Moerbeibos. Dalene Matthee

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Moerbeibos - Dalene Matthee страница 12

Автор:
Серия:
Издательство:
Moerbeibos - Dalene Matthee

Скачать книгу

olifante wat jy nie met ’n heining kon keer nie. Wag net tot jou mielies kopmaak en jy in jou nagrus lê, dan kom trap hulle jou heinings suutjies plat en vreet jou vaal en kaal. Ek het seker goed ’n ses, sewe keer in die vyftien jaar moes heinings lap wat hulle kom plattrap het. Wat anders? Help nie jy skiet nie. Hoeveel skiet jy uit ’n trop van veertien of meer en dit in die donker? Nie dat hulle altyd vir die donker gewag het as hulle wou kwaad doen nie; partykeer was jou rug nie eers gedraai nie. Soos die dag toe ek die pampoene op die dak op gedra het. Tien jaar van Silas Miggel se lewe is in daardie een dag verby. Die huis was toe nog net die enkele lang vertrek soos ek hom in die begin gehad het; ek het eers later die ander twee vertrekke aangetimmer vir aparte slaapplek. Sit ek die dag die leer aan die suidekant van die huis, wegkant van die Bos. Mirjam staan onder by die leer en gee aan en ek klim en pak op die dak. Sy was toe nog nie tien nie, maar goed oulik om te help. En dit was háár benoude “Pa!” wat my halfpad teen die leer uit, met ’n pampoen onder elke arm, laat opkyk en die sewe uitgegroeide olifantkoeie met die drie kleintjies by hulle, nie twintig tree ten ooste van die huis nie, sien staan. Ek sê vir myself: word stil, word doodstil. Die luggie was van die westekant af, reguit na hulle toe met onse reuk daarin, en ek moes vinnig dink. As die wind nie teen ons was nie, kon ek die kind gevat en die Bos in gevlug het, boom geklim het of in ’n kloof af met haar gaan skuil het. Ek staan nog en hink, toe begin hulle ewe tydsaam huis se kant toe draai, pluk-pluk met die slurpe aan ’n polletjie hier en ’n polletjie daar, en by die heining trap die voorste een plat en die ander kom agterna.

      “Pa!”

      “Klim!” Ek het die pampoene net so gelos en haar sommer aan die een arm teen die leer uitgetrek tot op die dak. “Lê plat!” Toe ek langs haar platval, toe skop my hart teen die sinkplate onder my vas. En die voorkoei met die yslike ingekromde tande kom reguit huis toe gestap en begin haar sware plooilyf teen die hoek te skuur asof dit ’n boom is. Maar dit was nie ’n boom wat met dikke wortels in die aarde staan nie, dit was ’n plankehuis wat vlakspit diep in die aarde geanker was, en hoe langer sy gestaan en skuur het, hoe meer het dit daar bo op die dak gevoel jy lê op ’n lendelam katel. Die kind het so bevrees geword dat ek haar nie kon stilpraat nie. Al wat ek kon doen, was om die onderpart van haar rok voor haar mond te bondel en haar kop vas te druk.

      Toe ek ’n jong man was, het ek eendag die lyk van ’n man gesien wat deur die olifante vermorsel was. Vir meer as ’n jaar agterna kon ek nie ’n bok afslag of rou vleis aankyk nie.

      Die dag op daardie dak het ek ’n snaakse ding geleer: ek het geleer dat die lewe ’n ander ding is as die dood onder jou staan. Dan’s die lewe nie asemhaal nie, dan’s dit ’n aparte iets en jy’s die iets en jý lê aan jou lyf en klou sodat jy binne kan bly, want jy weet as jy los, is jy weg. En saam daarmee klou jy met die kind se lewe aan die kind se lyf. Jy bid ook nie soos jy bid as jy voor jou kooi kniel nie, jy skreeu hemel toe.

      Tien jaar – want hulle het die tuin tydsaam verniel en afgevreet. Elkeen wat moeg geword het van die speletjie, het eers kom lyf skuur teen die huis en dan moes ek van voor af die kind bedwing. Dit was November se maand, teen halfdag was die plate so warm gebak dat ek van die pampoene onder ons moes pak. En eers toe die son sak, is hulle terug die Bos in. Al genade wat hulle agtergelaat het, was die leer.

      Ek het gewonder of White ooit daaraan gedink het om in sy brief te meld van die olifante. Een bul met ’n slegte gemoed was genoeg om al elf tente in die aarde in te trap. Jy sou net Italiane sien waai.

      Toe ek by die huis kom, was die deur gesluit en die sleutel onder die klip. Mirjam was nie daar nie. Sy het ook nie vir my ’n boodskap op die tafel neergesit nie. As een van ons van die huis af was en die ander een moes ook weg, het ons vir mekaar ’n boodskap op die tafel gelos: die blou kommetjie vir Poortland toe, blikbeker vir Bos-in om te gaan dunhout haal, lepel vir dorp toe, ’n mes vir gaan strikke stel of strikke naloop. Daar was niks op die tafel nie. Dit was vreemd. Ek was die een wat soms in my haas vergeet het om ’n boodskap neer te sit, nooit Mirjam nie.

      Ek het die vuur opgemaak, koffiewater oorgehang en solank die patats gewas. Voordat ek die môre weg is dorp toe, het ek haar uitdruklik belet om naby die tente te gaan. Dit was nie te sê dat sy sou luister nie. Daar was ’n tyd toe Mirjam skielik baie eiesinnig geword het en ek later met Mrs Barrington daaroor moes praat. Sy sê toe ek moet die kind net mooi behandel en uitlos: meisiekinders word maar so, hulle kom vanself weer reg. Kort daarna het sy gesê ek moet Mirjam vir ’n week saam met haar en die oudste drie meisiekinders Karawater toe laat gaan. Ek wou eers nie. Later het ek maar so gemaak, en toe Mirjam terugkom, was sy baie beter. Ek dink Mrs Barrington het vir haar dinge gesê wat ’n pa nie kan sê nie. Maar snaaks, van toe af het dit my al meer gepla dat ek nie die moed kon kry om met haar oor haar ma en haar ouma te praat nie. Hoe sê jy vir jou mooie meisiekind jou lot is die einde as jy dit die dag sou waag om ’n man te vat? Hoe sê jy vir ’n boom: moenie groei nie? Hoe sê jy vir ’n voël: moenie vlieg nie? Elke keer as sy verjaar, het ek vir myself gesê: jy moet met haar praat, Silas Miggel. Maar ek het nie. In my onnooslikheid het ek gedink dis veilig solank ek haar eenkant kon hou. En toe? Toe staan daar skielik elf tente op die platrand, ek kom by die huis en Mirjam is nie daar nie en die duiwel kom sê vir my allerhande dinge. Voor die son onder was, sou ek vir White loop sê om vir Christie te sê om vir hulle te sê: ek skiet die eerste losloper-Italiaan wat naby my meisiekind kom, morsdood plat. En die oomblik wat die goewerment laat weet die skip is op pad, beginne ek hulle aanry dorp toe, en die goewerment moet sommer die honourable Barrington aanskryf om vir die skip te betaal sodat dit hom kan leer om sy drome in sy kooi te hou.

      Die koffie was klaar en die patats halfpad gaar toe Mirjam sonder ’n woord die deur oopstoot en verbyloop kamer toe. Ek sien sy’s nukkerig.

      “Mirjam!”

      “Ek kom, Pa, ek trek net my skoene uit.”

      Ek het haar beker uitgespoel en vir haar koffie ingeskink. Toe sy in die middeldeur kom staan, maak ek of ek nie die nukke sien nie en ek vra vir haar waar sy was.

      “Die mense sit sonder vuurmaakhout, Pa. Ek het die byl gevat en wou vir hulle gaan wys waar om hout te kap, maar hulle wil nie in die Bos in gaan nie. Hulle is bang vir die Bos. Hulle wou weet of daar wolwe in die Bos is. Wolwe, Pa.”

      “Ek het vir jou gesê om van hulle af weg te bly!”

      “Daar is ellende by die tente, Pa. Ek het nog nooit so ’n verskrikte klomp mense gesien nie; dit sal nie help om te maak of hulle nie hier is nie, hulle is.”

      “Deur ander se onnooslikheid, ja. Ek het gesê ek sal hulle help wegry as die skip kom.”

      “En intussen?”

      “Is dit White en Christie en die goewerment se saak. Nie myne nie en ook nie joune nie. Drink jou koffie.”

      “Wat weet Mister White of Mister Christie of die goewerment van die Bos en die platrand af? Dan praat ek nie eers van die Italiane nie, en Pa sien kans om rug te draai?”

      “Dis genoeg, Mirjam.”

      “Dis nie genoeg nie, Pa!”

      Dit was ’n meisiekind wat vir jou dwars in die pad kon gaan staan. “Dis genoeg!” het ek haar ’n tweede keer moes aanpraat voor sy stilgebly het. “Hulle het Saterdag hier aangekom, reg? Vandag is Maandag. Twee werksdae is verby sonder dat ’n hand in my huis of op my werf uitgesteek is om iets te doen. Ek het nie ’n enkelte stoeletjie klaar nie, daar is nie brood gebak nie, daar is nie ’n strik gestel nie, daar is nie geskoffel nie. Hoe lank dink jy sal dit wees voor die ellende hier ook kom intrek? Dit help nie jy loop maak ’n ander se gemors reg en beland self daarin nie. As jy gemis het, moet jy dit optel of daarin trap. Die goewerment het gemis, die goewerment moet kom optel.”

      “Ek sê nie

Скачать книгу