Recce. Koos Stadler

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Recce - Koos Stadler страница 7

Recce - Koos Stadler

Скачать книгу

(soos die eenhede teen daardie tyd herdoop is) was reeds daar. Hulle het van Fort Doppies, die Spesiale Magte se oplei­dingsbasis langs die Kwandorivier, gekom. Dit was tawwe manne wat die Kleintaktiek-kursus vir ons sou aanbied.

      Die opleiding was ’n buitengewone ervaring. Ek het vantevore baie gewonder oor die betekenis van die woord taktiek en wat ’n mens nou eintlik oor taktiek kon leer. Die kursusleier en sy twee instrukteurs het gou die skille van ons oë laat val. Vier weke lank is ons in die fyner kunsies van patrollering, spoorsny en teenspoorsny, die nadering en binnedring van teikens, kontakdril, hin­derlae, ontwykingstegnieke en verkenning ingelyf.

      ’n Week voor die kursus amptelik sou klaarmaak, het ons dit self beëindig. Een oggend omstreeks 02:00 is ek wreed uit my slaap geruk deur AK47-skote en ’n vreesaanjaende gevloek en geskree. Ek het verskrik uit my skuiling (wat ons vroeër uit takke en gras gebou het) probeer kruip, maar een van die instrukteurs het my gekeer. Die volgende oomblik is ’n rookgranaat in die skuiling gegooi, wat my gedwing het om die hasepad te kies. In die proses het ek die een kant van die skuiling en stukke van die instrukteur se hemp saamgevat. Teen hierdie tyd was die hele basis in rep en roer.

      Die instrukteurs was skynbaar ontevrede met ons vordering en het besluit om ons ’n bietjie “regte aksie” te wys. Dit is natuurlik aangehelp deur ’n gesonde hoeveelheid Red Heart-rum – jare lank die Recces se standaard-drankie. Vroeër die aand het ons sit en kyk hoe die drie hardebaarde twee bottels Red Heart tussen hulle regsien.

      Die skerp reuk van die rookgranate het die naglug gevul. Nog skote het sporadies geklap. Meteens het ’n RPG-vuurpyllanseerder in die basis afgegaan en die projektiel het in ’n boom buite die kamp ontplof. Ek het net daar besluit dat dit nou ’n goeie tyd is om die ontwykingstegnieke te toets wat ons pas aangeleer het, en blindelings die bosse ingehardloop. Wes van die kamp het ek op ’n paar van die ander afgekom wat dieselfde tegniek – maak gat skoon – toegepas en in ’n oop kol hergroepeer het. Almal behalwe twee studente was daar. ’n Groot lawaai het steeds uit die rigting van die kamp gekom en ons het besluit om die res van die nag in die bos te bly. Teen sonsopkoms was die beslissing eenparig: Ons gaan terugstap Omega toe en die saak rapporteer. Almal het teen daardie tyd ’n oordosis van “regte aksie” gehad.

      Die eenheid se bevelvoerder was nie baie gelukkig met wat gebeur het nie. Die instrukteurs is ingeroep basis toe en gevra om na Fort Doppies terug te keer. Voordat hulle stert tussen die bene daar weg is, het die kursusleier, ’n uiters ervare jong offisier van 1 Verkenningsregiment (toe reeds bekend as 1 Recce), na my gekom en gesê: “Stadler, ek het meer van jou verwag. Ek is uiters teleurgesteld.”

      Ek was ongelukkig te jonk en onervare om hom teë te gaan en het net omgedraai en weggestap. Maar in my binneste het ek geweet wie reg was. En ek sou nie toelaat dat ’n klomp dronklappe my daarvan weerhou om by die verkenningsvleuel aan te sluit nie.

      Ons bevelvoerder het die voorval ook aan 1 Recce se bevelvoer­der gerapporteer – en hy was uiteraard nie baie in sy skik met sy manne se gedrag nie. Die voorval het ’n slegte nadraai gehad omdat daar baie jare daarna nog ’n ongemaklikheid tussen die twee eenhede was.

      Die voorval het egter ook ’n positiewe gevolg gehad. Al die studente moes terugkeer Fort Vreeslik toe om ’n tweede Kleintaktiek-­kursus onder die uiters bewame lt. Frannie du Toit – wat my aan­vanklik vir die verkenningsvleuel gewerf het – en sy span instrukteurs te doen. Hierdie keer het ons die kursus saam met die Boesmans gedoen, dieselfde spanne saam met wie ons binnekort tydens operasies sou ontplooi. Vier weke lank het ons dag en nag saam met hulle geëet, geslaap en opleiding gekry – en alles ingeneem wat hulle ons oor bosoorlogvoering kon leer.

      Baie van die Boesmans was al deel van die Fletchas (“Pyle”) terwyl die meeste van ons nog op skool was. Die Fletchas was spe­siale eenhede van die Portugese magte wat tydens die koloniale oorlog in Angola gestig is. Hulle het uit lede van die plaaslike stamme en rebelle-oorlopers bestaan en het as peloton-grootte sub­eenhede in spoorsny, verkenning en pseudo-guerrilla-operasies gespesialiseer. Nadat Angola onafhanklik geword en die Portugese uit die land padgegee het, het baie van die Fletchas by die SAW aangesluit.

      Ons kon geweldig baie by die Boesmans leer. Veral hul ongeloof­like veldkennis was nuttig, soos ons tydens ons opleiding en latere operasies sou agterkom. Ek het elke geleentheid aangegryp om by hulle te leer. Daarmee saam was die kennis en ervaring van ons instrukteurs ’n groot bron van inspirasie. Frannie en sy span was volwasse en professioneel en hulle het ons met groot geduld deur die opleiding gelei.

      Die opleiding wat ons daardie paar weke in die afgeleë bosse van die Wes-Caprivi ontvang het, is van die beste wat ek ooit in ons weermag ervaar het. Ek het elke greintjie kennis ingedrink, soveel praktiese ervaring as moontlik opgedoen en probeer om een te word met die bos.

      Frannie, ’n briljante soldaat en militaris sonder weerga, het geglo die bos bied jou alles om ’n taktiese voordeel bo jou teenstander te kry – mits jou oë oop was om die geleenthede raak te sien. Hy het my aangemoedig om die klassieke werke oor ongereëlde oorlogvoering te lees en die beginsels my eie te maak. F. Spencer Chapman se The Jungle is Neutral was een van die boeke wat ons benadering gevorm en in ’n sekere sin die verkennings­vleuel se doktrine bepaal het, ten minste in die drie jaar wat ek deel van die verkenningspanne was.

      2

      Vuurdoop in die bos

      IN SEPTEMBER 1978 het die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheids­raad Resolusie 435 goedgekeur. Ingevolge die resolusie moes vyan­delikhede tussen die strydende faksies aan die grens met Angola en Zambië oor ’n tydperk van drie maande gestaak word. Die Suid-­Afrikaanse magte moes tot 1 500 soldate verminder word en ’n ver­kiesing sou onder toesig van die United Nations Transition Assistance Group (UNTAG) in Suidwes uitgeroep word. ’n Ge­demilita­riseerde strook sou ingestel word, maar dit het nooit gebeur nie omdat Swapo volgehou het om die binneland van Suidwes te infiltreer.

      Sektor-verantwoordelikheidsgebiede tydens die Grensoorlog

Kaart_2_fmt.jpg

      As ’n jong kandidaatoffisier pas uit die Infanterieskool was die groter politieke prentjie vir my duister. My fokus was uitsluitlik daarop gerig om te wys dat ek bevoeg genoeg was om ’n verkenningspan bos toe te vat.

      ’n Swapo-aanval op 23 Augustus 1978 op Katima Mulilo en sy militêre basis het ’n nuwe fase in die konflik tussen Suid-Afrika en Zambië ingelui. Sektor 70 se hoofkwartier, wat in beheer van operasies in die Oos-Caprivi en suidwestelike Zambië was, was op Katima Mulilo.

      Tien Suid-Afrikaanse soldate is dood toe ’n 122 mm-vuurpyl ’n kaserne getref het tydens ’n Swapo-bestoking vanuit Zambië. Die Suid-Afrikaanse magte het onmiddellik gereageer en drie veggroepe op oorgrensoperasies gestuur om hulle te straf. Hulle het geen noemenswaardige militêre suksesse behaal nie omdat Swapo reeds weg was toe die Suid-Afrikaners by die teikens aankom. Die boodskap aan pres. Kenneth Kaunda van Zambië en aan Swapo was egter duidelik – moenie met ons mors nie.

      In 1979 is ’n reeks goed beplande oorgrensoperasies na Zambië van stapel gestuur. Die verkenningsvleuel van 31 Bataljon het ’n prominente rol gespeel om die ligging van basisse te bepaal en aanvalsmagte na hul teikens te lei.

      Die Nasionale Party-regering het Zambië destyds as een van die frontliniestate5 beskou wat ’n alliansie teen die apartheidregering gevorm het en deel was van die kommunistiese “totale aanslag” teen Suid-Afrika. Zambië het taamlik goeie handelsbetrekkinge met Suid-Afrika gehandhaaf, maar was ook onder druk van die destydse Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) om die bevrydings­bewegings in Suidwes en Suid-Afrika, onderskeidelik Swapo en die African National Congress (ANC), te steun.

      Suid-Afrika

Скачать книгу