Die A tot Z van Klassieke Musiek. Koos Human

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die A tot Z van Klassieke Musiek - Koos Human страница 9

Автор:
Серия:
Издательство:
Die A tot Z van Klassieke Musiek - Koos Human

Скачать книгу

die eerste waarmee hy in sy lewe bekendheid en roem buite Wenen verwerf het. Beethoven het in 1805 daaraan begin werk, maar dit onderbreek om Simfonie no 4 te komponeer; No 5 is eers in 1807 of vroeg in 1808 voltooi. I. Allegro con brio Van die vier fortissimo note (seker die bekendste vier note in die musiek) waarmee die simfonie begin, het Beethoven glo gesê: “So klop die noodlot aan die deur.” Dit is dramatiese, stormagtige musiek wat feitlik net op die ritmiese patroon gebaseer is en werk met ritme, klank en harmonie terwyl die melodiese lyn op die agtergrond is. II. Andante con moto Hierdie beweging vergoed vir die afwesigheid van melodie in die eerste. ’n Pragtige melodie in die tjello’s lui die beweging in; sy effens marsagtige aard word bevestig deur ’n forse tweede tema in die blasers. Die “noodlotsmotief” van die eerste beweging maak telkens sy verskyning. III. Scherzo: Allegro Dit is geen grappige musiek nie. Berlioz het hierdie beweging as ’n heksesabbat beskryf. Weer eens is die “noodlotsmotief” aanwesig en sterk gepunktueerde frases van vier note weerklink in verskillende instrumente en in wisselende, soms skerp kontrasterende luidheid. Die beweging eindig nie formeel nie, maar ’n onheilspellende poukegeroffel lei tot ’n geweldige crescendo wat direk oorgaan tot IV. Finale: Allegro Die noodlot word deur hierdie triomfantelike musiek verdryf. Ook hier is die ritmiese patroon baie belangrik, maar die temas van hierdie Allegro is ewe onstuitbaar as die gang van die musiek. In die middel van die beweging is daar ’n kort herhaling van die Scherzo-tema, maar die oorwinningsklanke neem weer oor en die simfonie eindig op ’n triomfantelike noot.

      Simfonie no 6 in F op 68 (“Pastorale”) (43 min) Beethoven was baie lief vir die natuur en dit is nie vreemd dat dit in ’n musiekwerk soos dié tot uiting sou kom nie. Beskrywende musiek van dié aard was hoog in die mode en opnuut lewer Beethoven die onbetwiste meesterstuk in die genre. I. Erwachen heiterer Gefühle bei der Ankunft auf dem Lande (Ontwaking van opgewekte gevoelens by die aankoms op die platteland): Allegro ma non troppo ’n Sangerige tema deur die strykers skep dadelik die sfeer, nie net van hierdie beweging nie, maar van die hele werk. Die tweede tema is soos ’n dansliedjie. Daar is nie veel uitdruklike natuurnabootsings in hierdie beweging nie. II. Szene am Bach (Toneel by die stroompie): Andante molto mosso Niemand wat die moeitelose gang van die musiek in hierdie beweging aanhoor, sou kon raai dat Beethoven geworstel het met die musiekprobleme nie, soos blyk uit sy sketsboek. ’n Opgewekte ritme suggereer die vloei van die water en verskillende voëlgeluide klink op. III. Lustiges Zusammensein der Landleute (Vrolike samekoms van boermense): Allegro ’n Scherzo vol dansdeuntjies wat lei tot IV. Gewitter, Sturm (Donderweer, storm): Allegro Die boeredans word ru onderbreek deur ’n storm en met suiwer musikale effekte beeld Beethoven ’n enigsins beangstigende stormtoneel uit. V. Hirtengesang – Frohe, dankbare Gefühle nach dem Sturm (Herderslied – vrolike, dankbare gevoelens na die storm): Allegretto Die stemming van die eerste beweging word herskep met ’n pragtige melodie in die viole. In die rondovorm word hierdie tema drie maal herhaal.

      Simfonie no 7 in A op 92 (40 min) Hierdie werk sluit aan by die “helde”karakter van No 3 en No 5. I. Poco sostenuto is veel meer as ’n blote inleiding. Hierdie uitgebreide deel staan op sy eie met sy eie tema, en weer verstom Beethoven die luisteraar met wat hy alles met oënskynlik eenvoudige materiaal kan vermag. Sy gebruik van toonlere in hierdie deel is geniaal. Die Vivace is gegrond op die ritmiese motief van die inleiding, maar is in ’n baie snel tempo en herinner aan ’n uitbundige dans. II. Allegretto Ten spyte van sy benaming is hierdie deel ’n pragtige elegie wat struktureel en andersins saamhang met die treurmars in die Eroica. III. Presto – Assai meno presto ’n Beweging wat gekenmerk word deur skerp teenstellings in volume en ’n afwyking bring van die gebruiklike scherzo-styl. Die hooftema word drie maal gehoor. IV. Allegro con brio ’n Sterk ritmiese deel met gedurfde spronge en ’n oorweldigende klimaks.

      Simfonie no 8 in F op 93 (27 min) ’n Kort, speelse simfonie. I. Allegro vivace con brio Sonder enige inleidende akkoorde of frases val die simfonie met die deur in die huis: ’n opgewekte tema met bravade deur die hele orkes gespeel. Vier temas domineer hierdie beweging. II. Allegretto scherzando ’n Goedige geskerts met die pas uitgevinde *metronoom, waarvan die tik-tak-klank die ritmiese basis van die beweging vorm. III. Tempo di menuetto Dat hierdie simfonie sowel ’n scherzo as ’n menuet bevat, onderstreep sy vrolike aard. Die menuet herinner aan ’n boeredans, en al klink dit nie so nie, is die orkestrasie baie ingewikkeld. IV. Allegro vivace ’n Skertsende, guitige slot, met bokspringery in verskillende toonsoorte.

      Simfonie no 9 in D min op 125 (“Koraal”) (75 min) As Simfonie no 5 die gewildste van die reeks is, is No 9 die mees bewonderde. Weer eens is dit titaniese magte wat ontketen word en tot ’n triomfantelike slot lei. I. Allegro ma non troppo, un poco maestoso Teen die agtergrond van geheimsinnige, byna prehistoriese klanke, kom die eerste tema geleidelik tot stand en word eindelik na sestien mate in al sy forsheid deur die orkes aangekondig. Die tweede, kontrasterende tema word deur die klarinet gespeel. Die bou en ontwikkeling van die tema in hierdie beweging is ontsaglik. II. Scherzo: Molto vivace Hierdie uitgebreide scherzo (die langste wat Beethoven gekomponeer het) is ook van so ’n spookagtige sfeer soos dié van No 5. Dit begin as ’n fuga maar is in sonatevorm, hoewel die fugatiese styl telkens na vore tree. Dit is ’n meesterstuk van kontrapuntale skryfwyse. III. Adagio molto e cantabile Een van Beethoven se lieflikste stadige bewegings. Na ’n eerste tema waarin die viole telkens deur houtblasers onderbreek word, kom ’n tweede tema van pragtige liriese aard, ook in die viole. Hierdie beweging is op die grondslag van ’n dubbelvariasie. IV. Finale: Allegro assai Die beweging begin abrup, met dramatiese vertonings deur die orkes, telkens onderbreek deur resitatiefagtige passasies deur die basviole. Die temas van die vorige bewegings word herhaal; dan eindelik kom die edele koraalmelodie wat Beethoven gevind het vir Schiller se Ode an die Freude. Die toonsetting van hierdie gedig, wat Beethoven al jare lank beplan het, is vir volle koor en vier soliste en stel besondere eise aan die menslike stem.

      SOLO EN ORKES

      Klavierconcerto’s Beethoven het vyf klavierconcerto’s geskryf waarvan die eerste twee nog sterk onder die invloed van Mozart staan. Die Concerto no 1 in C op 15 is eintlik ná die Concerto no 2 in B-mol op 19 geskryf en toon ’n sekere ontwikkeling. Dit is egter eers met die derde concerto dat Beethoven begin om die verlede agter hom te laat, en die laaste twee concerto’s bring sy groot vernuwings op dié terrein.

      Klavierconcerto no 3 in C min op 37 (35 min) Hoewel No 3 net ’n jaar na wat as No 1 bekend staan, gekomponeer is, toon dit ’n verbasingwekkende ontwikkeling. I. Allegro con brio Die strykers val dadelik weg met die openingstema in elf fors akkoorde wat die klavier daarna ewe onversierd speel. Die tweede tema is meer gevoelvol en liries en kontrasteer sterk met die eerste tema. Die samewerking van solis en orkes groei tot ’n treffende klimaks. II. Largo ’n Pragtige liriese tema in gedempte toon met mooi samespel in die ontwikkeling tussen die solis se arpeggio’s en ’n donker orkes-agtergrond. Beethoven het self ’n kort cadenza vir die middeldeel geskryf met die aanwysing con gran espressione. III. Rondo: Allegro Die klavier begin met ’n energieke tema wat in rondovorm verwerk word. Daar is selfs ’n klein fuga. Die coda, gemerk presto, is in ’n heeltemal ander toonaard en tempo.

      Klavierconcerto no 4 in G op 58 (33 min) ’n Rustige en bedaarde werk in teenstelling met No 3 en No 5. I. Allegro moderato Sonder enige orkesinleiding speel die klavier ’n sangerige tema en onmiddellik sorg Beethoven vir nog ’n verrassing deurdat die strykers die tema na slegs vyf mate oorneem maar in die toonaard B. Die effek hiervan is buitengewoon. Die tweede tema is marsagtig. Die verwerking van die tema geskied hoofsaaklik deur die orkes met dartele klavierpassasies tussendeur. II. Andante con moto ’n Strydende dialoog tussen die orkes se dramatiese akkoorde en ’n totaal teenstellende melodie in die klavier. III. Rondo: Vivace Die rondo volg onmiddellik op die voorafgaande beweging en is vinnig met ’n marsagtige tema in die strykers gevolg deur ’n swewende tweede tema in die klavier se hoogste oktawe. Die ontwikkeling lei tot ’n dawerende slot.

      Klavierconcerto no 5 in E-mol op 73 (“Keiser”) (37 min) Dit is onduidelik waar die bynaam Keiser vandaan kom; die werk word ook nie oral so genoem nie. I. Allegro Weer ’n vernuwing: op drie dawerende akkoorde van die orkes speel die klavier rapsodiese passasies (wat nietemin ’n integrale deel van die werk is) en

Скачать книгу