Ena Murray Keur 4. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 4 - Ena Murray страница 21

Ena Murray Keur 4 - Ena Murray

Скачать книгу

om liefdeswil, kom jy aan hierdie dinge?”

      “Ek het jou reeds gesê. Hendrik … Hendrik Jansen het my so pas vertel. Ons het weke lank geen brief van haar gehad nie. Ons het albei gewonder wat aangaan. En toe het Hendrik vanoggend ’n brief gekry.”

      Hy is by die deur uit en Ria volg hom haastig. Die storm het in haar uitgewoed, en kommer groei in haar aan. Wat gaan Calvyn doen? Sy moes stilgebly het. Salome het uitdruklik in haar brief geskryf dat niemand, niemand van hierdie dinge moet weet nie. Maar in die woede van die oomblik, in haar verskriklike ontsteltenis, kon sy haarself nie keer om Calvyn met hierdie kennis te treiter nie. Sy is langs Calvyn toe hy voor Hendrik Jansen tot stilstand kom. Net een blik na sy baas se gesig vertel Hendrik alles en sy oë gaan beskuldigend en verwytend na Ria wat net haar kop laat sak.

      “Waar is daardie brief?”

      “Dit is ’n persoonlike brief aan my en …”

      “Jansen, ek breek jou nek! Waar is daardie brief?”

      Nog ’n oomblik staar die twee mans mekaar vierkant aan. Toe ruk Babilon se voorman die brief uit die bosak van sy kakiehemp en gooi dit byna teen Calvyn se gesig.

      “Ja, lees dit! Lees en kyk of daar nie darem nog ’n greintjie menslikheid in jou oorgebly het, wat jou jou kop in skaamte sal laat sak nie!”

      Calvyn tel die brief op, maar voordat hy dit oopmaak, kyk hy sy voorman vernietigend aan.

      “Ek moes jou jare gelede weggejaag het!”

      “Ek moes jare gelede self weggeloop het,” is die antwoord, en nie ’n enkele sekonde weifel sy oë nie.

      Die papier in sy hande ritsel in die ligte windjie, en Calvyn se blik sak af. Hy begin lees: Liewe Hendrik, jy en Ria wonder seker wat die afgelope weke van my geword het dat julle niks van my hoor nie. Maar ek was baie siek. Hendrik, wat ek vandag vir jou skryf, moet jy vir geen sterfling vertel nie, nie eens vir Ria nie. Dis beter dat sy nie weet nie. Sy kan dalk in ’n onbesonne oomblik my geheim verklap. Ek gaan jou vandag eerlik alles vertel. Ek het al die maande nooit in my briewe daarvan melding gemaak nie. Ek wou julle nie ontstel nie, en julle sou daar tog niks aan kon doen nie. Maar dit was bitter maande wat verby is sedert ek daardie dag van Babilon af weg is …

      Hoe bitter en hoe swaar hierdie vrou werklik gekry het, ontvou in die volgende bladsye. En terwyl Calvyn de Ridder dit woord vir woord lees, dans die note voor sy oë rond, daardie note wat elke einde van die maand – te midde van gebrek, soos hy nou besef – so getrou op Babilon aangekom het. Dan bereik hy die einde van die brief: Ek is jammer, Hendrik, dat ek jou met hierdie dinge belas, maar as ek nie nou my hart teenoor iemand uitpraat nie, sal ek heeltemal ingee. Liefde, Salome.

      Hy vou die brief op en steek dit eiegeregtig in sy sak. Dan kyk hy op, vas in Hendrik se glurende oë.

      “Al jaag jy my ook weg hierna, maak dit geen saak nie. Maar daar is een ding wat jy vandag goed moet verstaan, Calvyn de Ridder. As jy jou hande op Salome se kind lê, gaan jy met my te doen kry. Jy weet ek het niks nie, maar al moet ek die geld gaan bedel of steel om jou in die hof te beveg – Salome se kind gaan jy nie van haar steel nie.”

      Roerloos staan en wag Ria en Hendrik dat die moordende vuishou moet kom. Maar Calvyn draai om en stap weg … en laat twee verslae, verbaasde mense agter.

      As sy maer was toe sy van Babilon weg is, is Salome net ’n strepie toe die deur van haar losieshuiskamer oopswaai. Wat die groot man op hierdie oomblik voel en wat presies in hom omgaan noudat sy oë weer ná maande op haar rus, kan Salome nie op sy gesig lees nie. Maar hy kan die wisseling van verskillende emosies op háár vermaerde gelaat lees. Eers is daar ongeloof in die oë wat diep vanuit hul kasse na hom opstaar; dan verbystering, gevolg deur ’n vraende blik; en dan vrees, soos hy dit nog nooit in haar oë gesien het nie. Dis ’n patetiese beweging wat sy maak om die deur in sy gesig toe te druk. Met sy hand op die knop druk hy dit wyer oop, stap binne en druk dit dan agter hom toe. Sy retireer.

      “Wat … wat soek jy hier?” Dis net ’n skor fluistering, bevange van vrees.

      “Salome, ek het jou kom haal … vir jou en … die kind …”

      “Die … die kind? Watter … watter kind? Hier is geen … kind nie.”

      Dis weer ’n patetiese poging, waarop hy nie eens antwoord nie, want agter haar in die hoek is daar ’n kniesgeluidjie. Calvyn kyk oor haar skouer en sien die ligte roering. Hy stap vorentoe, maar sy is voor hom daar. Met haar rug teen die kant van die wiegie gedruk, kyk sy na hom op en haar oë gloei koorsig.

      “Jy sal nie jou hande op my kind lê nie, Calvyn! Oor my dooie liggaam …”

      Sag maar baie beslis neem hy haar aan die skouers en sy is soos ’n ligte veertjie in sy arms toe hy haar optel en op die bed neerdruk. Dan buk hy oor die bondeltjie, en van waar Salome hom met groot, verstarde oë sit en aankyk, kan sy nog geen emosie op sy gesig uitmaak nie.

      Toe hy eindelik orent kom, kyk hy nie eens na haar kant toe nie, maar laat sy oë deur die vertrekkie dwaal totdat hulle op ’n plek tot rus kom. Hy stap daarheen, haal die twee verweerde tasse van die hangkas af, maak hulle oop en sit hulle op die kaal houtvloer neer.

      “Wat … wat gaan jy nou doen?”

      Eindelik kyk hy na haar, en Salome sal nooit raai hoeveel moed dit van die groot man verg nie. Ook sal sy nie raai dat dit skaamte is wat hom tot dusver haar oë laat ontwyk het nie. Hy hou sy hande uit en trek haar orent, en in ’n vreemde stemtoon wat sy nooit tevore by hom gehoor het nie, sê hy: “Kom. Ek sal jou help inpak. Jy en jou seun kom saam met my.”

      “Waarheen?”

      ’n Oomblik kyk hy in haar vreesbevange oë af voordat hy antwoord: “Waarheen anders as na Babilon – waar julle twee hoort?”

      “Nee! Nee!” Sy rem terug. “Wat moet ek daar gaan maak? Daar is geen plek vir my … vir ons nie! Nee, ek …”

      “Al die plek in die wêreld … as my vrou en my kind.” Verbystering is in elke lyn van die skraal gesiggie en maer lyfie afgeëts.

      “Wat … wat het jy gesê?”

      ’n Sterk hand vou om haar bewende ken.

      “Ek vra jou om met my te trou sodat ek vir jou en jou seun ’n huis en ’n toekoms kan gee.”

      “Jy … jy is van jou verstand af!”

      Sy oë vernou, staar priemend na haar.

      “Haat jy my só erg, Salome?”

      Sy kyk terug, vol verwarring. Haat sy hom? Sy het haarself nog nooit die vraag afgevra nie. Sy weet nie wat sy teenoor hom voel nie. Al wat sy weet, is dat dit hierdie man se gesig was, en nie dié van die pa van haar kind nie, wat telkens voor haar opgeduik het in die maande wat verby is. Al wat sy weet – en hoekom dit so is, sal sy nie kan verklaar nie – is dat die verpleegsters haar gesê het dat sy na ’n Calvyn geroep het toe sy met die dood geworstel het. Dit was ook nie Deon se beeld wat voor haar verskyn het in die maande wat sy so swaar gekry het nie, toe sy gewonder het hoe sy die noodsaaklike goedjies vir haar baba gaan bekom, hoe sy die broodnoodsaaklike vir haarself gaan koop. Dit was hierdie man se beeld wat dan voor haar gestaan het – en sy het nog nooit die moeite gedoen om die emosies te ontleed wat op daardie oomblikke in haar hart was nie. Maar één emosie het sy tog wel geëien –

Скачать книгу