God se pad van vryheid. Engela Linde

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу God se pad van vryheid - Engela Linde страница 10

Автор:
Серия:
Издательство:
God se pad van vryheid - Engela Linde

Скачать книгу

hulle dit so kry?

      Mark 15:47

      Was sy eie moeder te gedaan? Dalk, op aandrang, bietjie gaan rus by Johannes?

      Luk 1:56

      Saam babaklere gemaak?

      Luk 1:62

      Die “gebare” is lagwekkend – volgens Lukas 1:20 was hy nie doof nie

      Luk 4:40

      Selfs sononder is nie te laat nie

      Luk 7:15

      “… en begin praat”- tipies van daardie ouderdom voor en ná die stem gebreek het

      Luk 8:55

      Jesus se praktiese aanslag: herstellendes het ’n groot eetlus

      Luk 13:12

      Sonder dat sy Hom eers vra

      Luk 13:14

      Die hoë man het seker nie bedoel dat sy woorde so skreeusnaaks moet wees nie

      Luk 17:6

      Besittertjies van sywurms wat altyd moet gaan blare bedel, sal hulle ore spits

      Luk 18:37

      Mooiste woorde ooit deur ’n mens hier op aarde gebesig?

      1 Februarie Matteus 1:1-11

      DIE GESLAGSREGISTER VAN JESUS

      Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid … (Matt 1:1).

      Dit lyk na ’n oninteressante manier vir Matteus om sy boek te begin, maar vir die Jood was afkoms van groot belang. Hier moet ons dalk eers vlugtig kyk na die plasing van die Bybelboeke. Daar is elf boeke tussen Konings en Jesaja, terwyl Jesaja in die tyd van die konings optree (2 Kon 20). Esra, Nehemia en Ester lewe lank ná Jesaja, maar word vroeër geplaas. Die rede is groepering, wat byvoorbeeld die profete saamgooi (dagstukkie 25 Nov).

      In Genesis 11:10-26 is moontlik ’n aantal geslagte uitgelaat, soos ook in Matteus 1:1. “Seun van” kan ook beteken “nasaat van”. Vele van ons Familiebybels sit ook maar met gapings wat deur genealoë uit argiewe aangevul moes word. Hoeveel te meer antieke geskrifte wat oor duisende jare strek? Plek-plek was daar volledig opgetekende dele, dan weer leemtes, soos Israel se vier honderd jaar in Egipte (Gen 15:13; Hand 7:6).

      Matteus, reeds ’n ou man, sou besondere moeite gedoen het met die geslagsregister van Christus, wat hom uit die tolhuis geroep het (Matt 9:9). So kry elke lewe wat maar ’n wiekslag in die ewigheid is, ’n onweerlegbare plek. Die register toon dat, deur die koms van Christus, voorheen rigiede skeidslyne verval. Dit was ongehoord dat vroue in ’n stamlyn genoem word, maar die skeidslyn tussen man en vrou verval nou (dis wat volgens Gen 2:24 en Mal 2:15 van die begin af die bedoeling was). Ragab die prostituut en Rut die Moabitiese breek die skeiding tussen Jood en heiden af. Met Batseba, “die vrou van Uria”, minnares van Dawid, verdwyn die skeidslyn tussen heilige en sondaar, die vryspraak wat Jesus sou kom uitleef (Matt 9:13). Die geslagsregister van Jesus, hoe vervelig dit ook al lyk, is van die belangrikste passasies in die goue draad van die heilsgeskiedenis.

      GEBED: Ek dank U vir die ruising van die ou-ou Bybelgeskiedenis, Here, en vir u Naam wat swart op wit daar staan om my te herinner aan u verlossingswerk.

      2 Februarie Matteus 1:12-17

      DIE GESLAGSREGISTER VAN JESUS (VERVOLG)

      Altesaam was daar dus veertien geslagte van Abraham af … veertien van Dawid af … en veertien … tot by Christus (Matt 1:17).

      Die geslagsregister word noukeurig gerangskik in drie groepe van veertien elk. Verklaarders lê Matteus se metode uit as ’n “mnemonie” of geheuerym, of ons vindingryke woord “eselsbruggie”, om iets te help onthou. Daar moet onthou word dat die Evangelies eeue voor die boekdrukkuns saamgestel en neergeskryf is. Min mense sou ’n eksemplaar kon besit, terwyl Ou-Testamentiese rolle slegs met moeite en koste bekom kon word (dagstukkie 28 April). Jy sou ’n Evangelie net in jou kop kon besit, deur dit te memoriseer.

      Matteus probeer dit vergemaklik. In tradisionele Hebreeus het die letters van die alfabet ook as syfers gedien. Die konsonante van die naam Dawid sou ’n getal van veertien gee. Matteus se genealogie dien eintlik om onomstootlik te bewys dat Jesus die Seun (nasaat) van Dawid was. Natuurlik sal die meeste van sy gegewens klop met die werklike stamboom, maar noukeuriger ondersoek sal ook gapings, omruilings of foutiewe optekening toon. Ek het ’n genealogiese boek help skryf en weet hoe maklik dit gebeur, in my geval met ’n moderne familiegeskiedenis van slegs 190 jaar, en met behulp van al die elektroniese hulpmiddele.

      Die drie seksies weerspieël drie groot tydperke in die Joodse geskiedenis. Die eerste deel strek tot by Dawid, wat Israel tot ’n wêreldmag gesmee het. Die tweede tot by die ballingskap, die nasie se grootste tragedie. Die derde tot by Jesus Christus, die Vrymaker wat ramp en slawerny omkeer in triomf. Of Matteus dit bedoel het of nie, hy skets ook die fases in die mens se geskiedenis. Hy is gebore vir grootheid, “as beeld van God” (Gen 1:27). Hy verloor sy aansien toe hy sy vrye wil aanwend om teen God te kies. Hy herwin sy grootheid toe God sy dwase keuse ongedaan maak en in triomf verander; sy Seun het ons kom wys hoe om die Vader te ken en te dien.

      GEBED: Grootheid, verlies, herstel … die fases in die menselewe, ook in myne. Soms speel al drie fases hulle binne een dag af, selfs een uur. Dankie, Here, vir u regstellende genade.

      3 Februarie Matteus 2:1-12

      DIE STERREKYKERS UIT DIE OOSTE

      Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste … aangekom … (Matt 2:1).

      Die legendariese magiërs was Persiese priesters wat ook sterrekunde bestudeer het. Die ster wat hulle tot hierdie reis aangespoor het, kon een van drie verskynsels wees: ’n nova (nuwe ster), ’n komeet, of ’n konjunksie. Eersgenoemde twee is nie opgeteken in daardie omgewing rondom die tyd van Jesus se geboorte nie, maar …

      In die nag van 17 Desember 1603 in Praag neem die keiserlike astronoom Johannes Kepler deur sy beskeie teleskoop waar hoe Jupiter en Saturnus mekaar in die Vis-sterrebeeld nader. Opgewonde onthou hy ’n berig van ene rabbi Aberbanel, wat lank voorheen iets dergeliks beskryf het. Kepler se versmaaide bevinding kry in 1925 nuwe aandag toe die Duitse geleerde P Schnabel ’n inskrif van die Babiloniese astrologieskool in Babilonië ontsyfer. Hy vind ’n verwysing na die stand van Jupiter en Saturnus in die Vis-beeld in 7 v.Cc, met drie verskynings in een jaar.

      Maar hoekom sou die sterrekykers op reis gaan as die verskyning ook in Babilonië sigbaar was? Saam met hulle in die astrologieskool sou daar ook Joodse ballinge studeer. Iemand soos Daniël, koninklike hoofraadgewer, sou weet van profesieë soos dié van Miga oor ’n heerser wat in Betlehem gebore sal word (Miga 5:1). Hy sou getref wees deur ’n konjunksie van Saturnus met Jupiter, die koningster. Om dit in die vaderland te sien sou genoeg rede vir die reis wees. Die wyse manne kon dus Jode of Babiloniërs wees, of albei. Hulle sou ná die ergste hitte vertrek, sodat hulle kameelkaravaan einde November (ons kalender) in Jerusalem aankom, met die vraag wat verwarring stig: “Waar is Hy wat as koning gebore is? Ons het sy ster sien opkom.” Matteus sê nie dat dit drié manne was, of dat hulle die Kind in die stal gevind het nie. Ná soveel maande sou daar plek in die herberg gewees het.

Скачать книгу