Geloof sonder sekerhede. Anton van Niekerk
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Geloof sonder sekerhede - Anton van Niekerk страница 8
’n Selfs beter voorbeeld van ’n allegoriese interpretasie gaan terug op ’n jeugervaring wat ek self gehad het. Ek herinner my ’n preek wat ek as kind aangehoor het oor die meevoerende Ou-Testamentiese verhaal van Dawid en Goliat. In die kinderdiens dié dag weet die dominee ons toe te vertel dat die vyf klippies wat die jong Dawid daardie dag in sy slingervel gehad het toe hy die gepantserde reus Goliat tot ’n geveg uitdaag, natuurlik nie sommer gewone klippies was nie. O nee! Die klippies, het die dominee beweer, staan eintlik vir iets anders – vir die deugde van geloof, gehoorsaamheid, hulpvaardigheid, vriendelikheid en (soos ’n mens destyds altyd kon verwag) reinheid. Met daardie “vyf klippies in jou slingervel”, het die dominee ons met groot oortuiging meegedeel, kan ’n mens, soos ’n Dawid van ouds, die “(sondige) reuse van hierdie wêreld tegemoetgaan en oorwin”.
Allegoriese interpretasies het baie eeue lank ’n groot invloed uitgeoefen in die kerk, en dit gebeur tot in ons tyd. Drie dinge val ’n mens op van die allegoriese interpretasie. Die eerste, soos reeds gesuggereer, is dat dit klaarblyklik weinig begronding het in die teks wat gelees word. Dit spreek wel van verbeeldingskrag en oorspronklikheid, maar wat dit te make het met die teks waarna dit verwys of wat dit probeer “uitlê”, is wesenlik onduidelik. Die tweede is dat die allegoriese interpretasie altyd gedoen word met oënskynlik goeie bedoelings; ’n mooi sedelessie is meesal die motief daaragter. Die vraag is of daardie sedelessie – goed of sleg soos dit mag wees – hoegenaamd die teks waarna dit verwys, nodig het om die punt te maak wat dit probeer oordra. Die derde ding wat opval – en dit veroorsaak die grootste probleme met hierdie soort interpretasie – is dat dit volledig afhanklik is van die persoon wat interpreteer se vrye verbeelding, met geen waarborg dat ’n ander leser by dieselfde interpretasie van die teks sal uitkom nie.
Daar is wye konsensus dat ’n allegoriese interpretasie van die Bybel nie houdbaar is nie. Dit gee aanleiding tot verbeeldingsvlugte en breinspinsels wat op geen manier deur die teks ondersteun word nie. Dit veroorsaak dat sekere “begaafdes” al hoe meer ’n monopolie op Bybelinterpretasie verwerf, aangesien gewone sterwelinge nie kan kers vashou by diesulkes se besondere “gawes” om die “eintlike, dieper betekenis” van die Bybel op te spoor nie.
Kan ons die Bybel letterlik interpreteer?
Ons kan maklik met mekaar saamstem dat die allegoriese interpretasie nie werk nie. Maar hoe moet ons dan die Bybel lees? Die allegoriese interpretasie wys die gevaar van sogenaamde “inleeswerk” duidelik uit; dis onhoudbaar dat lesers hulle eie voorkeure en idees, en veral hulle eie voorskrifte oor moraliteit, op die Bybelteks afforseer. Beteken dit nou dat ons, om allegorie te vermy, versigtiger moet wees en die Bybel liewer “letterlik” moet interpreteer?
Dis hier waar die wortel van ernstige konflik lê – in die tradisie en tot in ons tyd. Hoe aantreklik die idee van ’n “letterlike” interpretasie van die Bybel ook al vir baie mense is, is dit veilig om te sê dat niemand in die Christelike tradisie nog ooit daarin kon slaag om konsekwent te hou by ’n letterlike verstaan van alles wat in die Bybel staan nie. Om ’n paar voorbeelde te noem: Dan sou ons al die seremoniële voorskrifte van die Pentateug2 steeds nougeset moes navolg: die “lossingsreg” (lees Lev 25) sou byvoorbeeld steeds van krag moes wees, en daar sou steeds “vrystede” moes wees (Num 35). Niemand glo dit meer nie. Al die (voor die hand liggende) simboliek wat ’n mens aantref in die Psalms, die profetiese en die apokaliptiese boeke3 van die Ou en die Nuwe Testament sou letterlik geïnterpreteer moes word. Jesaja se mond sou letterlik met ’n kool vuur aangeraak wees (Jes 6:6-7), Jona sou letterlik deur ’n reusevis ingesluk gewees het, ’n hele tyd (so groot soos hy is) in die vis se maag onder die see moes oorleef, en toe weer uitgespoeg word. Bileam se donkie sou letterlik moes gepraat het. Die semi-sosialistiese leefwyse van die eerste Christelike gemeente (Hand 2:44-47) sou steeds die model van kerkwees verteenwoordig, en ons sou dit letterlik moes navolg.
Die probleem is natuurlik dat die onhoudbaarheid van ’n letterlike interpretasie van sekere Bybelgedeeltes nie vir alle Christene so voor die hand liggend is soos dit (hopelik) in die geval van bogenoemde voorbeelde is nie. Die sentrale twispunt het te doen met die betekenis van Genesis 1 – 3. Terwyl ’n mens hopelik daarop kan reken dat die meerderheid verstandige mense – ook Christene – met my sal saamstem dat die voorbeelde wat in die vorige paragraaf genoem is, hulle op geen manier leen tot ’n letterlike interpretasie nie, is die probleem met die eerste drie hoofstukke van die Bybel meer kompleks. Hier het ons te make met materiaal waarop twee van die kernleerstellings van sowel die Roomse as die Protestantse leertradisies gebaseer is, naamlik die skeppingsleer en die verhaal waarop die Christelike kerk sy omstrede leer van die “erfsonde” baseer.4
Ek het wel ’n sterk vermoede dat ’n groeiende aantal Christene nie langer aanvaar dat die wêreld in letterlik ses dae van 24 uur elk geskape is, dat die volgorde presies so was soos wat Genesis 1 dit uitlê, en dat Adam en Eva historiese figure was nie. Hulle vind dit waarskynlik ewe problematies om, soos in die Inleiding beredeneer, die storie te koop dat ’n “reël/wet” wat dié twee in die “paradys” oortree het, meegebring het dat die res van die menslike geslag sowel as die ganse skepping (Rom 8:19-22; Kol 1:20) met ’n metafisiese, strafeisende banvloek getref is. Tog is die probleem dat selfs progressief denkende Christene in die gevestigde kerke dit lastig vind om hul skeptisisme oor hierdie leerstellings aan die groot klok te hang, aangesien hierdie soort aannames kennelik nog vervat is in sleutelleerstukke van die meeste gevestigde kerke.
Daarby het ’n groepering Christene wat kortweg beskryf kan word as “fundamentalistiese kreasioniste”, op voetspoor van hulle Amerikaanse eweknieë wat dit dekades lank reeds doen, toenemend die interpretasie van Genesis 1 – 3 tot slagveld verklaar. Dit blyk veral uit onverkwiklike briefwisselings in die Afrikaanse dagblad Die Burger wat taamlik gereeld voorkom en hervat. Met groot stelligheid verklaar hierdie groepering dat die hart van die Bybelse boodskap en die geloof in die evangelie in die gedrang kom indien die eerste drie hoofstukke van die Bybel nie as ’n min of meer letterlike beskrywing van werklike historiese gebeure beskou word nie. Dít ten spyte van die oorweldigend wyd aanvaarde wetenskaplike getuienis dat die aarde nie 6 000 nie, maar vier biljoen jaar oud is en dat lewe evolusionêr ontwikkel het uit primitiewe selle wat hul gene voortplant in die onoorskoulikheid van geologiese tyd en gedryf word deur slegs een dinamiese beginsel, naamlik natuurlike seleksie – die proses waardeur gene lewende organismes gebruik om optimaal te oorleef.5 Hier het ons op die oog te make met die skerpste konflik tussen wetenskap en geloof in die geskiedenis; een wat in heftigheid vergelykbaar is met die stryd tussen die kerk en Galileo Galilei tydens die 17de eeu.
Ons kan die Bybel nie deurgaans “letterlik” interpreteer nie, en die Christelike kerk het dit ook nog nooit deur die loop van sy ganse geskiedenis gedoen nie. Die hele idee dat “gewone mense” self die Bybel kan lees en verstaan, was ’n sentrale twispunt tydens die kerkhervorming van die 16de eeu, juis omdat Rome daarop aangedring het (en dit in sekere opsigte steeds doen) dat die enigste instansie wat regtig die Bybel betroubaar kan lees, die geïnstitueerde kerk is, en nie individuele lidmate van die kerk nie. Hulle standpunt was dat die leerstellige tradisie van die kerk, wat gevorm word deur die gesag van die biskoplike amp (met die biskop van Rome, oftewel die pous, as die hoogste gesag) ’n soort “bril” vorm waardeur gewone mense die Bybel behoort te interpreteer.
Uiteindelik het die Protestantse (en veral gereformeerde) tradisie nie te ver hiervan afgewyk nie. In die Protestantse wêreld is afgesien van die idee dat die kerk saamval met die biskoplike ampte en dat laasgenoemde via die biskop van Rome ’n unieke uitlêgesag het. Maar sedert die Sinode van Dordrecht in 1617 is in die gereformeerde wêreld die idee gevestig dat die kerk – al is die kerk alle lidmate, en nie slegs die ampte nie – tog ook “belydenisskrifte” moet hê. Belydenisskrifte is niks anders nie as ’n samevatting van kernelemente van dit wat die kerk meen dat die Bybel essensieel sê. In dié sin is die gereformeerde (en ander) belydenisskrifte