Ena Murray Omnibus 40. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 40 - Ena Murray страница 19
“Niel … ” Sy weet wat sy moet sê, behoort te sê. Diep in haar hart weet sy sy moet hom bemoedig om uit te hou. Sy moet hom kalmeer, hom verseker sy wag vir hom. Dat sy by die hekke sal staan dié dag wanneer hy as ’n vry man hier uitstap; dat sy hom liefhet; dat sy hom mis; dat sy verlang; dat hulle weer saam sal begin bou aan ’n nuwe lewe … Maar sy kan nie. Sy kán nie!
Sy strompel uit, haar hande voor haar gesig en hierdie keer hoor sy nie eens die geknars van sleutels en hekke wat oop- en toegaan nie. Sy voel net weer die nou bekende arm wat haar vashou, weglei van hierdie verskriklike plek en Niel se bitter stem en oë.
Hy lei haar die woonstel in, wil haar laat sit, maar sy gryp hom vas, wring haar gesig teen sy bors aan.
“Hou my vas! Hou my vas!”
Hy hou haar vas, laat haar huil totdat sy slap en weerloos teen hom aanleun. Met sy sakdoek vee hy die nat wange en seer oë af, sien hoe die mondhoeke nog bewend ruk.
“Ek is jammer. Ek moes jou nie laat gaan het nie. Jy was nog nie gereed nie.”
“Dis nie jy … jou skuld nie.” Sy kyk in sy begrypende blou oë op. “Jy was nog net altyd goed vir my … baie dierbaar vir my … ”
Hy skeur sy oë van hare weg, verslap sy greep en sê: “Kom sit.”
Sy gehoorsaam, gaan sit op die kant van die divan terwyl hy op ’n stoel plaasneem. “Hy is nie die man met wie ek getrou het nie, die man wat ek liefgekry het nie.”
“Jy moet onthou dat hy hom nou in ’n aaklige wêreld bevind. Dis geen grap om ’n langtermyngevangene te wees nie.”
“Hy het so gesê.”
“En dit moet jy verstaan. Hy is saamgebondel met misdadigers uit elke vlak van die samelewing. Baie van hulle is kru, afstootlik – selfs barbaars. Ek gaan jou nie in detail vertel wat alles daar aangaan nie, maar hy kom in aanraking met bendes en afpersing en sodomie.” Hy aarsel, gaan neem langs haar op die bed plaas. “Om uit ’n blikbord te eet en uit ’n blikbeker te drink en gevangenisklere aan te trek, maak van hom ’n ander mens. Natuurlik kan hy nie meer dieselfde mens wees as die een wat jy geken het nie. Hy gaan sy letsels opdoen en dit sal nooit regtig weggaan nie. Maar ek verseker jou ook dat die personeel alles in hul vermoë doen om hom te help en by te staan. Nie een van hulle wil sien dat hy as ’n gebroke mens ontslaan word nie. Hulle strewe daarna om diegene wat weer buitentoe moet stap, te bemoedig om die lewe van nuuts af aan te pak en ’n nuwe toekoms te bou. Maar alles kan nie van een kant kom nie. Van owerheidskant word alles moontlik gedoen om van hulle waardige mense te maak. Psigiatriese hulp speel ’n baie groot rol. Dit gaan van Niel afhang of hy sy kanse sal benut en positief reageer. En dis waar jy so ’n belangrike rol kan speel, Wanya. Jy kan hom bemoedig met jou besoeke en briewe. Jy is die een wat hom kan laat voel dis nie die einde van die wêreld nie, daar is ’n toekoms wat wag. Jy kan hom motiveer om positief te reageer op die hulp tot sy beskikking.”
Sy kyk hom troebel aan en hy vervolg, sy oë dringend: “Jy is sy vrou, Wanya. Hy voel deur die gemeenskap verwerp. Maar daar móét iemand wees aan wie hy kan vasklou, van wie hy die versekering kan kry dat hy nie totaal verwerp is nie. Dat daar iemand is wat hom liefhet, wat vir hom wag.” Hy lê sy hand teen die kant van haar gesig, kyk terug in die starende oë. “En dis net jy wat daardie rol kan vervul. Net jý.” Hy staan op, draai by die deur terug. “Jy onthou nog dat ek jou Sondagoggend kom haal?”
“Ja.”
“Tot siens.” Hy aarsel, voeg by: “En al voel jy nie die liefde van vroeër nie, dan staan jou troubelofte. Jy kan jou man nie nóú in die steek laat nie, Wanya. Wat ook al gebeur. Of jy en Niel mekaar weer sal vind en ’n nuwe toekoms saam sal bou, en of julle uitmekaar dryf, is nie nou ter sprake nie. Daar is net een ding wat jy altyd moet onthou … met of sonder Niel … moet jy vir die res van jou lewe met jouself saamlewe. Laat dit moontlik wees.”
Toe hy Sondagoggend aan die deur klop, is sy gereed. Hulle praat nie veel op pad kerk toe nie, maar dis ’n stilte wat nie hinder nie. Hy slaak innerlik ’n sug van verligting en voel tevrede en dankbaar. Sonder dat sy hom dit hoef te vertel, weet hy instinktief sy het haar stryd betreffende haar man klaar gestry. Die skaduwees onder haar oë vertel hom dat dit nie ’n maklike stryd was nie. Maar sy het vrede gemaak met wat sy weet haar te doen staan. As dit dan nie ’n pad van liefde kan wees nie, miskien nooit weer sal wees nie, is daar nog altyd die pad van plig. Hy het dit vir haar uitgespel en sy het dit aanvaar. Sy durf Niel nie nou in die steek laat nie. Dan sal hy heeltemal ten gronde gaan.
Sy luister met aandag na die preek: “Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Paulus het voorwaar baie gehad waarvan hy hom moes losmaak. Hy was ’n koelbloedige moordenaar van onskuldige mense. Hy was ’n vervolger van mense wat hom geen kwaad aangedoen het nie. Hy was ’n besetene wat ’n onheilsoorlog teen weerlose mense gevoer het. Voorwaar baie waarvan hy hom moes losmaak. As Paulus dit kon doen met en deur die genade van God, kan elke ander mens dit ook doen, maak nie saak wat jou oortreding of sonde was nie. Erger as Paulus s’n kan dit beswaarlik wees. Hy het dit gedoen. God het hom gehelp. Jy kan dit ook doen. God sal jou ook help.”
Sy is skaars bewus daarvan dat sy haar hand uitsteek, maar haar vingers word dadelik vasgevang, warm toegevou.
“Maar om jou net los te maak van die boeie wat jou gebind het, is nie genoeg nie. Wat baat dit ’n gevangene wie se boeie ontsluit is om in sy sel te bly sit? Dan moet hy uitstap in die sonlig van God se genade en hom uitstrek na ’n nuwe toekoms volgens God se wil. Dán eers kom daar sin in sy losmaak van gister se dinge … wanneer hy hom uitstrek na dié dinge wat sy Skepper oorspronklik vir hom bedoel het … die mooie, die goeie, die regte.”
Dis weer stil tussen hulle in die motor en haar blik is so na binne gekeer dat sy nie eens agterkom hulle is nie by haar woonstel toe hy die motor tot stilstand bring nie. Hulle is buite die stad by ’n pragtige eetplek en sy herken dit dadelik. Sy en Niel het ook soms Sondae hier kom eet. Sy kyk hom vraend aan, en hy glimlag.
“Ek het gedink ons twee kan ’n slaggie bederf word en vanmiddag hier eet. Sal jy?”
“Maar … ”
“Maar wat?”
“ ’n Mens moet bespreek.”
“Ek weet. Ek het bespreek.” Toe sy nog aarsel, frons hy liggies. “Wil jy nie? Is jy bang hier is dalk bekendes?”
“Nee, nee, dis nie dit nie.” Sy frons. “Dis net … Ek wou nie vroeër vra nie, maar … Is daar nie iemand wat sal omgee dat ek hier saam met jou eet nie? Is jy getroud, Roelof?”
Hy kyk haar stil aan. “Daar is niemand wat sal omgee of te na gekom sal word as jy saam met my hier eet nie, Wanya.”
“O.” Sy glimlag. “Dit sal lekker wees om ’n slag weg te kom van die woonstel af. Dankie, maar … is ek toegelaat om hier te kom?”
Hy glimlag. “Sekerlik, veral in die teenwoordigheid en met die toestemming van jou toesigbeampte. Kom, Wanya. Ek sien ook uit na hierdie ete. En daarna … ” Hy weifel, vervolg dan: “Ná die ete wil ek jou iets gaan wys.”
Terwyl hulle eet, merk sy op: “Jy weet so