Dis koue kos, skat. Marita van der Vyver

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Dis koue kos, skat - Marita van der Vyver страница 9

Автор:
Серия:
Издательство:
Dis koue kos, skat - Marita van der Vyver

Скачать книгу

naby die plafon sweef en afkyk op hierdie donkerkopvrou met die dowwe oë en die drie kindertjies wat sit en pasta eet. Ons eet aanmekaar pasta en pizza, fabriekpasta en vrieskaspizza, kan jy glo, ek het geen beginsels meer oor nie. Ek probeer maar net die vitamiene en proteïene skelm inglip, ’n paar ertjies of flentertjies vis saam met die gekoopte pastasous, ’n paar vars tamaties of oorskiethoender op die ontvriesde pizza. As ek dink hoe ek jare lank gesukkel het om vir hulle “interessante” maaltye te berei, hulle aan nuwe smake en geure bloot te stel, die wonderwêreld van kos vir hulle oop te sluit. En al wat hulle eintlik wou hê, aand ná aand ná aand, was fabriekpasta en vrieskaspizza.

      Ek sal vir my ’n ander werk moet soek, nè. Ek kan nie vir Eva se lesers preek oor goeie eetgewoontes as ek my eie gesin met kitskos aan die lewe hou nie. Intussen eet my kinders pasta sonder om te kla, skuif net die vermomde ertjies en vis eenkant toe, en baklei met mekaar. Nicolas en Sebastian baklei oor Gameboy-speletjies, skaatsplanke, krieketspelers, die kwaaiste onderwysers, die mooiste juffrou, die regte manier om jou vurk vas te hou, oor alles en oor niks. Elke keer as een sy mond oopmaak om iets te sê, neem die ander een bloot uit beginsel die teenoorgestelde standpunt in. En as Paula ’n woord probeer inkry, baklei albei saam teen haar.

      Dit het jou tot raserny gedryf, onthou jy? Waar kom die idee vandaan dat dit góéd is vir gesinne om saam aan tafel te sit, wou jy dikwels weet. Waarom kan ons nie soos ’n Amerikaanse gesin met skinkborde voor die TV eet nie? (Dan sal die kinders oor die TV-program baklei, vermoed ek.) Dit moet vir jou ’n hemelse verligting wees om elke aand in vrede saam met A ’n bord kos te geniet. Aan die ander kant, as A die kos moet maak, sal daar nie veel wees om te geniet nie, nè.

      En as julle klaar geëet het, kitskos, wegneem-etes, afgelewerde disse, dalk selfs die odd tuisgemaakte slaai? Sy’s erg oor slaaie, as ek reg onthou het sy dit selfs oorweeg om vegetaries te word, siestog, en jy was nog altyd ’n vleiseter wat enigiets groen in jou bord met effense wantroue bejeën het. Ieder geval, as julle klaar aan julle gesonde blare geknibbel het, wat doen julle dan om die lang aand om te kry? Behalwe seks, bedoel ek nou. Mens kan tog nie élke aand ure lank …

      Of kan mens?!?

      Wat ek wil weet, is of julle soms styf teen mekaar op die rusbank sit om saam na ’n klassieke swart-wit-rolprent te kyk? Ek het gisteraand, vir die eerste keer vandat jy weg is, weer ’n Hitchcock-fliek gekyk. Jou plek op die rusbank was leeg, leeg, leeg, maar ek kon my tog verbeel ek hoor jou stem. Jou brokkies interessante inligting oor Strangers on a Train, soos dat Hitchcock se dogter die rolletjie van die heldin se bebrilde sussie vertolk, die soort trivia wat ’n mens net by ’n maniak soos jy kan leer. En vir ’n verandering het ek nie Hitchcock se gewone blitsige verskyning in sy eie rolprent gemis nie! Die passasier wat met ’n double bass op die trein klim, onthou jy? En soos elke enkele keer wanneer ons daardie video saam gekyk het, het die mallemeuletoneel teen die einde my asem weggeslaan. Die dolle spoed, die opruiende musiek, die vindingryke kamerahoeke. My hart het vinniger geklop, ek het besef ek is nog dáár, ek het darem nog nie heeltemal verdwyn uit my eie lewe nie. Dit het my getroos.

      5 HITCHCOCK-FILMS WAT ’N LEWELOSE VROU WEER LEWEND KAN LAAT VOEL

      Notorious (vir Cary Grant en Ingrid Bergman se soen wat 3 minute duur)

      Vertigo (vir die toneel in die toring, albei kere)

      North by Northwest (vir 2 Amerikaanse monumente, Mount Rushmore en Cary Grant)

      Psycho (vir die storttoneel, natuurlik, en die musiek)

      The Birds (vir die voëls, wat anders)

      Miskien het ek net ’n versadigingspunt met Puccini en Verdi bereik. Dalk is ek oplaas gereed om weer blues te begin luister en outydse movies te kyk. Sonder jou. Fok jou. Ek kán dit op my eie doen.

      Ek gaan hierdie whisky klaar drink, die diefalarm aanskakel, in die bed klim en hoop ons word almal môreoggend lewend wakker. Stadig maar seker sal ek leer om op my eie te fliek, te slaap en te lewe. Skoppend en skreeuend.

      Clara

      From: Clara Brand [[email protected]]

      Sent: Sun 22/11/98 10:30

      To: Griet Swart [[email protected]]

      Subject: Sondag in suburbia (nog een)

      Hallo Griet

      Ek skryf vanoggend vir jou want dit voel asof jy die enigste wese in die wêreld is wat my huidige vlak van waansin sal verstaan. Sonder om te oordeel. Ek onthou jy’t op ’n keer vertel hoe jy jou “toekomstige gewese man” se huis dopgehou het terwyl julle besig was om te skei, doelloos om en om die straatblok gery het, of verby vriende se huise en gunsteling-restaurante gecruise het in die hoop dat jy sy motor iewers geparkeer sou sien. ’n Paar jaar later het dit vir jou ’n amusante staaltjie oor irrasionele gedrag geword. Ek het saam met jou daaroor gelag, ietwat ongelowig, want ek het jou ná daardie onsmaaklike hoofstuk in jou lewe leer ken. Vir my was jy ’n nogal bewonderenswaardige enkelma, min of meer emosioneel stabiel, soms effens neuroties soos almal van ons – maar beslis nie die soort nutcase wat haar amper-eksman sal stalk nie!

      Dit was toe ek nog gedog het ek is gelukkig getroud. Nou het ek self ’n nutcase geword. Erger as wat jy ooit was, daarvan is ek vanoggend doodseker.

      Ek het laas nag in my kar voor my amper-eksman se lover se huis aan die slaap geraak. Dit was die eerste keer dat die kinders die nag daar deurbring en ek was gek van angstigheid oor hulle, wat hulle eet, hoe laat hulle bed toe gaan, of iemand sal onthou om vir Paula ’n storie te lees, sê nou een van hulle word siek in die nag … (Aan die ander kant het ek heimlik gehoop iets gaan verkeerd, iets ernstig maar nie dodelik nie, sodat Bernard kan besef sy lover sal nie ’n goeie stiefma wees nie. Ek skaam my morsdood om dit te erken. Dat jy jou kinders ’n ongeluk kan toewens omdat jy kwaad is vir jou man.)

      So gek het ek geword dat ek in die loop van die nag na A se huis gery het. Ek het ’n entjie laer in die straat geparkeer, weg van enige ligte, en soos ’n doos na die hoë muur rondom haar huis sit en staar. Kon natuurlik glad nie sien wat agter die muur aangaan nie, kon net so goed ’n byeenkoms van sataniste of pedofiele gewees het, maar ek kon my net nie wegskeur nie. Solank ek fisiek naby hulle kon bly, sou hulle oukei wees. Soos vroeër wanneer ek ’n nag in ’n vliegtuig moes deurbring. Altyd gevoel ek durf nie aan die slaap raak nie, ek moet die loods telepaties help om die vliegtuig in die lug te hou. Gelukkig darem van dié delusion ontslae geraak. Vandat ek saam met kinders reis, is ek meestal so moeg dat ek op ’n stuk plank in ’n stormsee aan die slaap kan raak. Soos laas nag weer gebeur het. Ek het aan die slaap geraak, darem nie op ’n plank in die see nie, maar op ’n stuurwiel voor my man se lover se huis.

      Dis meer as net irrasionele gedrag. Dis lewensgevaarlik om vroualleen in die middel van die nag in ’n Johannesburgse straat in ’n kar te lê en slaap! Asof jy vrá dat iemand jou keel kom afsny! Jou verkrag en vermoor, jou handsak steel en met jou kar wegry. En dan praat ek nie eens van die nadoodse vernedering as Bernard my lewelose liggaam daar voor sy lover se huis moes aantref nie. Toe ek wakker skrik en besef hoe idioties ek opgetree het, het ek so begin bewe dat ek glad nie die kar aan die gang kon kry nie. Toe dog ek vir ’n paar afgryslike minute dat ek my man en sy lover sal moet gaan wakker klop sodat hulle die kar kan kom stoot. Wat my amper laat wens het iemand wil gou my keel kom afsny. Nadoodse vernedering is after all verkieslik bo regstreekse, lewende in-die-grond-sink-skaamte.

      Die enigste positiewe gevolg van hierdie insident is dat ek so pas die besoekerskaartjie van ’n “briljante terapeut” uit die dieptes van my deurmekaar handsak gaan grawe het. My kollega Minette het die

Скачать книгу