Rykie: 'n lewe met woorde. Lizette Rabe

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Rykie: 'n lewe met woorde - Lizette Rabe страница 19

Rykie: 'n lewe met woorde - Lizette Rabe

Скачать книгу

studiejaar gewerf het.8

      Dit was net ná die Tweede Wêreldoorlog, en Van Reenen onthou daar was min plek vir “vrouegoed”. “Buitendien, wat wás ‘vrouegoed’? Die antwoord: In Gesellige Luim.9 In gesellige luim beskryf jy huwelike. Punt.”10

      Presies só beskryf Van Reenen die werk wat sy aan die begin van haar loopbaan gedoen het. En dan was die verwagting dat dit nie juis kreatief uitgevoer moes word nie, maar volgens ’n “vorm”: “Daar was vorms waarop allerhande inligting oor die troue – name van hofknape was veral belangrik – ingevul moes word.”

      En, soos wat die meeste weet, administratiewe werk is normaalweg nie joernaliste se sterk punt nie. Die papierwerk het “gou” opgehoop tot ’n formidabele versameling. En dit het blykbaar die saad van ’n “Van Reenen-debakel” in hom gedra: Toe die stapel glo alle vorms van fatsoenlikheid oorskry, “bedel sy ’n dubbelblad by die powers that be” met die belofte om dit “tjop-tjop af te werk”.

      Die huwelik van ene Jurgens Villiers van Franschhoek word onder meer in “kleur en geur” beskryf, “[d]ie saal, die gaste, die alles”.

      Die Maandagoggend nadat die koerant verskyn het, lui my foon. Dis Jurgens Villiers.

      “Ja,” sê ek, “jy was in!”

      “Ja,” sê hy, “maar ons trou eers oor tien dae.”

      Dis nie al nie.

      Ek hoor agterna die hele Franschhoek lê soos hulle lag, want die meisie het die vorige keer veertien dae voor die tyd die troue afgestel. Toe dag ek nóú kan sy dit nie weer doen nie … staan in die koerant!

      Maar selfs met ’n humorsin kon ’n mens In Gesellige Luim net só lank uithou. “Naderhand is ek só verveeld, ek lees filosofie onder die bank – [Dante se] ‘Divine Comedy’ op daardie stadium – en bo-op tik ek.”11

      In 1979 skryf Van Reenen self oor haar begin in die joernalistiek vir die loopbaanbylae van Beeld: “Toe ek in die jaar toet op die manneterrein van die Afrikaanse koerantwese beland, was dit vir jou, vrou, ’n voorreg om onder die hofie In Gesellige Luim te mag skryf oor ‘sosiale sake’. Daarmee, let wel, is bedoel huwelike, verlowings en partytjies, in die volgorde, maar die vernaamste van dié was die huwelike.”

      Sy skryf verder die stories is “gaan haal by die wit satynpakkie en keil van die hofknapie”, en oor elke detail is geskryf, “van die bruidsuitrusting, die teks van die dominee wat ‘die egband gelê het’”, die blommerangskikkings en verversings, “tot die oord van hul tweetjies se wittebrood” en die beroep van die man.12 Vroue het uiteraard nie beroepe in daardie tyd gehad nie.

      Voorts: “Dit was in die dunkoerantdae net ná die Tweede Wêreldoorlog (amper sê ek Tweede Vryheidsoorlog, so lank gelede voel dit). M.E.R. se voetbalvelde van vroueblaaie, waar sy in die jare twintig met rustige volwassenheid en baie plesier die vrou van haar dag opgevorder het tot betrokkenheid by landsake, het ver agter ons gelê. Haas vergeet, ook, vir die oomblik, Sarah Goldblatt, Chief Langenhoven se beroemde sub, wat voor M.E.R. se tyd ’n rukkie volwaardige algemene verslaggewer op Die Burger was. We had fallen on lesser times.”13

      Die selfspot, en selfironisering, dat vroue nie opgewasse kon wees vir die groot taak van algemene nuuskantoorwerk nie, staan met hoofletters geskryf oor dié stuk van Van Reenen. Sy skryf self dit was werklik “iets van ’n evenement”14 toe sy die dag deur die nuusredakteur op ’n “storie vir Algemeen” gestuur is en van die Vroueblad gered is. Uit korrespondensie later blyk haar teësin in die Vroueblad ook duidelik. Buiten die verwysings in briewe aan Danie van Niekerk en sy vrou Anneke waarin sy haar lot bekla oor die jonges wat sy elke keer moet oplei vir die Vroueblad, skryf sy spesifiek aan Anneke hoe sy, wat nie eintlik ’n Vroueblad-leser is nie, iets van Van Niekerk daar raaksien: “Ek het dit vanoggend so geniet toe ek uit gewoonte sommer so by die Vroueblad wou verbyblaai en skielik op jou afkom.” Sy komplimenteer dan die jonger joernalis op die artikel en moedig haar aan om meer te skryf.15

      Maar die dag toe die jong Van Reenen uit die vroueredaksie “gepluk” is – Van Reenen beskryf dit, weer tong in die kies, as ’n “stoutmoedige” stap van die nuusredakteur – was ’n gebeurtenis. Sy skryf die “opvolgverhaal” van daardie geskiedkundige oomblik sit vandag nuuskantore (en redakteurstoele) vol: vroulike joernaliste.

      Die geleentheid was die “aardskuddende en impakryke” storie oor vismotte en “hul skade aan die landsekonomie”. In kenmerkende Van Reenen selfironiserende styl – maar wat ook as kommentaar op haar omgewing gelees kan word – skryf sy: “Die volle verantwoordelikheid vir ’n tengere vrou om daardie vername terrein te betree, was vir my die dag duiselend na aan oorweldigend.”

      Dat dit nuus was wat op ’n anderste manier vertel is, blyk daaruit dat Van Reenen se vismotte voorbladnuus was: “Ek verbeel my ek het voorblad gehaal, mind you.”

      Dus: Daar is sy toe “gepluk” na die algemene redaksie. Sy het ook by die naweekbylae Die Byvoegsel gewerk en was ook hoof van Die Klein Burger, waar haar liefde vir kinders haar goed te pas gekom het.16

      Die onblusbare Van Reenen-persona het ook geblyk uit ’n insident tydens die besoek in 1947 van die koninklike familie aan Suid-Afrika, toe die “piepjong verslaggewertjie” met die besoek “vir die statige Elizabeth durf knipoog” het.

      Sy skryf later oor dié episode in ’n Randakker na aanleiding van ’n rolprent oor die koninklike familie wat toe gedraai het. Die berig self het in 1947 in Die Burger verskyn, maar dít was haar herinnering in 1970:

      Ek het nog altyd so half ’n besondere belangstelling in daardie koningsgesin van die tyd toe hulle hier in Suid-Afrika was, en Betjie en ek mekaar ’n keer vas in die oë gekyk het.

      Dit was by die enorme tuinparty by Westbrooke, die Goewerneurswoning, indertyd, in Rondebosch.

      Soos die koninklikes deur ons midde beweeg het, was daar verbysterende tonele soos die allerdeftiges feitlik berserk geraak het in ’n poging om naby te kom en te sien en te sien. Die elegantste bejaarde dames het op stoele geklouter en met uitgestrekte nekke daar prekêr gebalanseer gestaan op hul hoë hakke.

      Ek, piepjong verslaggewertjie heel in ’n agterste ry, het my totaal verwonder oor hoe dit in high society daaraan toegaan.

      Toe die vername geselskap oorkant my verbybeweeg, het ek ondanks my agterlangse staanplek, ’n uitnemende uitsig op hulle gehad, want voor my was alles ineens weg, soos die dames ontroerd en, deur die Teenwoordigheid oorweldig, die voorgeskrewe knieval doen.

      So kom dit dat toe Elizabeth, kroonprinses, na ons kant kyk, sy net my rond-verwonderde oog teenkom.

      Wat ouderdom betref omtrent portuurs, was dit vir ’n eindelose oomblik nie prinses teen plaaskind nie, dit was meisie teen meisie. En geeneen wou kopgee nie. Vir sekondes het ons vasgenael gestaan. Toe kry ek lag en knipoog vir haar. Eers toe het sy haar koninklike hoof met ’n klein frons afgewend en statig in die prosessie voortbeweeg. My ronde, dink ek nog altyd!17

      ’n Joernalis uit ’n veel later era verwys in 1980 in sy “dankbetuiging” aan Van Reenen daarna: “En dis eintlik waarvoor ’n mens vir haar wil dankie sê: Dankie, Rykie, vir die oog wat die meisie in die koningin kon sien; en wat daarom ook altyd die hart agter die vertoon kan uitwys.”18

      Die “Van Reenen-handelsmerk” is gou gevestig: ’n talent om selfs die gewoonste storie in iets buitengewoons te kan omskep, en in die proses opwindende kopie te lewer. Sy was gou ’n gesogte beat- en diepteverslaggewer.

      Dit

Скачать книгу