Moerbeibos. Dalene Matthee

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Moerbeibos - Dalene Matthee страница 18

Автор:
Серия:
Издательство:
Moerbeibos - Dalene Matthee

Скачать книгу

Pa.” Sy het dit sonder skroom gesê. “Loop ek dorp toe, moet ek elke tree tel, want by die huis meet Pa my wegbly aan die son. Praat ek tien woorde op die dorp met iemand, is ek tien tree agter en sit die onrus soos onheil op Pa se gesig as ek by die huis kom. Hoeveel keer vra ek Pa dat ons soms op ’n Sondag ’n bietjie na Spruitbos-se-eiland toe moet loop om te gaan kuier, of Groot Eiland toe, maar Pa hoor my nie eers nie. Kom soek Sias of Martiens ’n os of iets, word ek tuin toe gejaag of gestuur om te gaan water skep, al staan die emmers randvol op die kas. Die laaste keer toe Jacob Terblans by Pa kom kraansaag leen het, wou Pa hom nie eers in die huis in nooi nie omdat ek daar was. Waarom Pa my nog toelaat om Poortland toe te loop, weet ek nie. Of dalk is Pa Poortland se kant toe so blind dat Pa nie dink dat John of Hal of Will my onder in die kloof kan voorlê met die terugkom nie.”

      Ek het van skone skrik opgespring. “Wat sê jy daar?”

      “Sit, Pa. Dit sal nie nou help om geweer te wil laai nie, hulle het lankal opgehou om my voor te lê. Ek het vir myself gekeer.”

      Die kind was besig om van dinge te praat waarvan sy niks geweet het nie. Dit was dinge waarvoor ’n meisiekind ’n ma moes hê, nie ’n pa wat skielik stomgeslaan was van onrus nie. Voor my aangesig het sy die rieme waarmee ek haar so versigtig gespan het, losgewoel en ek kon haar nie keer nie. “Daar is dinge wat jy nie verstaan nie, Mirjam! Dinge waaroor daar op die regte tyd gepraat sal word. Mister White was hier, hy sê as ek vir hom instaan en Mister Christie help met die Italiane, skryf hy Kaap toe en kry permissie dat ons blyreg op die platrand het tot na my én jou se einde. Al wat ek moet doen, is om Christie te help tot die skip hulle kom laai.”

      “Wat gaan Pa tot dan toe met my maak?” het sy gevra asof sy my daarmee wou uitdaag. “’n Streepsak oor my kop trek? My in die huis opsluit totdat hulle weg is en ons weer alleen op die platrand is?”

      “Mirjam, jy’s opstandig! Daar is dinge wat jy nie verstaan nie.”

      “Ek is lankal opstandig, Pa. Ek is opstandig omdat ek eenkant gehou word soos een wat ’n siekte het. Ek het nie ’n siekte nie, Pa!”

      “Mirjam.”

      “Weet Pa hoeveel keer was ek al skelm Spruit-se-eiland toe as Pa op Poortland is? Weet Pa hoekom? Net om ’n slag met meisiekinders van my eie portuur te praat, net om nie altyd eenkant te moet wees nie.”

      Dan was ek reg, het ek vir myself gesê, sy had klaar haar oog op een, sy was klaar skelm. Ek het net nie geweet of dit Sias of Martiens was nie. Maar die skrik het skielik die moed in my losgemaak om reguit met haar die waarheid te praat. “Mirjam,” het ek vir haar gesê, “die ding wat my laat geweer gryp as een na jou kyk, die ding wat my in die nag ’n benoudheid laat kry as ek oor jou lê en dink, is die ding waaroor ons op hierdie dag aan hierdie tafel gaan praat.”

      “Ek weet waarom ek nie ’n ma het nie, ek weet waarom my ma nie ’n ma gehad het nie.”

      Die een oomblik staan jy met die byl oorgehaal om die boom te kap en die volgende oomblik duiwel die boom voor jou oë neer nog voor die blad aan die bas kon raak. Sy het dit sonder erg gesê, net weggekyk soos een wat skaam is. Ek wou opstaan en by die deur uitloop tot onder in die verte waar die platrand oor die kranse val en daar bly staan totdat die jammerte vir my mooie meisiekind bedaar het in my. Ek het skielik gewens ek het iets gehad om haar te gee, ’n rok of kamme vir haar hare soos wat in die Petroniglia-vrou se kop was. Of ’n kat. Enigiets om haar te troos, maar ek had niks.

      “Hoe weet jy dit, Mirjam?” het ek haar in verslaentheid gevra.

      “Ta’ Hannie het my gesê.”

      Dit het die tweede skrik gebring. Hannie was een wat maklik getrap het voor sy kyk waar sy trap. “Wat het sy vir jou gesê?” Ek moes weet.

      “Dat Ma se ma se pa ’n vloek oor ons gebring het. Dat ’n man een nag ’n pakos by hom gevra het om sy vrou op te laai sodat hy haar op die dorp by die dokter kon kry, maar grootoupa wou nie die os gee nie. Toe dra die man die vrou en by Bokbaard-se-draai het hy haar laat val en net daar is sy met kind en al hemel toe.

      “Dis ’n vervloekste bosstorie!” het ek geskree. “Dis ’n opgemaakte ding wat al jare rondgeskinder word en nou in jou ook ingeprent staat! Die een klomp sê dit was ’n man wat wou os leen, die ander sê dit was ’n vrou wat in barensnood kom herberg soek het. Ek sê vir jou dis ’n ding wat agterna opgemaak is. Van wanneer af stuur ons bosmense mekaar weg?” As ek Hannie in die hande kry, is daar moeilikheid. Hoe moet ek die storie uit die kind se kop uit kry? “Dis ’n opgemaakte ding, Pa sê dit vir jou.”

      “Dit maak nie saak nie, Pa. Die waarheid bly staan: my ouma is dood toe my ma gebore is, my ma is dood toe ek gebore is. Ek weet dit lankal.” Sy het opgestaan en vuurherd toe geloop. Eers toe sy die stuk hout op die kole smyt dat die vonke in die lug op skiet, het sy die bitterheid in haar verklap. “Dit maak nie saak nie, dit maak net verskil,” het sy bygesê. “Johanna van oom Willem, Susanna van tant Grieta, Bettie van tant Bet en al die ander meisiekinders kan sê met wie saam hulle eendag wil dorp toe loop om te gaan trou. Nie ek nie.” Sy het die patats begin afwas en aangehou met praat en praat soos dit haar gewoonte was wanneer sy skuldig of bang is. “Bettie sê sy wil saam met Martiens loop. Susanna saam met Jacob Terblans – het Pa geweet dat vier van die Italiane kort nadat hulle aangekom het, voor die magistraat getrou het? Antonia Fardini het met Domenico Tomé getrou en haar suster, Giuditta, met Angelo Mangiagalli.”

      “Maak jy die name op?” Ek kon nie dink dat dit hulle regte name kon wees nie.

      “Ek maak dit nie op nie, Pa. ’n Mens moet net mooi luister; party is moeilik om te sê, jy moet ’n paar keer oefen. Maar dis lekker, dit klink so anders. Mister White sê Giuditta is so oud soos ek. Sewentien. Mister Christie verwag moeilikheid oor Angelo Mangiagalli; sy mense weet nie dat hy saam met die syboere gekom het nie. Hulle is baie vername mense in Italië en hy was veronderstel om met ’n ander meisie te trou, nie met Giuditta nie. Antonia en Domenico het mekaar op die skip van Engeland af leer ken. Pa sal môreoggend moet saamloop na die strikke toe, as daar meer as een bok is, kry ek die vleis nie alleen by die huis nie. Miskien moet ons die slee vat. Dinge gaan verkeerd draai by die tente, Pa, dis of hulle in die rondte loop soos mense wat nie weet waarheen nie. En Pa hoef nie bang te wees dat ek ’n man sal vat nie, ek sal nie trou nie, ek wil liewer leef.”

      Die bitterste bitter was dat ek sonder ’n woord van troos vir haar moes sit. Ek kon nie vir haar sê: toe maar, dalk is jy nie soos jou ouma en jou ma nie, dalk kom dit jou nie oor nie. Geen mens het reg om vals te troos nie. En dit was maklik vir haar om te sê sy sal nie trou nie. Het sy geweet wat vir haar voorlê as sy die dag sinnigheid kry vir ’n man? Die regte sinnigheid? As die groot gevoelentheid oor jou kom, raak jy anders. Dit kom staan tussen jou kop en jou lyf, tussen jou voete en die aarde, dit laat jou anderster asemhaal, anderster kyk. Jy vind die hemel op die aarde.

      Al troos wat ek had, was vir myself en dat sy mý kind is. ’n Kind van Silas Miggel is oop-oë bang. Hoeveel keer is ek nie in dikbos met haar deur, klipgooi onderkant of bokant ’n trop olifante verby nie? Stokstyfbang was die kleine lyfie voor my in die voetpad, maar nie ’n takkie sou onder haar voete kraak wat ’n grootvoet ’n oor kon laat roer nie. Maar die dag wat ek my eie wil die helderste in haar gesien het, was die dag toe die wolkbreuk ons op die dorp vasgekeer het en ons amper donker voor Gouna se drif staan. Ek sien daar’s nog kans dat ons die oorkant sal kan haal as ek haar op my skouers tel en deurdra. Sy was toe maar skaars ag jaar oud en te lig, die water sou haar vat as ek haar self laat deurloop. Ek moes haar by die huis kry, daar was nie meer ’n rafel droog aan ons lywe nie en ons kon nie daar slaap nie.

      “Ons gaat deur,” sê ek vir haar. Die water raas voor ons verby.

      “Ons

Скачать книгу