.
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу - страница 11
Die punt is dat wat ons in die Bybel vind as “God se Woord” op geen manier losgemaak kan word van die behoeftes, omstandighede en eise van die wêreld waarin ons as lesers hier en nou leef nie. ’n Mens kan dit nader verduidelik aan die hand van ’n formulering van die hermeneutiese filosoof, Hans-Georg Gadamer (’n leerling van Heidegger). Gadamer sê dat ons iets eers verstaan wanneer ons dit kan toepas op onsself of ons eie omstandighede, dit wil sê wanneer ons die waarde en waarheid daarvan vir ons huidige lewensoriëntasie raaksien. Daar is dus nie so iets soos “die betekenis van die teks” wat vas en onveranderlik bly staan nie. Gadamer het ’n ander, nog meer treffende formulering: “Om dieselfde [dit wil sê wat “eintlik” in die teks staan] te verstaan, is om dit anders te verstaan.” Daarmee bedoel hy dat die boodskap van die teks vir mense in elke leessituasie ’n nuwe betekenis sal verwerf na gelang van hulle besondere agtergrond of verstaanshorison.
Die verstaan van tekste geskied dus in ’n tradisieproses wat voortgaan in die tyd. Elke nuwe lesing van ’n teks word op die een of ander manier deur vorige lesings beïnvloed, al beteken dit net dat daardie vorige lesings verwerp word. Die sin wat ons van ’n teks maak, is nie die een of ander vaste “stand van sake” wat vir tyd en ewigheid dieselfde bly nie. Dis eerder ’n “gang van sake” wat in die geskiedenis van die interpretasie van tekste verander en groei.
’n Voorbeeld uit ons eie geskiedenis illustreer dié punt ewe treffend as Luther se interpretasie van Romeine 3:28 waarna in die vorige paragrawe verwys is. In die 1960’s en 1970’s was ’n groep teoloë in die (hoofsaaklik) swart kerke in Suid-Afrika sterk onder die invloed van die destydse “bevrydingsteologie” of, soos ’n stroming daarbinne ook bekend was, die “swart teologie”. Dit was ’n teologie wat veral in opstand was teen die onmenslikheid en onregverdigheid van die destydse rassistiese apartheidsbedeling. Wat ’n mens veral opgeval het in dié teoloë se geskrifte was hoe belangrik die Eksodus-geskiedenis van Israel vir hulle eie idees was. In Israel se bevryding uit die “slawehuis van Egipteland” onder leiding van Moses het hierdie teoloë ’n belangrike model gesien vir die bevryding van die swart mense en swart kerke in apartheid-Suid-Afrika. In ’n toespraak van een van hierdie bevrydingsteoloë, Alan Boesak, kom die volgende uitspraak byvoorbeeld voor:
The Black church, like Moses, is not called to negotiate with the pharoah [d.i. die apartheidsowerhede van dié tyd]. It is called simply to convey the Lord’s command: Let my people go!”9
Waarom is hierdie teoloë so aangegryp deur die Eksodus-verhaal in die Bybel? Presies om die redes wat hier bo vermeld is: Die Eksodus-geskiedenis van die volk Israel – hulle wat deur ’n despoot onderdruk is, wat hulle in slawerny bevind het en wat gehunker het na bevryding – het op ’n besondere wyse geresoneer met die omstandighede waarin die swart mense in Suid-Afrika hulle in die 1980’s bevind het. Geen wonder dat hierdie teoloë se werk oorloop van verwysings na daardie deel van Suid-Afrika se geskiedenis nie.
Dit is duidelik: Wat ons in die Bybel aanroer en van die Bybel verstaan, kan nooit losgemaak word van wie ons is, wat ons verwag, watter waardes ons aanhang, watter ervarings ons gehad het nie. Hierdie dinge is onvermydelik medebepalend vir wat die Bybel in ’n sekere tydsgewrig vir ons sal sê. Wie dit ontken, ontken ’n fundamentele insig van die mees gesaghebbende teenswoordige interpretasieteorie of hermeneutiek.
3. Hoe ons die Bybel verstaan, kan verander
As wie ons is, ’n invloed het op ons interpretasie van die betekenis van die Bybeltekste wat ons lees dan speel die tyd wanneer ons daardie tekste lees, ’n ewe belangrike rol. Die eenvoudige implikasie hiervan is dat die manier waarop ons die Bybel lees en verstaan, kan verander in die lig van veranderde historiese omstandighede
Vir talle Afrikaners was die veelbewoë gebeure rondom die NG Kerk se langsame inkeer wat betref sy vroeëre apartheidsteologie (of sy Bybelse regverdiging van apartheid) ’n traumatiese ervaring. Die trauma was nie altyd, soos baie gedink het, slegs vanweë traagheid om af te sien van apartheid nie – hoewel laasgenoemde oorweging in sommige gevalle sekerlik ’n rol gespeel het. Enigeen wat oë gehad het om te sien en ore om te hoor, moes myns insiens reeds vanaf die 1970’s en veral in die loop van die 1980’s in Suid-Afrika kon sien dat die skrif aan die muur was vir daardie mensonterende sisteem. Die relatiewe gemak waarmee blankes aan die begin van die 1990’s die politieke mag afgestaan het, dui ook (weliswaar retrospektief) daarop dat blanke Suid-Afrikaners baie meer bereid was om die onreg af te lê en ’n nuwe begin te maak as wat hulle politieke (en kerklike) leiers ooit besef het. Ek wil beweer dat die trauma ten opsigte van die NG Kerk se afstanddoening van sy vroeëre apartheidsteologie minder met ’n terughunkering na apartheid te make gehad het, en meer met ’n onvermoë om in te sien hoe ’n liggaam soos die kerk soveel jare lank soveel klei kon getrap het met hulle interpretasie van die boodskap van die Bybel. Talle mense was ontnugter met die NG Kerk (en is steeds; vandaar, onder meer, die huidige uittog uit die kerk) presies omdat hulle dit gewoon onverteerbaar gevind het dat die kerkleiding so ’n wind kon sluk in hulle interpretasie van die Bybel.
Ek kan die NG Kerk se vroeëre kleitrappery oor apartheid, soos onder meer blyk uit die feit dat dié kerk een van die sterkste voorbrandmakers was vir die instelling van die Wet op Gemengde Huwelike in die 1940’s, op geen manier verdedig nie. Ek was ook vir solank ek kan onthou ’n fel teenstander van daardie soort “teologiese” standpunt. Tog sou ek óók daarop wou wys dat ’n mens ’n kerk nie in beginsel kan of mag afwys bloot omdat daardie kerk vroeëre interpretasies aangehang het wat met die tyd as onvoldoende of onregmatig uitgewys is nie. Geen interpretasie – ook nie van die Bybel – is ooit onfeilbaar of onveranderlik nie. Die geskiedenis wys dat daar ontwikkeling (groei?) in sowel teksinterpretasie as in morele insig plaasvind.
Om weer ’n voorbeeld te gebruik: ’n Eeu gelede was die idee dat vroue in die kerk tot die amp toegelaat kan word, of selfs vir die landsregering kon stem, in ons eie land en in lande soos Brittanje volkome vergesog. Die suffrajette, ’n groep vroue wat hulle vir stemreg in Engeland beywer het, het toe pas hul aktiwiteit begin en is as ’n “lunatic fringe” van die samelewing beskou, ook deur die meeste ander vroue. Tekste in die Bybel wat vandag (myns insiens tereg) uitgewys word as periferies tot die kernboodskap van die Bybel en wat aanvoer dat vroue nie in die erediens mag praat nie (1 Tim 2:11) en in die huwelik aan hulle mans onderdanig moet wees (Tit 2:5; 1 Pet 3:1), is in daardie tydsgewrig en klimaat eenvoudig aanvaar as absoluut gesaghebbend. Gaandeweg, namate nuwe insigte oor die potensiaal en regte van vroue in die kultuur posgevat het en namate die Bybelwetenskappe beter insigte in die kultuurgebondenheid van baie van hierdie “gesaghebbende” tekste verwerf het, vind ons dat die Bybelinterpretasies daarvan verskuiwings ondergaan.
’n Mens moet jou eerlik afvra hoeveel van die Bybel ons nog werklik letterlik interpreteer. Waarom sou ons dit ooit letterlik geïnterpreteer het dat ’n vrou nie in ’n kerklike amp mag dien nie, maar nogtans altyd aangevoer het dat Jesus dit “darem seker nie letterlik bedoel het” toe Hy ons in die bergrede aangeraai het om jou oog uit te pluk as dit jou laat struikel nie? Ons interpreteer die Bybel heeldag en aldag in ooreenstemming met die waardes wat in ons eie tyd gesag verwerf het. Dat ons interpretasies skuif, is nie in die eerste plek ’n bewys dat ’n “verlies van Bybelse gesag” besig is om in te tree nie. Dit is eerder ’n illustrasie van hoe óns verander, en hoe ons ons vereenselwig met ander dimensies van die Bybel as vroeër, omdat dít tans in ons besondere omstandighede tot ons spreek. Ons kommentaar op die Bybel is dikwels meer kommentaar op onsself as enigiets anders. Wie dit ontken, is gewoon oneerlik.
Waarom dan die