Moerbeibos. Dalene Matthee

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Moerbeibos - Dalene Matthee страница 13

Автор:
Серия:
Издательство:
Moerbeibos - Dalene Matthee

Скачать книгу

word nie. Die goewerment weet nie eers lat Silas Miggel leef nie. Daar oorkant sit Barrington op sy eie troon, traak dit hóm wat hier by die tente aangaan? Nee. Maar jy wil van my kom weet wat intussen van hulle moet word? Hulle kan vrek sover as wat ek voel.”

      Sy het die skottel en die meel uitgehaal en reggemaak vir knie. Ek is buite na my hout toe.

      Dit gaan neuk, het ek vir myself gesê, dit gaan sleg neuk. As ek vooruit kon weet hoe lank dit sou wees voor die skip hulle kom laai, kon ek ’n plan maak en haar Spruitbos-se-eiland toe neem na my suster Hannie toe. Maar dit kon van die een vuur na die ander toe wees, want Stefaans van Rooyen se oudste seun, Sias, het al twee keer uitgestryk en blinkgewas op die platrand aangekom en kans gesien om met Mirjam te kom gesels. Dan het ek nie eers Martiens van Ou Martiens bygereken nie, en ook nie Jacob Terblans wat kastig by my nig Grieta se dogter Susanna gekuier het nie. Jacob mog by Susanna gekuier het, maar ek het al ’n paar keer gesien hoe val sy oog op Mirjam. Jacob was nou wel nie op Spruitbos-se-eiland nie, maar van Diepwalle se mense, maar nogtans. Was dit nie ten einde beter as ek haar by die huis hou waar ek immers self na haar kon kyk nie? Ek had nie vir myself die regte antwoord nie. En my hande was stram toe ek die stoeletjie begin riem.

      Al die jare was ek gewoond aan stilte op die platrand, nou was daar skielik ’n rumoerdery. Die spul Italiane was lawaaierig; as dit nie geklink het of hulle elke kind twee keer roep nie, sou jy sweer hulle loop van tent na tent en skel en praat. Hoe lank sou ’n man dit kon uitstaan?

      Skemerdonker het Mirjam kom sê die kos is klaar vir eet, kortweg, soos een wat van onplesierigheid opgestop was, en ons het in stilte geëet. Agterna het sy die skottelgoed gewas en kamer toe gegaan sonder om nag te sê. Dit was oumanier van haar wanneer daar struwel tussen ons was. Ek het by die tafel bly sit en gewag; een van ons sou eerste moes ingee en nagsê, want in Silas Miggel se huis is daar nie in onvrede loop lê nie. Sy’t dit geweet. Ná ’n ruk het ek gehoor sy blaas die kers dood, maar ek het vir myself gesê ek sal nie ingee nie, sy het glad te veel haar sin gekry. As ’n mens ’n kind so alleen grootmaak, veral ’n meisiekind, sluip daar maar glad te veel bederf in wat buite moes gebly het. En geslaap het sy nie, sy het bly omrol. En toe hoes sy, nie lank nie toe hoes sy weer en ek skrik. Dit was nie ’n kind wat gehoes het nie, sy had ’n sterke bors. Ek het die kers gevat en opgestaan.

      “Mirjam?” Sy het met ope oë gelê. “Mirjam, is jy siek? Is jou keel geswel?”

      “Nee, Pa.” Haar bui was beter, ek kon dit hoor.

      “Hier is struwel in die huis, Mirjam, ons kan nie so gaat lê nie. Sê vir Pa wat jou in jou hart hinder.”

      “Gaan Pa nou vir die res van Pa se lewe vir Mister Barrington kwaad bly en nooit weer Poortland toe gaan as hy Pa laat roep nie?”

      Ou Sarel van Rensburg, wat vier vroue oorleef het, het eendag gesê as ’n vroumens by haar voete beginne, moet jy weet sy’s eintlik op pad na haar kop toe. Beginne nooit by die volle waarheid nie. Ek het sommer gedagte gekry dat Mirjam by die voete aangevoor het.

      “Die dag as hulle die laaste Italiaan en sy tent en sy bondel op die slee laai, daardie dag sal ek weer my voete op Poortland sit. Nie voor dit nie. Dis Barrington wat hierdie ding begin het.”

      “Hy kan nie sonder Pa klaarkom nie en Pa weet dit, nou wil Pa hom daarmee straf.”

      “Trek jy nou aan Barrington se kant of trek jy aan jou pa se kant?” Sy het haar kop weggedraai en haar vingers heen en weer oor die plankmuur langs haar laat gly. “Ek praat met jou, Mirjam.”

      “Pa het nie ’n hart nie. Nie Pa nie, nie Mister White nie en ook nie Mister Christie nie.”

      Nes ou Sarel gesê het: beginne by die voete. “Waarvan praat jy nou? Ek dog ek is al een sonder hart hier op die platrand, nou hoor ek daar is darem nog twee ander ook.”

      “Pa s’n is die hardste!” het sy gesê en orent gekom. “Ek het die eerste aand vir Pa gesê om saam met die vrou te loop tot by die tente en te gaan hoor wat sy wou hê, maar Pa het nie.”

      “Waar gaat draai jy nou?”

      “Weet Pa waarom die vrou so huil?”

      “Hoe moet ék weet?”

      “Hulle het haar kind gesteel.”

      “Wat?”

      “Ja. In die Kaap.”

      White het gepraat van een wat weg is, hy’t nie gesê dis ’n kind nie. “Watse kind?”

      “’n Dogtertjie. Sy is tien en haar naam is Catarina.”

      “Hoe weet jy dit?”

      “Ek het vir Mister Christie gevra toe ons die hout gaan soek het.”

      Ek was sommer weer ergerlik. “Wie was almal saam om die hout te soek?”

      “Sien Pa nou? Pa is meer gekwel oor wie om mý was as oor die vrou se kind.”

      “Ek vra wie almal saam was!”

      “Mister Christie en drie van die Italiane: Pontiggia, Canovi en Coccia.”

      “Behoede ons.” Die ergste was dat Mirjam die vreemde name gesit en uitryg het asof sy dit geoefen het. “Hoe ver was julle die Bos in?”

      “Ons was nie in die Bos in nie, Pa, ek sê dan hulle is te bang. Ons het op die rand langs dunhout gekap waarmee hulle nie een dag se behoorlike vuur sal kan maak nie. Pa moet by Mister White loop hoor van die kind. Ek kan nie mooi verstaan wat Mister Christie sê nie, hy praat anders Engels as die Engelse hier rond en boonop was hy humeurig omdat hy moes gaan help met die hout. Pa moet by Mister White loop hoor van die kind.”

      “Het die vrou ’n man?”

      “Ek dink so. Haar naam is Petroniglia, haar van is Grassi. Sal Pa asseblief môreoggend gaan uithoor?”

      “Ek kan nie die vrou se kind loop soek nie, Mirjam, dis werk vir die polisie.”

      “Ek weet, gaan vind net uit. Sy bly aan die huil.”

      “Ek sal loop uithoor.” Wat anders kon ek doen?

      “Belowe?”

      “Belowe.”

      “Nag, Pa. Dankie, Pa.”

      “Nag, Mirjam.”

      Sy had reg. Die vrou se kind was weg. White het my die hele ding in radeloosheid vertel, want die vrou het nag en dag bly kerm. Hy, White, en Christie is die heel eerste dag toe hulle by Knysna aangekom het, saam met die vrou en haar man, Ilario Grassi, na die polisie sodat hulle verklarings kon aflê om Kaap toe gestuur te word. Volgens Petroniglia en haar man, het ’n ander Italiaan, ene Nicolo Tomaso, die kind gesteel. Hulle het die man in die Kaap raakgeloop toe hulle die week daar moes oorlê. Omdat dit so beknop was in die skip, het Tomaso en sy vrou ’n klompie van hulle herberg gegee, onder andere drie van die Grassi’s se vyf kinders. Die een was Catarina. Toe raak die Tomaso’s baie danig oor die kind en ná ’n paar dae vra hulle vir Ilario om die kind vir hulle te gee. Hy en sy vrou wou haar as hulle eie grootmaak. Ilario het dit vir Petroniglia op die skip loop sê en die volgende dag is sy na Tomaso toe om die kinders te haal. Tomaso het mooigepraat en gevra of Catarina nie maar nog kon bly nie, hy sou haar kaai toe bring

Скачать книгу