Harry Griesel 1: Operasie spookredding. Sonja Kaiblinger
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Harry Griesel 1: Operasie spookredding - Sonja Kaiblinger страница 5
“ ’n Skoenlappernet! Hoe dierbaar!” lag ’n hoë stem uit die ander hoek van die kamer. Die stem behoort aan Molly, tannie Sharon se derde huisspook. Sy sit in ’n outydse nagrok op die aardbol en draai om en om, soos op ’n diskobal. Sy kekkel soos sy lag en gooi haar arms in die lug.
Molly het ook haar eie blyplek in die huis: die waskamer. Omdat sy goed wat draai nie kan uitlos nie, is sy dol oor tannie Sharon se wasmasjien. Niks is vir haar lekkerder as om teen eenduisend-seshonderd omwentelings per uur in die wasmasjiendrom in die rondte te draai nie. Afgesien daarvan steek sy graag van die wasgoed weg en geniet dit gate uit as Otto een van sy sokkies nie kan kry nie.
“Het nie een van julle domkoppe die vaagste benul wat dit beteken nie?” vra Sir Tony kwaai, skiet deur die vertrek en bring die aardbol rukkerig tot stilstand. Molly verloor haar balans en slaan op die vloer neer. “Weet julle nie met wie ons hier te doen het nie?”
Molly, Bert, Vincent en Otto skud moedeloos hulle koppe.
Ná ’n rukkie sê Emily ook nee, want Otto moes eers alles aan haar verduidelik.
Dis baie duidelik dat Sir Tony dit moeilik vind om kalm te bly. “Het julle niks opgelet toe julle dood is nie?” raas hy met bloedrooi wange. “Was julle almal aan die slaap?”
Molly en Bert kyk veelseggend na mekaar. Hulle is lankal gewoond aan Sir Tony se ongeskikte manier van praat … toe hulle nog geleef het, het hulle in sy kombuis gewerk. Sommige dinge verander nooit.
“Hierdie skoenlappernet,” verduidelik Sir Tony verder, terwyl hy uitroeptekens in die lug teken, “is nie ’n gewone net nie!”
“Dit het soos een gelyk,” stry Vincent van waar hy op Otto se skouer kom hurk en sy vlerke oormekaar vou.
“Miskien,” sis Sir Tony deur sy tande. Hy vlieg ontsteld heen en weer in die vertrek rond. “Dit lyk miskien soos ’n net, maar om die waarheid te sê, gaan dit hier oor ’n hoogs gemeganiseerde sielevanger. ’n Mens maak die siele van dooie mense daarmee bymekaar en vat hulle dan na die Oorkant toe. Die gedaante wat meneer Olsen se siel saamgevat het …” Sir Tony bly vir ’n betekenisvolle oomblik stil en haal diep asem, “. . . is die Dood!”
Die Dood. In lewende lywe! Otto voel hoe hy bleek word. Bestaan die Dood nie net in bangmaakstories nie? ’n Geraamte met gloeiende rooi oë? Dit kan net nie waar wees nie!
Otto kyk soos gewoonlik eerste na Molly en Bert. Dit lyk asof Sir Tony se woorde die twee ander spoke net so onkant betrap het. Van pure skrik val ’n haarkruller uit Molly se hare en Bert hoes sy longe uit. Hy het in die melk verstik en nou vorm dit ’n wit poeletjie by sy voete, gemeng met die gekoude stukkies kaas.
Otto sug. Hy moet net nie vergeet om later die gemors skoon te maak nie. As dit deur die plafon lek en begin muf, sal tannie Sharon dalk die geheime vertrek ontdek. Sy het ’n verbasend sensitiewe neus.
“Wat gaan aan? Wat het hy gesê?” vra Emily dringend.
“Die ou van gister … het meneer Olsen na die Oorkant toe gevat, Emily,” fluister Otto en kan behoorlik voel hoe die hare op sy arms regop staan.
Emily hap geskok na lug. Die punt van haar neus raak spierwit van ontsteltenis. “Dit beteken hy is … die Dood?”
“Om presies te wees, net een van hulle,” onderbreek Sir Tony hulle en grynslag, al kan Emily hom nie sien nie. “Vroeër was daar net een Grieselgryper, maar weet julle, dié storie werk amper soos die een van Kersvader. Omdat die wêreldbevolking al hoe groter word, was een nie meer genoeg nie. Dink net aan China … of Indië.”
“ ’n Grieselgryper?” Otto snork verontwaardig. Tony is rêrig nie lekker nie. Om Kersvader met die Dood te vergelyk, is nogal swak smaak. G’n wonder Molly en Bert vermy Sir Tony as hulle enigsins kan nie.
“In elk geval, deesdae kan een Grieselgryper onmoontlik nie al die siele bymekaar maak nie,” kom Tony tot die punt. “Dis hoekom daar ’n hele leër van Grieselgrypers is.”
“ ’n Hele leër?” Net die gedagte aan ontelbare geraamtes in mantels laat Otto ril. Dit klink soos iets uit ’n fliek.
Sir Tony knik sy kop. “Daar is nogtans nie genoeg Grieselgrypers nie, want as een van die Grieselgrypers te laat kom as iemand sterf, dwaal die arme, vergete siel orals rond. Dan word hulle spoke; wesens soos ons.” Tony se grynslag verdwyn en sy gesigsuitdrukking word so hard soos klip. “Verdoem tot ’n lewe in die donker hede.”
Bert rol sy oë. “Jy maak altyd so ’n drama van alles, Tony! So erg is dit darem nou ook nie hier nie,” sê hy en trek met sy tande ’n olyf van die stokkie af. “Dit het ook sy voordele.”
“En vandat hierdie wonderkind hier bly,” voeg Molly by en wys na Otto, “hoef ek ook nie tot in alle ewigheid net met julle twee domkoppe te gesels nie.”
Sir Tony maak asof hy nie die belediging gehoor het nie. “Nogtans … as ’n Grieselgryper opduik, beteken dit niks goeds nie; net onheil.” Hy bly ’n rukkie stil. “Dis ’n genade dat Otto en Vincent hom dadelik gesien het. Ons moet hulle van nou af goed dophou.”
Otto knik en probeer om sy gedagtes agtermekaar te kry. So grillerig soos alles dalk klink, pas die hele prentjie stadigaan inmekaar. Wat Molly, Bert en Sir Tony betref, gaan dit dus oor vergete siele wat bestaan omdat ’n Grieselgryper drooggemaak het.
Hoeveel vergete siele is daar in hierdie wêreld? En hoeveel geheime is daar aan die Oorkant waarvan Otto niks weet nie? Miskien sal die wêreld van die dooies, waar sy ouers is, eendag vir hom die antwoorde gee.
Hy haal diep asem. Twee dinge is seker. Eerstens: Otto is definitief van plan om al die geheime op te los, al bewe sy kniekoppe as hy net daaraan dink. En tweedens: Soos sake nou staan, sal die lewe in Radysstraat van nou af beslis nie vervelig wees nie.
Die dertiende uur slaan!
Wat is fout met jou, Otto? Ek ken jou nie so stil nie,” mompel tannie Sharon en draai die skroef stywer in die horlosie vas.
Die houtdeurtjie spring met ’n boing! oop en ’n jammerlike koekoek-geluid kom uit die binnekant van die horlosie. Tannie Sharon glimlag tevrede. Die ou horlosie werk weer, al klink dit asof die houtvoëltjie se beste jare al agter die rug is.
“Daar’s niks fout nie. Hoegenaamd niks nie,” brom Otto en skuifel op die vensterbank rond. Die staanhorlosie in die sitkamer het nou net tienuur geslaan. Van net ná aandete geniet Tannie Sharon haar tweedebeste stokperdjie … om ou horlosies reg te maak.
Vroeër het Otto se tannie haar geld as horlosiemaker verdien. Toe haar man oorlede is en vir haar ’n groot som geld laat erf het, het sy haar winkel verkoop en die oorblywende horlosies saamgevat. Van toe af ontplof Otto se huis van horlosies: staanhorlosies, sakhorlosies en armhorlosies. Tannie Sharon het selfs ’n horlosie wat soos ’n kat lyk en met elke tiktak sy oë heen en weer draai.