Trompie Omnibus 3. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 3 - Topsy Smith страница 13

Trompie Omnibus 3 - Topsy Smith Trompie Omnibus

Скачать книгу

skoolterrein inkom, stap Trompie dadelik na die onderwyser toe. Sy maats drentel ’n paar tree agter hom aan.

      “Hier’s die boek, Meneer,” sê Trompie en wys dit.

      “Dis goed,” sê die onderwyser met ’n glimlag, “nou kan jy lekker daarin skryf.” Daar is ’n ondeunde vonkeling in die man se oë. Trompie vermoed Ou Bles het geweet hulle wou gaan lekkers koop.

      Ná skool ry Trompie die middag vinnig huis toe. Hy het Zarko se vorm vanoggend eers gepos, maar mens weet nooit – miskien is daar al ’n antwoord. Die poskantoor maak soms vinnig met sulke goed! En hulle sal mos weet dis ’n haastige besigheid, want Trompie het Dringend! Opskud! in vet letters op die koevert geskryf.

      “Is daar pos vir my, Ma?” vra Trompie toe hy by die huis ingewaai kom.

      Mevrou Toerien kyk hom verbaas aan.

      “Pos vir jou? Wie sal vir jou skryf? Jy kry mos nooit briewe nie.”

      “Dis ’n besigheidsbrief, Ma. Groot besigheid.” Trompie probeer geheimsinnig lyk. “Dit sal seker môre hier wees.”

      Drie dae later is dit uiteindelik daar! Toe Trompie weer van die skool af kom en skree: “Het my brief gekom, Ma?” antwoord sy laggend: “Ja, maar kom eet eers.”

      “Ek is nie honger nie, Ma. Ek sal later eet.”

      Trompie gryp die brief en hardloop dadelik kamer toe. Hy gaan sit op die bed. Hy bewe van opgewondenheid. Versigtig skeur hy die koevert oop. Hy wil nie die brief – die baie belangrike dokument waarin die wonderlike Zarko vir hom sê wat hy moet doen om ’n kragman te word – beskadig nie.

      Daar is ’n lang, getikte brief en ’n pamflet in die koevert. Trompie begin die brief lees:

      Beste meneer Trompie Toerien

      Hartlik geluk met u wyse besluit! U is op die regte pad. U besef die waarde van ’n gesonde liggaam en gees …

      Trompie voel ’n gloed van tevredenheid. Hy lees die brief sorgvuldig deur.

      Zarko wens hom geluk dat hy so slim is om te besef daar is net een man wat hom sterk en gesond kan maak en dit is Zarko die Grote. Trompie voel gevlei, maar hy verstaan net nie hoekom Zarko hom gesond ook wil maak nie. Hy is mos nie siek nie!

      Die kragman sê dit is sy vurigste begeerte dat Trompie een van sy studente moet word. Hy wil graag hê Trompie moet ook een van die duisende gelukkige Zarko-volgelinge wees.

      Trompie se hart swel van trots wanneer hy lees dat Zarko glo hy gaan een van sy fluksste en beste studente wees. Zarko sê hy het dit sommer dadelik aangevoel toe hy Trompie se vorm kry. Hy gaan nog baie trots op Trompie wees!

      Zarko verseker Trompie dat hy nie net sy leermeester wil wees nie, maar ook sy raadgewer en vriend. Hy – Zarko die Grote – beskou dit as ’n besondere eer om Trompie Toerien as vriend te hê!

      Trompie is in die wolke oor hierdie wonderlike brief. Sy maats gaan baie jaloers op hom wees!

      Hy lees verder. Zarko vertel hom nou van die duisende manne wat kragreuse geword het, wat van ongeneeslike siektes genees is, wat vandag vol lewenslus en vreugde is en die wêreld as ’n speelbal beskou nadat hulle eers so swaar onder sy laste en sorge gebuk gegaan het.

      Dit is alles vir Trompie baie mooi en interessant, maar wanneer hy die laaste deel van die brief lees, sak sy hart in sy skoene.

      In die laaste paragraaf deel Zarko sy vriend, Trompie Toerien, mee dat as hy een van sy gelukkige studente wil word, en as hy sterk en gesond en ’n kragman wil wees, hy net ’n klein bedraggie moet betaal. Dis nie baie in ruil vir al Zarko se geheime oor hoe om ’n spierdier te word nie. Sodra Trompie daardie bedrag betaal het, sal hy deel in al die voorregte wat Zarko se leerlinge geniet.

      In sy naskrif verseker Zarko Trompie weer eens dat hy wat Zarko is, sy ewige en getroue vriend en raadgewer sal wees, maar natuurlik eers nádat hy die skamele ou bedraggie ontvang het. Om te bewys dat hy dink Trompie gaan een van sy puikste studente word en dat hy nog baie trots op hierdie Trompie Toerien van Kwaggaberg gaan wees, bied die kragman hom selfs ’n baie spesiale afslag op hierdie fooi aan. Wat dink Trompie van hierdie goedgunstige aanbod?

      Zarko sluit af met die hoop dat hy binne enkele dae van Trompie sal hoor. Hy waarsku Trompie ook dat daar duisende mans is wat regstaan om studente van die beroemde Zarko te word. Trompie moenie tyd verkwis nie. Hy moet dadelik terugskryf en sy “tjekkie” pos.

      Trompie staar mismoedig voor hom uit. Dit gaan nog jare wees voor hy ’n tjekboek sal hê en so ’n ontsaglike klomp geld sal kan betaal om ’n kragreus te word. Dit lyk vir hom Zarko dink hy is ’n groot man en nie ’n graadnegetjie nie.

      Die Boksombende se Grootkaptein besluit hy sal maar sonder die beroemde Zarko se raad en vriendskap moet klaarkom. Sy vyande sal voorlopig nie bleek word as hulle hom in die straat sien afloop nie en die mense – veral die meisies – sal hom nie met bewondering aanstaar nie. Hy sal maar net eenvoudig van al hierdie dinge moet vergeet. Hy kan dit nie bekostig nie. Soos sy ma sê: “’n Mens kan nie bloed uit ’n klip tap nie.”

      Trompie kyk na die pamflet wat ook in die koevert was. Daar is ’n foto van ’n ding wat ’n mens glo geweldig breë skouers en gespierde arms sal gee as jy dit gebruik. Dit lyk soos ’n stywe rekband met ’n handvatsel aan elke kant.

      Hy lees die instruksies sorgvuldig. Soos hy dit verstaan, kan ’n mens enige soort oefeninge met hierdie ding doen. Jy hou ’n handvatsel in elke hand vas en kyk dan hoe ver jy jou hande van mekaar af kan wegtrek. Jy kan hierdie oefening voor jou borskas doen, agter jou kop en voor jou voete. Jy kan allerhande verskillende goed met die rekband aanvang en dan kry jy op die ou end breë skouers en gespierde arms.

      In die pamflet sê Zarko hy het sy wonderlike gesonde liggaam en spierkrag net aan hierdie rekband te danke. Hy noem dit ’n Bonzo en beveel die rekband vir almal aan. As dit nie vir hierdie Bonzo was nie, sou hy, Zarko die Grote, vandag nog steeds tengerig en sieklik gewees het. Zarko erken ruiterlik dat sy kursus nie veel sal help as ’n mens nie ook jou eie Bonzo aanskaf nie.

      Trompie kyk weer na die foto van die rekband. Die Bonzo kos ’n hele paar rand, maar is baie goedkoper as Zarko se kursus. Trompie meen hierdie ding gaan genoeg wees om hom sterk en gespierd te maak. Dan het hy mos nie Zarko se duur raad en vriendskap nodig nie.

      Hy voel skielik weer optimisties. Hy het weer hoop dat sy vyande tóg sal bleek word as hulle hom sien en dat die mense – veral die meisies – hom een van die dae met bewondering gaan aankyk.

      Dit behoort nie té onmoontlik te wees om geld vir die Bonzo in die hande te kry nie. Hy sal wel ’n plan kan maak.

      Dié aand maak Trompie al sy eerste paar rand. Dit is die maklikste geld wat hy nog ooit verdien het. Hy kry dit deur net eenvoudig te sit.

      Die ding kom só. Trompie sit in sy kamer en huiswerk doen. Sy ouers kuier by die bure. Sy suster, Anna, en haar kêrel, Jan van Dyk, is in die sitkamer.

      “Hulle sit seker en handjies vashou,” brom Trompie by homself, “plaas dat Anna liewer vir my wat so hard werk, gaan tee maak.”

      Dan begin dink hy weer aan moontlike planne om geld te maak. Skielik kry hy ’n idee. Hy knipoog vir homself in die spieël. Hy is sowaar ’n beeld van ’n

Скачать книгу