Ena Murray Omnibus 33. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 33 - Ena Murray страница 16
“Mac … Mac en sy garde!” Vegter knik net, hou sy oë vasgenael op die stowwerige vloer. “Jy moet versigtig wees, ou maat. Mac het sy mes in vir jou. Hy gaan jou nog doodmaak en hy soek ’n rede om jou uit die bende te kry. Hy sal nie ophou voordat hy jou nie dood het of voëlvry kry nie.”
“Hoekom?”
“Jy weet hoekom. Mac wil graag ’n big shot wees. Hy wil die boss word. Maar hy weet jý sal dit word as hy jou nie uit die pad kry nie.”
“Ék wil nie die boss wees nie. Hy kan hom die moeite spaar.”
“Maar jy gaan dit wees, tjom … en Mac hou nie van die idee nie.”
“Spike, ek stel nie belang om die boss te wees nie.”
Sy maat kyk hom fronsend aan. “Jy is mal, man. Almal wil graag.”
“Nie ék nie.”
“Hoekom nie? Magtig, hy het dit die lekkerste van almal. Deel net bevele uit, kry die grootste aandeel van alles, maak en breek en doen soos hy wil …”
“Ek stel nie belang nie.”
“Hoekom nie?” Hy kry nie ’n antwoord nie en Spike frons, kyk die ander ondersoekend aan. “Jy was nog nooit chicken nie. Wat gaan met jou aan?”
Steeds geen antwoord. Na ’n rukkie kom die vraag: “Spike, het jy al van Jesus gehoor?” Spike kyk hom onthuts aan en Vegter herhaal sy vraag: “Het jy al van Jesus gehoor?”
Spike frons, knip sy oë ongelowig. Genugtig, dit lyk vir hom hulle het ou Vegter heeltemal kis geslaan. Waarmee val hy nou uit? “Natuurlik. Wie het dan nog nie van Jesus gehoor nie?”
“Wat het jy van hom gehoor?”
“Wel …” Spike moet ver terugdink. “Dit was jare gelede … in die skool en, ja, ek was in die Sondagskool ook. Daar het hulle ons mos van Jesus vertel. Waarom vra jy?”
“Ek praat nie van daardie tyd nie. Hulle het my ook toe allerhande dinge van Jesus vertel.”
“Ja, en by die huis het my ma ook, ek onthou dit nou. Maar sy is toe dood en my pa het nooit met sulke goed gelol nie. Hy het net in dop en perde belang gestel. Maar ek onthou Ma het …”
Vegter soek ook in sy verlede rond, kry niks. Daar is nooit oor Jesus in sy ouerhuis gepraat nie. Die naam is wel baie genoem. Dit was Ma se geliefkoosde vloekwoord, veral as Pa dronk by die huis kom … en die oggend daarna wanneer sy voos geslaan uit die bed klim. Dit onthou hy goed. Hy kan haar dit so duidelik hoor skreeu: “Jesus weet, ek gaan hom nog vrek maak!”
Wel, Pa is toe doodgemaak, maar een van sy eie drinkebroers het haar voorgespring. Daar was weer ’n bakleiery oor geld wat op perde verwed was. Pa is deur sy beste dobbelvriend in die bors gesteek. Hy onthou nog baie goed Ma se reaksie toe die tyding hulle bereik: “Jesus, wat ’n verligting!” Hy het heelhartig met haar saamgestem.
Nie dat dinge daarna juis verbeter het nie. Pa het, hoewel min, tog geld in die huis gebring. Ma moes uitspring, maar sy het nie. Sy het besluit om in haar huis te bly en tuis te werk. Nie hy of Zia, toe nog baie jonk, het presies geweet wat Ma nou eintlik daarmee bedoel het nie – of wat die mans wat elke aand aangeklop het, by haar kom koop het nie. Een ding het hulle geweet, hulle het niks van Ma se werk gehou nie. Nie net is hulle dadelik in die kamer toegesluit wanneer ’n “customer”, soos Ma hulle genoem het, verskyn het nie, maar moes ook met ’n leë maag gaan slaap. Die tuiswerkery moes later ook die wind van voor begin kry het, want sy het nie meer so baie “customers” gekry nie en het self begin drink. Toe hy groot genoeg was om te weet wat aan die gang is, het hy geweet sy gebruik ook dwelmmiddels. Dis toe dat hy die eerste keer weggeloop het.
In die verskillende skole waarin hy in die loop van ’n paar jaar was, het hy ook van Jesus gehoor. Maar elke keer wat hy daardie naam gehoor het, het hy ophou dink. Want dit het hom aan sy ma herinner … en hy wou van haar vergeet. Hy wou vergeet dat hy ooit so ’n mens geken het. Hy het Jesus met sy ma verbind en met nie een van die twee wou hy iets te doen gehad het nie.
Ná die verbeterskool was die tronk sy voorland. Ook daar wou hulle hom met ’n Jesus-storie beïnvloed. Maar hy was net nie vatbaar nie. Die dag toe hy ontslaan is, het die kapelaan ’n adres in sy hand gedruk. Die man het dit goed bedoel. Hy het sy ma opgespoor terwyl hy in die tronk was, en hy onthou sy woorde daardie dag: “Vegter, gaan soek jou ma by hierdie adres. Ek weet nie waaroor dit gaan nie, maar sy het gesê jy moet dadelik met haar in verbinding tree sodra jy uit die tronk kom. Dis van die uiterste belang. Dit het met jou en jou suster en jul toekoms te doen.”
Hy was nie van plan om te gaan nie. Maar hy het ook nie die adres weggegooi nie. Op ’n dag het hy besluit om tog te gaan. Maar Ma was nie daar nie. Volgens die buurvrou was sy in die hospitaal. ’n Paar dae later het hy ’n draai by die hospitaal gaan maak … en haar sterwend aangetref. Sy het begin praat, maar kon haar storie nie voltooi nie. Wat sy wel vertel het, het hom heeltemal koud gelaat. Hy het dit vergeet toe hy by die deur uitstap. Tot een aand toe ’n vreemdeling navraag doen oor ene Sean Hammond …
“Vegter, ek praat met jou! What’s up, pal? Wat yl jy so oor Jesus? Is jy op ’n trip?”
“Nee. Ek het weke laas dwelms gebruik.”
“Dan wil jy óf by die hippies aansluit, óf by die duiwelaanbidders. Hulle sukkel so met Jesus. Die hippies glo mos Hy was die eerste en grootste hippie nóg. En die duiwelaanbidders spot heeldag met Hom.”
“Nee. Nee, ek wil nie by een van hulle aansluit nie.” Hy sug diep, val terug op sy bed maak sy seer oë toe. “Ek sou maar net graag meer wou weet van hierdie Jesus … wie en wat Hy nou eintlik is …”
6
Die groepie mense wat die hawe nader, is nie onbekendes vir die hawepersoneel nie. Hulle gaan vannag baie werk hê, want die dokke lê vol. Skepe van oral oor lê vanaand aaneengeryg.
Die dokwerkers wat die groepie dophou, wonder by hulself hoe so ’n paar mense kans sien om teen so ’n oormag te veg. Die hawewerkers wat hulle so gereeld sien kom en gaan, het nie net die grootste respek vir hierdie mense nie, maar weet ook nie altyd wat om van hulle te dink nie. Want ’n mens se gesonde verstand vertel jou – veral as jy al jare lank in die dokke werk en presies weet wat agter die drywende staalrompe aangaan – dat hulle ’n verlore stryd voer. Hoe kan hulle een oomblik dink om net met ’n Bybel in die hand geharde hawemeisies tot ander insigte te bring? En tog …
Van die bekende gesigte het al verdwyn. Dit gebeur nie elke dag nie, maar daar het al meisies saam met so ’n groepie van die skepe afgekom. Van hulle het na ’n rukkie weer teruggekeer … maar sommige het nooit weer die hawe opgesoek nie.
Die oormag is so groot. Maar hierdie mense word nie ontmoedig nie. Getrou kom hulle elke keer weer met die Bybel in die hand aangestap – soos vanmiddag.
Dis vir ’n meisie tans wettig om haar “eie man” op ’n boot te hê en by hom te bly. Vóór die nuwe afkondiging het die polisie soms tot honderd-en-vyftig meisies per keer toegesluit. Die kapteins op die skepe se oë het oopgegaan vir die nood onder die meisies.
Die groepie stap eerste na ’n Japannese boot. Die vorige keer toe dit in die hawe vasgeanker gelê het, het die kaptein self die groep genader. Elske onthou hoe sy daardie