Ena Murray Keur 6. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 6 - Ena Murray страница 20

Ena Murray Keur 6 - Ena Murray

Скачать книгу

hom te sê.”

      “Hy sal jou nie toelaat om dit te sê nie, my kind. Deidre, luister nou na my. Laat asseblief die saak daar, of laat dit aan my oor. Bly asseblief weg van Neil af!”

      “Ek weier! Al klap hy die voordeur in my gesig toe, dan klim ek deur die laboratoriumvenster …”

      “Daar is nie so iets nie.”

      Sy frons.

      “Wat bedoel oom? Hy doen mos navorsing, nie waar nie?”

      “Nee. Nie meer nie.”

      “Nie meer nie!” Sy lyk openlik geskok en oom Alwyn se stem klink baie stil toe hy knik en vervolg: “Hy kan nie.”

      Sy verbleek. “Bedoel oom dat hy as gevolg van sy vrygewigheid aan my nie genoeg geld het nie …?”

      “Nee! Nee! Geld het niks met die saak te doen nie,” laat oom Alwyn vinnig hoor. “Daar is ’n ander rede, maar … maar dit het niks met jou te doen nie,” en sy stem klink regtig onvriendelik.

      Deidre se verwarring neem toe. Dan raak sy kwaad. Sy is nou moeg vir hierdie kat-en-muis-speletjie.

      “Oom Alwyn kan my maar net sowel vertel wat aangaan. Ek sal dit tog die een of ander tyd uitvind. Wat is dit?”

      “Deidre, dit is nie my of jou saak nie, dis Neil s’n. As Neil moet agterkom ek het jou vertel … Hy het my en die tante baie beslis verbied om dit ooit teenoor jou te noem.”

      “Ek verstaan. Maar, oom, ek is net so beslis om vas te stel wat aangaan. Ek is net so beslis om sy geld persoonlik aan hom te gaan oorhandig. Dus …” Sy kom nader. “Vertel my maar asseblief, toe wat! Hoekom doen Neil nie meer navorsing nie? Of liewer, hoekom kan hy nie, soos oom dit gestel het?”

      Oom Alwyn sug. Dan kyk hy in Deidre se vraende blik op. “Hy kan nie, my kind, omdat hy al vyftien maande lank blind is.”

      7

      Deidre sak terug in die stoel, heeltemal verbyster. Van die skok is haar stem byna onherkenbaar en onverstaanbaar van heesheid.

      “Blind! Maar … maar wat het gebeur? Hoe …?”

      “’n Proefbuis het in sy gesig ontplof.”

      Daar volg ’n lang stilte waarin hulle mekaar net sit en aankyk. Dan vra Deidre stil: “Hoe het dit gebeur? Neil was nooit nalatig of onverskillig nie.”

      “Dit het maar net … gebeur, my kind, soos sulke dinge maar altyd gebeur. Neil was oorwerk, totaal oorwerk en … miskien was hy as gevolg daarvan nie so versigtig en oplettend soos altyd nie.”

      “Wanneer presies het dit gebeur?”

      “Sowat vier maande nadat jy weg is.”

      “Hoekom het oom my nie hiervan laat weet nie?” vra sy met verwyt in haar stem.

      “Neil het my dit verbied. Hy het selfs daarin geslaag om dit vir die koerante stil te hou. Hy het verdwyn net nadat hy uit die hospitaal ontslaan is.”

      Deidre spring op en gaan voor die venster staan. Die volle besef van wat oom Alwyn haar so pas vertel het, begin nou eers tot haar deurdring. Neil blind! Daardie briljante man, wat soveel vir die mensdom kon beteken het, blind? Daardie geniale man nou ’n hulpelose blinde! Dis ondenkbaar!

      “Kan daar niks vir hom gedoen word nie, oom? Hulle verrig vandag soveel wonders in die mediese wêreld. As hulle ’n mens se hart uit jou liggaam kan haal en vir jou ’n ander een insit, kan hulle seker Neil se oë aan hom teruggee!” roep sy uit.

      Maar oom Alwyn skud sy kop.

      “Nee, my kind, ongelukkig nie. Daar is geen hoop nie. Neil se oë is permanent beskadig.”

      Sy dwaal rusteloos deur die vertrek en skud haar kop heen en weer asof haar verstand net weier om die wrede waarheid te aanvaar. “Ek kan dit nie begryp nie! Het dit gebeur met ’n motorongeluk of so iets, sou ek dit kon aanvaar. Maar ’n ongeluk in sy laboratorium! Nie met Neil nie! Oom sê hy was baie oorwerk? Hoekom? Was hy op die spoor van iets besonders?”

      “Nee … e … nie juis nie. Nie waarvan ek in elk geval weet nie. Hy het maar net soos ’n besetene begin werk, byna dag en nag en …” Hy trek sy skouers op.

      “Ons het almal gepraat en gepleit, maar hy het geen ag daarop geslaan nie. Hy sou mos, voordat hy met heeltydse navorsing begin, eers met vakansie gegaan het. Hy het sy vakansie uitgestel, eintlik afgestel, en dadelik weer begin werk en aanhou werk totdat …”

      Deidre frons. Sy het nie geweet hy sou eers vakansie gaan hou het nie. Hy het haar daardie tyd nie daarvan vertel nie. Maar hoekom het hy nie eers vakansie gaan hou nie?

      Haar blou oë is donker van bekommernis.

      “En nou, oom? Wat maak hy op daardie plasie? Hoe leef hy?”

      “Die ou tannie van wie hy die plasie gekoop het, het as sy huishoudster aangebly. Daar was nog ’n verband op die grond toe haar man oorlede is, en sy was verplig om te verkoop. Neil het toe die grond oorgeneem en haar sommer gevra om as huishoudster aan te bly.”

      “Maar wat doen hy om sy dae om te kry?”

      “Moenie my vra wat die eerste ruk daar aangegaan het nie. Oor daardie deel van Neil se lewe is ’n digte sluier getrek. Maar dit lyk tog of hy weer rigting begin kry. Hy het die afgelope maande ’n poging begin aanwend om die navorsing wat hy tot dusver gedoen het, te boek te stel. Dit sukkel maar geweldig, maar dit hou hom darem aan die gang, gee hom iets om te doen.”

      “Alleen?”

      “Nee, dis natuurlik vir hom ’n onbegonne taak om dit sonder hulp te doen. Die afgelope maande het ek al omtrent ’n stuk of ses sekretaresses vir hom gestuur, maar dis net ’n week of veertien dae of uiters ’n maand, dan trek hulle sak en pak.”

      “Hoekom?”

      “Om baie redes. Vir baie van hulle was De Hoop – dis die plekkie se naam – te stil en afgesonder. Maar die grootste rede is natuurlik dat Neil ’n baie moeilike mens is om mee klaar te kom.”

      Deidre kyk hom ongelowig aan.

      “Dis nie waar nie, oom Alwyn,” verdedig sy lojaal. “Neil is die wonderlikste baas wat ’n mens kan verlang. Ek weet mos. Ek het jare vir hom gewerk.”

      “Ja, my kind, vir die óú Neil. Die blinde Neil is ’n heeltemal ander mens. Jy sal hom skaars herken. Soos die laaste meisie wat daar was – sy het net ’n week uitgehou – dit sommer reguit gestel het: Neil is die befoeterdste mens op aarde! Wat dit natuurlik nog moeiliker maak, is dat nie een van die meisies wat ek in die hande kon kry om daarheen te gaan, al ooit vantevore met laboratoriumwerk en navorsingswerk te doen gehad het nie en nie altyd so gou kan snap waarna Neil soek nie. Dan verloor hy sy humeur, wat die afgelope tyd maar baie kort geraak het, en dan moet hulle aanhoor dat hulle onnosel skape is en nie die verstand van ’n kleuter het nie, ensovoorts, ensovoorts. Die gevolg is dat hulle hul goedjies gaan pak en hom net so los. Ek is nou weer juis een aan die soek, maar ek het nie veel hoop nie. Ek het net gister ’n brief gehad van die enigste een wat ek gehoop het bereid sou wees

Скачать книгу