Horrelpoot. Eben Venter

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Horrelpoot - Eben Venter страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Horrelpoot - Eben Venter

Скачать книгу

grense gekom.

      “Ek sal, Heleen. Ek sal gaan kyk of ek Koert kan kry en doen wat ek kan. Ek beloof niks nie – hoe kan ek? – maar ek sal nogtans gaan kyk.”

      “Ag, Marlouw,” en sy omhels my en soen my soos in die ou dae, haar parfuum wolk om my. Sy vee haar gesig af.

      “Hier, ek moet jou dié wys sodat jy kan weet wie’s die Koert waarvan ek praat. Voor julle dink ek het mal geword.” Uit ’n laai in die jungle room kom ’n vel papier met Koert se laaste e-pos daarop:

      Hey die mense van doer onner

      Daar’s a max weight auf maaine Herz . . . hier kom hy

      Ek het doubts oor cummin back to Auzzie, o joi joi

      Booom ***shakalak

      ek wil julle sooo graag uittjek, die ace familie, ek bemin . . . mmm

      Mmmisss julle en Henrie . . . but rite now wis

      ekke

      ek maak net die move cause some people demand dit en dat, aber es ist kein muss . . . Count yours Koert-truly out . . . dis 50/50 ek sê julle bradders, BUT

      is net dat ek sort of a thingy oppie boiler het

      startin’ from scratch in Auzzie isse zero option

      het ek nog nooit geconfirm ek kom one day terug . . . nou hoekom menace party

      bradders en swisters daar by julle my so . . . so confusin!!!

      Ek het courage vir alle decisions op my ace

      How’s that soundin for my JP daddy?

      Ekke vat responsibility for whatever might go wrong

      Vanaf hierso is dit THE option

      includin includin

      takin responsibility vir die mense right here, maaine bradders.

      Die mense die need me like the earth needs the rain

      Ek is nie bang vir making mistakes

      Ekke leer van hulle ’cause ek het hulle self gemaak

      they give me POWER, can youz feel it?

      dis my 1ste keer mos dat ek so voel

      sonder om geswael te gewees het

      as ek nou trugkom sal ek a failure inklok

      Ek wil goed voel, my confidenz = right up there

      love die eternal familie. Runnin out of 02

      miskien vir xmas an’ new years I’ll be cummin, who knows

      you never know, ekke weet nie myself. Dis die waar.

      Koert S?ieS

      Ek en Jocelyn proes, maar dis niks snaaks nie. Heleen het haar gesig weggesteek en sien nie eers ek hou die papier uit sodat sy dit kan terugvat nie. Nou sal niemand meer weet watter soort mens Koert geword het nie.

      “Kyk hoe spel hy sy naam. En sy taal. Maar hy’s nog nie van sy kop af nie, dit weet ek.” Heleen kyk na my en Jocelyn en ons knik. “Kyk die datum, kyk daar. Hierdie email is stokoud. Niks nie, ek het al probeer terugskryf maar al my mails kom net so terug.”

      Jocelyn het haar mond met haar hand bedek. Stadig, soos teer wat gegiet word, gly haar breiwerk van haar skoot af en bondel misvormd op die vloer. Die hond kom skielik agter daar is ’n rivier van swart breiwerk tussen hom en sy miesies en probeer deurkom, maar die wol maak branders en gooi hom elke keer toe. Ons kyk almal af na Henrie wat besig is om in Jocelyn se breiwerk te versuip, die hond jammer soos ’n kind.

      “Look what’s happening to little Henrie!” Jocelyn woel die hond los, staan op en kyk dan reguit na my. Sy waai my met ’n klomp onderstebo vingers uit, uit, buitentoe. Oorkant toe.

      “Go then,” sê sy, “just go.” So spreek sy die laaste woord.

      3

      A queer feeling came to me that I was an imposter.

      Die laaste dag daag Heleen by my woonstel op, sy’t haarself sommer oorgenooi. Uit haar handsak haal sy reisgeskenke: ’n kompas, ’n flits wat met ’n sonbattery werk en ’n bottel met haar eie pille vir enige pyn op aarde – slegs op voorskrif verkrygbaar.

      Noudat ek geen omdraaikans meer het nie, is sy kalmer. “Ek slaap selfs deur,” vertel sy en nies pateties. Sy gesels oor ditjies en datjies, maar haar stem is vol en moedig. Só laat sy my baie aan Mammie dink.

      Sy neem die glas Chardonnay wat ek intussen geskink het en drink so vinnig dat dit haar onmiddellik van spoor bring.

      “Kyk bietjie hierso,” en sy lig haar viskose-hemp op. In die middel van haar bruingebrande maag sit die kuil van haar naeltjie, nou met ’n diepgoue ring deurboor.

      Sy’s bly sy kan dit vir my wys, dit ís ’n pragtige ring. Onnatuurlik vrolik, soos iemand op uppers, kom sy teenaan my staan. Sy gee haar reuke een vir een én tesame af: die rubber van haar goud-en-amandelbruin stapskoene, die dagparfuum wat ek aan haar vroueliggaam ken, en haar hare, appelsoet. Sy kan so impulsief wees dat dit my onverwags aantrek. Dit is waaroor JP ook wou dood. Dan onttrek ek my.

      “Hoekom kyk jy so snaaks na my, Marlouw? Jy dink ek is simpel, nè. Jou simpel suster met haar huwelik aan skerwe en haar enigste kind moer toe. Ek weet dis wat jy nog al hierdie jare van my gedink het. Maar kan ek iets vir jou sê, Marlouw? Jy mag kamtig slim wees met al jou boeke en jou graad in ek-weet-nie-wat, maar dit het jou alles net mooi niks in die sak gebring nie. Kyk hoe’t jy geword, ek weet mos.”

      Ek tree terug, ek wou haar nie verstoot nie. My reaksie het ook weinig met haar te make. Maar sy kan so knaend wees en my gemoed weeg klaar swaar. “Hoekom moet ek hierdie waansinnige uittog aanpak om jou kind te gaan soek as jy my altyd maar net wil uitskel,” slaan my stem teen die glansende oppervlakke van my kombuis vas. “Ek skuld jou niks nie, Heleen. En nou maak jy dat ek jou nie eers meer kan liefhê nie.”

      “Jy is tog nie vir my lief nie.”

      Ek antwoord haar nie. Sy lyk skielik afgerem met die hemp wat so skeef teruggeval het. Ek moet haar hier wegkry, ek’s nie in staat om haar enigsins op te beur nie. Vandat ek besluit het om te gaan, het ek te veel van myself om mee rekening te hou. Ék moet hier weg. Hierdie opdrag het net betyds gekom.

      Sagter nou: “Wat wil jy van my hê, Heleen? Wat het ek aan jou gedoen, jong?”

      “Sorrie, Marlouw. Sorrie-sorrie, honderd maal.” Sy soek haar sigarette. “Ek is besig om van my verstand af te raak. Ek steek niks vir jou weg nie, ek sweer dit. Is dit ’n sonde dat ek my eie kind wil terughê? Jy’s al een wat my kan help. Met wie anders kan ek praat? JP weet nie eers waar hou ons die spaar toiletrolle in die huis nie.” Sy begin huil en bêre haar hande diep in haar oksels. Een diékant, die ander een daardie kant in. Maak nie saak hoe gedaan sy is nie, sy behou haar simmetrie, en probeer so behoue bly. Dis al wat sy het.

      Ek skink

Скачать книгу