Rykie: 'n lewe met woorde. Lizette Rabe
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Rykie: 'n lewe met woorde - Lizette Rabe страница 20
Toe Van Reenen in die veertigerjare by Die Burger begin werk het, was daar nog growwe diskriminasie teen vroue. In 1946 het dit uit ’n landwye meningspeiling geblyk dat sowat ’n kwart van die vroue wat ondervra is, aangedui het dat hulle sou verkies het om as mans gebore te word. Slegs drie persent van die mans sou verkies om vroue te wees.19
In daardie tyd, kort ná die Tweede Wêreldoorlog, was vroue, volgens Van Reenen self, ’n “redelik vreemde verskynsel”20 in nuuskantore. ’n Opmerking van Danie van Niekerk gee verder konteks hieraan: “Dis nie net vroue wat in die vyftigerjare ’n sekondêre rol by Die Burger gespeel het nie; die enigste mense wat ’n primêre rol gespeel het, was die ouens (dit was ook net ouens) wat in politiek en sport belang gestel het. Vroue en langhare was sekondêr.”21
Vosloo skryf dat Van Reenen selfs ná haar terugkeer ná die boerdery- en onderwys-onderbreking dieselfde soort stories moes doen, want dieselfde “konserwatiewe span mans was wesentlik nog aan die stuur”.22
“Rykie moes beskrywings gaan doen van snob-huwelike van vooraanstaande hogere Afrikaners, onderskrifte vir sosiale foto’s, artikels oor prominente vroue, oor vroue van nuwe Kabinetslede, artikels naweke in Die Burger se Byvoegsel, en as stap van bevordering, rubriekskrywer vir die daaglikse rubriek op die hoofartikelbladsy, Van Alle Kante. Sy is soms opdrag gegee om sogenaamde feature-artikels te doen met ’n sosiaal-politieke inslag, maar baie suutjies, hoor! (een van haar uitdrukkings). Tussen-in het resensies oor boeke en musiek gekom en dit het ’n sterk punt in haar mondering geword.”
Van Reenen is self ook nooit die geleentheid gegun om die veld wat allerweë geld as dié leerskool vir redakteurs, naamlik die politieke joernalistiek, amptelik te betree nie. Gewoon omdat sy die verkeerde geslag was. Vosloo skryf: “Die hart van die koerant, naamlik die politiek, is haar nie gegun nie, hoewel sy skerp insig in die politiek van die dag en wêreldsake gehad het. Die Parlement was 300 treë van Die Burger, maar daardie paadjie het sy nie geloop nie. Dit was steeds die manlike pad na bevordering in die Pers.”23
Tog sê die joernalis Amanda Botha dat Van Reenen nooit gemeen het sy is ’n slagoffer van diskriminasie nie.24 “Ek dink nie Rykie het gevoel dat daar ooit teen haar as vrou gediskrimineer is nie. Sy was, soos Tobie Boshoff eenkeer opgemerk het: ‘Een van die boys!’ Juis omdat sy was wie sy was, het sy die vertroue en respek van haar manlike kollegas gehad en het hulle haar hooggeag.”
Ook Vosloo is van mening dat, hoewel dit ’n manlik- gedomineerde werkplek was, Van Reenen haar man gestaan het: “Hou vir hou kon sy terugkap in daardie manlik oorheerste wêreld.”25
Voigt skryf dat Van Reenen tydens ’n onderhoud “aanvanklik onvermurfbaar” was oor vrae oor die feit dat sy ’n vrou was in ’n manswêreld. Sy is nooit anders behandel nie, sê sy. Maar, skryf Voigt: “Sy dink bietjie. ‘Hoewel! Ek is darem hokgeslaan in In Gesellige Luim vir jare.’”
Dit het wel in daardie tyd tot ’n ander kreatiewe gaping vir Van Reenen gelei: “Daai Piet Cillié. Hy besluit toe mos ons moet ’n ‘gossip column’ hê. Wie sal dit maak? Van Reenen. Ek sê goed. Ek is Hilda. Hy sê nee. Iemand wat sulke nonsens skryf is Hilde. Ek is Hilde. Het ons sports gehad met haar!”26
In korrespondensie aan die Van Niekerks in 1959 skryf Van Reenen egter dat dit eintlik sy was wat die benaming van Hilde gegee het: “Verder het Piet hier ingevoer ’n bleddie sosiale rubriek. Ek gee nogal die wenk: dit moet deur HildE wees, die E het meer snob-appeal as die A, sê ek nog. My magtag, daar kry ek dit om te doen. Dit is ’n verskriklike kruis. Gelukkig is die Weber ’n mooi soet medewerker.”27
Selfs ook M.E.R. het kommentaar gelewer: “Toe Gladstone vir ons sê Hilde is Rykie, wou ek sê Nee! Sosiale Nuus! Een van die dae as oom Kallie vakansie hou, sit hulle Rykie ook aan.28 En in die eerste uitgawe kon ek jou glad nie kry nie: dat Hilde daarvoor moes goedstaan. Maar in vandag s’n het sy al taamlik weggeslyt, en kom Rykie deur. Nou ja, ‘it takes all sorts’ van koerantwerk om ’n koerantskrywer te maak; om ook ’n skrywer te maak. Die ondervinding is baie goed. Is daar nog ’n werk wat mensekennis so versterk as koerantwerk? Daarom so waardevol. Heeltemal die beste skool wat ek ooit gehad het.”29
In 1979, ’n paar dekades nadat Van Reenen kon “ontsnap” ná sy “hokgeslaan” is, skryf sy in ’n loopbaanbylae oor vroue in die professie: “Vandag kyk my glasafskortinkie op Beeld se algemene kantoor uit op ’n plaat meisiekinders, en hulle tik dat dit dreun oor enigiets waaraan ’n manlike verslaggewer sou kon dink om sy hand te waag: die politiek, ekonomie, misdaad, sport, kuns … ja, as hulle so voel, kosresepte, modes en partytjies ook, afgewissel met vroueregte, verkragting en aborsiewette.”30
Sy gaan voort: “Dit kan nou seker nie meer lank wees nie, of een word selfs toegelaat om te skryf oor voetbal, pardon, rugby … Daarmee sal Women’s Lib in die Afrikaanse koerantwese stellig sy top-sport bereik.”
Die slotparagrawe van dié stuk bevat die Van Reenen-waarmerk: die vraag wat die leser moet laat dink. Sy vra: “Of het dit dalk al, sommer so ongemerk?”
En dan gaan sy – op haar beurt stoutmoedig in 1979 – voort met: “’n Vrou kan al hoofsubredakteur wees, sy kan al ’n nuusredakteur word. Sulkes was nog dun gesaai, maar daar’s geen, soos die gereformeerdes sê, prinsipiële beswaar nie.”
Van Reenen het nie net die joernalistiek oopgeskryf vir vroue wat ná haar sou kom nie. Sy was ook ’n baanbreker om nuwe beats te ontgin wat voorheen nie bestaan het nie. Ook die diepte in die verslaggewing was iets wat steeds vandag as teksboekvoorbeelde van uitmuntende joernalistiek beskou kan word.
As oorlogskorrespondent het Van Reenen byvoorbeeld letterlik van die front berig – in ’n tydperk toe dit nie vanselfsprekend was dat ’n joernalis oorsee gestuur sou word om ’n storie te gaan dek nie. As wetenskapverslaggewer het sy eweneens ’n nuwe terrein op ’n vernuwende manier verken. Die gevaarlikste “front” was egter waarskynlik dié van kerkpolitiek, waar sy vreesloos onder die togas en manelle kon inklim en die politiekery in die hoogste politieke en kerklike Afrikanerkringe kon ontbloot. Boonop was die onderhoud, die kritiese vaardigheid waarmee die joernalis haar of sy inligting versamel, Van Reenen se forté.
Van Reenen was waarskynlik die eerste “amptelike” Suid-Afrikaanse vroulike oorlogskorrespondent.31 As oorlogsverslaggewer het sy bekendheid verwerf met haar dekking van die Jom Kippoer-oorlog in 1973. Daar is geskryf dat haar uitsonderlike waarnemingsvermoë en die perfeksie waarmee sy dit in woorde omskep het, nie beter geïllustreer kan word as met haar “oorlog-indrukke” van die Midde-Ooste nie.32
Sover vasgestel kon word, was ’n Britse adellike die eerste vroulike oorlogskorrespondent op Suid-Afrikaanse bodem. Sy was lady Sarah Wilson, die tante van Winston Churchill, wat self ’n oorlogskorrespondent in Suid-Afrika was tydens die Anglo-Boereoorlog (sy heroïese oorsteek van die magtige Apies is legendaries). Lady Sarah was na alle waarskynlikheid die eerste vrou in Suid-Afrika wat van ’n gevegsfront gerapporteer het, hoewel sy nie ’n Suid-Afrikaner was nie. Sy het tydens die Anglo-Boereoorlog vir die Britse Daily Mail verslag gedoen. Uit Jennifer Crwys-Williams se South African Despatches32 blyk dit dat lady Sarah “despatches from Ladysmith during its long siege” gestuur het. Sy is ook gevange geneem deur die Boere, wat haar egter ná ’n dag of wat vrygelaat het.33
Vergelyk ’n mens Van Reenen se dek van die Jom Kippoer-oorlog – baanbrekerswerk – met ontwikkelings in die Amerikaanse media, is dit duidelik dat die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse media ook op dié terrein agter was. Die eerste Amerikaanse vroulike oorlogskorrespondent, Jane McManus Storms, weliswaar onder die skuilnaam Montgomery,