Ena Murray Keur 13. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 13 - Ena Murray страница 16
“Ja, sy het, en hoe dit daar beland het, weet niemand nie. Maar hierdie versekering kan ek jou gee. Daardie hangertjie, my skat, is meer werd as al die skatte wat hulle tot dusver vergader het!”
“Net die blote hangertjie?” Sy kyk hom verslae aan.
“Nee, nie net die blote hangertjie nie. Daar is ’n geheim aan daardie hangertjie verbonde, en as daardie geheim opgeklaar kan word, sal die menslike oog skatte sien wat hy nooit, so oud as wat die wêreld is, tevore saam gesien het nie.” Hy druk sy sigaar dood en tree nader, sy gelaat skielik strak, onverbiddelik. “En nou, Elmarie, nou gaan jy my vertel.” Sy hande gryp haar skouers vas en die donker blik boor in hare. “Wáár is daardie hangertjie, Elmarie?”
“Ek weet nie.” Elmarie kyk strak in die donker oë terug.
“Dis ’n leuen! Ek weet dis ’n leuen. Terwyl jy met die sambok geslaan is, het jou suster jou toegeroep dat jy nie moet praat nie. Met ander woorde, jy weet waar dit is.”
Elmarie se oë vernou.
“Hoe kon jy verstaan wat Marcelle geroep het? Sy het Afrikaans gepraat.”
Hy aarsel, draai dan van haar af weg en neem stelling voor die kandelare in. Hul oë ontmoet oor die breedte van die vertrek.
“Goed, Elmarie. Jy is skerpsinniger as wat ek gedink het. Ek gooi my kaarte in. Ek verstaan Afrikaans.” Hy huiwer en slaan dan van Engels af oor na Afrikaans. “Soos jy kan hoor, praat ek ook Afrikaans.”
Elmarie trek haar asem skerp in. Sy staar hom met wydgerekte oë aan. Eindelik kry sy haar stem terug.
“Wie is jy, Hoessein?”
“Dis nie ter sprake nie. Wat van belang is, is waar daardie hangertjie is.”
“Hoekom wil jy dit nou weet as jy ’n paar uur gelede aan my gefluister het ek moet nie sê nie?”
“Omdat Farah onder geen omstandighede mag vasstel waar daardie hangertjie is nie. Verstaan jy, Elmarie? Al kos dit ook jou lewe en jou suster s’n.”
’n Frons verskyn op Elmarie se gesig.
“Ek begryp nie, Hoessein. Hoekom …?” Sy swyg en kyk hom skerp aan. “Natuurlik! Jy wil daardie hangertjie self hê! Jy wil jou Egiptiese minnares in die rug steek! Daarom dat jy so grootmoedig was om my by die slawemark te kom red. Daarom dat jy jou uiterste gedoen het om my op jou verlief te maak.”
’n Glimlag ruk aan sy mondhoeke, sy oë glinster spottend.
“Ek het daarin geslaag, nie waar nie? Jy is op my verlief, Elmarie!”
Haar mond gaan oop van verontwaardiging en haar oë blits, maar hy hou sy hand omhoog.
“Asseblief, ons sal nie nou daaroor redeneer nie. Kom, Elmarie, waar is die hangertjie?”
“Jy moet van jou verstand af wees as jy vir een oomblik dink dat ek jou dit sal vertel.” Sy stik eintlik van woede.
Sy oë kyk haar nougetrek aan. Hy bestudeer haar in stilte. “Jou suster en haar verloofde is in die mag van mense wat geen genade ken nie,” sê hy dan. “Marcelle en Deon Rabie sal nooit weer lewend uit daardie plek kom nie, Elmarie. Op hierdie oomblik ondergaan Deon die wreedste foltering denkbaar en jou suster moet dit magteloos staan en aanskou omdat sy hulle nie die verlangde inligting kan gee nie, al wil sy ook. Hul lewe is in jou hande, Elmarie.”
“Hoe kan dit wees? Die oomblik dat julle die verlangde inligting het, sal ek en Marcelle en Deon onmiddellik doodgemaak word!”
“Dis presies wat sal gebeur as jy die inligting aan Farah verstrek. Maar as jy dit vir my sê, belowe ek jou dat jou suster en haar verloofde vrygelaat sal word en veilig in Suid-Afrika terugbesorg sal word.”
“Watter waarborg het ek dat jy jou belofte sal hou?” vra sy agterdogtig.
“My woord.”
“Jy is nie reg wys nie as jy dink dat ek my lewe en dié van die ander twee sal waag en dit op jou woord. Nee, Hoessein. Vergeet maar daarvan.” Sy lag kortaf, bitter.
Hy sug. Koppigheid is skynbaar ’n familietrek by die Wiids.
“Goed dan. Ek sal eers jou suster en haar verloofde red. Wanneer hulle veilig is, sal jy my dan vertel?”
Sy aarsel nog, hoewel sy besef sy het geen ander keuse nie. Sy sal hierdie aanbod moet aanvaar. Dis die enigste hoop wat daar nog oorbly.
“Goed, Hoessein.” Sy knik gelate. “Die dag wanneer ek en Marcelle en Deon op die vliegtuig klim, op pad terug na Suid-Afrika, sal ek jou sê waar die hangertjie is.”
“Jammer, Elmarie, maar nie jy nie. Net jou suster en Deon Rabie. Jy bly hier.” Hy skud sy kop beslis.
“Wat!” Sy kyk hom verdwaas aan. “Maar hoekom dan …?”
“Ek het jou dit tog vanaand gesê.”
“Maar … maar … Luister hier, Hoessein, ek sal dan net weier om jou enigiets te vertel indien jy my nie ook wil laat gaan nie.”
“En ek het jou ’n paar uur gelede gesê ek is bereid om, as dit moet, al die skatte van die Egiptiese farao’s in te boet om jou te behou. Ek het bedoel wat ek gesê het.”
Sy staar hom woedend aan, magteloos en ook bevrees. Sal hy nog altyd volhou met die klug dat sy moet glo hy het haar lief?
“Hoessein, ek weet nie hoekom jy nog wil voorgee … wel, ek weet tog van jou en Farah …”
“Jy weet niks nie, Elmarie. Wat jy wel weet, wil jy nie erken nie.” Hy is skielik by haar, sy hande op haar skouers. Sy wil wegbeweeg, maar hy ruk haar teen hom terug. “Is jy bang vir my aanraking, Elmarie? Bang dat jou lippe jou weer sal verraai soos tevore?”
Sy kyk magteloos in die donker oë wat so intiem op haar gerig is en die wete lê in haar hart dat hy gelyk het. Sy is bang vir sy aanraking, bevrees vir die oomblik dat sy lippe oor hare sal sluit en hulle albei sal weet watter mag hy oor haar het … “Ek sal jou graag weer wil toon dat ek gelyk het, maar daar is nie nou tyd nie. My lewe is op die oomblik net so min werd as joune.” Hy lag saggies, tevrede.
“Wat bedoel jy?”
“Teen hierdie tyd sal Farah al weet dat ek die een is wat jou teen so ’n fabelagtige prys gekoop het. Ek dink sy het lankal ’n vermoede dat ek nie so ’n getroue aanhanger van haar is as wat ek wil voorgee nie …”
“Of so ’n getroue minnaar,” kan Elmarie nie help om by te voeg nie en hy lag weer.
“Hinder dit jou? Dit kom my voor of die gedagte dat daar iets tussen my en Farah is aan jou krap! Ek wonder hoekom?” laat hy skynbaar ernstig hoor, maar met ’n tergende vonkeling in sy oë. Dadelik raak sy gesig egter weer ernstig. Daar wag ’n moeilike taak op hom, ’n taak wat miskien sy lewe kan eis. En dit moet binne die eersvolgende paar uur afgehandel word, anders kan dit miskien vir altyd te laat wees.