Christine le Roux Keur 3. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Christine le Roux Keur 3 - Christine le Roux страница 15
Sy kyk hom wantrouig aan. “Hoe weet jy dit?”
Hy krap met ’n stokkie tussen die los klippies rond. “Omdat ek nooit huil nie.”
“Net omdat jy ’n man is?” vra sy, iets smalends in haar stem.
“Nee, omdat ek nie kan nie. Nie eers toe ek ’n kind was nie.”
Sy sit lank na hom en kyk, al is sy gesig weggedraai en dra hy soos gewoonlik sy sonbril.
“Is dit wat jy vir my probeer sê? Dat ek my sit en doodhuil oor ’n hond, en jy wat veel meer as ek verloor het, huil glad nie?”
Haar woorde kwets hom; sy kan sien hoe hy letterlik wegruk van haar. Sy voel so sleg dat sy vinnig oorleun en haar hand op sy arm sit.
“Ek is jammer. André, ek is jammer. Ek is ’n heks. Vergewe my.” Sy voel sy armspier soos staal onder haar hand. “Ek moet ophou hiermee,” sê sy bedruk. “Ek het geen reg om my seerkry op ander mense uit te haal nie.”
Hy kyk na haar en glimlag effens. “Dit maak nie saak nie. Ek is taai.”
Sy staan op, stof haar langbroek af en tel die strooihoed met sy blou en geel blomme op. “Wat wil jy sê – dat jou skouers breed genoeg is om my sweepslae te weerstaan?”
Hy staan ook op en hulle begin afklim.
“Ja,” sê hy. “Ek breek nie maklik nie.” Hy hou sy hand uit om haar te help. Alhoewel sy eers geaffronteer wil voel, moet sy erken dis gerusstellend om sy hand stewig vas te hou terwyl hulle teen die klipperige helling gly en struikel.
“Dis jou trouhoed,” merk hy op toe hulle op gelyker grond begin stap.
“Ek weet, maar ek het Sandra belowe ek sal my nie langer verrinneweer nie.”
“Het jy dit altyd gedoen?”
“My voorkoms was nie ’n prioriteit nie,” sê sy styf. “Ek sit my nie en mooimaak vir iemand anders nie.”
“En nou?” vra hy. “Waarom doen jy dit nou?”
Die vraag betrap haar onkant. Verbouereerd soek sy na ’n koel antwoord. “Ek sê mos ek het Sandra belowe. Ek hoef nie hierdie jaar daagliks in die grond rond te krap nie. Buitendien is die son hier veel skerper.”
“Ek sien.” Hy maak vir haar die eerste hek oop. “Jy moenie sommer enige rigting inslaan op die berg nie. Daar is plekke wat gevaarlik is.”
“Ek weet,” sê sy. “Ek sit altyd daar waar jy my gekry het. Van daar kan ek die hele wêreld sien. Ek hoef net ’n halfuur daar te sit, dan is my kop heeltemal leeg.”
“Wil jy jou kop leeg hê?”
“Ja,” sê sy kortaf.
Hulle kom by die volgende hek en hy sukkel om dit oop te kry. “Party van hierdie hekke moet vervang word,” merk hy op.
“Ek klim sommer bo-oor. Dis te veel van ’n gesukkel om hulle oop te maak.”
“Maar dis doringdraad.”
“Ek skrik nie vir doringdraad nie.”
Hy kyk vinnig na haar. “Ek kan dit sien, ja.”
Toe hulle op die werf kom, kyk sy nuuskierig om haar rond. “Wat wou jy vir my wys?”
“Kom.” Hy stap om na die buitekamer toe, maar voordat hy nog die deur oopgesluit het, kyk sy al na hom met oë waarin daar weer lig skyn, want van agter die toe deur kom die droewige gehuil van die hondjie. Die oomblik toe die deur oop is, skiet hy uit; sy wollerige swart-en-wit lyfie spring met een wriemelende beweging in Julia se arms in.
“André!” sê sy, op haar knieë, haar strooihoed skeef gestamp, haar arms vol hond. Sy koes laggend heen en weer omdat die hondjie tjankend aan haar gesig lek.
“Sy naam is Radar,” sê hy. “Moenie vir my vra waarom nie, want ek weet nie.”
“Omdat hy so slim is,” lag Julia en druk hom teen haar bors vas. “Omdat hy alles kan sien.”
“Hy gaan ’n werkende hond wees,” sê hy streng. “Jy gaan hom leer. Ek sal jou help, maar as hy nie vinnig leer nie, gaan hy ook … seerkry.”
Haar oë verdonker, haar gesig verstrak. “Ek sal hom leer,” sê sy vinnig. “Hy gaan ’n baie gehoorsame hond wees.”
“Dis goed.” Hy kyk op sy horlosie. “My werk wag. Ek sien jou later vanmiddag.”
“André!” roep sy agter hom aan. “Dankie.”
Hy lig sy hand effens en stap weg sonder om eens om te kyk.
Toe hy teen skemer moeg en natgesweet voor die waenhuis stilhou, staan hy en kyk hoe sy, nou geklee in ’n kortbroek en hempie, kaalvoet op die grasperk besig is met haar eerste les.
“Sit,” sê sy vir die hondjie wat haar beteuterd aankyk en rollend agter haar aanhardloop wanneer sy wegstap. “Nee,” sê sy, sit hom weer op sy agterstewe neer en stap weg. “Sit!”
André skud sy kop en kom nader. “Hoe lank is jy al besig?”
Sy kyk op. Haar hare is in ’n poniestert gebind en sy lyk agtien jaar oud, indien nie jonger nie. “Ure.”
“Dan kan hy nou maar bietjie rus. Kom ons gaan drink iets.”
Sy tel die hondjie onder haar arm op en stap voor hom met die stoeptrap op, haar lenige, bruin bene blink en sterk, haar skraal heupe fiks in die stywe kortbroekie. Dit is asof dit die eerste keer tot hom deurdring: dis sy vrou, dink hy verstom. Hierdie mooi meisiekind is sy wettige vrou.
“Wat is dit nou?” vra sy en bly staan op die stoep om terug te kyk.
“Nee, nee, niks nie,” sê hy vinnig.
Hoofstuk 6
Julia gaan vir die eerste keer saam met André kerk toe en alhoewel dit onjuis sou wees om te sê haar verskyning aan sy sy veroorsaak ’n beroering, kan sy nie verhelp om te voel hoe mense haar bekyk nie. Gelukkig het hulle laat gekom sodat daar nie tyd was om voor die diens met mense te praat nie, en sy het ’n uur om haar voor te berei. Dis die eerste keer in ’n lang ruk dat sy weer kerk toe gaan en sy verwelkom die bekende gevoel van rustigheid en vrede. Miskien verbeel sy haar, maar dit het gelyk asof die predikant in haar rigting glimlag, ’n warm, verwelkomende glimlag, vaderlik en vol aanvaarding.
Sy vind dit ook uitsonderlik gerusstellend om langs André te sit, sy mou teen haar kaal arm, hulle hande wat die gesangeboekie saam vashou. Dit laat haar gedagtes afdwaal, sy probeer haar emosies ontleed. Sy was onder die indruk dat haar ideaal is om aan niemand te behoort nie. Sy hou nie van die woord behoort nie; sy is niemand se eiendom nie en sal dit ook nooit weer wees nie. Geen verhouding waarin die een aan die ander behoort, kan aanvaarbaar of gesond wees nie. Waarom voel sy dan so geborge aan André se sy?
Wees goed vir mekaar, het haar ouers