Satyn Omnibus 8. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 8 - Ettie Bierman страница 18
Nikka wou nie bes gee nie. “Moenie Ma so onskuldig hou nie, Ma weet wat ek bedoel. Was dit om my jaloers te maak? Op Hannah van der Walt, van alle mense! G’n wonder Ma en Thys het so onderlangs vir mekaar geloer nie. Die plan het geflop omdat dit ’n simpel plan was, van die begin af.”
“Ek wou jou oë laat oopgaan, sodat jy kon besef Thys Vorster is nie sommer ’n hierjy nie. Hy’s ’n uitstekende vangs – en daar’s ander meisies wat dit raaksien.”
Nikka het nie die moed gehad om verder te baklei nie. “Ek wil nie ’n man vang nie, Ma, ek het dit al honderd keer gesê. Ek hét ’n man, ’n wonderlike een, en geen ander man sal ooit sy plek kan inneem nie.”
Haar ma het moedeloos gesug en boedel oorgegee. “Jy ken jou eie hart die beste. ’n Ma kan maar net probeer, en as dit nie help nie, op haar knieë gaan en vir haar kind om genade bid.”
Nikka het nie meer trane oorgehad nie, net haar ma baie styf vasgehou. Haar liefgehad en waardeer; vergewe vir haar geknoei saam met Thys en gedurige kritiek op Ruan. “Dankie vir al Ma se hulp gister. Dit was ’n reusesukses en alleen sou ek dit nooit kon behartig nie.”
“Ek en Thys het maar agter die skerms ons deeltjie bygedra. Jy en Ben Troebadoer was die sterre. Dis ‘Liefling’ wat hy gesing het wat Lorna die jawoord laat gee het. Ben het ’n pragtige stem en is toe glad nie so bot soos jy voorspel het nie.”
“Nee, hy het my verstom. Ek het nie gedink Ben kan die woord ‘sjarmant’ eens spél nie, wat nog dit wéés! Lyk my dis daardie ellendige skool wat ons almal ’n spul suurknolle gemaak het. Daai hoof kan selfs heuning in asyn laat verander.”
Haar ma het in die motor geklim en deur die oop venster vir oulaas herhaal: “Onthou, Pretoria lê net oor die bult. Ek is daar as jy my nodig het, kindlief. Bel net. Ek sal dadelik kom as dinge met Ruan vanaand vir jou verkeerd loop …”
“Dankie, ek sal.” Nikka het vir oulaas gewuif en ’n soentjie gewaai. “Lief vir Ma!”
Dis ’n luukse om ’n slag alleen te wees. Om in rustige stilte hier in die wind op die stoeptrappie te sit met Kattebol op haar skoot en Wieldop by haar voete. Die ganse wei by die grensdraad, waar hulle alarm sal maak as ’n motor in die grondpad aankom.
Dit het skemer geword en die wind het koud oor die dam begin waai. Die ganse het al gaan nes soek en Nikka het stram opgestaan om te gaan koffie maak toe Wieldop opeens buitekant blaf. Die volgende oomblik hoor sy ’n voertuig dreun en ruik die stof van die grondpad.
Haar ingewande knoop in ’n bondel en haar hande is dom. Sy moet haar dwing om die ketel af te skakel en om te draai, vyf treë te loop tot by die kombuisdeur, dan om die hoek en deur die sitkamer na die voordeur toe. Toe sy op die stoep kom, is die motor besig om tru te stoot en te draai. Dieselfde donkergrys motor wat Ruan kom oplaai het die aand toe hy weg is. Dieselfde rooi agterliggies wat in die pad af en deur die hek verdwyn … Die fisio of spandokter of iemand, het hy gesê.
Die honde is rasend, tjankblaf en dans op hul agterpote. Selfs Kattebol en ’n vaak Haandrik het kom kyk waaroor al die opgewondenheid is. Ruan is besig om hulle te groet, ore te vryf, te streel en ribbes te krap. Hy het ’n verbleikte denim aan by sy donkerblou kabeltrui. Hy het nie vanoggend geskeer nie, sy hare krul langerig in sy nek en hy lyk sexier as ooit.
Toe hy omdraai en sy bagasie bymekaarmaak, wil Nikka met die trappe afhardloop en haar arms om hom gooi, hom druk en soen en vashou en terugverwelkom, soos altyd wanneer hy weg was. Sy wil sê hoe sy verlang het en hom gemis het … Maar sy onthou Thys se waarskuwings en bly op die stoep staan.
Ruan kom tot voor haar en sit sy tas, skouersak en rekenaar neer. Hy groet nie, praat nie, steek net sy arms uit en trek haar krampagtig styf teen hom vas. Nikka lê haar wang teen sy breë skouer, voel die heerlike, wonderlike bekendheid van sy lyf, sy hande agter teen haar rug, sy liggaamshitte wat deurslaan deur die growwe wollerigheid van die trui.
Sy weet: die wag is verby, Ruan is veilig tuis en hy is ook bly om haar te sien. Dis die belangrikste. Van nou af gaan hulle verhouding regkom. Al is daar verwyte en misverstande, gaan alles regkom. Sy sal die minste wees. As dit moet, selfs Piekepiekniek prysgee en weer gaan skoolhou. Enigiets om Ruan terug te wen en te behou. Hy is haar hawe aan die stormsee, haar oase in die woestyn. Solank sy in sy arms is, kan niks slegs met haar gebeur nie.
Hy gee haar ’n laaste drukkie, dan hou hy haar ’n armlengte van hom weg. Hy kyk lank na haar, neem haar gesig in sy hande en soen haar saggies op die voorkop. “Ek het al amper vergeet hoe pragtig jy is. Fyn en delikaat, soos ’n feetjie. ’n Vlinder met die hemel in haar oë …”
’n Feetjie … Nikka weet nie of sy wil lag of huil nie. Al het sy vroegaand begin koudkry, is sy bly sy het die blou sonrok gekies, Ruan se gunsteling. Sy is bly haar man is terug, bly hy dink na dertien jaar nog sy is pragtig. En sy dink: hy ook. So aantreklik soos sonde. ’n Mens kan jou maklik aan hom vergryp, aan hierdie man verslaaf raak …
“Hoe gaan dit? Is jy oukei?” vra hy sag.
“Ek het verlang en jou gemis …”
“Is die huis oukei? Die diere, die tuin? Jou ma?”
“Alles en almal piekfyn. En jy? Is jy moeg en honger?”
“Net moeg. Suf en gedreineer … Dit was ’n lang vlug.”
Hy strek en tel sy bagasie op, wag dat Nikka voor stap en gaan dan in. Binne bly hy staan en kyk waarderend om hom rond. “Na vyf weke in ’n hotelkamer is die huis ’n paleis! Ruim en gesellig. Feestelik, met al die blomme en ballonne en die rooi kerse. Dit lyk mooi.”
“Dis om jou te verwelkom. Die rose kom uit die tuin en die briefie uit my hart; die res is oorblyfsels van Vrydagaand se verlowingspiekniek.”
“Thys het my vertel van die maanligpiekniek en hoe ondernemend jy is. Lyk my ek het jou onderskat. Jou idee werk heel duidelik.”
Nikka skep moed. Daar is donker kringe onder sy oë en ’n moeë lyn om sy mond. Hy is effe terughoudend, tog lyk hy minder gestres as toe hy weg is. Al het hy haar nie vurig omhels nie, het hy haar ook nie haastig weggestoot nie. Hy het nie gesê hy het ook verlang en haar gemis nie, maar hy práát darem weer.
“Ek stem saam dat dit ’n risiko was om die standvastigheid van ’n onderwyssalaris prys te gee,” erken sy. “Maar Piekepiekniek gaan ’n goeie inkomste genereer. Hoewel ek aanvanklike onkostes moes aangaan, het ek reeds twee pieknieks aangebied en my banksaldo is nie in die rooi nie.”
“Geld is belangrik, maar geld is nie alles nie. ’n Mens moet doen wat jy voel reg is en wat jou gelukkig maak.”
“Ek geniet die pieknieks.”
“Dan was dit die regte skuif. Ek is bly dit werk vir jou.”
“Ek het ook maar vingers gekruis en wakker gelê, maar dit begin dividende afwerp. Ek het nog ’n bespreking vir ’n kinderpartytjie én ’n bruilof.”
“Geluk! Jammer dat ek so ’n remskoen was. Ek was die afgelope tyd nie myself nie.”
“Om lief te hê, is om nooit te hoef sê jy is jammer nie,” herinner Nikka hom aan ’n ou gesegde uit hulle kysjare. “Ek het pasta gemaak, maar