Saartjie Omnibus 5. Bettie Naudé

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Saartjie Omnibus 5 - Bettie Naudé страница 9

Saartjie Omnibus 5 - Bettie Naudé Saartjie Omnibus

Скачать книгу

en Apie teen ons en help vir Kris, maar Isabel het ons kant gekies! Onthou julle nog hoe’t sy Kris se gesig met die modder besmeer?”

      Almal lag. Hulle onthou maar te goed.

      Isabel is ook glad nie suinig nie. Die meisies onthou hoe sy al baie keer vir hulle ’n paar rand gegee het as hulle so skimp van al die lekker lekkers in die kafee, maar dat ’n mens geld nodig het om dit te koop …

      “Weet julle wat dink ek moet ons doen?” sê Saartjie.

      Anna en Lina kyk vol afwagting na haar. “Ek dink ons moet sommer nou vir Isabel gaan kuier! Dan kan ons haar mos goed deurkyk en uitvind hoekom sy so treurig is.”

      “Ja,” sê Lina opgewonde, “én dan kan ons die wêreld daar deurkyk en sien wat ons moet doen om die wolf met die blink kar lekker bang te maak.”

      “Weg is ons!” sê Anna ingenome. “Isabel gee mos altyd vir ons koeldrank en koekies as ons daar by haar kom.”

      “Ek wonder net of ons vandag sal kry,” sê Saartjie. “Onthou, ek is nie nou meer haar kêrel se sussie nie.”

      Anna glo dit sal niks aan die saak verander nie. Isabel is so gaaf dat sy hulle nog net soos altyd sal behandel.

      Die meisies stem saam dat dit beter sal wees as hulle liewer niks sê oor die verhouding wat verbreek is nie. “Ons maak maar liewer of ons niks weet nie,” stel Saartjie voor.

      Die drie stap vinnig met die hoofstraat af na waar Isabel en haar ouers woon. Isabel is meneer en mevrou Theron se enigste kind. Haar pa is ’n bankbestuurder hier in Lynnekom.

      Toe hulle naby die huis met die groot tuine kom, gaan staan Saartjie skielik botstil.

      “Sien julle wat ek sien?” vra sy en wys met haar vinger.

      Anna en Lina kyk en snak na asem. Daar staan ’n groot, blink motor voor Isabel-hulle se huis!

      Die Drie Muskiete kyk na mekaar en dan stap hulle vasberade nader. Hulle bekyk die motor aandagtig.

      “Dis nie ’n Lynnekommer se kar nie,” sê Lina.

      “Natuurlik nie,” sê Anna. “Ons weet mos wie s’n dit is. Dis daai nare ou s’n!”

      Lina en Saartjie knik net kop. Dis beslis die vent wat Kris se meisie afgevat het se motor.

      “Gaan ons nou nog kuier?” vra Anna huiwerig.

      “Natuurlik!” sê Saartjie beslis. “Ons wil hom mos ontmoet om te sien of hy ’n bang ou is, of nie.” Dan voeg sy glimlaggend by: “En ek wil sien of hy ’n snor het.”

      Die meisies stap by die hekkie in en met die tuinpaadjie op na die voordeur toe. Hulle is in hul beste klere uitgevat. Saartjie hou ’n gesangeboekie en Bybel in haar hand vas. Anna en Lina het elkeen ook ’n gesangeboekie. Hulle sit hul vroomste Sondaggesigte op.

      Naby die stoep se trappies gaan staan hulle skielik stil en draai hul koppe effens om beter te kan hoor. Daar kom stemme van die somerhuisie langs die huis af.

      Saartjie stap sonder om te huiwer soontoe. Anna en Lina volg kort op haar hakke.

      Isabel en die man bly stil toe hulle die meisies met hul gesangeboekies na hulle toe sien aangestap kom. Isabel glimlag. Die man kyk vies na haar en brom: “Is dit ’n afvaardiging van die kerk?”

      “Nee, hulle’s vriende van my,” sê Isabel en glimlag vir die drie.

      Saartjie dink dit sal seker nie gepas wees om “Haai!” te skree nie, aangesien hulle hul Sondagklere aanhet en boonop nog gesangeboeke ook by hulle het. Sy knik daarom maar sedig met haar kop en sê: “Goeiemôre, Isabel.” Dan draai sy na die man en glimlag skielik breed. Sy was toe heeltyd reg! Hy hét ’n snor! Saartjie sê: “Goeiemôre, Meneer.”

      Anna en Lina groet ook stywerig.

      “Haai, julle ouens,” sê Isabel vriendelik. “Ek het julle lanklaas gesien. Kom sit hier by ons.”

      Die man met die snor groet glad nie. Hy kyk net vies na die drie meisies.

      Saartjie, Anna en Lina kom sit penregop op die bankie oorkant die twee grasstoele waarop Isabel en die vent met die snor sit. Hulle kyk belangstellend na “daai wolf met die blink kar” soos Lina hom noem.

      “Hoe gaan dit met julle?” vra Isabel belangstellend.

      “Goed,” sê Saartjie. Dan vra sy versigtig: “En met jou?”

      “Nee, ons hou uit,” sê Isabel en dis amper of daar ’n treurige trek om haar mond kom.

      Anna vang Saartjie se oog en trek haar voorvinger ongemerk oor haar bo-lip. Saartjie knik ongemerk met haar kop om te wys sy het dit reeds gesien.

      “Jy moet ligloop vir hierdie vriendinnetjies van my, Theodor,” sê Isabel vir die man langs haar. “Hulle lyk vandag so sedig, maar hulle vang baie kattekwaad aan. Hulle laat Lynnekom se mense baie lag met hul kaskenades.”

      “So?” sê die man net en streel sy snor. Hy kyk vies na die drie wat ewe fraai en fyntjies daar sit. Hy is duidelik nie ingenome met hulle wat juis nou kom kuier het nie.

      Isabel is ook mooi uitgevat in haar Sondagklere, maar die vent met die snor lyk meer of hy gaan piekniek hou. Hy dra ’n wit broek en ’n helderrooi hemp. Om sy nek is daar ’n swierige serp. Saartjie kyk afkeurend na hom. Hy is glad nie reg aangetrek vir ’n Sondag nie.

      Die Drie Muskiete gesels gewoonlik baie lekker met Isabel, maar vandag is daar ’n stroefheid wat almal aanvoel. Dis hierdie Theodor se skuld, dink Saartjie. Theodor … wat ’n aaklige naam!

      Anna en Lina sit ook met suur gesigte asof hulle nou net kasterolie gedrink het. Dis baie duidelik dat die drie meisies niks van Theodor hou nie. En dis net so duidelik dat hy ook niks van hulle hou nie. Hy sit amper openlik na hulle en gluur.

      As hy dink hy gaan ons bangmaak deur so woes te kyk, dink Saartjie, dan wag daar ’n verrassing vir hom. Sy sit gemaklik agteroor op die bankie soos iemand wat heerlik kuier. Anna en Lina skuif ook sodat hulle gemakliker sit. Hulle is nie van plan om gou te loop nie – veral nie omdat hierdie ou hulle so suur aankyk nie.

      Isabel glimlag nog steeds vriendelik. Theodor is miskien vies, maar sy is bly die meisies het kom kuier. Dit lyk vir Saartjie of Isabel glad nie so baie van hierdie ou hou nie – in elk geval nie op die manier wat Kris dink nie.

      “Ons het al tee gehad,” sê Isabel, “maar ek gaan gou vir julle koeldrank en koekies haal.”

      “Moenie moeite doen nie,” sê Saartjie, want sy ken mos haar maniere, maar terselfdertyd stoot sy darem die bankie terug sodat Isabel kan verbykom.

      “Dis nie moeite nie,” sê Isabel en voeg laggend by: “Gesels julle solank met die oom.”

      Theodor kyk vies op en brom iets van hom wat niemand se “oom” is nie. Saartjie kry tot in haar tone lekker.

      Daar is ’n ongemaklike stilte. Theodor kyk voor hom op die grond en streel kort-kort oor sy snor. Saartjie, Anna en Lina

Скачать книгу