Saartjie Omnibus 5. Bettie Naudé

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Saartjie Omnibus 5 - Bettie Naudé страница 8

Saartjie Omnibus 5 - Bettie Naudé Saartjie Omnibus

Скачать книгу

dink jy?” vra die ander twee feitlik gelyktydig.

      Saartjie aarsel net ’n oomblik, dan sê sy in ’n growwe, hol stem: “Spoke! Wandelende geeste van die nag!”

      Anna en Lina lag en hulle ril effens. Saartjie se stem het kompleet soos iemand uit die doderyk s’n geklink. Hulle verseker haar vinnig dat hulle ook aan spook se kind gedink het.

      “Al is ’n man ook hóé dapper,” sê Lina, “as hy ’n spook sien, skrik hy hom boeglam. Dis nou maar wors, soos Apie sou sê.”

      “Dis net so,” sê Saartjie opgewonde. “Hy sal aan die bewe raak en dan vir die vale hardloop. En enige man wat vir iets weghardloop, daal sommer baie ver in ’n meisie se oë.”

      “Maar Isabel moet die bangbroekigheid sien,” sê Anna, “anders help dit mos niks nie.”

      “Natuurlik moet sy dit sien,” stem Saartjie saam.

      “En sê nou maar net sy hardloop eerste weg?” vra Lina.

      Saartjie weet nie wat om te antwoord nie en sê: “Jy maak dinge verniet so ingewikkeld. Isabel sal nie weghardloop nie, want die spoke sal daar by haar huis wees!”

      Hulle dink na oor Saartjie se woorde. Dan sê Lina: “Dis nogal ’n goeie idee. Ons kan die tweetjies gaan vastrap as hulle daar in Isabel-hulle se tuin in die somerhuisie sit en handjies vashou.”

      Hoe meer Saartjie, Anna en Lina oor die plan gesels, hoe meer opgewonde raak hulle. Hulle het nog die ou wit lakens wat hulle ’n slag gebruik het om mee spook te speel.

      “En onthou Kris se rooi neus,” sê Saartjie opgewonde. Anna en Lina lag. Hulle onthou daardie neus baie goed.

      Dit is so ’n groot, rooi neus wat ’n mens oor jou eie neus sit. Kris het dit eenkeer by ’n konsert gebruik en Saartjie het dit geleen om Galpil en die seuns bang te maak toe hulle eenkeer van Lina-hulle perskes wou deps. Die een oomblik was daar ’n wit gesig en die volgende oomblik was daar ’n bloedrooi neus op die gesig. Galpil-hulle het hulle boeglam geskrik.

      “Ons moet ons planne haarfyn uitwerk,” sê Saartjie saaklik. “Niks mag skeefloop nie.”

      Die meisies sit opgewonde koppe bymekaar en bespreek hoe presies hulle alles gaan doen. Ná ’n rukkie sê Saartjie laggend: “Daai vent gaan hom só boeglam skrik dat hy nooit weer vir Isabel sal kom kuier nie. Hy gaan Lynnekom se spoke nooit vergeet nie!”

      3

      Lynnekom se spoke (1)

      Op pad terug huis toe ontmoet Saartjie vir Apie. By die betonplaveisel begin sy spring. Saartjie hop vinnig en sekuur tot by hul voorhekkie.

      “Hoe weet jy jou voete het nie aan die strepe geraak nie?” vra Apie. “Dis mos donker!”

      “Ek ken die blokke al só goed dat ek dadelik sal weet as ek op ’n gleuf trap,” sê Saartjie.

      “Dis ’n simpel besigheid,” sê Apie. “Wanneer gaan jy dit eendag los?”

      “Sodra ek weet daar sal nie iets vreesliks met my gebeur as ek dit los nie,” antwoord Saartjie.

      Apie maak ’n paar minagtende sisgeluide deur die opening voor in sy mond. Dis die lafste affêre waarvan hy nog ooit gehoor het – om vir jare aanmekaar so van een blok na die ander te spring en nie soos ’n gewone mens oor die goed te loop nie.

      “Weet jy wat?” vra Apie skielik toe hulle met die paadjie op huis toe stap.

      “Nee, wat?” sê Saartjie ingedagte. Sy loop en dink aan hoe hulle weer vir Kris en Isabel bymekaar gaan kry.

      “Bennie se nefie wat in Zimbabwe bly, kom volgende week hier vir hom kuier.”

      “Hoe kry hy dit reg? Dis mos nie nou vakansie nie. Gaan hy dan nie skool toe nie?”

      “Bennie sê die ouens in Zimbabwe se vakansies is anders as ons s’n. As ons vakansie het, het hulle skool en as ons skool het, het hulle vakansie. Dis snaaks, nè?”

      “Hm,” sê Saartjie. “Wat’s Bennie se nefie se naam?”

      “Peter.”

      “O.”

      “Bennie hou nie eintlik van hom nie. Hy sê die ou kan baie grootpraat, so nou wil hy vir Peter aan julle afsmeer.”

      “Hoekom aan ons?”

      “Omdat die ou so oud soos julle is. Hy sal makliker by julle inpas as by my en Bennie.”

      “Hoekom smeer Bennie hom nie liewer aan Galpil-hulle af nie?”

      “Hy gaan dit ook probeer. Solank ek en hy net nie vir die week met Peter opgeskeep sit nie.”

      Galpil – of soos hy eintlik gedoop is, Lodewyk le Fras de Waal – is net so oud soos Saartjie-hulle en was nog altyd in dieselfde klas as die Drie Muskiete.

      Galpil, Piet en Gert is gedurig bymekaar. Die meisies hou nogal van hulle, maar hulle sit ook partykeer vas. Saartjie dink Galpil sal glad nie ’n slegte ou wees nie as hy net sy nare gewoonte kan afleer om almal “ou perd” of “pêrre” te noem.

      Dié aand krap Saartjie in ’n laai in haar kamer en kry uiteindelik die ou laken wat hulle gebruik het om Galpil-hulle so bang mee te maak. Sy haal ook twee lang, swart kouse uit. As sy dit onder die laken dra, sal dit mos in die donker lyk of sy in die lug sweef.

      Saartjie weet waar Kris die rooi neus bêre en besluit om dit so gou as wat sy ’n kans kry te gaan deps. Kris sal dit seker nie eers agterkom nie en al vind hy ook uit mag hy nie kwaad word nie, want sy doen dit mos alles vir hom.

      Die volgende oggend ná Sondagskool gesels die drie vriendinne weer oor Isabel en Kris se romanse – die romanse wat nie meer bestaan nie.

      “Ek het Isabel vroeg vanmôre gesien. Sy’t verby ons huis kerk toe gestap,” sê Lina. “Maar weet julle wat? Sy lyk nie vir my so gelukkig met die wolf met die blink kar nie.”

      “Hoekom nie?” wil Saartjie dadelik weet. “Het jy hom dan ook gesien?”

      “Nee, hy was nie by nie, maar Isabel het vir my so treurig gelyk … so … Ek weet nie hoe nie.”

      “Miskien was sy treurig oor die wolf nie by haar was nie,” stel Anna voor.

      “Of miskien oor sy na Kris verlang,” sê Saartjie.

      “Ek weet nie wat dit is nie,” sê Lina, “maar julle weet mos hoe vrolik Isabel altyd is en hoe vriendelik sy ons altyd groet. Wel, toe ek vir haar ‘Haai!’ skree, het sy skaars geglimlag en gesê: ‘Môre, Lina.’ Toe loop sy weer stadig aan met haar oë op die grond.”

      Saartjie en Anna frons. Dis darem vreemd. Hulle ken Isabel mos nie só nie.

      “Ek

Скачать книгу