Geloof sonder sekerhede. Anton van Niekerk
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Geloof sonder sekerhede - Anton van Niekerk страница 7
Afdeling 1
OP SOEK NA ’N MEER EIETYDSE GELOOF
Ons is mense van die 21ste eeu.
Ons wil glo op ’n manier wat nie lynreg indruis teen die insig van ons gesonde verstand en teen feitlik onbetwisbare getuienis van die wetenskap nie.
Van ons kan nie verwag word om ons intellek eenvoudig op te skort wanneer geloofskwessies ter sprake kom nie.
As mense van die 21ste eeu dring ons daarop aan dat ons geloof in God moet resoneer met ons breë intellektuele en kulturele oriëntasie …
Indien ons bly glo, wil ons dit doen op ’n manier wat aangepas is by, en nie voortdurend lynreg vloek teen die veronderstellings, insigte, waardes en verwagtings wat ons lewe vandag kenmerk nie.
Wat is geloof in die God wat ons leer ken in Jesus Christus? Waarop is dit gerig, en wat beteken dit in die praktyk van ons lewe? In hierdie eerste afdeling van die boek probeer ek as ’n onseker gelowige vanuit die magdom onduidelikhede wat ons huidige tydsgewrig opwerp oor die sinvolheid van volgehoue geloof, hierdie soort vrae beantwoord.
Die verlokking van die ongeloof is in ons tyd sterker as ooit. Ek bly oortuig daarvan dat, ten spyte van die feit dat die vrae meer word en die onsekerheid toeneem, die geloof in die gekruisigde en verrese Christus steeds die mees bevredigende en rusgewende raamwerk verskaf waarbinne die vraag na die sin van ons bestaan aangeroer kan word.
Dit beteken egter allermins dat die wyse waarop ons daardie geloof verstaan en beleef, kan neerkom op ’n klakkelose napraat van die geykte kerklike belydenis en die teologiese interpretasies van daardie belydenis wat ’n bepaalde gesag in ons kultuur verwerf het. Vir my persoonlik beteken om steeds te glo onvermydelik om nuut en soms ook anders te glo. Wat ek hier aanbied as my interpretasie van die bron, objek, praktyk en sin van die geloof, is nie bedoel as ’n laaste of ’n absoluut gesaghebbende woord nie. Dit is hoogstens die uitkoms van die besinning van ’n twyfelende gelowige; iemand wat dit so voortdurend aan die lyf voel dat hy wil sê: “Ek glo Here, maar kom tog altyd weer my ongeloof te hulp.”
My besinning oor die geloof word gedryf deur my aanvoeling, reg of verkeerd, dat ons, veral in die gereformeerde tradisie, van die geloof ’n veels te teoretiese saak gemaak het – ’n saak van die verstand en van serebrale inspanning – en te min van ’n praktyk. Daarenteen is die geloof wat ons by Jesus leer, ’n manier van lewe. Dit is weliswaar nie ’n aktiwiteit wat ontdaan is van begrip en besinning nie – natuurlik moet ’n mens ’n denk- en verstaansgreep hê op wat jy glo.13 Maar die geloof wat ons by Jesus leer, is net soveel (indien nie meer nie) praktyk as teorie.
Ek kan nie in eerste instansie oor geloof dink as intellektuele instemming met ’n aantal leerstukke, en oor die lewe volgens die wet as ’n blote dankbetuiging in reaksie op iets wat ek “eintlik” slegs met my verstand en intellek doen nie. Geloof is ook en veral lewe; dit is om lief te hê, om te vergewe, om nood te verlig en om jou lewe te gee vir jou medemens. Kortom: Dit is om die “wil te doen van ons Vader”. Wie dit ontken, glo nie, so lyk dit my, soos Jesus ons leer om te glo nie. As wat ek hier beweer, neerkom op “werkheiligheid”, dan is Jesus ’n verkondiger van werkheiligheid. Dit is ’n uiters ernstige vraag in hoe ’n mate die groeiende geringskatting van die getuienis en die gevolglike ontkragtiging van die rol van die kerk in die wêreld te make het met ’n serebraalteoretiese geloofsbeskouing wat selde sigbaar word in ’n praktyk en leefwyse wat ’n wesenlike verskil maak aan die lewe waarin ons ons bevind. My passie vir ’n meer praktykgerigte geloofsbeskouing is gebore uit hierdie waarneming en besorgdheid.
Dit is oor dié beskouing van geloof dat hierdie eerste afdeling van die boek handel. Ek begin met die vraag na hoe ’n mens die Bybel lees, aangesien die Bybel tradisioneel beskou word as die bron van geloof en die verwysingspunt van wat in die geloof bely word.
2
Hoe lees ’n mens die Bybel?
Wat ons in die Bybel vind as “God se Woord” kan op geen manier losgemaak word van die behoeftes, omstandighede en eise van die wêreld waarin ons as lesers hier en nou leef nie … Ons [verstaan] iets eers … wanneer ons dit op onsself of ons eie omstandighede kan toepas, dit wil sê wanneer ons die waarde en waarheid daarvan vir ons huidige lewensoriëntasie raaksien. Daar is dus nie iets soos “die betekenis van die teks” wat vas en onveranderlik bly staan nie. In die woorde van Gadamer: “Om dieselfde (dit wil sê wat ‘eintlik’ in die teks staan) te verstaan, is om dit anders te verstaan.” Daarmee bedoel hy dat die boodskap van die teks vir mense in elke leessituasie ’n nuwe betekenis verwerf na gelang van hulle besondere agtergrond of verstaanshorison.
Hermeneutiek as teorie van interpretasie
Aan die wortel van al die kontroversie rondom wat ’n Christen deesdae kan en behoort te glo, en hoe ons sin kan maak van geloof in ’n veranderde wêreld, lê die vraag hoe ’n mens die Bybel moet lees en verstaan. Dis ’n vraag met geen eenvoudige antwoorde nie. Amper so lank soos die Bybel of sy verskillende boeke in die tradisie gelees is, bestaan daar al ’n reeks teorieë (sommiges sal sê ’n “wetenskap”) oor hoe ’n mens die Bybel behoort te lees. Hierdie teorieë word “hermeneutiek” genoem.1 Hermeneutiek is die teorie van interpretasie; dit is die neerslag van besinning oor die voorwaardes waaronder en die strategieë waarmee ’n mens dit wat jy lees, verstaan of probeer verstaan.
Deesdae is hermeneutiek ’n gevestigde en welbekende filosofiese dissipline wat sigself besig hou met die vraag hoe die verstaan van ’n teks, in die mees omvattende sin van die woord, moontlik is. Dit dek dus nie slegs die vraag na hoe ’n mens tekste moet lees en begryp nie, maar ook vrae soos watter rol “verstaan” in die praktyk van die wetenskap speel.
Een van die bekendste filosowe van die 20ste eeu, Martin Heidegger, het die vraag na die betekenis van “verstaan” selfs verhef tot die mees grondliggende filosofiese vraag wat daar is. Volgens Heidegger is die poging om te verstaan kenmerkend van die fundamentele manier waarop ons as mense is wat ons is. Ons menswees, sê hy, is ten diepste die volgehoue poging om sin te maak van onsself, of in sy eie formulering: “ons synswyse is synsinterpretasie”. Die vraag na verstaan is dus ten diepste die vraag na die sin van ons bestaanwyse as mense.
Allegoriese interpretasie
Lank voor hierdie meer komplekse onlangse ontwikkelings in die filosofie, is die hermeneutiese vraag egter al in die teologie gestel, in die vorm van die eenvoudige vraag: Hoe lees ons die Bybel? Soms is die vraag op ’n taamlik naïewe manier beantwoord. Een van die bekendste antwoorde uit die tradisie was afkomstig van die kerkvader Origines wat in die derde eeu nC geleef het. Origines was ’n voorstander van die sogenaamde “allegoriese” interpretasie van die Bybel. Dit is ’n leesstrategie waarvolgens ’n mens die betekenis van ’n teks nie letterlik opneem nie, maar die dinge wat die teks op die oog af sê (selfs al is dit heel konkrete dinge), beskou as simbole van iets dieperliggends.
Allegoriese interpretasies kan ten beste verduidelik word deur ’n voorbeeld of twee. Tot onlangs het ’n mens byvoorbeeld steeds gehoor dat die boek Hooglied in die Bybel nie regtig handel oor die erotiese liefde tussen twee minnaars nie, maar eintlik te doen het met die liefdesverhouding tussen Christus en sy kerk – selfs al kom die begrippe “Christus” of “die kerk” nie ’n enkele keer in die ganse Hooglied voor nie. Dit maak nie eens saak dat dié boek duidelik die lig gesien het lank voor Christus se geboorte nie. Vir dié soort interpretasie maak dit nog minder saak dat, indien die boek oor die verhouding tussen Christus en sy kerk sou handel, dit ’n opvallend erotiese verhouding sou moes wees – iets waarvan daar geen sprake is in ander Bybeldele waar gepraat word oor die kerk in verhouding tot die Hoof van die kerk nie. Die een