Recce. Koos Stadler
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Recce - Koos Stadler страница 10
Teen hierdie tyd het die meeste van ons uit dekking beweeg en met vuur-en-beweging vorentoe geveg. Halfpad deur die vuurgeveg het ek Frannie skielik hoor skreeu: “Moenie skiet nie, moenie skiet nie. Dis ’n bicycle daai!”
Ná die kontak het ons lekker gelag toe ons hoor waaroor dit eintlik gegaan het. Die bevelvoerder van Sektor 70 op Katima Mulilo het ’n fiets as beloning aangebied vir enige Boesmansoldaat wat ’n Swapo lewend terugbring. Vir inligtingsdoeleindes was ’n lewende een inderdaad veel meer werd as ’n dooie. Ons het wel nie vir ’n fiets gekwalifiseer nie omdat ons nie ’n Swapo kon vang nie, maar was nogtans verlig oor die uitkoms van die geveg, want ons het niemand verloor nie.
Ons het ’n tydelike basis ingerig met behoorlike rondomverdediging, ingeval die vyand sou besluit om ’n teenaanval te loods. Frannie het die kontak aan die HK gerapporteer terwyl ons bewysstukke bymekaargemaak het. Vyf Swapo’s is dood en die bloedspore het daarop gedui dat minstens nog drie ernstig gewond was. Ons was diep in die vyandelike gebied sonder noue lugsteun en Frannie het besluit om nie ’n opvolgaksie te begin nie.
Die HK het ook opdrag gegee dat al die lyke teruggebring word omdat die Typhoon-vonds deur die inligtingsafdeling as uiters belangrik beskou is. Hulle wou selfs die dooies se gesigte en vingerafdrukke ontleed. Ons het al die lyke en hul wapens, persoonlike uitrusting en dokumente bymekaargemaak en na die LZ gebring wat ons voorberei het.
Twee helikopters het die spanne en die lyke na die operasionele hoofkwartier in die omgewing van die Ngwezi Pools geneem. Nadat ons afgelaai is, is die lyke na Katima Mulilo afgevoer. Ons spanne het nog twee verkenningstake uitgevoer om Swapo-ontplooiings in die gebied op te spoor, maar teen daardie tyd het die vyand reeds al sy basisse ontruim en verder noord teruggetrek. Operasie Saffraan was klaar en die hele eenheid is terug Omega toe.
Ná die kontak het ek my nie veel aan die lyke by die LZ gesteur nie. Die ekstase van die oomblik en die fisieke inspanning om die lyke en uitrusting in die hitte bymekaar te maak, het my nie veel geleentheid gegee om daaroor te tob nie. Later het ek egter baie gewonder oor die mense wat daardie dag deur ons toedoen dood is. Hoe het dit gebeur dat hulle daar beland het? Hulle het ver van hul geliefdes onder die warm Afrika-son gesterf. Sou hul families ooit weet hoe en waar hulle aan hul einde gekom het?
3
Kamerade
DAARDIE JARE op Omega in die Caprivi was vir my as 21-jarige tweede-luitenant een groot avontuur. Ek was spanleier van ses manne – aanvanklik twee wittes en vier Boesmans – wat ek op verkenningstake die bosse ingelei het. Ek het genoeg vryheid gehad om my eie ding te kon doen, maar sonder die verantwoordelikheid van ’n meer senior rang. Dit was sorgvrye dae en ek het geleef vir die oomblik – en vir die operasies wat kort op mekaar gevolg het.
Teen daardie tyd het ek al vir kortdiens aangesluit, wat beteken het dat ’n bykomende tweejaar-kontrak by my twee jaar diensplig gevoeg is. Dit het ook gesorg vir ’n gesonde salarispakket, omdat die operasionele gevaartoelaag (danger pay) my salaris omtrent verdubbel het.
Meer as 4 000 Boesmans het op Omega gewoon. Hiervan was 800 soldate en die res hul familielede. Die soldate is in vier kompanies verdeel: A-kompanie (bestaande uit Barakwenas, ’n inheemse stam uit die Cuando-Cubango-provinsie van Angola), B- en C-kompanie (Vasquelas – Boesmans wat wydverspreid in die suidelike streke van Angola en die noordoostelike dele van Suidwes voorgekom het), en D-kompanie (‘n mengsel van Barakwenas en Vasquelas). Elke kompanie se soldate het saam met hul gesinne in houthutte in die kompanie se toegekende gebied gebly, met elkeen se hoofkwartier voor die wooneenhede.
Omega was as ’t ware ’n groterige dorp en moes so bestuur word. Noodsaaklike dienste moes gelewer word en die basis in stand gehou word. Die skool het meer as 300 leerlinge gehad en die meeste onderwysers was nasionale dienspligtiges wat hul onderwysersopleiding voltooi het. Daar was sowat 250 wit mense op Omega, van wie die meeste enkellopende mans was wat in houthutte of kimbo’s in die middel van die basis gewoon het. Drie of vier het in ’n kimbo gewoon, meestal dienspligtiges wat as leiersgroep by die hoofkwartier, die kompanies of die verkenningsvleuel gewerk het. Die getroude offisiere, adjudant-offisiere en onderoffisiere en hul gesinne is gehuisves in 15 gerieflike houthuise of woonwaens wat spesiaal vir die doel ingerig is.
Die daaglikse roetine in die basis het om die kroeë en menasies van die offisiere, adjudant-offisiere en onderoffisiere gewentel. Dit was ’n klein en intieme gemeenskap en ’n gesonde gees het in die eenheid geheers. Elke Saterdagaand het almal by die kroeg, eintlik maar die sosiale middelpunt van die eenheid, vir ’n braai byeengekom. Sondae het die bevelvoerder die kroeë gesluit sodat almal eers die kerkdiens kon bywoon. Ná die diens is die kroeg weer oopgemaak en het almal, ook die getroudes, saam ’n heerlike laatoggend ontbyt geniet. Ons het gereeld konserte gehou waaraan feitlik almal deelgeneem het en dikwels het besoekende kunstenaars ook die basis se inwoners kom vermaak.
Fort Vreeslik, die verkenningsvleuel se opleidingsbasis, was in ’n digte stuk bos in ’n afgeleë deel suid van Omega. Min mense het dit ooit besoek. Wanneer ons nie op operasies was nie, het ons die meeste weekdae daar deurgebring. Die basis was in die middel van die Caprivi se ongerepte, welige groen bos.
In die middel was ’n groot hut wat ons as vergadersaal en lesingkamer gebruik het. Daar was ’n besondere gevoel van eienaarskap onder die manne omdat ons self die hutte gebou het en almal het gehelp om die basis skoon en versorg te hou. Elke keer wanneer ons Fort Vreeslik besoek het, het ons ’n nuwe struktuur opgerig of onderhoud op die bestaande hutte gedoen. Dit was vir almal ’n baie spesiale plek.
Die Boesmansoldate saam met wie ek in die verkenningsvleuel gewerk het, het die bos ongelooflik goed geken. Hulle het geweet waarvoor elke plant gebruik kon word, het elke dierespoor herken en elke dier se gewoontes verstaan. In die bos was hulle onmisbaar want hulle kon sekere tekens in die veld lees, afleidings uit die geringste versteuring maak en die vyand se optrede voorspel deur byna onsigbare tekens te interpreteer. Die ouer mans was meer ervare in die bos, maar die jongeres het vinnig geleer en was net so bedrewe in die fyner kunsies van dié veldwerk.
Vir my was die Boesmans veel eerder jagters as vegters. Tydens ’n verkenningsoperasie het hul waarde gelê in hul vermoë om die vyand se spoor te volg, hom te bekruip of hom te uitoorlê. Hierdie talente, gekombineer met hul buitengewone kennis van die bos en hul vermoë om te oorleef, het van hulle uitstekende vennote in ’n verkenningspan gemaak.
Die Boesmans het alles van die bos geweet, maar hul taktiese vermoëns was nie goed ontwikkel nie. Tydens hul opleiding het ons dus op taktiese maneuvrering en wapenopleiding gefokus. ’n Kleintaktiek-kursus sou tipies taktiese beweging in verskillende patrollieformasies insluit, asook hinderlaagtegnieke, kontakdrils gegrond op die vuur-en-beweging-beginsel en natuurlik verkenning, observasieposte, luisterposte en bekruiptegnieke.
Eendag, terwyl ek ’n lesing by Fort Vreeslik aangebied het, besluit ek en my makkers om die Boesmans ’n streep te trek. Ons het vooraf ’n luidsprekerstelsel aan die ander kant van die basis opgestel, dit aan die kragopwekker gekoppel en ’n kasset met dieregeluide ingesit. Die lesing was net mooi aan die gang toe my kollegas die kasset speel. Op die agtergrond kon jy jong leeus hoor grom, maar ek maak asof ek van niks weet nie. Ek kon wel sien hoe ’n vraagteken op die gesigte voor my vorm en het gehoor hoe ’n paar fluister: “Leeu, leeu.” Ek het hulle egter gerusgestel: “Julle weet mos daar’s