Die Portier. Pat Stamatélos

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Portier - Pat Stamatélos страница 8

Автор:
Серия:
Издательство:
Die Portier - Pat Stamatélos

Скачать книгу

Nou ja, dit kom van ’n ou man vat, nou sit sy met die gemors.

      Voor ICU se deure gaan staan hy stil. Hy wys na die bottel Dismed wat teen die muur gemonteer is.

      “Hou mevrou se hande, dan spuit ek ’n bietjie ontsmetmiddel op hulle.”

      Sy hou en hy spuit, ook op sy eie hande. Sy kyk ’n oomblik benoud na haar goue ringe asof die vloeistof hulle sal laat smelt, dan volg sy sy voorbeeld en vryf die ontsmetmiddel goed in.

      “Mevrou, die eenheidsbestuurder van ICU is suster Sam.”

      Sy kyk hom grootoog aan.

      Hy probeer weer: “Mevrou, die suster in bevél van ICU is suster Sam. Eintlik Samantha, maar almal noem haar suster Sam. Deesdae praat ons van eenheidsbestuurders.”

      “Ooo . . .” Sy knik soos een wat begryp sonder dat sy weet wat sy begryp.

      Max ruik aan sy hande, snuif die kliniese geur behaaglik in. Hy maak die ICU-deure oop en stoot die oom stadig binne.

      Nou is die tante aan die voorpunt van die trek. Sy is nie in staat om haar eie liggaam se vervalle toestand te keer of te beheer nie, maar hiér wil sy skielik in beheer wees. Wat is die mens tog? wonder hy en laat haar begaan.

      “Goeiemôre, suster. Dis my man, Johannes de Beer,” begin sy dadelik.

      Suster Sam, five foot two in her pantihose and a force to be reckoned with, is dadelik by. Sy vryf oor Johannes de Beer se plastiekarm, verseker sy vrou hulle weet van hom. Sy bed is gereed.

      Die tante kyk effens verward na Max se kant toe, asof sy wil vra: Wat nou? Die leisels is as ’t ware uit haar hande geneem en nou weet sy nie verder nie, besef hy geamuseer.

      Suster Sam beduie waar die oom gaan lê. Die ligte bokant die bed word aangeskakel, net ingeval die ruiter op die vaal perd verbygegalop kom. Max sit die oom se tassie op die stoel langs die bed neer.

      Die reuk van Oralox hang in die lug. Dis nie ongewoon om te sien hoe ’n sterwende se mond met dié antibakteriële spoelmiddel gespuit word terwyl die pasiënt van geen sout of water weet nie.

      In ICU is geen piepielakens te ruik nie, geen gekla of gespartel nie. Net aanvaarding, met mense wat fluister en masjiene wat biep-biep maak, en alles silwerskoon. Hierdie is die plek waar die dood leef, en net per toeval afwesig is.

      Hier lê die Mammon-aanbidders en die houthakkers en waterdraers langs mekaar. Die eerste het omgeval van ’n hartaanval, netjies geklee in ’n syhemp en snyerspak, Italiaanse skoene, goue horlosie en goue ringe. Sy koste gedek deur sy mediese fonds of die handtekening op ’n tjekkie.

      Die tweede het afgeval van ’n lorrie, op pad om ’n gat te gaan grawe. Happyboy Langa word ingedra met overalls aan en stukkende tekkies sonder sokkies. Sy eis gaan na die Workmen’s Compensation toe.

      In hierdie saal word hulle saamgesnoer deur dieselfde engelehande wat kateters skoonmaak, suurstofmaskers verstel, skaamtes skoonwas met ’n seeplappie en medikasie en empatie uitdeel. Hier is die polariteite reg teenoor mekaar, soos dit hoort. Reg of verkeerd, skoon of besmet, geen grys areas nie. Dis hoekom Max van ICU hou.

      Suster Sam regeer haar saal en personeel met ’n ysterhand, haar pasiënte met deernis. Hier is niks se gepoer-poer nie. Suster Sam is ’n ICU-suster in hart en niere.

      Sy help Max om oupa De Beer uit die rolstoel te lig, maak hom sit op die bed. Nog ’n suster is dadelik by om sy pantoffels uit te trek. Die gordyn om die oom se bed word toegetrek.

      Vir party is ICU hulle tweede kans in die lewe, vir ander was dit hul laaste kans. Max het al gesien hoe word hulle, voete eerste, hier uitgestoot, die swart kar binne. Nog een onvolmaakte minder, die druk van die knoppie ’n onwillekeurige keuse. Nog ’n groen beskuitjie vir die mantelpiece.

      Suster Sam bedank hom, wys hom die totsiensvinger, en hy is haastig uit. Nou moet hy hierdie rolstoel by maintenance kry.

      Hoofstuk 3

      3

      Die eerste sonstrale van die Septembermôre weerkaats donkergoud teen die hoë panele van glas en beton, totdat die hele struktuur, pilare en al, uit die laaste bietjie skemer verrys.

      “Môre, matrone,” groet ’n stem toe Mara te Water uit haar motor klim. Een van die personeel op pad huis toe ná ’n lang nag van waak en versorging.

      “Goeiemôre, suster,” groet sy terug, “en lekker slaap.”

      Mara glimlag vlugtig. Matrone en suster. In dié klein, moderne hospitaal met sy honderd beddens en vyf sale, een ICU, drie teaters en ’n ongevalle-afdeling, word benamings soos “matrone” en “suster” nie altyd gebruik nie. Selfs die titel “dokter” bly soms agterweë in ’n werksgesprek.

      Party sal sê dis onprofessioneel, en tog spreek dit van hegte bande, wedersydse vriendskappe en liefde. So ’n samehorigheid het sy nog in geen ander hospitaal beleef nie. Selfs pasiënte wat gereeld inkom, word soos familie behandel.

      Sy kyk die suster se verdwynende rug agterna. Dis nog net Woensdag, dink sy. Daardie suster het nog vyf nagte oor voordat sy die tuig vir sewe dae kan neerlê, om dit weer op te tel vir die volgende sewe nagte.

      Syself het ook haar beurt gehad om nagdiens te doen, lank gelede. Op laerskool al het sy gesê sy wil eendag gaan verpleeg.

      Haar ma het haar arm om haar skouers gesit. “Onthou, Lerato, jy gaan nie om ’n verpleegster te word nie, jy gaan om ’n matróne te word. Matrone Lerato Mara Sefodi,” het sy stralend gesê.

      Dit was oor die veertig jaar gelede. En voor Kees te Water in die prentjie gekom het, én twee lieflike seuns, die een drie en twintig en die ander een en twintig, albei studente aan oorsese universiteite.

      Sy sug innerlik en kyk op na die gebou voor haar. Strubenshof Privaat, ’n monument van deernis, genesing en toevlug. Vir die gepynigde en die vernielde.

      Soveel jare, soveel mense, soveel veranderings. Van ’n klein mynhospitaal wat slegs die plaaslike gemeenskap gedien het tot hierdie ultramoderne pragstuk onder die beheer van direkteure, dokters en mediese fondse.

      Sy het lankal agtergekom dat verandering en modernisering nie noodwendig ’n euwel is nie. Die dokters se skalpelvermoëns is verfyn, lewensreddende toerusting is opgegradeer en ou, vooropgestelde idees is ter ruste gelê. Alles vir die pasiënte se onthalwe en alles ten goede.

      Sy stryk oor haar uniform, kyk vlugtig na haar weerkaatsing in die motorruit. Haar grimering en klein oorkrabbertjies spreek van eenvoud, soos sy weet dit ’n matrone betaam, al noem hulle haar Mama Afrika agter haar rug. As sy maar soos Miriam kon sing.

      Sy sluit haar kar en begin loop met die lang, bekende paadjie al langs die struike, varings, aronskelke, palmboompies in keramiekpotte en jasmynheinings dragtig met wit bloeisels.

      Hier het sy as assistentverpleegster begin werk; dit voel soos honderd jaar gelede. Beddens opgemaak, panne skoongemaak en gereed gestaan vir niks anders nie. In ’n wit hospitaal is verpleging destyds deur wittes gedoen. Dit was voor sy Amerika toe is.

      Maar in al die jare wat sy oorsee gewoon het, het sy nooit in so ’n pragtige hospitaal gewerk nie. ’n Glaskasteel in die middel van ’n sprokiestuin. Groen grasperke

Скачать книгу