Die een oplossing vir die lewe. Henry Cloud

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die een oplossing vir die lewe - Henry Cloud страница 11

Автор:
Серия:
Издательство:
Die een oplossing vir die lewe - Henry Cloud

Скачать книгу

jy ’n identiteit kan uitleef lank voor die rol (ouerskap, pos as visepresident, ensovoorts) ooit ontstaan het. Jou identiteit berus daarop dat jy ’n goed gedefinieerde persoon is voordat jy ’n rol aanvaar. Hierdie blywende identiteitstruktuur, wat mettertyd ook verander, bestaan uit talle verskillende elemente van menswees, wat alle mense inherent het. Dit is die skatte wat binne die heinings van jou grense lê en terselfdertyd ook die grense as sodanig vorm namate jy eienaarskap van hulle aanvaar en hulle aan die buitewêreld bekend maak.

      Jy definieer jouself deur eers die volgende elemente van menswees te ken en eienaarskap daarvan te aanvaar:

      • Jou gevoelens

      • Jou gesindhede

      • Jou gedragswyses

      • Jou keuses

      • Jou perke

      • Jou gedagtes

      • Jou talente

      • Jou begeertes of behoeftes

      • Jou waardes

      • Jou voorliefdes

      As jy weet wat jy voel, wat jy wil hê, wat jou talente is en watter keuses jy op ’n bepaalde oomblik maak, het jy ’n goeie idee van wie jy is. Dit is die eerste stap, dit wil sê om eienaarskap van hierdie dele van jou te aanvaar. Maar jy voel nie werklik veilig in daardie identiteit tot jy tot die volgende stap kan oorgaan en jou teenoor die buitewêreld kan definieer deur daardie aspekte van jou persoonlikheid te toon nie.

      Jou heinings is ondergronds as niemand anders weet wat jy voel of dink nie. Hulle kan nie gedwing word om teenoor jou op te tree soos jy wil hê as jou individualiteit nie duidelik teenoor die buitewêreld gedefinieer is nie. Hulle hoef beslis nie met jou rekening te hou of in enige opsig by jou aan te pas nie, wat die wese van ’n ware verhouding is.

      In ware verhoudings beïnvloed ons mekaar. Die mag van jou identiteit beïnvloed ander mense. En hulle beïnvloed jou. Vandat die baba ontsteld raak, dit aan die ma oordra en sy die manier waarop sy hom vashou, aanpas om hom gelukkiger te maak, tot wanneer die huweliksmaat sê: “Jou werkprogram eis sy tol op die gesin en jy sal dit moet verander,” beïnvloed ons mekaar. Ons pas aan by mekaar se gevoelens, perke, begeertes en die res van bogenoemde lys. As jy egter nie hierdie aspekte aan ander mense kan oordra nie, bly jy ’n nonentiteit en natuurlik ’n “nonmag”. Die mag van verhoudings word nie ervaar nie en jy en ander loop dit mis.

      Definisie het drie komponente:

      • Jy weet wat jy voel, dink, begeer, ens.

      • Jy maak hierdie aspekte van jou aan ander bekend.

      • Jy leef hulle uit.

      As jy al drie doen, leef jy ten volle as ’n gedefinieerde persoon. Indien nie, wag die wêreld dat jy moet opdaag.

      Vraag: Laat jy jouself toe om werklik bewus te wees van jou ware gevoelens, gedagtes, begeertes, ensovoorts? Hoe goed dra jy hulle aan ander oor as jy bewus is van hulle? Dra jy hulle duidelik oor wanneer jy bewus is van hulle?

      4. Perke

      Inperking is die toepassing van ’n perk, maar persoonlike perke omvat meer as die funksie van inperking. Hulle is die wese van jou grenslyn as persoon. Hulle toon hoe ver jy bereid is om te gaan en waar jy die streep trek.

      Ons ontwikkel perke omdat hulle aanvanklik op ons afgedwing word. Wanneer ouers en versorgers vir ons perke en gevolge stel, leer ons dat ons net so ver kan gaan. Daarna internaliseer ons daardie perke en begin hulle uit ons eie gehoorsaam. Die belangrike ding is nie die inhoud van die perke nie, maar dat die inhoud mettertyd verander. (Die eerste was “Moenie in die straat loop nie.” Later word dit “Moenie ongemagtigde transaksies aangaan nie.”) Al verander die inhoud is dit belangrik dat daar ’n perk op ’n deel van jou is, ’n innerlike streep wat sê: “Moenie hierdie punt verbysteek nie.” As jy daardie streep oorsteek, word jy iemand wat nie binne die belangrike perke vir die beskerming van jou lewe bly nie. Jy kan vernietigende middels gebruik, jou belangrikste verhoudings op die een of ander manier misbruik, jou kollegas benadeel, jouself benadeel of selfs die wet oortree. Glad nie goed nie. Die vermoë om interne perke te gehoorsaam, is die sleutel tot welstand.

      Ook gee hierdie persoonlikheidstrukture jou die vermoë om ander se perke te eerbiedig. Wanneer iemand sê: “Dit is nie toelaatbaar nie” of “Ek wil nie hê jy moet dit doen nie,” luister jy en eerbiedig dit. Jy kan onderhandel of die ander persoon probeer oorreed om daardie perk te verander (soms ’n baie goeie ding), maar uiteindelik eerbiedig jy daardie persoon se “nee”. Hierdie vermoë is die wese van liefde, eerbied en verhoudings – om ander mense toe te laat om te wees wat hulle is en hulle nie te probeer definieer of beheer nie. Kollegas en spanlede waardeer dit werklik. As jy al disfunksionele spanne in ’n maatskappy teëgekom het, sou jy maklik minstens een persoon se onvermoë om ander se gedagtes of perke te eerbiedig, raakgesien het.

      Dit is net so belangrik om perke vir ander te stel – om vir hulle te sê: “Nee, ek sal dit nie doen nie” of “Nee, ek sal nie toelaat dat dit met my gebeur nie.” As jy nie ’n goeie begrip van persoonlike perke het nie, is dit onvermydelik dat jou maatskappy, jou klante, jou vriende, jou take, jou missie, die mense wat jy liefhet en die mense wat jy “nie behoort lief te hê nie” jou begin definieer. Jy sal uiteindelik nie wees wat jy is nie, maar wat hulle besluit jy gaan wees. Jy sal beheer oor jouself verloor.

      Jou vermoë om perke te stel is allerbelangrik vir goeie grense en om as persoon suksesvol te wees. Dit is deurslaggewend om die streep te kan trek en te sê: “Ek gaan tot hiertoe en nie verder nie.” Dit is ’n groot deel van hierdie boek se boodskap. As jy dink aan die scenario’s in die eerste hoofstuk, is ontbrekende perke van die een of ander aard ’n faktor in elke situasie. As elkeen ’n streep kon trek en sê: “Tot hier toe en nie verder nie,” sou elke uitslag anders gewees het. In hierdie boek gaan ons noukeurig kyk na jou perke, hoe goed hulle werk en hoe om hulle te verbeter. Maar het jy al gedink aan wat sal gebeur as jy nie perke het nie of hulle oorskry word?

      • Wanneer iemand jou verdryf, swig jy en beland jy op ’n plek waar jy nie wou wees nie.

      • Wanneer ander meer eis as waarvoor jy tyd het, stel jy nie die perk nie en beheer hulle jou tyd en lewe.

      • Wanneer ander se disfunksie of probleme vir jou probleme en meer werk veroorsaak, skop jy nie vas en weier dat hulle jou verder beïnvloed nie.

      • Wanneer daar ’n morele of etiese dilemma opduik en iemand druk op jou plaas om iets te doen waaroor jy nie gemaklik voel nie, doen jy dit nogtans en voel teleurgesteld in jouself of beland in die moeilikheid.

      Ek kan eerlik sê dat ek nog nooit iemand teëgekom het wat op lang termyn suksesvol was wat nie sterk persoonlike grense gehad het nie. Dit is deurslaggewend. Iemand het gesê mense se sukses is direk eweredig aan hul vermoë om te konfronteer. As jy nie ’n probleem kan konfronteer en dit beperk nie, sal dit jou uiteraard inhaal. Perke red jou lewe. Die probleem in ons individuele ontwikkeling is dat ons perke tot niet gaan of betwis word of glad nie gestel word nie. As volwassenes, wanneer daar baie meer op die spel is, moet ons die wolwe dan sonder enige beskerming aandurf. Dan kry ons seer en word soms vernietig.

      In die volgende hoofstuk kyk ons na hoe jou grense afgebreek word of kragteloos raak. Vrees speel ’n belangrike rol, en ons sal sien hoe. Begryp vir eers net die konsep. Jou perke help om jou te definieer en bepaal die struktuur, vorm en uitslag van jou lewe. Hulle is die rede waarom maatskappye ’n missiestelling het om die identiteit

Скачать книгу