Swartskaap. Odette Schoeman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Swartskaap - Odette Schoeman страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Swartskaap - Odette Schoeman

Скачать книгу

was voor ons.

      My ma het by die poskantoor gewerk, en Siena van der Westhuizen, ’n bruin vrou, het my opgepas. My ma het gesê sy is ’n oorlamse kleurling, maar Siena het nie daarvan gehou as jy haar ’n kleurling noem nie. Sy het gesê sy is ’n coloured en was baie trots daarop.

      Siena kon soos ’n maer vark skree, soos ’n vis suip en soos ’n matroos vloek. Dáár was nou vir jou ’n regte, egte dokkemeid. Maar vir my was sy net Siena vir wie ek baie lief was. Siena wat vir my stories vertel het terwyl sy my gebad het. Siena wat my ure lank op haar rug geabba het terwyl sy skoonmaak of wasgoed op die draad hang. Siena wat my geconvince het dat as ek nie my kos eet nie, gaan my maag uitval die volgende keer as ek toilet toe gaan.

      Siena het my altyd saam met haar afgevat drankwinkel toe as sy skelm vir haar drank gaan koop het. Eenkeer het ’n man met ’n bokbaard my amper onderstebo geloop in sy haastigheid om eerste by die drank uit te kom. Siena moes na my gryp om te keer dat ek val. Sy het die man aangegluur, maar niks gesê nie.

      Eers toe ons agter die man in die ry staan om te betaal, het sy my hand styf vasgevat en vir die man gefluister-roep: “Hey djy! Djy met die baardjie! Djy’s ’n póés!”

      Die man het vlugtig omgekyk en toe dadelik weggekyk. Seker bang gewees vir public humiliation.

      “Wat is ’n poes, Siena?” het ek op pad terug woonstel toe gevra, sy met die bottel drank in bruinpapier toegedraai stewig onder haar arm ingedruk.

      “ ’n Hus met lang ore,” het sy geantwoord asof sy by my ma geleer het.

      “Hoekom is jy oorlams, Siena?”

      “Oorlat die Djirre vir my ’n paar ekstra pitte tussen my se ore gegee het.”

      As my ma die dag nie gewerk het nie, het ons twee afgeloop na die Boksburgmeer, rummy of solitaire gespeel, of sy het Danielle Steel-boeke gelees. Sy het gesê sy het my na ’n Danielle Steel-heldin vernoem.

      My ma het baie Coke gedrink en baie John Player Special-sigarette gerook. En ek het haar verpes met eindelose vrae.

      “Vir wie is Ma die liefste? Vir my, of vir Theuns, of vir Alfie, of vir Bennie?”

      “Jy kan mos nie dit vra nie, Claudie. Ek’s ewe lief vir al my kinders,” het sy gelieg.

      “Ek’s die liefste vir Theuns,” het ek die waarheid gepraat.

      Ek het toe al aangevoel dat sy liewer vir Bennie en Alfie as vir my en Theuns was. Sy het ons kinders in twee groepe verdeel: haar Diago-kinders en haar Thompson-kinders. Sy het net “Diago” mooier gesê as “Thompson” – dié het sy altyd so half uit haar mond gespoeg, asof dit haar tong gebrand het. Hoe ook al, ek was in Theuns se groep, daarom was ek die liefste vir hom.

      My ma was vir my mooi. Sy het nooit haar kop by ons woonstel uitgesteek sonder grimering nie. Selfs as ons Sondagmiddae langs die meer gaan stap het, het sy grimering aangesit en hoëhakskoene gedra. Elke Sondagoggend het sy haar gesig oor die wasbak in ons badkamer gestoom, haar naels tydsaam geverf en haar hakke met ’n growwe klip geskuur.

      Rye en rye botteltjies gekleurde naellak het in ons yskas gestaan. Soms het sy my toegelaat om die kleur van die week vir haar te kies. Sy wou nooit hê dat ek my naels ook verf nie, al het ek haar baie mooi gevra. Dan het sy met ’n hoë stemtoon gesê háár dogter is nie vroeg ryp, vroeg vrot nie. Wanneer my ma se stem so hoog geraak het, het ek geweet ek moet ligloop.

      Dit was ons ritueel om Sondae met ’n ou brood af te loop meer toe. Ons het langs die water geloop en hande vol krummels vir die eende gegooi.

      “Wat is ’n poes, Ma?” het ek my vraag aan Siena herhaal.

      Ek kon uit die hoek van my oog sien hoe ruk haar kop met die blonde krulle in my rigting. Ek het stil gaan staan om na haar te kyk.

      “Haai, Claudie, dis ’n lelike woord! Waar hoor jy dit?” het sy geskok gevra.

      “By die hus met die lang ore.” Versigtig om Siena nie in die moeilikheid te bring nie, het ek my ma onwetend van haar eie medisyne gegee. Sy het haar eers bloedig vererg en toe gelag. Ek het saamgelag.

      “Hoe oud is Ma?”

      “So oud soos die berge.”

      “Hoe oud is dit?”

      “Dertig.”

      “Sjoe, dis oud!”

      Saans as ons in die bed gelê het, het sy my rympies geleer. Siembamba, Mamma se kindjie, Siembamba, Mamma se kindjie. Draai sy nek om, gooi hom in die sloot, trap op sy kop dan is hy dood.

      My gunsteling was: Baa baa black sheep, have you any wool? Yes, sir, yes, sir, three bags full . . .

      Ek het Theuns-hulle vreeslik gemis as hulle by die koshuis was. Wanneer hulle wel by die huis was, het ons teen mekaar opgegang en soos kat en hond baklei. Ek en Alfie het altyd teen Theuns en Bennie opgegang. Die twee jongstes teen die twee oudstes, wat teen daai tyd al ’n meerderwaardige attitude ontwikkel het net omdat hulle ouer was.

      Maar as die kak die fan gestrike het, was dit die twee Diago-kinders teen die twee Thompson-kinders. Instink, miskien. Birds of a feather flock together . . .

      Ons fights het gewoonlik oor iets onbenulligs begin, maar dan het dit vinnig-vinnig baie persoonlik geraak.

      “Jou pa is ’n suiplap, man!” skree die Thompson-kinders.

      “En jou pa is tog ’n tronkvoël!” skree die Diago-kinders terug.

      “So what? Jy’s ’n poes!”

      “Maaa! Claudie sê ek’s ’n p.o.e.s.”

      Dit was in dié tye dat ek en Theuns saamgestaan het. Kon nie anders nie, ons moes verdedig wat ons s’n is.

      Dit was gewoonlik ook in dié tye dat my ma ons vertel het hoe ons geboortes haar hele lewe vernietig het, en dat ons almal se pa’s losers is. So asof ons hulle self gekies het . . .

      Soms het ek en my ma by haar sussie Soekie gaan kuier. Soekie is die tiende kind. Ons het met die trein van Boksburgstasie af tot op Germiston gery, en van daar af twee blokke tot by Soekie se huis gestap.

      Ek het van die treinryery gehou, al het my ma gekla as ek my kop by die venster uitsteek. As ek agtertoe gekyk het, het ek die klomp swart koppe aan die agterkant van die trein gesien. Hulle het nes ek by die treinvensters uitgehang. Dan het ek vir hulle gewaai tot my ma my aan my rok teruggetrek het.

      “Sit plat, Claudie!”

      “Hoekom moet die swartes aan die agterkant van die trein ry, Ma?”

      “Want hulle sal die wit mense by die treinvensters uitgooi as hulle tussen ons ry,” het sy nors geantwoord.

      “Hoekom het ons nie ’n kar nie?”

      “Ek het ’n kar gehad, toe steel hulle hom.” My ma het haar vingers deur my hare getrek. “Kyk hoe deurmekaar is jou hare nou van die wind. Jy kan nie so by Soekie aankom nie.”

      My ma het altyd gesê Soekie is met die helm gebore omdat sy een groen en een

Скачать книгу