Rykie: 'n lewe met woorde. Lizette Rabe

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Rykie: 'n lewe met woorde - Lizette Rabe страница 18

Rykie: 'n lewe met woorde - Lizette Rabe

Скачать книгу

– nadat besluitnemers lank geglo het dat ’n vrou nie snags saam met die manne kon werk nie. Die argument dat mans nie saam met ’n vrou kon werk nie, het blykbaar selfs swaarder geweeg.147

      Die hegemonie en meerderwaardigheid van mans in die media kan ook gesien word in ’n opmerking deur Van Reenen self in die mid-1980’s. Met die samestelling van ’n huldigingsbundel vir Piet Cillié se vyftigste jaar by die Pers het hy gedink Van Reenen het die bydrae van sy vrou, Bettie, “reggeskryf”. “Dit is nogal kenmerkend van Cillié se arrogante streep, veral ten opsigte van die intellektuele vermoëns van die vrou.”148

      In ’n huldeblyk met die dood van baanbreker-joernalis Rieta Burgers in 2003 verwys Vosloo na die vroue wat ’n rol gespeel het in Naspers se ontwikkeling:149 “Ons geskiedenis van 88 jaar het groot vroulike joernaliste en sterk beïnvloeders opgelewer. Dit het begin by die legendariese M.E.R. … en toe die ewe legendariese Rykie van Reenen.”

      Hy lys verder die eerste vroulike joernaliste: “Toe kom, by wyse van spreke, die klas van Rieta Burgers, Esme Mittner, Betty [sic] Peacey, 150 Martie [Retief] Meiring en Jane Raphaely.151 … Hulle word in tyd gevolg deur Nicolene en Anet Strydom, Lizette Rabe en nou Khanyi Dhlomo en Michèlle van Breda en haar gedugte span.”

      Ook individuele redaksielede by Naspers het hulle beywer vir vroueregte – soos Retief Meiring wat vroue opgekommandeer het om “iets te doen aan ons salarisse, wat altyd heelwat minder as dié van ons manlike kollegas was”.152

      Vroulike joernaliste in ander mediamaatskappye het ook ’n beduidende rol in die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse media gespeel. Een van hulle was die politieke joernalis Fleur de Villiers. In 2009 word onder meer na haar rol in die “omkeer van ou Suid-Afrika” verwys.153 Volgens prof. Willie Esterhuyse het De Villiers in die jare tagtig ’n “deurslaggewende rol” gespeel om die ANC-leierskap in die buiteland en die “Afrikaanse mense” bymekaar te kry. Sy het bygedra “om hulle te oortuig dat dit strategies beter is om gesprekke met Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners aan te knoop as met liberale Engelssprekende Suid-Afrikaners”.

      Ter wille van ’n poging tot ’n vollediger prentjie, en ook sodat die vakuum oor die swart vrou in die ontwikkeling van die media nie ook hier met ’n dawerende stilte weerklink nie, moet genoem word dat “stiltes tussen woorde en tekste”154 nog groter vir swart, bruin en Indiërvroue is. Swart vroue moes, as landelike vroue in die vorige eeu, en met die migrasie van werkers na stede, huishoudings in stand hou en as enkelouers bestaansboerderye bedryf. Totaal uitgesluit van enige politieke mag, moes hulle veg vir die mees basiese menseregte as burgers in die land van hul geboorte.

      Dit is daarom noodsaaklik dat ook die rol van die swart vrou in die Suid-Afrikaanse media geboekstaaf word. Hul swak mediastatus word vererger deur die gender-gedrewe karakter van nuus: “With black women it goes further: there is a ‘near invisibility’ of black women in the news. When they appear, it is mostly in the following stories: Underdevelopment, oppressive traditions, high illiteracy, rural and urban poverty, religious fanaticism, overpopulation, disasters (burning of shacks) and violence against women. Victims, and people who have no control over their destinies.”155

      Aspekte soos kraamverlof, gelyke salarisse, huissubsidies, toegang tot mediese en pensioenfondse en verskeie diskriminerende bevorderingsmaatreëls was tot onlangs ’n ernstige struikelblok vir vroue. Danksy Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing mag nie meer op grond van geslag gediskrimineer word nie. Hoe sekere aspekte van gelykheid in die praktyk toegepas word, bly egter ’n kwessie, soos blyk uit byvoorbeeld die Glass Ceiling-studies van Sanef in 2006 en Sanef en Gender Links in 2008.156

      Vroulike joernaliste is danksy al die voorlopers vandag egter beter verteenwoordig in hoofredaksies en in ander besluitnemingsposisies, hoewel die balans nog nie gevind is nie. Ferial Haffajee was sedert 2004 redakteur van die Mail & Guardian, en is in April 2009 aangestel as redakteur van City Press. Alide Dasnois is in dieselfde tyd aangestel as eerste vroulike redakteur in die byna 135 jaar van die Cape Times. Liza Albrecht is vroeg in 2009 aangestel as Rapport se eerste vroulike redakteur.

      Met laasgenoemde aanstelling kon ’n mens nie anders nie as om Van Reenen se woorde te hoor eggo: “Die dag as ’n Afrikaanse vrou aangestel word as redakteur … sal daar wel ’n paar kameras flits, maar sodra daar ’n koerantvrou met die nodige formaat kom, is die val van selfs daardie vesting in sig.”157

      Hou vir hou kon sy terugkap in daardie manlik oorheerste wêreld1

      DRIE

      Baanbreker en beat-skepper

      VAN REENEN HET vir haar eerste dag by Die Burger, in April 1945, baie respektabel opgedaag. Sy het ’n hoed gedra. En nie ’n gewone een nie. ’n Spoggerige wit breërandhoed.

      Van der Vyver boekstaaf dié geskiedkundige oomblik: “Ongelukkig was sy in haar ywer so vroeg op kantoor dat daar niemand anders was om die hoed te waardeer nie. Dit was, sover sy kan onthou, ook die laaste hoed in haar lewe.”2

      Haar weersin in hoede kom blykbaar van ver af. Na aanleiding van kleintydfoto’s wat haar niggie Stefanie vir haar aangestuur, beskryf Van Reenen in 1968 haar kindertydse hooftooisels aan M.E.R. as “sulke gehekelde wittetjies wat so oor my oë sit”. Sy skryf verder sy het die foto’s vir haar vriendin en die geskiedkundige Jean van der Poel gestuur, wat op haar beurt laat weet het: “Sulke hoede soos jy darem in jou vroeër dae gemodel het! G’n wonder jy het vandag so ’n renons in hoede nie!”3

      Daar is egter minstens nog twee verhale van gehoede Van Reenens. Ondanks haar afkeer van hoede, moes sy eenkeer, desnoods en desperaat, soos reeds beskryf, by die destydse OK Basaar in Adderleystraat inhardloop om ’n hoed vir ’n hooggeplaaste se begrafnisdiens in die Groote Kerk te koop.4

      Die ander geleentheid toe Van Reenen ’n hoed getrotseer het, was by nog ’n begrafnis, dié van H.F. Verwoerd in 1966 in Pretoria. Schalk Pienaar het later vertel hoe die dekking van dié geleentheid volgens militêre presisie uitgevoer is om te verseker dat die Sondagkoerant Die Beeld woord en beeld betyds sou hê vir saktyd, ook in Kaapstad en Bloemfontein – en “ons weet almal hoe lank ’n staatsbegrafnis kan duur”.5

      Dié Saterdagoggend “met opstaantyd het elkeen wat iets met die begrafnis te doen gehad” het, ’n “afgerolde uiteensetting gehad van wie, wat, waar en wanneer moet wees”. Daar was vyf verslaggewers, agt fotograwe en drie motorfietse in aksie. “Wat gereed was verder, was ’n helikopter en ’n vliegtuig en ’n renmotor.

      “Die beginpunt was Rykie van Reenen wat, in haar begrafnisrok en haar begrafnishoedjie op haar kop vasgedruk, van die Uniegebou agter op fotograaf Postma van Jaarsveld se motorfiets die Helde-akker moes haal. Grootpaaie en motors was daardie dag in Pretoria nutteloos. Dis agterpad, ompad, langpad. Spoed was als.”

      ’n Mens kan jou net voorstel watter plesier Van Reenen, byna twintig jaar ná daardie eerste oggend met ’n hoed op die kop in 1945, uit dié (gehoede) motorfietsrit in 1966 gekry het. Maar dit was inderdaad twee dekades later, en Van Reenen het toe al lankal bewys ’n vrou hoef g’n te skrik vir motorfietsjaag agter ’n storie aan nie.

      In 1945 was dit egter ’n ander storie. Toe was sy nog “hokgeslaan” in die Vroueredaksie – haar eie woorde heelwat later in ’n onderhoud met die studentejoernalis Caryn Voigt.6 Dié begin was heel nederig, met berigte vir veral In Gesellige Luim, wat hoofsaaklik bestaan het uit “troues en nogmaals troues”7 – breedvoerige beskrywings van die bruidspaar, hul gevolg en selfs die gaste.

      By Die Burger se Vroueblad was haar universiteitskameraad en koshuismaat, Marcha Schoeman, reeds in diens toe Van Reenen die Vroueredaksie verdubbel het.

      Sy

Скачать книгу