Ena Murray Keur 4. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 4 - Ena Murray страница 20

Ena Murray Keur 4 - Ena Murray

Скачать книгу

Calvyn se stem is skielik skor.

      “Wel …” Wanda de Ridder probeer glimlag, doodluiters voorkom, en dit in ’n grap afmaak. “Wel, die ginekoloog het bevestig dat ou De Jonker gelyk het. Ek sal nooit kinders hê nie. Daar is glo iets wat nie reg ontwikkel het nie. Ek weet ook nie wat nie. Maar dis ’n voldonge feit dat ek nie in staat is om ooit swanger te raak nie.” Sy draai haar oë vinnig weg van die twee verstarde gesigte en vervolg gedemp: “Ek het toe maar gedink ek sal julle kom sê daarvan. Dan weet julle, Calvyn veral …”

      Die volgende oomblik spring sy op en storm na haar motor, en voordat Calvyn en Ria ’n vinger kan lig, trek sy in ’n stofwolk weg. Dis doodstil op die stoep. Die tee word koud in die teepot.

      Dis Calvyn wat eerste opstaan en in die rigting van sy studeerkamer verdwyn. ’n Peinsende Ria klim met die stoeptreetjies af en kry koers in die rigting van die land agter die eerste rantjie, waar die dreuning van ’n trekker opklink.

      Sy beduie aan Hendrik om die trekker af te skakel, en toe hy by haar kom, vee hy die sweet met die rugkant van sy hand weg.

      “Ek verwag Calvyn elke oomblik hier. Ek dink jy moet liewer huis …” begin hy.

      “Calvyn is in sy studeerkamer en ek dink nie ek of jy sal hom voor môreoggend weer te sien kry nie. Sy hele wêreldjie, waaraan hy so hard opgebou het, het netnou om hom ingetuimel.”

      Hendrik frons skerp.

      “Wat … bedoel jy? Wat het gebeur?”

      Hy staan en luister swyend, en eers toe Ria aan die end van haar vertelling kom, kyk hy haar direk aan.

      “Miskien sal jy nie nou verstaan nie, Hendrik, maar ek kry hom so innig jammer, baie jammerder as wat ek Wanda het. Calvyn het al sy drome en ideale op sand gebou … en vanmiddag het dit onder hom weggekrummel. Daar het niks oorgebly nie, niks vir die toekoms nie. Al sy sweet, al sy opoffering, al die bakkende ure in die son, al die beplanning en berekeninge in sy studeerkamer, al die spartel en spook om die De Ridder-naam hoog te hou – alles het vandag op ’n ronde nul uitgeloop. Dit is die eindtotaal van die som van sy lewe. ’n Nul. Een ronde nul.”

      Sy begin saggies huil en Hendrik trek haar teer teen hom vas. Bokant haar kop staar sy oë na die rooi sooie wat omgekeer lê, nie vir die nageslag van die De Ridders nie, maar vir vreemdes – en op hierdie oomblik kry die voorman sy baas uit sy hart uit jammer, só jammer dat hy gerus saam met Ria kan huil oor die arme, ryk dwaas. Dan is daar tog dinge in die lewe wat geld nie kan koop nie. Dan is daar tog oomblikke waarin selfs die baas van Babilon kragteloos is, omstandighede wat nie eens die rykdom en die naam van die De Ridders kan beheer nie, feite wat Calvyn de Ridder nie na sy smaak en wense kan hervorm nie. Vandag is Calvyn de Ridder nie meer ’n baas nie, maar ’n voorman, en moet hy dit besef. Hy was maar heeltyd ’n voorman. Hy het gewerk, gesweet vir vreemdes.

      En skielik staan ’n fyn gesiggie voor hom. As sy gebly het … As die De Ridders Salome aanvaar het, sou Calvyn nie nou met ingetuimelde lugkastele om hom gesit het nie. Want hy het net vanoggend ’n brief ontvang …

      Calvyn kyk verbaas op toe sy studeerkamerdeur oopbars en Ria verwilderd op hom afpyl. Hy het haar nog nooit só sien lyk nie. Haar hare is deurmekaar, haar gesig vertrek, daar is traanmerke op haar wange. Hy kan haar net ongelowig aanstaar toe sy losbars, want sulke histerie van die altyd inskiklike Ria is ongekend.

      “Nee, moenie nou hier sit asof die wêreld om jou vergaan het nie. Jy is self die oorsaak daarvan. Niemand anders nie … Jy …”

      “Ria! Wat gaan met jou aan? Ruk jou reg! Jy is histeries!”

      “Ja, ek is, en wat daarvan?” Opnuut vloei die trane, maar sy wend geen poging aan om hulle af te vee nie. Met gebalde vuiste staan sy voor haar broer. “Dit is om van histeries te word! Jy en Deon en Wanda kry nou net wat julle verdien. Ja, julle verdien hierdie ramp … elke stukkie daarvan. Deon was sy lewe lank nog ’n skurk van die opperste water. Wanda het nie gehuiwer om Salome tot in die afgrond te verneder en haar man oop en bloot te steel nie. En jy … jy, die grootbaas van Babilon, met jou verdraaide sin vir waardes, met jou verwronge uitkyk op die lewe, met jou belaglike eiedunk, met jou afgodery van ’n stuk dooie grond en ’n nog dooier naam … jy, Calvyn de Ridder, verdien dit nog die meeste.”

      “Ria! Is jy van jou sinne beroof …”

      “Nee, Calvyn. Ek … en jou voorman … is die enigste mense op hierdie plaas wat nog ’n stukkie verstand het – en harte wat nog kan voel. Dis júlle, jy veral, wat ’n ysterkliphart het, wat net so hard en gevoelloos geword het soos daardie ysterklipkoppies wat jy daar buite sien en aanbid asof jy hulle saam met jou graf toe sal kan neem. En dis wat jy nou daarmee sal moet doen, dan nie?” Skielik huil sy histeries. “Daar is niemand aan wie jy dit kan nalaat wanneer jy die dag sterf nie. Jy sal die hele Babilon saam met jou in die graf moet inpiekel!”

      Sy hand tref haar onsag teen die wang, en ’n lang oomblik heers ’n grafstilte om hulle. Verwese staar Ria na haar broer, terwyl hy op sy beurt bleek en granietagtig terugstaar.

      “Ek moes jou klap. Jy was totaal histeries. Maar loop nou voordat ek my selfbeheersing heeltemal verloor. Met wie dink jy praat jy?” vra hy dan eindelik.

      Haar stem is nou kalmer, amper te kalm.

      “Met jou, Calvyn. Met die baas van Babilon, wie se plannetjies almal geboemerang het. Ek het nog nooit in my lewe ’n mens so diep bejammer nie – nie eens myself nie – soos vir Salome toe sy die dag by hierdie voordeur uitgestap het, weggedryf is van hierdie plaas. Maar vandag kry ek jóú jammerder, werklik innig jammer. Jy het ’n bed vir jouself gemaak en nou moet jy daarop slaap. En dis vol dorings, nè, my broer? Nét dorings.”

      “Ria, moet my nie verder tart nie. Lóóp, asseblief!”

      “Nie voordat ek klaar is nie. Te lank was ek net ’n marionet in hierdie huis. Maar nie méér nie.”

      “Daar is niks verder te sê nie …”

      “O ja, daar is. Sommer nog baie, oneindig baie. Die eintlike ding wat ek vir jou kom sê het, het ek nog nie eens aangeroer nie …”

      “Nou sê dit en kry klaar!”

      Sy stem bulder deur die vertrek, maar Ria wyk geen tree nie. Sy bly hom kalm aankyk, en daar speel selfs ’n vreemde glimlaggie om haar lippe.

      “In ’n goedkoop losieshuiskamertjie êrens in die stad lê Babilon se erfgenaam.” Haar oë trek peinsend saam. “Verstaan jy wat ek sê, Calvyn?”

      Stadig sink hy terug in die stoel, kyk Ria verstard aan.

      “Dis waar, die reine waarheid. Gaan vra vir Hendrik Jansen. Hy sal jou vertel … vertel van die maande van swaarkry wat Salome geken het sedert sy soos ’n hond van Babilon af moes wegsluip; hoe sy gesukkel het om liggaam en siel aan mekaar te hou terwyl Babilon se erfgenaam in haar gegroei het; hoe sy die laaste twee maande nie meer kon werk nie; hoe sy selfs soms honger gely het. Ja, Calvyn, honger gely het. Was jy al ooit werklik honger? En dit terwyl ’n De Ridder in haar gegroei het. Hy sal jou vertel hoe sy byna dood was met die geboorte, hoe daar dae lank vir haar lewe gevrees is. Maar nou is sy weer terug in haar losieshuiskamertjie met haar seuntjie, en ek is byna seker sy ly nog steeds honger, want nou is daar nog ’n mondjie om te voed, nog ’n liggaampie om toe te hou. En soos ek Salome, die vrou wat julle nie geag het nie, leer ken het in die paar maande wat sy hier was, sal sy die kos uit haar mond neem om vir haar kind te gee.”

      Dan

Скачать книгу