie vir wie hy wat Klaas is self die grootste respek het.

      “ ’n Mens leer en ontwikkel solank hy lewe, Elna. Iemand soos jy sal nooit afgetrek kan raak nie. Jy sal eerder die mense om jou optrek. Christopher het vir my gesê jy maak opgang in jou werk.”

      Opgang in die werk, dink sy. Waarvoor? Neil Collins het haar uitgeneem vir ete en persoonlike aanmerkings gemaak oor haar parfuum, haar voorkoms. Is sy nie maar net in ’n doodloopstraat daar nie? Ander mense se lenings en paaiemente en aansoeke, verder die baas se witbroodjie. Al die harde werk van die afgelope jare, om op die ou end afgedank te word as sy nie wil beantwoord aan die grille van ’n wellustige ouer man nie? Sy voel skaam oor wat sy dink … wie sê ooit dat Neil Collins sulke gedagtes oor haar koester? Hy wou te kenne gee hy het verkeerd gekies.

      “Opgang, ja, oom Klaas, maar dis so relatief. Na matriek het ek ’n woordbou-wedstryd gewen, en ek kon oorsee gaan; maar daar was nie geld vir klere nie, toe bly ek maar.”

      “Jy sê dit nie! Waarom het jy nie met ons kom praat nie? As jy nie van óns wou hulp vat nie, sou ons namens jou by die een of ander instansie kon aanklop.”

      “Ag, ek was jonk en dom, en het niks geweet nie. Ek weet nou nog niks.”

      Jy het jou eie klas, wil hy sê, maar weerhou die woorde. Dit kan alte maklik lyk hy probeer haar deur vleitaal motiveer. En tog is dit waar dat sy ’n manier van loop het, van sit, van praat, wat strelend is ofskoon, of juis omdat, dit nie bestudeerd is nie. Selfs Corlia is gedurig besig om selfverrykingskursusse by te woon, artikels te lees waar jy aan jouself en jou wederhelf punte toeken vir die duiwel weet alles.

      Hierdie meisie, Elna, sy het alles in haarself, sy hoef niks te leer nie. Sy moet net loskom van die bindkrag van Ossie en Makkie se atmosfeer. Sonder om hulle te verwerp, natuurlik, net nie so voltyds in die hartjie van hulle gedoe verkeer nie.

      “Hoe oud is jy, Elna?” wil hy weet.

      “Net een-en-twintig. Niemand tuis,” onthou sy skamper, “het daaraan gedink dat ek verjaar nie. Dat ek mondig is nie.”

      “Ons ook nie,” mompel Klaas skuldig, en wonder waarom Corlia nie ten minste Elna se verjaardagdatum neergeskryf het nie. Hy weet dat sy wel vir Makkie bel as dié verjaar.

      Christopher kom binne, vars gestort, geskeer en aangetrek in ’n denim en gestreepte hemp. “Julle gesels alte lekker,” merk hy op.

      “Ons gesels oor die Ilias van Homeros,” verklaar Klaas ewe deftig. “Waarvoor jy mos jou neus optrek, mannetjie.” Hy vind die versteuring van die intieme geselsie ’n bietjie wreed, maar hy wil nie vir Christopher laat agterkom dat hy inbreuk maak nie.

      “Ja, ek dink dis ’n klomp tjol,” verklaar hy gemaak ernstig. “Vier-en-twintig boekdele net om vier dae van ’n oorlog te beskryf, en ’n leërskare mense en gode wat heeltyd hanna-hanna. Wil jy gaan hanna was, Elna, ek bedoel hande?”

      Sy moet glimlag, want sy soort ernstige humor is nogal skerp. “Asseblief, Christopher. Jou ma wou my netnou die badkamer gaan wys, maar toe is ek hier tussen die boeke aan ’t krap.”

      “Kom dan.”

      Hy begelei haar die trap op. Daar is ’n halwe badkamer onder vir gaste en oordagse gebruik, maar hy neem haar boontoe om wie weet watter rede, wat hy nie aan homself probeer formuleer nie. Dalk wil hy net effens apart met haar kom.

      Hy laat haar in die badkamer en talm in sy eie kamer totdat sy weer te voorskyn sal kom. Hy voel beskermend teenoor haar wanneer hy nie naby is nie. Asof iemand haar teenwoordigheid wederregtelik kan vind, iets sê wat haar ontuis laat voel. Asof iemand die wenkbrou kan lig omdat hy haar in sy motor opgelaai en hierheen gebring het. Deksels, wat makeer hom? Sy ma is vriendelik en gretig om te vergoed vir daardie flater van ’n tyd terug. En sy pa het heerlik gesels met haar daar in die biblioteek. Hy was amper jaloers toe hy binnekom en die vertroulike toneeltjie aanskou.

      Hy voel so half trots om te dink dat sy pa haar die moeite werd geag het vir ’n interessante gedagtewisseling. Dieselfde indruk het hy vanmiddag gekry toe hy haar saam met die ander man sien wag om die straat oor te steek. Die man was volkome toegespits op haar. Dit het gelyk of hy haar teenwoordigheid indrink.

      Hoe mooi het sy gelyk, hoe sjiek. Dis meer as die rok wat sy nog steeds aanhet, die mosterdgeel

Скачать книгу