Recce. Koos Stadler

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Recce - Koos Stadler страница 8

Recce - Koos Stadler

Скачать книгу

nie. Die frekwensie en intensiteit van die SAW se operasies in Zambië het ook toegeneem. Die Zambiese weermag, die Zambian National Defence Force (ZNDF), het soms ook teen wil en dank by gevegte betrokke geraak omdat Swapo hul logistieke toevoerroetes gebruik en hul basisse dikwels naby ZNDF-ontplooiings opgerig het. Die Zambiese regering het gevolglik druk op Swapo uitgeoefen om sy bedrywighede in die suidweste van Zambië te staak omdat die Suid-Afrikaners te veel moeilikheid in daardie gebied veroorsaak het. Hy het via die VN ook druk op Suid-Afrika uitgeoefen om sy optrede in dié gebied te staak en hom tot vredesonderhandelinge met Swapo te verbind.

      My eerste ontplooiing saam met die manne van 31 Bataljon se verkenningsvleuel was ’n gewaagde klein operasie in hierdie einste suidwestelike deel van Zambië. Ons moes ’n Swapo-offisier op die pad langs die Zambezirivier tussen Sesheke en Luso gevange neem. Dit was vroeg in Februarie 1979. Swapo was destyds baie aktief tussen die Cuando- en Zambezirivier omdat die gebied as deurgangs- of afspringpunt vir vegters op pad na die front in Angola gedien het. Die terrein het baie soos die operasionele gebiede van Suid-Angola en Ovamboland gelyk en was uiters geskik vir die opleiding van ’n guerrilla-mag. Tot in daardie stadium het Swapo die suidwestelike hoek van Zambië as veilig beskou aangesien die Suid-Afrikaners selde voorheen daar ontplooi is.

      Ons opdrag was om ’n hinderlaag te lê en ’n senior Swapo-offisier vir ondervraging terug te bring. Die hoofdoel was om die posisies van Swapo-ontplooiings in die Zambiese gebied te bepaal. Drie van ons sou die vroeëwaarskuwingsgroep noord van die hinderlaagposisie vorm, terwyl ’n tweede, klein groepie suid van die hinder­laagposisie sou ontplooi. Die hoofmag, bestaande uit Frannie du Toit en 11 manne (ses makkerpare wat elk uit ’n Boesman en ’n wit spanlid bestaan het), sou in ’n takties geskikte posisie tussen die vroeëwaarskuwingsgroepe ontplooi word en die hinderlaag akti­veer wanneer die Swapo-voertuig in die doodsakker inry (die area waar die vyand in ’n hinderlaag onder vuur kom).

      Wat my altyd van daardie paar dae sal bybly is dat ek nog nooit vantevore só nat en só miserabel was nie. Dit het onophoudelik gereën.

      Vir die ontplooiing het ons hoofsaaklik Swapo-uitrusting gedra wat nie na die SAW teruggespoor sou kon word nie. Dit het ook as misleiding gedien indien ons gesien sou word. Ons het dus Swapo-­poncho’s gehad wat net ’n deel van die lyf bedek het. Van dag een af – tot aan die einde van die ontplooiing – was ek deurnat. In die vroeëwaarskuwingspos kon ons dit nie waag om te beweeg nie en het onbedaarlik gebewe om ’n mate van hitte te behou. Ons was skaars 2 m van die pad af, dus was warm kos of ’n koppie koffie ook buite die kwessie.

      Die operasie is afgelas nadat ’n lid van die plaaslike bevolking (of PB, soos ons na hulle verwys het) in die hinderlaagstellings vasgeloop en toe weggehardloop het voordat enigeen kon reageer. Frannie het ons vinnig laat oppak en die drie spanne het na ’n vooraf bepaalde RV onttrek. Almal het teenspoorsny-tegnieke toe­gepas om te verseker dat ons spore nie gevind en gevolg kon word na die grens toe nie. Ek was erg verlig dat die ontplooiing opgeskort is en het my in die stilligheid voorgeneem om volgende keer beter voorbereid te wees.

      Nadat die hele span hergroepeer het, het Frannie my geroep en gevra of ek die terugtog sou lei na die punt waar ons die grens moes oorsteek. Ek was gretig om myself in die bos te bewys en het dadelik ingewillig. Deur die ruie bosse in die suidweste van Zambië het ek daarin geslaag om ons oor ’n afstand van 30 km na die presiese punt te lei waar ons die grens na die Caprivi moes oorsteek. Dit was ’n geringe prestasie, maar het my geweldig baie selfvertroue gegee. Dit het hopelik gehelp om Frannie te oortuig dat ek bevoeg genoeg was om saam met hom te ontplooi.

      Een van die vele waardevolle lesse wat ek tydens daardie ontplooiing geleer het, was dat teeninsurgensie-operasies se sukses in relatiewe terme gemeet moes word. Soos in hierdie geval, kon ’n operasie nie summier as ’n mislukking verklaar word omdat die doel nie bereik is nie. Dit lewer dikwels ander positiewe uitkomste op, soos die inwin van waardevolle nuwe inligting. Die blote teen­woordigheid van die Suid-Afrikaanse magte in ’n omgewing waar hulle nie veronderstel was om te wees nie, kon ’n groot invloed op die vyand se bewegings uitoefen. Inligting wat tydens ’n “mislukte” operasie ingewin is, het boonop in ’n volgende ontplooiing dikwels tot sukses gelei.

      ’n Tweede les was hoe groter die mag, des te groter was die kans om opgespoor te word. Oor die volgende drie jaar sou ek hierdie grondbeginsel baie goed leer verstaan.

      Destyds was die norm in 31 Bataljon se verkenningsvleuel om in sesman-spanne te ontplooi. Die ontplooiings was takties eerder as strategies en kontak met die vyand was byna onafwendbaar. Daar is gemeen dat die span sterk genoeg moes wees om homself in ’n geveg te handhaaf. Tydens talle ontplooiings in die suidweste van Zambië het die span dus altyd ’n kompanie van 31 Bataljon agter hom gehad, nooit verder as ’n paar honderd meter weg nie.

      Ek het weldra agtergekom die doel was om kontak met die vyand te maak, ’n vuurgeveg aan te knoop om te verhinder dat hy onttrek en dan die kompanie kans te gee om hom die nekslag toe te dien. Dit het egter nooit so gewerk nie, omdat die vyand altyd die klas­sieke Mao Zedong-taktiek gevolg het van “vlug eerder vandag en oorleef om later weer te veg”. Swapo-soldate het laat spaander as hulle onverhoeds betrap is. Hulle het dit trouens vermy om in enige geveg betrokke te raak as hulle nie die tyd en omstandig­hede self bepaal het nie. Hulle het die terrein intiem geken en was uiters aanpasbaar in die bos. Ons is tydens vroeëre opleiding wys­gemaak dat Swapo bang was vir die “Boere” en met enige kontak onmiddellik sou weghardloop. Ek het egter stelselmatig ontdek dat hulle takties baie fyn ingestel was en dikwels vreesloos in gevegte ingegaan het, waarskynlik omdat hulle so sterk in hul saak geglo het en alles daarvoor sou opoffer.

      In my tyd by 31 Bataljon en veral tydens latere kleinspanoperasies as lid van die Spesiale Magte het ek uit vele naelbyt-ervarings geleer dat weghardloop eenvoudig ’n deel van jou mondering móét wees. Dit is ook nie noodwendig ’n mislukking of neerlaag nie. Mao Zedong se slagspreuk het vir ons ’n leefwyse geword want ons het guerrilla-taktiek om presies dieselfde rede as Swapo gebruik – om te oorleef! Onder lede van die spesiale operasies-­gemeenskap op Katima Mulilo het ek, meestal in ’n goedige sin, bekend ge­staan as ’n man wat bitter vinnig kon hardloop. Ons moes dikwels met behulp van heel on-taktiese taktiek die aftog blaas om te oorleef.

      Ná daardie eerste ontplooiing het ons ’n hele reeks verkennings in Zambië gedoen. Frannie du Toit was ’n uitstekende leermees­ter en ek was bevoorreg om verskeie opdragte saam met hom uit te voer. Met sy kragdadige persoonlikheid en buitengewone aan­leg vir verkenning is hy as ’n bietjie onortodoks beskou. Aan­gesien hy die eerste Boesmans vir die verkenningsvleuel gekeur en opgelei het, kon hy altyd die room afskep en is sy span altyd as die beste beskou.

      Ons eerste ontplooiing ná die hinderlaagoperasie was ’n ver­kenningstaak om ’n Swapo-detachment in die omgewing van Kalo­bolelwa langs die Zambezirivier op te spoor. Benewens ek en Frannie was Tango Naca en Dumba Katombela, twee ervare Boesmans van die verkenningsvleuel wat toe al permanente lede van Frannie se span was, ook deel van die groep.

      Tango was een van die ou garde – ’n rateltaai, gesoute soldaat wat as ’t ware ’n sesde sintuig gehad het wat hom byna bonatuurlik goed in die bos gemaak het. Hy kon ’n spoor soos ’n storieboek lees. Tango het die bos soos die palm van sy hand geken. Hy het voëls en diere se gewoontes verstaan en het gevaar instinktief aangevoel. Gedurende my ontplooiings saam met hom het ons nooit die vyand of plaaslike bevolking teëgekom sonder dat ons eerste van hul teenwoordigheid bewus was nie. Talle kere kon ons, danksy Tango, stilweg onttrek of in die lae bosse skuil sonder dat die vyand of PB ons gewaar het.

      ’n Week voor die ontplooiing is ons per helikopter van Omega na Katima Mulilo vir finale beplanning en voorbereiding. Op Katima het ons die meeste van die tyd in die operasiekamer deur­gebring (van waar alle operasionele aktiwiteite beheer is; meestal die opskamer genoem). Roetes is in die fynste besonderhede beplan, kaarte voorberei en noodmaatreëls uitgewerk en geoefen. Een dag laat in Februarie 1979 is ons in ’n Super Frelon-helikopter van

Скачать книгу