Willem Poprok. Derick van der Walt

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Willem Poprok - Derick van der Walt страница 6

Willem Poprok - Derick van der Walt

Скачать книгу

het tog vier keer geseks!”

      Willem moet homself keer om nie oor die muur te spring en die kind te verwurg nie.

      Sy ma kom by die kombuisdeur uit. “Willem, Oupa het weer gebel. Gaan maak tog maar gou ’n draai. Hy kom nie reg met die internet nie.”

      “Maar Ma, ek het hom al ’n honderd keer gewys!”

      Wat hy eintlik wil sê, is dat hy nie wil weet wat in sy oupa se bankrekening aangaan nie. Hy wíl nie sy oupa se geldsake op die internet doen nie. Dit voel so half asof hy iets weet wat hy nie behoort te weet nie, soos wat in Franna se bruin koevert aangaan. Hy moet alles doen in hierdie huis, en dan wil hulle nog hê hy moet rugby speel en kuns neem en wat nie nog alles nie.

      Maar hy kan nie help om tog ’n bietjie trots te wees nie. Sy oupa het nog nooit vir Franna of Coenie gevra nie, en hy betaal altyd iets as Willem hom gehelp het. En hy het sy oupa se name: Willem Johannes van Vuuren. Hy het ook eintlik geld nodig om vir Lydia ’n geskenk te koop vir die tweewordstorie, troos hy homself toe hy sy fiets onder die afdak gaan haal.

      Hy ry stadig deur die stil strate en kyk na die huise. Hulle bly in ’n ou deel van Pretoria. Sy pa sê hy gaan nog eendag die slaghuis vir ’n groot wins verkoop en dan trek hulle na een van die nuwe dele in die ooste van Pretoria, waar hy ’n smart slaghuis in ’n fancy sentrum gaan begin. Daar waar die mense geld het en nie kyk wat steak kos nie. Hulle soek gehalte en gee nie om om daarvoor te betaal nie, sê sy pa. Nie soos hier waar mense van mince en boerewors leef en probeer om jou vir elke sent af te stry nie, en dan koop hulle op die ou end hoendervleis. Asof hoendervleis regte vleis is.

      Laurel en Hardy wag vir Willem op Madeliefie se stoep. Dis hoe sy pa Oupa en oom Fred noem. Willem kan nie onthou wie Laurel en wie Hardy is nie, maar sy oupa is die klein, maer een en oom Fred die grote, die ou met die groot maag waarop hy baie trots is. ’n Paar ander ou mense sit en gesels ook op die bankies voor die aftreeoord se stoep.

      Oupa beduie met sy kierie terwyl Willem sy fiets aan een van die bankies vasketting. Hy is nog ver toe hoor hy al: “Willem, ek het al weer my password vergeet!”

      Willem sug. Hy wonder partymaal of Oupa nie aspris sy wagwoord vergeet nie.

      Oupa is soos gewoonlik baie bly om hom te sien, en oom Fred vroetel deur Willem se hare. “Hoe lyk die poppies in die hoërskool vir jou?” lag hy.

      Oupa sukkel met sy kierie die lang gang af, met oom Fred agterna en Willem aan die einde van die tou. Die aftreeoord ruik snaaks, so surerig en benouderig, dink hy. Die ou mense wat hulle teëkom, groet vriendelik. Willem weet hulle ken hom al, nie seker of dit goed of sleg is nie.

      By die glashokkie aan die einde van die gang stop die tou. Oupa loer om die deur na die tannie met die pers hare wat voor die rekenaar besig is. Sy wikkel op die sleutelbord, sien Willem beïndruk.

      Oupa maak keel skoon, maar die tannie hoor nie, of maak of sy nie hoor nie. “Katrina, gaan jy nog lank wees? My kleinseun kan nie heeldag …”

      “Wag jou beurt af,” sê die tannie kortaf sonder om op te kyk.

      “Sy stuur seker ’n e-mail vir haar dogter in Amerika,” fluister oom Fred.

      “Fred,” sê Oupa vies, “ek wil nie hê jy moet by wees as ek my persoonlike goed doen nie. Gaan sit solank buite op die stoep.”

      “Aag, ou Willem, watse geheime het jy nogal vir my? Ek stel nie belang in hoeveel geld jy in die bank het nie.” Hy fluister vir Willem: “Sal jy vir ons wys waar hou hulle die stout goedjies op die internet?”

      Oupa frons kwaai. “Magtig, Fred, kry jou ry!”

      “Net so bolangs. Nie te rof nie,” fluister oom Fred.

      “Man, Fred, loop sit op die stoep!”

      Willem sug. Dié gesprek het hy al baie gehoor.

      Die tannie staan op en stap uit terwyl sy hulle ’n kyk gee.

      Willem verduidelik weer geduldig en doen vir sy oupa die oorplasing.

      “Willem, jy aard na my. Jy weet hoe om goed te doen. Jy’s ’n regte Van Vuuren,” prys Oupa toe hulle voordeur toe loop.

      “Ek dink jy’s baie slimmer as jou pa toe hy so oud soos jy was. Hy’t maar gesukkel met die somme, as ek reg onthou, of was dit nou die Engels? Ja, dit was Engels. Nee, dit was tog die somme, of was dit nou somme én Engels?”

      Too much information, dink Willem. Hy wil nie sy pa se geheime weet nie. Maar hy wonder tóg oor die somme.

      “Wag bietjie.” Oupa stop by die glasdeur en vroetel in sy broeksak. Hy haal dertig rand uit en druk dit in Willem se hempsak. “For a job well done.”

      “Dankie, Oupa. Ek gaan vir Lydia ’n present hiermee koop. Sy verjaar mos volgende week.”

      “Wil jy nou meer! Dis soos gister toe jy so groot was soos sy nou is, en kyk net hoe het jy gegroei. Waar vlieg die jare.”

      Oom Fred sit buite op een van die bankies en waai vir Willem toe hy na sy fiets stap.

      “Volgende keer moet jy my wys!” skree hy vrolik.

      Willem wonder hoe dit voel om heeldag in ’n aftreeoord te sit sonder om eintlik iets te doen. Net storietjies te vertel oor jou jong dae en te sug oor die jare wat verbyvlieg en te wonder oor stout goedjies op die internet wat jy seker nooit in jou lewe sal sien nie.

      Hy kan nie glo dat sulke ou ballies nog oor stout goedjies wonder nie. Hulle is dan al oud verby! Hy wonder of hy en Schalk nog pelle sal wees as hulle eendag so oud is. Sal hulle ook eendag saam op Madeliefie se stoep sit en hoop iemand kom vir hulle kuier? Hy hoop hy en Schalk het teen daai tyd darem al stout goedjies gesien.

      Hy konsentreer op sy onmiddellike probleem terwyl hy sentrum toe ry. ’n Geskenk vir Lydia. Dertig rand is nou nie juis ’n fortuin nie, en sy ma het gesê dit mag nie lekkergoed wees nie. Dalk moet hy vir haar ’n boek koop waaruit hy vir haar ’n storie kan lees. Soos met baie ander goed moet hulle ook saans beurte maak om vir Lydia ’n storie te lees as sy in die bed is. Die huis van beurte, so terug op die brug as kan kom, sê Franna.

      Willem vertel gewoonlik maar wat in sy kop kom as dit sy beurt is. Sommer iets wat hy op televisie gesien het, soos die program oor die Okavango wat hulle verlede week gekyk het. Die moerasse en die eilande en die diere, soos wat hy hom verbeel dit aan die begin van die aarde was, wild en woes en baie mooi soos die Here dit in Genesis kon gemaak het.

      Tot Franna het gekyk sonder om soos gewoonlik ongeduldig rond te skuif. Coenie ook, vooroor gebuig met sy mond effens oop en sy oë op skrefies agter sy bril asof hy nie mooi kan sien nie. Dis min dat hulle almal saam na iets kyk sonder dat iemand iets simpels sê. Die Okavango het vir hom na ’n awesome plek gelyk.

      Hy het Lydia die volgende aand vertel van ’n wilde leeu en ’n wilde tier wat mekaar eers wou opvreet en toe dik pelle geword het. Hy dink nie Lydia luister regtig nie. Dis maar net vir haar lekker as een van haar broers by haar op haar bed lê en haar nie heeltyd ongeduldig wegwens soos hulle dikwels doen nie.

      As dit Coenie se beurt is, lees hy gewoonlik vir haar ’n storie uit ’n boek. Repelsteeltjie en Jan in die boontjierank en sulke stories. Willem dink nie Coenie kan ’n storie

Скачать книгу