Die A tot Z van Klassieke Musiek. Koos Human

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die A tot Z van Klassieke Musiek - Koos Human страница 10

Автор:
Серия:
Издательство:
Die A tot Z van Klassieke Musiek - Koos Human

Скачать книгу

klavier weer toe in ’n briljante uitwerking van die gegewe. Beethoven reken hier finaal af met die cadenza deur ’n meesterlike kragtoer vir die solis te skryf wat absoluut deel van die beweging is. II. Adagio un poco mosso ’n Serene beweging waarin die strykers (sommiges pizzicato) die tema speel en die klavier patrone daaroor weef. Geleidelik neem die klavier oor teen ’n agtergrond van gedempte orkesspel. Die Adagio gaan met ’n verrassende oorgangspassasie dadelik oor tot III. Rondo: Allegro ’n Uitgelate beweging waarin die bravura-moontlikhede van die solis wesenlik gebruik word. Daar is ’n sangerige tweede tema, maar die vitale eerste rondotema oorheers saam met die klavier.

      Tripelconcerto in C op 56 (35 min) Hierdie concerto vir klavier, viool, tjello en orkes is lank verwaarloos en minderwaardig geag, maar het intussen meer tot sy reg gekom. Die klavierparty is redelik eenvoudig en die viool is gemiddeld, maar die tjelloparty is besonder moeilik. Die werk bestaan uit drie bewegings. I. Allegro is ’n liriese deel sonder die opstandige elemente van die Eroica en Fidelio wat uit ongeveer dieselfde tyd stam. II. Largo Die sangerige tweede beweging word deur ’n pragtige tema op die tjellosolo ingelui en gaan oor tot III. Rondo alla Polacca wat, soos die benaming aandui, in die polonaise-vorm is en pragtige oomblikke vir al drie soliste bied.

      Vioolconcerto in D op 61 (45 min) Beethoven het net een vioolconcerto gekomponeer, maar dit is sekerlik die indrukwekkendste in die repertoire; in opset en rykdom van verbeeldingskrag kom alleen *Brahms s’n naby. Twee beroemde violiste wat cadenzas hiervoor geskryf het, is Joachim (wat die werk later in die negentiende eeu aan die vergetelheid ontruk het) en Kreisler. I. Allegro ma non troppo Vier tromslae op die noot D lei tot ’n pragtige eerste tema deur die houtblasers, wat ook die tweede tema aankondig. Die samespel van en wisselwerking tussen solis en orkes word meesterlik gehanteer. II. Largo Die strykers speel die hooftema gedemp, en dit lei tot ’n reeks variasies wat onderbreek word deur die tweede tema. Die beweging word gekenmerk deur pragtige orkeskleur waarbo die solis fantaseer. III. Rondo: Allegro Die beweging volg onmiddellik op ’n baie kort oorgangspassasie deur die solis. Dit is ’n speelse rondo, Beethoven op sy vrolikste. Na ’n wegsterwende coda is daar plotseling ’n opwindende slotpassasie.

      Naas hierdie sewe werke het Beethoven ook twee Romanses vir viool en orkes en ’n Fantasie vir klavier, koor, soliste en orkes gekomponeer – lg. in sekere sin ’n voorstudie van die slotbeweging van die Simfonie no 9.

      KAMERMUSIEK

      Hoewel Beethoven vir groter ensembles gekomponeer het, word volstaan met die werke vir vier, drie en twee instrumente.

      Strykkwartette Beethoven het sewentien strykkwartette gekomponeer wat, soos sy simfonieë, sy totale ontwikkeling as komponis weerspieël. Aanvanklik werk hy nog in die styl van Haydn en Mozart, maar met sy laaste kwartette bereik hy ’n vlak van persoonlike uitdrukking en vormgewing wat, saam met die laaste klaviersonates, die Simfonie no 9 en die Missa solemnis, die hoogtepunt van sy skeppingsvermoë verteenwoordig.

      Die eerste ses kwartette op 18 is tussen Simfonie no 1 en no 2 gekomponeer toe die komponis om en by dertig was. No 1 in F (24 min) is in 1799 geskryf maar daarna drasties hersien. Hoewel in die Haydn-styl, toon dit alreeds gewaagde harmonieë. Die werk bestaan uit vier bewegings waarvan die tweede, Adagio, besonder mooi is. No 2 in C (21 min) staan bekend as die “Komplimente-kwartet”, waarskynlik omdat dit speels en sonder probleme is. No 3 in D (19 min) is van hierdie groep die eerste gekomponeer en die mins gekompliseerde. Dit is opvallend hoe oorheersend die rol van die eerste viool is. No 4 in C min (19 min) stel die luisteraar op die hoede: dit is ’n toonaard wat Beethoven tot diepsinnighede gelei het. Hierdie kwartet is ook in ’n ernstiger stemming as die vyf ander, hoewel dit geen stadige beweging het nie, alleen ’n Andante scherzoso. ’n Stormagtige Finale sluit die werk af. No 5 in A (24 min) bevat as stadige beweging ’n stel variasies wat reeds op dié leeftyd toon watter wonderwerke Beethoven met ’n baie eenvoudige tematiese gegewe kan verrig. Die oorheersende stemming van No 6 in B-mol (23 min) is spontane opgewektheid, al het die komponis self die stadige beweging as melancholies beskryf. Hierdie somberheid word egter gou verdryf deur die geestige slot-Allegretto.

      Die kwartette op 59 staan bekend as die Rasoemofski-kwartette, want die drietal is geskryf op versoek van graaf Rasoemofski, Russiese ambassadeur in Wenen. Die afstand tussen die kwartette op 18 en hierdie reeks is vergelykbaar met dié tussen die *Simfonie no 2 en 3. Dit is van die rypste werke uit Beethoven se tweede periode. Die kwartette was vir eietydse gehore vreemd en beangstigend; hulle het dit nie verstaan nie. Die spelers het gedink die komponis skeer die gek. Dit is die werk van ’n mal man genoem. Beethoven het met op 59 die strykkwartet uit die hande van amateurspelers en die elegante salons van die adel geneem en dit konsertstukke gemaak vir eersterangse spelers en ryp toehoorders.

      Die eerste beweging van No 1 in F (37 min) toon ’n enorme afwyking van die gangbare in terme van harmonie en tema. Die stadige beweging, Adagio, is smartlik en aangrypend en eindig op ’n triller van die eerste viool waarna die tjello die laaste beweging met ’n Russiese volkswysie inlei. No 2 in F (32 min) staan vas op die aarde met minder gewaagde tonaliteite as No 1; ook hier is daar ’n pragtige stadige beweging, Molto adagio, waarvan die komponis gesê het dat dit by hom ingegee is terwyl hy na die sterrehemel getuur het. In die Scherzo gebruik Beethoven ’n tema ontleen aan ’n Russiese volksliedjie wat ook in die kroningstoneel in *Moessorgski se Boris Godoenof voorkom. No 3 in C (28 min) word soms die “Helde”-kwartet genoem en is die enigste waarin geen Russiese tema voorkom nie. Die sterk ritmiese eerste beweging word gevolg deur ’n Andante gebou bo ’n pizzicato tjello. In plaas van ’n scherzo het ons hier ’n menuet gevolg deur ’n Allegro molto slot wat ’n fuga en ’n dubbelfuga bevat.

      Die Kwartet in E-mol op 74 (31 min) het later die bynaam “Harp”-kwartet gekry a.g.v. die pizzicato deel in die eerste beweging. Hierdie kwartet is belangrik in die ontwikkeling van Beethoven se strykkwartetstyl en openbaar die groter intimiteit van sy later werke. Dit is een van die mooiste kwartette waaruit mens niks kan uitsonder nie, behalwe dan die laaste beweging, Allegretto, wat in die vorm tema en variasies is.

      In dieselfde toon, voorloper van die laaste groot vyf kwartette, is die Kwartet in F min op 95 (20 min) I. Allegro con brio Dit begin unisono gevolg deur ’n oktaafsprong. Soos die res van die werk word die beweging gekarakteriseer deur gekonsentreerde episodiese komposisie. II. Allegretto Dit word ingelei deur ’n dalende tjellotema, maar die hooftema is een van die mooistes wat die komponis geskep het. Sonder oorgang volg die sterk ritmiese III. Allegro, en ten slotte IV. ’n Ligte, danserige Allegro agitato.

      Die laaste vyf kwartette (en die Grosse Fuge) neem ’n besondere plek in die musiekrepertoire in. Hulle word beskou as van die mees verhewe musiek wat Beethoven geskryf het en die toppunt van alle kamermusiek.

      Kwartet in E-mol op 127 (36 min) Dit is die eerste van drie kwartette wat in 1822 deur prins Nikolaus Galitzin aangevra is. Die publiek het nie geweet wat om van hierdie vreemde musiek te maak nie, en het dit toegeskryf aan Beethoven se doofheid. I. Maestoso – Allegro Dit is nie in die tradisionele sonatevorm nie; die karakteristieke eienskappe van die laaste kwartette met spronge in toonaarde kom hier reeds duidelik na vore. II. Adagio ma non troppo e molto cantabile. Dit is ’n pragtige, sangerige tema met ses variasies en ’n coda. III. Scherzando vivace Hierdie uitgelate beweging is byna soos ’n grap en klink ook na ’n direkte voortsetting van die variasies in die voorafgaande Adagio. IV. Finale ’n Marsagtige tema word afgewissel met ’n meer sangerige melodie. Dit is die laaste kwartet wat uit vier bewegings bestaan.

      Kwartet in B-mol op 130 (29 min) Hierdie werk (wat na op 132 gekomponeer is) is die eerste wat groot afwykings van die tradisionele vorm toon. Die oorspronklike sesde beweging is apart as die *Grosse Fuge uitgegee, en die Finale wat later toegevoeg is, was waarskynlik Beethoven se laaste komposisie. I. Adagio – Allegro Drie temas domineer die beweging, ’n inleidende Adagio en twee allegro temas wat voortdurend teen mekaar afgespeel word. II. Presto Speels, in die vorm van ’n scherzo en trio. III. Andante con moto ’n Bevallige deel, tematies verwant aan II. IV. Alla danza tedesca ’n Duitse dans met ’n

Скачать книгу