Moerbeibos. Dalene Matthee

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Moerbeibos - Dalene Matthee страница 9

Автор:
Серия:
Издательство:
Moerbeibos - Dalene Matthee

Скачать книгу

by die tente!”

      “Mirjam, jammerte op sy tyd is ’n goeie ding, maar jammerte uit sy plek uit swel jou oë gou vir jou toe solat jy nie kan sien nie. Trek die gordyn aan, dit voel al vir my daar kyk oë deur die venster.”

      Die son was skaars die volgende môre uit, toe staan White voor my deur en ek sien hy staan swaar. Die man is bedruk.

      “Môre, Miggel.”

      “Môre, Mister White. Kom binne. Het julle toe die moerbeibos gekry?”

      “Jy sou nie na spot gevoel het as jy vanmôre in my plek was nie. Ek kom soek ’n handbyl om te leen, die mense moet vuurmaakhout hê, daar is niks om mee te kap nie. Leen asseblief vir my ’n byl.”

      “Watter dag van die week is dit, Mister White?” vra ek hom.

      “Sondag.”

      “Sien Mister my byl daar anderkant op die kapblok ingebyl staan?”

      “Ja, ek sien hom.”

      “Amper dertig jaar lank kap daardie byl my vuurmaakhout, maar op die Sabbat is hy nog nooit gelig nie en hy sal ook nie vandag gelig word nie.”

      “Die Woord van God sê: as die kalf in die sloot lê, Miggel.”

      “Dis reg. Maar daar is ’n verskil tussen ’n kalf wat in die sloot geval het en een wat die sloot ingestamp is. My byl kap nie op ’n Sondag nie. Hulle kan die hout met hulle hande loop breek.”

      Toe hy hom opruk en aanloop, kom Mirjam uit die kamer uit en kom staan my en verwyt. “Pa is verkeerd, Pa moes die byl gegee het!”

      “My byl kap nie op die Sondag nie.”

      “Gaan Pa nou oorlog maak teen hierdie mense?”

      “Nee. Maar ek gaat hulle ook nie met die hand groet nie. Dis nie hulle plek nie en hoe gouer die goewerment vir hulle hier wegvat, hoe beter sal dit wees.”

      Ek het die Bybel gevat en buite langs die huis gaan sit soos dit elke Sondag my gewoonte is. Al verskil was dat ek nie aan die oostekant van die huis loop sit het nie, maar aan die westekant, sodat my oë nie die tente sou sien nie. Ek is nie ’n man wat die Here heeldag lastig geval het nie; Sondae het ek my praatwerk vir die week wat voorgelê het, gedoen en vergiffenis gevra vir die vrotplekke in die week wat verby is. Ek het by die psalms oopgeslaan en gelees. Halfpad toe weet ek ek lees bo-oor die woorde, niks gaan tot in my kop nie. My gemoed was te beknel van die kommer. Waarheen trek ek as hulle my maak trek? Wat van my groentekampe? Wat van die aartappels wat regstaan om opgeërd te word? Wat van my huis? Die planke was nog goed om weer te gebruik as dit nie anders kon as trek nie. Elke boom waaruit daardie planke gesaag was, het my twee hande self gekap en bewerk. Net met die opslaan het Martiens Botha sy houtkapperspan gebring en kom help en sommer die dag weer vir my kom preek ook.

      “Jy kan nie die kind alleen grootmaak nie, Silas. Veral nie hier waar geen sterfling naby is nie. Laat loop jou oë deur die Bos en vat weer vir jou ’n vrou. Jogebed van Frans Gerber is jonk en fluks; as sy jou nie geval nie, is Annie van broer Bart ook nog daar.”

      Net een keer, toe Mirjam die jaar tien geword het, het ek weer vir een sin gekry. Vir Johanna, weduvrou van oorle Petrus Jonker wat die slag die gelekoors gekry het en nie weer opgestaan het nie. Kry ek sin vir Johanna. Maar toe ek op ’n dag weer die stomme vier wesies aankyk, toe trek al wat begerentheid is, uit my uit, want om een asbrood in twee te breek, was ’n ander ding as om dit in sewe te moet deel. Los dit, het ek vir myself gesê, maak die kind alleen groot.

      Ek het ’n ander psalm probeer lees. White het nie die hele waarheid gepraat toe hy gesê het hy was hulle nie regtig te wagte nie. Daardie selfde jaar in Maart het hy my eendag gevra of ek dan nie weet van raad met die kewer wat die dorp se bome so vreet en laat vrek nie. Ek vra vir hom watse kewer? Hy sê die Australian bug. Ek sê vir hom ek het nog nooit van so ’n ding gehoor nie, en toe sê hy al wat moerbeiboom op die dorp is, is al tot niet gevreet en dit terwyl daar sprake is van ’n sybedryf vir die distrik, terwyl daar selfs al syboere op pad is. Ek het nie notisie geneem nie, my kop staan toe nog altyd by die kewer en ek sê vir hom solank die pes net nie Bos toe trek nie. Die week daarna kom ek op Poortland en kry Barrington halflyf in die moerbeiheining op soek na tekens van die einste kewer. Hy praat van die ramp wat hom sal tref as die sywurmmense opdaag en daar’s kewers in sy moerbei. Ek vat weer nie notisie nie, ek dog dis maar die ou droom.

      Spruitbos-se-eiland toe kon ek nie trek nie. Daar was te veel geil jong houtkappers wat met Mirjam kon lol. Dorp toe? ’n Man kon nie sommer jou huis staat afbreek en op die dorp loop opslaan nie. Voor die eerste spyker in is, het magistraat Jackson jou in die hof en jou osse in die skut, en daar sou Mirjam ook nie veilig wees nie – ek het al gesien hoe loer hulle na haar.

      Ek sit nog so, toe staan Josafat Stander by my voete, geweer oor die skouer, want Josafat Stander het nie menswet of Godswet ontsien nie, hy was ’n man van sy eie wette.

      “En as oom nou vanmôre aan die koeltekant van die huis sit?”

      Ek het die Bybel toegemaak. “Môre, Josafat. Skaam jy jou nie om op die Sondag met ’n geweer te loop nie?”

      “Die grootvoete sal nie vra of dit Sondag is as hulle my wil trap nie.” Hy het die geweer afgehaal en langs my met sy rug teen die huis kom sit.

      “Mirjam!” het ek binnetoe geroep. “Bring vir oom Josafat ’n beker koffie.”

      “Ek het gedink ek kom maar vanoggend ’n bietjie uit en kom kyk wat oom hier getref het. Ek hoor dis Italiane.”

      “Waar hoor jy dit?”

      “Op die dorp. Oom Joram Barnard sê ek moet vir oom sê daar’s plek by hulle op Groot Eiland. Hy sal met sy wa in Rooiels-se-sleeppad probeer afkom tot so na as moontlik aan die platrand en oom kom help trek.”

      “Ek is nog lank nie by trek nie, ek is maar nog besig om oor die skrik te kom. Waar staat jou skerm op die oomblik?”

      “Ek het nog nie skerm vir die winter gemaak nie, ek slaap maar waar die son vir my sak.”

      Ek het lankal opgehou om vir Josafat Stander te preek. Die Bos was sy woning en sy geweer sy vrou. Soms het daar maande omgegaan dat niemand hom sien nie en het die gerugte kom loop dat die olifante hom uiteindelik getrap en vermorsel het. Dan kom hy op ’n dag maar net weer uit. Twee boswagters het hom eendag by Michiel-se-kruis gevang met die olifanttand oor die skouer en sonder permissie in die sak, en hom met tand en al dorp toe aangejaag. Hulle het hom glo amper op die dorp gehad toe hy skielik net weg voor hulle was. Met tand en al. Hulle het geweet hy het die ruigtes ingeswenk en moes arm-ver van hulle af wees, maar gekry het hulle hom nie. Die ander storie wou dit weer hê dat hulle hom self laat wegkom het, omdat daar twee dinge is waarvoor ’n boswagter werklik bang is en dit is vir ’n olifant en vir Josafat Stander.

      Daar was baie stories oor Josafat Stander. Raaisels. Soos die slag toe hy in die arm geskiet is en lank op Spruitbos-se-eiland by ou Mieta, die medisynevrou, gelê het. Wie hom geskiet het, het hy nooit gesê nie. Dit was maar die mense wat rondgeskinder het dat dit Diepwalle se wagter was wat hom by sy vrou betrap het. Ander het volgehou dit was een van die konstabels op die dorp wat hom in die nag voorgelê en gewond het toe hy besig was om tande uit te dra na ’n skip toe. Ek het altyd gesê Josafat Stander se moeilikheid het begin die dag toe sy pa met die wavrag hout by Ysterhoutrug verongeluk het. Daardie selfde dag het Josafat gesweer hy sou nooit houtkap vir ’n lewe nie. Toe sy ma weer trou en wegtrek, het hy agtergebly

Скачать книгу