Ena Murray Omnibus 40. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 40 - Ena Murray страница 20
Maar sy hand lê skielik oor hare op die tafel. “Ek dink ook dis tyd dat jy meer van my te wete kom. Dan sal jy verstaan.”
Sy lyk verward. “Wat verstaan?”
Hy kyk haar half moedeloos aan, trek sy hand terug en sê: “Baie dinge. Ons kan seker maar gaan.”
Tot haar verbasing ry hulle ’n ruk later by die hek van ’n begraafplaas in. Sy kyk vinnig na hom, maar kan niks wys word uit sy gesigsuitdrukking nie. Hy hou stil, stap om om die deur vir haar oop te maak en sy voel skielik ontsteld. Sy het die gevoel dat sy oortree.
“Roelof … Asseblief, ek het nie bedoel … ”
“Ek weet.” Hy hou sy hand uit. “Kom. Ek wil jou wys.” Hy staan regop voor haar, sy blou oë diep in hare. “Jy is die eerste mens met wie ek dit werklik deel. Kom.”
Hy kom tot stilstand by ’n kindergraf en Wanya se hart spring in haar keel toe sy die grafopskrif lees: Marius Rossouw. Sy lees die geboorte- en sterfdatum. Hy was maar vyf jaar oud. Uitgegraveer in die graniet, soos seker ook in die vaderhart, staan: Pappa sal jou nooit vergeet nie. Rus sag, my seun.
Dis lank stil. Sy het nie die moed om na hom te kyk nie en sy is ook nie in staat om iets te sê nie.
“Ek het aangedring dat Elsa en Marius met my moet saamry. Elsa wou nie, maar ek het my vervies en sy moes maar inwillig. Op pad na ons bestemming het die ongeluk gebeur. Klein Marius is op slag dood. Die ander party was die skuldige. Hy kon nie betyds stop nie, maar ek het self te vinnig gery. Ek was nog vererg omdat ek so met Elsa moes sukkel.”
Haar oë flits ontsteld na hom op. “Roelof, jy kan jouself nie verwyt nie! Dit was die ander man se skuld!”
Hy draai sy gesig na haar en haar hart ruk in haar. Die hartseer brand soos ’n blou vlam in sy oë. “So sê hulle, maar ek was agter die stuurwiel. My kind is dood. En ek wonder soms, as ek miskien ’n bietjie stadiger gery het, meer aandag gegee het aan die aankomende verkeer, meer op my hoede was … ”
“O, Roelof, nee!” Sy is by hom, slaan haar arms om sy nek, hou hom vas. “Nee, jy mag jouself nie so treiter nie! Daar is iets soos Godsbeskikking. Jy moet jou losmaak van hierdie verwyte en skuldgevoelens. Onthou vanoggend se preek. As jý jou nie kan losmaak nie, hoe kan ék ooit hoop om dit reg te kry? Jy het nie doelbewus jou kind se dood veroorsaak nie. Maar ek … Toe my probleme my wou oorweldig, het ek, in plaas van om te bid en genade te vra, my besope gedrink en ’n kind doodgery. As jý dit nie kan regkry om jou ongeluk te verwerk nie, hoe gaan ék dit ooit regkry?”
Daar is meteens ’n sagte glimlag om sy lippe en sy hande hou haar vas. “Maar ek hét dit verwerk, Wanya. Dis wat ek jou hier by die graf van my kind wou kom vertel het. Dis die boodskap wat ek vandag vir jou het: Jy kan ook. Jy kan jou losmaak van die skuldgevoelens van gister.”
Haar ooglede val en sy laat sak haar voorkop teen sy bors. “Dis nie in my geval so eenvoudig nie, my vriend. My skuld is baie groot. Daardie kind … Hy sou nog gelewe het as ek my nie aan drank te buite gegaan het nie.”
“My kind kon dalk ook nog gelewe het as ek nie so vererg en haastig was nie. Maar ook dit verstaan Hy en kan Hy vergewe.” Hy lig haar ken met sy hand, kyk met deernis na haar. “Wanya, Hy sê uitdruklik in sy Woord dat niemand Hom iets van die mens hoef te vertel nie: Hy ken hom. Hy weet dat ons stof is. Hy weet dat ons dikwels struikel en val. Hy weet dat ons probleme soms vir ons te groot word. Hy weet dat ons soms drange en gevoelens ervaar wat buite beheer raak. Hy weet al hierdie dinge. Daarom konsentreer Hy nie op ons val nie, maar op ons berou. Vir Hom is dit belangrik dat ons opstaan en die regte ding gaan doen. Ons kan verseker wees sy vergifnis is volkome.”
“Glo jy dit regtig, Roelof? Is dit regtig só eenvoudig?”
“Ek glo dit volkome en dis regtig so eenvoudig. Hy het begrip vir ons swakhede, Wanya.” Sy kop buig en sy woorde is net ’n fluistering teen haar lippe: “Ek glo Hy sal hiervoor ook begrip hê.”
Dis ’n lang en deernisvolle soen, ’n soen van begrip vir haar hartseer en vertwyfeling. Maar toe hul lippe eindelik van mekaar wegbreek, weet albei dit was ook baie meer. Hy staan weg en hulle kyk net na mekaar. Dan draai hy weg van die graf: “Kom. Daar is nog iets wat ek jou moet wys.”
Toe hy die motor weer tot stilstand bring, herken sy die gebou en hierdie keer is sy regtig bang om uit te klim. Maar soos iemand wat geen weerstand het nie, laat sy toe dat hy haar die groot gebou binnelei, die gange aflei totdat hulle by ’n deur indraai. ’n Vrou in ’n wit uniform glimlag in herkenning, groet vlugtig en stap dan uit. Willoos laat sy toe dat hy haar aan die hand nader aan die bed trek.
“Dis Elsa. Sy het in die ongeluk breinskade opgedoen. Sedertdien lê sy só.”
Soos ’n standbeeld staan Wanya en afkyk op die roerlose figuur op die bed, kyk in die oë wat soos marmeroë na niks staar. Dan is hulle terug in die gang, terug in die motor, eindelik terug na haar woonstel.
Sy kyk nie na hom nie, sê net gedemp: “Ek sal graag nou alleen wil wees. Asseblief.”
Daar is geen antwoord nie, sy hoor net die voordeur toeklik.
Dis ’n nag van diepe selfondersoek, van absolute eerlikheid teenoor eie hart én God. Maar toe die nuwe dag breek, staan elkeen by hul onderskeie vensters en soek na die laaste sterre. In die lang nag wat verby is, het hulle skuld bely, erkentenisse gemaak … maar daar is ook ná stryd en trane en gebede berusting gevind. Albei sien in hierdie môre die pad duidelik voor hulle uitgestippel lê. Albei besef daar is geen ander pad nie. En albei maak gereed vir die nuwe dag met die besef dat daar iets is wat diep in die hart weggebêre moet word nog voordat dit eens tot volle bewuswording gekom het.
In die dae wat volg, stap elkeen sy eie paadjie van aanvaarding op sy eie manier. Deur te konsentreer op die taak op hande; deur vertroosting te vind in diens aan ander.
Dis Wanya wat eerste die meisietjie in die bure se agterplaas opmerk. Die kind staan deur die ogiesdraad en loer na die bedrywigheid voor tant Bes se kostafels. Wanya kry ’n blaaskansie en stap vinnig daarheen, maar sy is skaars halfpad of die meisietjie gewaar haar en laat spaander.
“Is hier nuwe intrekkers by nommer 9?” wil sy van tant Bes weet terwyl sy en Vitorie fluks met die skottelgoed vorder.
“Nie waarvan ek weet nie, maar dit kom en gaan maar gedurig hier langsaan. Hoekom vra jy?”
“Ek het vandag ’n vreemde gesiggie by die draad gesien. Miskien was dit maar net ’n kind wat nuuskierig was.”
Maar die volgende dag gewaar sy die kleintjie weer, en sy besluit om haar uit ’n ander hoek te nader. Sy is byna by haar toe die kind haar gewaar en soos ’n verskrikte vlakhaas weghardloop. Wanya kyk haar fronsend aan.
Die dag daarna bly sy op die uitkyk vir haar, maar tot haar teleurstelling daag sy nie op nie. Die volgende dag is Sondag.
Sy doen alles moontlik om haar gedagtes in toom te hou, om nie terug te dink aan die vorige Sondag nie. Maar dit gaan swaar. Sy trek haar aan, stap na die Engelse kerkie laer af in die straat en vind vrede en rus in die gewyde atmosfeer. Maar die onrus is weer in haar toe sy die woonstel binnestap. Sy spring aan die werk, maak die plekkie van hoek tot kant skoon, was selfs ’n paar stukkies klere uit … en nog is dit ’n lang middag en aand wat voorlê.
Hy sal nie kom nie.