Recce. Koos Stadler

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Recce - Koos Stadler страница 9

Recce - Koos Stadler

Скачать книгу

nuwe ervaring – net ons vier in die maag van die reuse-­helikopter die onbekende in. Die adrenalien het gepomp want ek het nie geweet wat om te verwag nie. Ná omtrent 20 minute het ons die landingsplek, beter bekend as landing zone of LZ, in ’n omuramba 30 km suidwes van die teiken bereik. Toe ons net ná laaste lig (’n weermagterm wat op die tyd tussen sononder en donker dui) uit die helikopter hardloop, het ek so half verwag dat die vyand vir ons sou lê en wag, gereed om ons af te maai. Maar niks het gebeur nie.

      Die bos was doodstil. ’n Drukkende hitte het ons omvou terwyl ons ’n skuilingposisie ingeneem en geluister het hoe die klank van die heli­kopter in die verte wegsterf. Die stilte daarna het my laat voel of ek stoksielalleen in ’n geluidlose, vyandige wêreld was. Daar was nie tyd om oor die vreemde gevoel te lê en tob nie. Die skielike eensaamheid was in elk geval ’n ervaring wat ek nog ’n duisend keer daarna sou beleef, dikwels in selfs nog meer uit­dagende omstandighede. Ná ’n paar minute het ons hergroepeer en ’n entjie van die LZ af gaan skuil. Ons het tot skemer gewag om te kyk of daar enige vyandelike reaksie was en daarna in die rigting van die teiken begin beweeg.

      Die operasie sou twee weke duur, want ons moes ’n groot gebied dek. Frannie se plan was om dadelik die strook net wes van die pad wat al langs die Zambezi gekronkel het, te fynkam. Sy plan was gegrond op die veronderstelling dat enige groot groep van logistieke aanvulling afhanklik sou wees en dat alle voorraad langs hierdie pad vervoer sou moes word. Die plaaslike bevolking het oral langs die rivier gewoon, wat ons taak bemoeilik het om die pad dop te hou. Die plan was dus om tekens van vyandelike logistieke aanvulling wes van die pad op te spoor en dit dan te volg totdat ons die basis kry.

      Ons het wyd om die gebied gesirkel en ’n omuramba gevolg wat na die rivier lei om by die pad uit te kom. Toe het ons stelselmatig van noord na suid langs die pad af begin soek na tekens van Swapo-teenwoordigheid. Sewe dae later, nadat ons sowat 30 km gevorder het, was daar steeds geen teken van Swapo nie. Óf ons inligting was verkeerd óf die basis was verder suid. Frannie het ons taak as afgehandel beskou en gemeen ons moet ons soektog op ’n ander plek voortsit. Hy het die taktiese hoofkwartier (HK) gevra om ons te onttrek, maar dis summier geweier, omdat die ontplooiing opsluit twee weke moes duur.

      ’n Argument het ontstaan nadat die HK wou weet of ons inderdaad die bosgebied verder wes van die Zambezi verken het. Hoe meer Frannie probeer verduidelik het dat dit nie nodig was nie, aangesien ons reeds al die moontlike toegangsroetes gedek het, hoe meer het die HK daarop aangedring dat ons die volle twee weke na die basis soek.

      Dit het vir my redelik onsinnig geklink om nog vir sewe dae te soek na ’n teiken wat jy geweet het nie daar is nie. Dit sou meer sin maak om terug te gaan, ’n herwaardering van die vyand se posisie te doen en weer te ontplooi. Min het ek geweet dat dit maar die eerste van etlike soortgelyke voorvalle in my loopbaan sou wees waar die base in die HK kwansuis beter weet as die arme drommel in die veld wat sy lewe waag om die vyand uit te snuffel.

      In die twee dae wat ons in die lowergroen bosse gesit en wag het op ’n besluit om te onttrek al dan nie, het ek ’n interessante ervaring met die Boesmans gehad. Tango Naca het begin om ’n voëltjie dop te hou wat sy opwagting by ons skuilplek gemaak het. Die voëltjie het lawaai en al om ons skuilplek gefladder. Dan vlieg hy weer skielik in ’n rigting, net om ná ’n paar minute terug te keer en van voor af te kere te gaan. Eers het ek gedink Tango is geïrriteerd met die klein pes, want sy geraas kon maklik ons posisie verraai.

      Maar toe stap hy na Frannie en fluister iets in sy oor, waarna ons spanleier sy kop knik. Tango wys dat ek by hom en Dumba moet aansluit terwyl hulle die opgewonde voëljie agtervolg. Ná sowat ’n kilometer het die voëltjie wild gekwetter en in sirkels om ons gevlieg. Toe vlieg hy na ’n omgevalle boomstomp waarby ons kort tevore verbygeloop het. Tango se gesig het dadelik opgehelder. Met ’n breë glimlag op sy verrimpelde gesig het hy die woord “heuning” gevorm.

      Die Boesmans het binne minute vuur gemaak en groen blare om ’n brandende stomp gedraai om ’n doeltreffende rookmaker te skep. Terwyl ek waggestaan het, het die een Boesman met sy jag­mes aan die boomstomp begin kerf om die byenes oop te maak, terwyl die ander met die rokende stomp om die nes gestap het.

      Uiteindelik het hulle van die goue heuningkoeke uit die boomstomp gehaal en dit op ’n stuk vars boombas, wat netjies vir die doel gesny is, uitgepak. Daarna het hulle van die koeke met papies van jong bytjies as beloning vir die heuningvoëltjie uitgepak. Ons is terug na ons skuilplek met die heuning waar ons saam met Frannie aan die heerlike soetigheid gesmul het. Die stroop het ons in ’n waterbottel opgevang en dit die volgende dag saam met die oorblywende heuningkoeke teruggevat basis toe nadat die HK uit­eindelik ingewillig het om ons te onttrek.

      My eerste ware kontak met ’n vyandelike mag het plaasgevind tydens ’n ontplooiing net noord van die Matabelevlakte in die suidweste van Zambië. Swapo het ’n reeks opleidingsbasisse in die omgewing van Ngwezi Pools gevestig in ’n gebied wat hulle as veilig beskou het. Ons ontplooiing was deel van ’n groter offen­sief wat Sektor 70 uit Katima Mulilo geloods het.

      Dié offensief, Operasie Saffraan, is op 7 Maart 1979 begin om saam te val met Operasie Rekstok, wat terselfdertyd vanaf Sektor 10 (Oshakati) in Angola geloods is. Operasie Saffraan was weerwraak vir Swapo se aanval op Katima Mulilo die vorige jaar, sowel as vir die talle infiltrasies in die Oos-Caprivi in die voorafgaande maande. As een van die vernaamste rolspelers in die offensief moes 31 Bataljon sy kompanies in ’n wye vee-operasie teen Swapo-­basisse tussen die Cuando- en Zambezirivier ontplooi. Die ver­kenningsvleuel sou as afsnygroep noord van die Matabelevlakte ontplooi.

      Met drie spanne van ses elk was ons vegpatrollie 18 man sterk, tot die tande gewapen. Inligting het daarop gedui dat ’n elite-Swapo-­eenheid met die naam Typhoon in die gebied opgelei word. Typhoon het daarin gespesialiseer om diep in Suidwes se plaasgebiede in te dring om boere aan te val en die gemeenskappe te teister.

      Ons opdrag was om elemente van hierdie groep op te spoor en uit te wis. Ons is per helikopter ontplooi en het ’n week lank die bosgebied gepatrolleer waar die Typhoon-afdeling volgens alle aan­duidings hul basis ingerig het. Op die derde dag het ons tekens van Swapo-teenwoordigheid begin kry. Oral was vyandelike spore wat dikwels na krale in die gebied gelei het. Ons het die plaaslike bevolking egter vermy en kon dus nie die vyand eien nie.

      Aan die einde van die eerste week het ons besluit om ons voorraadaanvulling as rookskerm te gebruik om die vyand onder die indruk te bring dat ons uit die gebied onttrek het. Die hele span het uit die bos gekom en helder oordag voor al die inwoners van ’n kraalkompleks, wat verdag voorgekom het, in ’n suidelike rigting begin onttrek. Om alle twyfel uit die weg te ruim dat ons besig was om pad te gee, het ons etlike kilometers ver ’n duidelike spoor gelaat. Laat daardie middag het ons sowat 10 km suid van die kraalkompleks ’n resup (’n heraanvulling van kos, water en batterye) per helikopter ontvang. Nadat die helikopters weg is, het ons vinnig die voorraad onder almal versprei, dit in ons rugsakke gepak en alle tekens van ons teenwoordigheid sorgvul­dig uitgevee. Frannie het twee Boesmans aangesê om ons spore uit te wis.

      Hy het daarna ’n RV naby aan die kraalkompleks gekies waar ons weer bymekaar sou kom om die gebied dop te hou. Ons het in die drie sesman-spanne verdeel en deur die nag na die RV-punt beweeg. Elke span het baie versigtig te werk gegaan om geen spore te laat nie en stil en ongemerk by die RV uit te kom.

      Nadat al die spanne by die RV aangekom het, het ons laaggelê. Die volgende dag het ons tweeman-spanne begin uitstuur om tekens van die vyand te soek. Ons is beloon toe een verkenningspan terug­gekeer het met die nuus dat daar vars spore is wat na die kraal toe lei. Die hele groep het versigtig in die boomlyn om die kraal na die teenoorgestelde kant beweeg van waar die spore by die kraal in is. Frannie het twee Boesmans, wat in Swapo-drag geklee was, opdrag gegee om in die oopte in te beweeg en hulself sigbaar te maak. Die twee het doodluiters, met wapens oor die skouers in tipiese Swapo-­styl, voor die kraalinwoners oor ’n oop stuk grond gestap. Toe het hulle weer in die bosse verdwyn en by ons aangesluit.

Скачать книгу