Harry Griesel 1: Operasie spookredding. Sonja Kaiblinger
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Harry Griesel 1: Operasie spookredding - Sonja Kaiblinger страница 3
Otto kry skoon hoendervleis. Sy hart klop in sy keel, terwyl hy kyk hoe die snaakse gedaante in sy kar klim en wegry.
Selfs ’n uur later, toe die ambulans ook al weg is en alles weer kalm is, kan Otto nog steeds nie die nagtelike besoeker vergeet nie. Met ’n kloppende hart lê hy in sy bed, terwyl Vincent se reëlmatige gesnork uit die kas gehoor kan word.
Een ding is seker: Tannie Sharon sal more allesbehalwe in haar noppies wees met Otto se punte vir sy biologietoets.
Noodvergadering
Moenie dat ek alles uit jou moet trek nie,” kla Emily terwyl sy haar rugsak oor haar skouer gooi. “Vertel my meer van hierdie agurkiebottel-ou wat laas nag by meneer Olsen was.”
“Ek sê mos, ek het nie ’n idee wie dit is nie. En ek het nie lus om daaroor te praat nie,” brom Otto terwyl hy aanhoudend na ’n klip skop wat dieselfde aaklige grys kleur as die skoolgebou agter hulle is.
Hy is in ’n baie slegte bui. Tot sover is die dag een groot gemors. Hy kon nie eens die helfte van die biologietoets se vrae beantwoord nie en hy het die vorige nag nie ’n oog toegemaak nie. Hy kon net nie die prentjie van die donker kuiergas in meneer Olsen se tuin uit sy kop kry nie. Toe hy uiteindelik teen die oggend se kant aan die slaap raak, het hy boonop ’n nagmerrie oor gloeiende argukiebottels gehad.
“Maar jy weet mos jy kan my alles vertel,” hou Emily aan neul. “Ek is jou beste vriendin!” Sy vee ’n bruin haarsliert uit haar gesig net om te wys dat sy nogal beledig voel.
Otto gee ’n groot sug. Hy wil nie hê sy moet vir hom kwaad wees nie. Met haar verslonste, slierterige hare en outydse klere, wat sy konstant uit haar ouma se skatkis grawe, hou hy van die eerste skooldag af al van Emily. Mens kan nie juis dieselfde van die ander kinders by die skool sê nie.
“Ag, ek weet nie, Em. Ek het die idee gekry dat daardie wese nie lewendig óf dood is nie. Hy is iets wat ek nog nooit gesien het nie.”
Emily gaan staan botstil. “Nie ’n mens en ook nie ’n spook nie,” fluister sy verwonderd terwyl haar tweekleurige oë vonkel. Haar regteriris is blou en die linker een bruin. “Ek het gewéét dis die keer nie net ’n gewone spook nie. Ek het jou nog nooit so deurmekaar gesien nie! Nie eens toe jy hierheen getrek het en Sir Tony vir die eerste keer ontmoet het nie. Onthou jy nog hoe hy jou in die klerekas voorgelê het, omdat hy gedink het jy is ’n plakker?”
Otto knik sy kop ernstig. Hy weet hoe enigiets wat bonatuurlik is, Emily fassineer. Sy het al baie keer wetenskaplik probeer bewys dat spoke wel bestaan; sover sonder enige sukses.
“Het jy nie gesê Vincent het hierdie kuiergas ook gesien nie?” hou sy aan. “Kon hy nie eens raai watse wese dit is nie?” Sy blok die skerp lig met haar hande uit haar oë en kyk rond of sy nie Otto se troeteldier êrens kan sien nie. Toe sy en Otto uitgekom het uit die skool, het Vincent uit Otto se skooltas geglip en fladder nou van een telefoonpaal na die ander. ’n Klomp kraaie wat op die telefoonpale sit, vlieg elke keer skel-skel op as Vincent soos ’n pyl uit ’n boog op hulle afkom.
Otto gooi sy hande in die lug. “Vincent weet niks van spoke af nie,” verduidelik hy. “Eerstens, is hy net ’n halwe spookvlermuis en dis hoekom gewone mense hom kan sien, alhoewel dit partykeer beter sou wees as hulle nie kon nie,” brom Otto. “En tweedens, is Vincent al driehonderd jaar gelede uit die Oorkant verban; dis hoekom ek nou met hom opgeskeep sit!”
“Is Vincent verban?”
Otto kan nie help om te glimlag nie. “Blykbaar het Vincent se slegte maniere nie goed afgegaan in die spookwêreld nie.”
Otto se troeteldier se gedrag laat ook veel te wense oor in die gewone wêreld. Net nou die dag het hy uit Otto se skooltas geglip omdat hy sy gunstelingkos teen die venster van die natuurwetenskapsklas ontdek het: ’n groot, vet brommer.
Die meisies van die graad 6A klas was histeries en Otto moes bontstaan om te verduidelik. Die onderwyser sal beslis nie die storie vir ’n tweede keer sluk dat Otto ’n vlermuis in sy tas hou vir ’n biologietaak nie.
Hulle het intussen by Radysstraat nommer agt aangekom. Otto gaan staan voor die skerppunt-heining en kyk na die stoep. Die ou Hollywoodswaai kreun onder ’n swaar gewig, alhoewel dit vir enigiemand anders sal lyk asof die swaai leeg is. Vir almal behalwe vir Otto.
“Sir Tony!” Otto maak die geroeste tuinhek oop en loop oor ’n tapyt van ritselende blare na die stoep. Die piepgeluide hou geleidelik op en die swaai kom tot stilstand. “Wag jy dalk vir ons?”
As Otto nie van beter geweet het nie, sou hy tannie Sharon se huisspook as ’n normale, dikkerige, middeljarige oom aangesien het. Tony se gesig is nie bleek nie en hy sleep nie ’n rammelende ketting rond, of het ’n gat in sy maag nie. Die enigste ding wat Sir Tony van ander mense onderskei, is die feit dat niemand hom kan sien nie. Behalwe Otto. Dit beteken dat hy dood is.
“Nie eintlik nie.” Sir Tony hoes. “Ek moes vlug. Jou tannie se skoonmaakgier word by die dag erger. Die lawaai is onuithoudbaar!” Hy steun en vee oor sy voorkop. “Die skoonmaakduiwel stofsuig nou al vir die derde keer hierdie week. Die stof waai gedurig in my ha … ha … tisjoe!”
Sy tannie se skoonmaakobsessie werk ook erg op Otto se senuwees. Maar Tony voel dit gereeld aan sy eie lyf – want hy bly in tannie Sharon se stofsuier.
Sir Tony trek aan die paar hare wat weerskante van sy kaalkop groei. “Nou weet ek hoe dit moet voel om langs ’n snelweg te bly,” hou hy aan kerm.
Tannie Sharon se oudste huisspook is geneig om te oordryf. Toe hy nog geleef het, was hy al baie veeleisend. Hy dink dis nog steeds sy reg om aanhoudend te kla. Die feit dat hy na sy dood per ongeluk in ’n stofsuier beland het, maak die hele storie ook nie juis makliker nie.
Maar na ’n rukkie het Sir Tony die voordele van ’n stofsuiersak begin waardeer. Die plek is nou wel klein, maar niemand pla jou daar nie en selfs in die winter is dit heerlik warm. Ongelukkig ly hy op hierdie stadium erg aan asma as gevolg van al die stof. Blykbaar kan ’n mens selfs na jou dood nog siek word.
“Wat is fout met Tony?” onderbreek Emily die huisspook se gekerm, terwyl sy Otto met haar elmboog in die ribbes pomp. Otto vergeet gereeld dat Emily nie vir Sir Tony kan sien of hoor nie en dat hy moet verduidelik wat aangaan.
“Ek kry al meer die gevoel dat niemand hulle aan my steur nie,” sê Tony liggeraak. “En dit nogal op my grond en in my villa!”
Toe Sir Tony nog geleef het, het die villa aan hom behoort. Hy was baie lief vir die ou huis – die klipmure, die geheimsinnige balkonne, die rankplante en die spits torinkies.
Ná sy dood is die huis op ’n veiling deur tannie Sharon en Otto se oorlede oom Archibald gekoop.
Dat tannie Sharon daarna die portret van Tony, waarin hy lekker aan ’n stuk vleis weglê, summier bokant die kaggel afgehaal het, is vir Tony tot vandag toe ’n teer