Waar onthou begin. Connie Luyt

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Waar onthou begin - Connie Luyt страница 15

Автор:
Серия:
Издательство:
Waar onthou begin - Connie Luyt

Скачать книгу

ons albei ’n straf en later gee sy geld sodat ek vir myself nuwe tekkies of ’n begeerde ruffle-belt by Linden Bazaar kan koop. Saans eet ons by die eetkamertafel, kos wat sy koop en beplan en ek moet maak, maak ons beurte om skottelgoed te was, sê iets oor die weer, die nuus, die werk, die skool, maar praat nooit ooit oor die hart, die hartseer, die alleenwees, die verlatenheid nie. En nooit kyk sy direk na my nie, altyd skrams, praat so half oor my kop of verby my skouer. Sondae ná kerk ry ons begraafplaas toe om van die Just Joey-rose wat sy in die tuin by Lindenhof gepluk het op Pappa se graf te sit. Die soet reuk maak die binnekant van die kar vol hartseer.

      “Jy is elke naweek met jou neus in ’n boek, of aan die teken. Kuier julle klomp dan nooit saam nie? Annie vertel dat Mara elke naweek by ’n partytjie is.”

      “Ag Ma, ek is nie in die ‘in’-groep nie en buitendien is ek nie lus vir die simpel partytjies nie, ek wil eerder werk aan my kunsprojek wat volgende week moet in wees.”

      Uit die hoek van my oog sien ek hoe sy frons en haar kop skud, maar ek trek my kamerdeur ferm agter my toe en sit my radio kliphard aan. Een … twee … drie … vier …

      “Sit sagter, Elfie!”

      Net voor Kersfees word ek wakker met die wete dat daar iemand in my kamer is. Ek klem die laken tussen my vuiste vas, styf teen my hart. Blaas my asem rukkerig uit. In die hoek van my kamer skyn ’n vae lig en weet ek dis my engel.

      “Pappa?” My stem skaars meer as ’n asemteug. Daar is geen antwoord nie, maar ek hoor in my kop hoe hy sê: “Ek is oukei.” Dan verdwyn die lig en ek los my laken en krul myself in ’n vraagteken en wens ek kan ook oukei wees.

      So kom ek deur standerd sewe en standerd agt sonder om raakgesien te word, met min woorde, minimale kontak met onderwysers, met enkele vriende en vriendinne – die skames en slimmes en onsportiewes, dié wat boeke lees en musiekinstrumente bespeel en vir wie handelsmerke op hulle klere of skoene onbelangrik is. Die randeiers.

      Steeds praat ek en Ma net oor wat aan die rand van ons dae lê, gesprekke wat tussen enige twee vreemdelinge ook sou kon plaasvind. Die weer, die twee ander verkoopsdames in die juwelierswinkel, ’n wiskundetoets, ’n skooluitstappie, hoe duur tamaties geword het. Saans in my bed peil ek versigtig die woedekol in my binneste, dink oor die woorde wat ek iewers gelees het: ’n Hart wat vol woede is, het nie plek vir iets anders nie, veral nie vir liefde nie.

      In standerd nege is daar ’n skooltoer Wildtuin toe en Ma dring daarop aan dat ek moet gaan. Uit die bus waai ek effens vir Ma wat my kom afsien het op haar vry Saterdagoggend. Sy draai om en stap weg voordat die bus vertrek en ek waai maar verder vir die ander ma’s en pa’s wat nog wag.

      Elke oomblik van daardie week voel ek asof ek asem ophou – dis ongelooflik hoe alles met my praat: die veld, die gras wat geel waai in die wind, die wonderskone bome met massiewe geknoetste stamme langs die rivierlope of in die kampe, die mopanibosse naby Skukuza, die olifant by Pretoriuskop, die vuurtjies wat saans brand, die sterre, die stoflug en stofpaaie – is dit hoe verliefdheid voel? “Africa’s kiss tastes of dust,” onthou ek ’n aanhaling uit ’n boek van Jan Smuts, en ek verstáán dit. Kan ek nie maar wegkruip en hier agterbly nie? Ek wil nie teruggaan nie. Die beste van dié week is die diep besef in my dat ek gelukkig is, dat ek wéét ek wil iets in my lewe doen waar ek in die veld kan wees, waar ek hierdie verwondering met ander mense kan deel. ’n Veldwagter dalk? Ek hou vas aan daardie gedagte asof dit ’n kleinood is, en die toekoms lyk nie meer so grys nie. En ek dink baie aan Mary wat ook so na aan die veld gelewe het.

      In die lente van standerd nege word ek vroeg wakker met ’n swaar, dowwe pyn op my maag. Ek weet wat dit is toe ek die bloed sien – Ma het my ’n jaar terug al ’n boekie gegee: Wat meisies moet weet – maar ek skrik nogtans.

      “Ma, Ma, kan jy gou hier na my kamer toe kom?”

      Haar oë skiet vol trane. Hoekom? “Ek gaan haal vir jou doekies en ’n pynpil.”

      Sy bring tee en sê ek hoef nie skool toe te gaan nie. Dan is sy seker tog bietjie lief vir my?

      Ons eet die aand slaai en hoenderstukke wat sy gemaak het. “Ek is bly jy voel beter, Elfie. Nou is jy ook groot. Dis nie lekker nie, maar dis maar deel van vrouwees.”

      “Ja, seker, maar dis nogal seer. Elk geval, dankie vir die kos, Ma.”

      Sy glimlag en rol haar skouers.

      Dis nou of nooit. My hartklop versnel, my hande skielik sweterig.

      “Ma,” ek maak keel skoon, “dis nou al amper drie jaar. Ons praat nooit daaroor nie. Eintlik praat ons nooit oor enigiets belangriks nie.”

      Die eerste keer in ’n lang tyd kyk sy my vol in die gesig, haar oë wyd gerek. My ma is mooi. Haar vel is glad en helder, haar hare weer dieprooi met die hulp van bokskleursel op ’n Vrydagaand elke paar weke, haar figuur viets. Sy is nog nie eers sewe-en-dertig nie. Jonk genoeg om nog uit te gaan, dalk weer te trou? Is daar dalk al iemand? Is dit die rede vir die sagtheid wat ek vandag in haar raakgesien het?

      “Dis seker nie nodig om so dramaties te wees nie. Ek probeer net my bes.”

      “Ek wil net weet hoe gaan dit regtig met Ma.”

      Sy kyk oor my kop, praat weer met die muur daar agter my, maar minstens práát sy. “Daar is nie ’n dag wat ek hom nie mis nie.” Sy vryf oor die tafelblad, heen en weer, met haar plat hand. “Hy was die liefde van my lewe … hy was sag … jy weet mos hy het nooit hard gepraat nie, nooit geraas nie. So anders as my pa.” Sy trek die altyd teenwoordige potjie handeroom nader en masseer ingedagte haar hande. Die laventelreuk se bekendheid troos. Buite die oop skuifdeur toeter ’n motor en ver weg roep twee vroue oor en weer vir mekaar in Sotho. Hier binne wil ek skaars asemhaal.

      “Dit was maar my broer se dinge wat my pa so gemaak het,” sê Ma stadig. “Boeta was die erfgenaam, die kind wat al my pa se mislukte drome moes waar maak. Maar hy was anders. Hy wou nie rugby speel nie, het nie in die boerdery belanggestel nie, wou eerder saam met ons ma koeke bak. Hy was bang om teen die windpomp uit te klim, het aspris misgeskiet as pa hom gedwing het om te gaan jag, het heeldag geteken en sy prente teen sy kamer se mure geplak. Eendag was my pa so kwaad vir hom, toe skeur hy al die tekeninge af. My broer het vir maande daarna nie met hom gepraat nie. My pa het al harder en kwaaier geword.”

      “Was hy … hy was seker gay?” vra ek versigtig.

      “Daai tyd het ek nie geweet van gay nie, maar my broer was nie net kunstig nie, hy was ook anders. Seunsgoed was vir hom sleg en hy het dit nie maklik op skool gehad nie. Tot sy matriekjaar, toe ’n nuwe onderwyser by die skool aangekom het. Boeta het skielik verander, sterker geword, opgestaan teen my pa en net ná die eindeksamen aangekondig hy gaan saam met die onderwyser Amerika toe. My pa het hom met ’n sambok by die deur uitgejaag.” Sy sug en lig haar wenkbroue. “Nou ja, dit was ook die einde van my skoolloopbaan, van die plaas en van my ouers se gesondheid.”

      “En wat het van hom geword?”

      “Jare nadat jy al gebore is, het ’n ou vriendin van my ma, wat in die poskantoor in Warmbad gewerk het, vir my ’n brief aangestuur wat Boeta uit San Francisco gepos het. Ek het teruggeskryf, vir hom vertel ek is getroud en het ’n kind, maar hy het nie geantwoord nie. Ek wonder of hy nie dalk daardie vreemde longsiekte gekry het waarvan die koerante skryf nie. Dit kom glo veral onder jong mans in San Francisco voor. Vir al wat ek weet is hy ook dood.”

      ’n Traan rol teen haar wang af. “Jy wil weet hoe dit met my gaan, Elfie. Ek oorleef. Net-net. Ek was so gelukkig saam met jou pa. En alles is sommer

Скачать книгу