Trompie Omnibus 3. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 3 - Topsy Smith страница 12

Trompie Omnibus 3 - Topsy Smith Trompie Omnibus

Скачать книгу

      Wanneer Trompie klaar is, sê Dawie: “Dink jy rêrig daai kastig wonderlike Zarko gaan vir jou al sy geheime vertel en jou so sterk maak – verniet?”

      “Ek wag heeltyd vir daardie vraag,” antwoord Trompie laggend, “maar ek sê jou – dis alles verniet …”

      “Nou hoekom sal hy dit verniet doen?” wil Dawie weet.

      Trompie dink hieroor na en dan sê hy: “Want hy’s ’n ou wat daarvan hou om ander ouens te help. Hy wil hê almal moet gesond en sterk wees en …”

      “Jy praat nonsens!” val Dawie Trompie in die rede. “Ek sê jou nou, dit gaan jou kós! Jy gaan deur jou nek daarvoor betaal!”

      “So? Dis wat jy dink, nè!” snou Trompie hom toe, en dan speel hy sy troefkaart: “As jy so slim is, sê dan vir my – wat beteken die woord ‘gratis’?”

      “Dit beteken verniet,” antwoord Dawie dadelik.

      “Die woordeboek sê ‘kosteloos’,” kap Trompie vinnig terug, want hy het dit opgesoek. “En ‘kosteloos’ beteken ‘sonder koste’. Jy betaal nie ’n sent nie. En die woord ‘gratis’ staan oral op die advertensie. Alles is gratis. So wat sê jy nou, slim meneertjie?”

      Dawie hou nog steeds vol dat Trompie sal moet betaal. Blikkies maak ’n einde aan die argument toe hy met ’n grinnik sê: “Hoekom wag julle nie tot daai Zarko antwoord nie? Dan sal julle mos weet of hy geld wil hê, of nie.”

      Dié oggend konsentreer Trompie minder as gewoonlik in die klas. Hy sit en droom. Hy dink aan Zarko. Hy wens hy het lankal die advertensie gesien, want dan het hy mos nou al Zarko se geheime geken.

      Toe die onderwyser vir ’n oomblik by die klas uitgaan, lig Trompie sy regterhand op, buig sy elmboog en bal sy vuis. Hy voel aan sy boarmspier. Daar is nie veel om te voel nie. Net ’n knoppie.

      “Voel, Rooie!” sê hy trots vir sy maat langs hom. Rooie voel. Hy is nie juis beïndruk nie.

      “Wag maar,” sê Trompie, “oor twee weke gaan ek jou weer laat voel. Dan sal jy ’n ander ding sien!”

      Trompie doen die oggend nie veel in die klas nie, maar hy kry dit nogtans reg om uit die moeilikheid te bly.

      Met pouse sit die Boksombende langs die skool en toebroodjies eet.

      Trompie het hulle vertel dat hulle nie meer Katrien se geld hoef terug te gee nie – en ook van sy groot opoffering: dat hy haar na die Sondagskoolpiekniek toe gaan neem. Hulle het belowe om hom daar by te staan. Die seuns hou nogal van Katrien. Sy is nie so aansitterig en snobisties soos Lucille nie.

      Dawie sê skielik: “Jissie ouens, ek is nou deksels lus vir lekkers.”

      “Ek ook,” mompel Trompie, “maar waar kry ons dit nou vandaan? Nommer een: ons het nie geld nie. En nommer twee: ons mag nie kafee toe gaan nie.”

      Die skoolreëls verbied leerders om in skooltyd by die kafee op die hoek te gaan lekkers koop. Maar as die nood regtig druk, mag hulle wel by wyse van uitsondering ’n oefeningboek daar gaan koop.

      “Ek het paar rand wat ek vanmiddag op kougom wou uitgee,” sê Blikkies, “maar ek sal suigstokkies daarvan koop as ons toestemming kan kry om kafee toe te gaan.”

      Suigstokkies. Dis presies waarvoor die seuns nou lus is!

      “Bedoel jy dit rêrig?” vra Trompie vir sy vriend.

      “Ja,” sê Blikkies aarselend.

      Hy het die ruimhartige aanbod gemaak omdat hy geweet het daar kan niks van kom nie. Nou voel hy egter onrustig. Hy hou nie van die manier waarop Trompie so ernstig sit en dink nie.

      “Gee die geld hier,” sê Trompie skielik. Blikkies oorhandig dit met ’n sug.

      “Hoe gaan jy toestemming kry?” vra Dawie vir Trompie.

      “Ek gaan Ou Bles reguit vra.”

      “Onthou, jy gee my geld terug as hy nee sê,” waarsku Blikkies.

      Die onderwyser – die kinders noem hom Ou Bles omdat sy hare begin yl raak – staan naby die skoolhek. Hy is op pousediens.

      Trompie stap manhaftig na hom toe. Hy hou die geld styf in sy hand vas. Dawie, Rooie en Blikkies loop ’n paar tree agter hom.

      “Meneer,” vra Trompie toe hy by die onderwyser kom, “mag ek en my vriende asseblief gou kafee toe gaan?”

      “Goed,” sê die onderwyser vriendelik, “maar jy weet natuurlik ek kan net vir jou toestemming gee as jy ’n oefeningboek gaan koop.”

      Trompie sluk en dan stamel hy: “Ja, Meneer, ek … ek … weet.”

      Die Boksombende stap vinnig weg. Trompie meen hy het nie summier ’n leuen vertel nie. Ou Bles het hom mos nie reguit gevra wat hy gaan koop nie.

      Wanneer hulle by die hek uitstap, hoor hulle die onderwyser se stem: “Trompie!”

      “Ja, meneer?” Trompie kyk om na Ou Bles. Daar is ’n glimlag om die onderwyser se mondhoeke toe hy sê: “Kom wys my die oefeningboek wat jy gekoop het wanneer julle terugkom!”

      Trompie se hart sak in sy skoene.

      “Ja, Meneer,” sê hy sag. Wat anders kan hy sê?

      Die vier seuns stap mismoedig kafee toe. Blikkies is omgekrap. Hy wil sy geld terughê. Hy het dit vir lekkers aangebied – nie vir ’n oefeningboek nie! Wie wil nou ’n oefeningboek hê?

      Trompie verduidelik dat hulle nou moet deurdruk. As hy sonder ’n oefeningboek by Ou Bles aankom, gaan hy detensie kry. Dis nou maar wors.

      In die kafee kyk die seuns met verlangende oë na die suigstokkies. Trompie sug en dan koop hy ’n oefeningboek.

      “Onthou net,” sê Blikkies kwaai, “jy skuld my nou daai geld.”

      “Nie as ek dié boek vir jou gee nie.” Trompie druk die oefeningboek onder Blikkies se neus in. “Dis joune. Ek gaan dit net vir Ou Bles wys, dan gee ek dit vir jou …”

      “Maar ek wil nie die simpel boek hê nie. Ek wil my geld hê. Ek wil vanmiddag kougom koop.”

      Met ’n sug sê Trompie: “Blikkies?”

      “Ja?” Sy maat kyk hom agterdogtig aan.

      “Sê net vir my een ding: kan ’n mens bloed uit ’n klip tap?”

      Ná ’n paar sekondes sê Blikkies: “Nee, seker nie.”

      “Nou ja, moet dan nie so onredelik wees nie. Jy weet mos ek het niks geld nie. En buitendien, dis ’n mooi boek hierdie. ’n Nuttige boek. Dink net hoe lekker gaan jy hierin skryf …”

      Blikkies besluit om nie verder te stry nie. Dis waar, ’n mens kan nie bloed uit ’n klip tap nie. Hy sal maar tevrede moet wees met die oefeningboek –

Скачать книгу