Schalkie van Wyk Keur 8. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 8 - Schalkie van Wyk страница 8

Schalkie van Wyk Keur 8 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

gebore om ’n prins te wees, dink Renate en voel hoe die woede uit haar wyk. Vincent was nog altyd haar lieflingkleinkind, want Ilze se voorkoms laat veel te wense oor en Nicolette is ’n immerkind. Sy het gesorg dat sy Vincent van Rentia vervreem, want sy het hom van jongs af openlik bevoordeel. As sy taktvol is, hoef sy nie die gevaar te loop om hom van haar te vervreem nie, besluit sy.

      “Ek wou nie vir Ouma sê nie … Ek wou nie soos ’n bloedsuier klink nie, maar ek het probleme met my sportmotor. Die enjin gee las en ek het nuwe bande nodig, daarom het ek Erik gevra om die diensmeisie –”

      “Diensmeisie!” val Renate hom skril in die rede, rooi vlekke van verontwaardiging op haar wange. “Jy noem Marné Jordaan ’n diensmeisie?”

      Hy frons verwonderd. “Is dit nie wat sy sal wees as sy Nicolette versorg nie, Ouma?”

      “Nee, stommerik! Ek kon enige meisie op die dorp gehuur het as ek bloot ’n oppasster vir Nicolette gesoek het, maar Marné Jordaan … Ek wil hê jy moet haar met die grootste agting en respek behandel.”

      “Om watter rede? Wat gaan my vriendinne van my dink as ek een van ons huishulpe op die hande dra?” vra hy misnoeg.

      “Dit raak my nie, want jy gaan met Marné Jordaan trou,” antwoord Renate met finaliteit en leun terug teen haar kussings.

      3

      Die bloed dreineer uit Vincent se gelaat terwyl hy Renate met ’n uitdrukking van verwoede ongeloof aanstaar. Hy probeer praat, maar sy woorde is ’n onverstaanbare geroggel in sy keel. Hy klap met die palm van sy hand teen sy voorkop, swaai om en loop driftig na die kamervenster toe om met nikssiende oë buitentoe te staar.

      Renate lê roerloos in haar bed. Die uitdrukking op haar gelaat is koud en onverbiddellik en haar dun, benerige vingers is styf ineengestrengel op haar skoot. Durf sy met Vincent oop kaarte speel? vra sy haar af. Nee … nee, dit sal fataal wees, want sy sal haar houvas op hom verloor. Vincent aanbid geld en haar rykdom gee haar die mag om haar familie te manipuleer. Mag oor ander, die vermoë om ander se lewens te beheer, dis al wat vir haar oorgebly het, dink sy wrang.

      Sy was ’n mooi, begeerlike vrou totdat Tinus Brandenberg gesterf het, onthou sy. Haar emosies wissel tussen bitterheid en ’n skrynende gevoel van verlange en verlies. Tinus was reeds ’n man van vyf en dertig toe sy hom op negentienjarige leeftyd ontmoet en liefgekry het. Té lief, want hy het die kern van haar bestaan geword. Selfs die geboorte van hulle enigste seun, Martin, het geen verskil aan haar gevoel vir Tinus gemaak nie. Sy was trots en dankbaar dat sy vir hom ’n erfgenaam kon gee, maar Tinus het die begin en einde van haar bestaan gebly. Toe sterf hy …

      Haar siel het saam met Tinus gesterf, want sy het alle belangstelling in die lewe verloor. Alle belangstelling in haarself ook. Selfs Martin se dood kon haar nie raak nie, maar ná sy dood het sy besef dat die Brandenberg-geslag nie mag uitsterf nie. Vincent het skielik belangrik geword vir haar. Nie omdat sy hom liewer gehad het as haar ander kleinkinders nie – ná Tinus kon sy niemand weer liefhê nie – maar Vincent moes Tinus Brandenberg se plek op Flaminke-eiland inneem. Op Vincent se skouers rus die taak om te sorg dat Flaminke-eiland nooit in die hande van vreemdelinge sal val nie.

      “Het jy gehoor wat ek gesê het, Vincent?” verbreek sy eindelik die stilte in die ruim vertrek.

      Hy draai stadig om en loop na die voetenent van die bed toe, ’n opstandige gloed in sy oë. “Daar skort niks met my gehoor nie, Ouma, maar wat skort met Ouma se verstand?” vra hy snedig.

      Renate rig haar vorstelik op in ’n sittende posisie, haar gesigsuitdrukking koud en ongenaakbaar. “Nog één so ’n aanmerking, jongman, en ek verdryf jou van die eiland af!” Haar oë smeul in syne. “Ek bederf jou, smeer jou sondes toe en betaal vir jou foute. In ruil daarvoor verwag ek respek, dankbaarheid en onvoorwaardelike gehoorsaamheid.”

      Vincent skrik. Hy is die enigste Brandenberg wat sy ouma nog altyd om sy pinkie kon draai. Hy kan haar laat lag, selfs ná ’n hewige rusie tussen haar en sy ma. Hy het hom verbeel hy het haar in sy mag, maar hy het in ’n gekkeparadys geleef. Sy ouma het nog nooit gedreig om hom weg te jaag nie, of met hom gepraat asof hy niks meer as ’n huishulp is nie.

      “Ek is jammer, Ouma, maar … maar dit was ’n skok om te hoor dat Ouma van my verwag om met ’n diensmeisie te trou,” sê hy.

      “Marné Jordaan is geen diensmeisie nie!” snou Renate. “Jy moet werklik dink ek is geestelik onstabiel as jy kan glo dat ek my enigste kleinseun met ’n sentlose diensmeisie sal laat trou.”

      “Maar waarom is sy dan Nicolette se oppasster?” vra hy verward.

      “Omdat Annie Hofmeyr haar grootgemaak het. Die Hofmeyrs was nog altyd skatryk, maar Nicolas Hofmeyr het ’n dokter geword ten spyte van die talle plase wat hy geërf het. Sy seun, Nico, was jare lank ’n bekende neuroloog in Johannesburg. Ek het my spioene, daarom weet ek hy het hom verder verryk op die aandelemark. Hy het net een dogter gehad. Marné se oorlede moeder. Hilde is ’n paar weke na Marné se geboorte dood en Annie het Marné grootgemaak. Annie self is skatryk en ongetroud en sy is Marné se voog. Wonder jy nou nog waarom ek wil hê jy moet met die meisie trou?”

      Vincent fluit sag deur sy tande. “Nee, Ouma. Die meisiemens is ’n fortuin werd!” hy frons onbegrypend. “Maar waarom het Ouma haar nie net uitgenooi vir ’n kuiertjie nie? As sy al haar tyd saam met Nicolette gaan deurbring, sal ek nooit ’n kans kry om haar beter te leer ken nie.”

      “Hoe lank sal sy hier gekuier het? ’n Week? Twee weke? Dit wil sê as sy sou instem om by wildvreemde mense te kom kuier. Gelukkig het Annie in haar briewe daarvan melding gemaak dat Marné sukkel om werk as ’n arbeidsterapeut te kry. Toe het ek aangebied om Marné in diens te neem om Nicolette te versorg.” Renate glimlag slinks. “En dan is daar nog Annie Hofmeyr. Ek twyfel of sy ’n verhouding tussen jou en haar niggietjie sal goedkeur, want jy is ’n leeglêer, Vincent.”

      “Ek het nie nodig om te werk nie – dis wat Ouma my al die jare laat verstaan het – want ek gaan Flaminke-eiland erf,” sê hy.

      “Jy gaan, maar dit beteken jy sal met ’n ryk vrou moet trou.” Renate plooi haar lippe grimmig. “Jou pa was ’n sot, want jou ma was ’n kerkmuis. Sy teer al die jare op Brandenberg-geld. Jy gaan nie dieselfde fout begaan nie.”

      “E … ja. Maar hoe lyk die Marné-meisie? Ouma kan nie van my verwag om met ’n heks te trou nie, selfs al swem sy in die geld,” maak hy halfhartig beswaar.

      “Ek weet nie hoe Marné se pa gelyk het nie, maar die Hofmeyrs is mooi mense.” Sy frons. “Wat maak dit in elk geval saak? As ’n meisie ryk genoeg is, kan jy haar liefhê ter wille van haar geld.”

      “As geld so belangrik is, waarom maak Ouma nie vrede met oom Sebastiaan nie? Die ou man is fabelagtig ryk, want hy besit –”

      “Stil, Vincent!” Renate se vel span styf oor haar wangbene, haar oë glimmende kole van haat. “Sebastiaan het my my lewe lank sonder rede gehaat. Hy is jaloers op my omdat ek vir sy broer ’n seun en erfgenaam gegee het terwyl sy vrou kinderloos gesterf het. Hy is jaloers op my drie kleinkinders – veral op jou. Hy was nog altyd die renegaat, want hy heul met arbeiders soos die De Ridders. Sebastiaan was nog nooit die trotse naam van die Brandenbergs waardig nie.”

      “Dan sal ons niks van hom erf nie?” vra Vincent afgehaal.

      “Wie sê hy het iets om na te laat? Hy woon soos ’n kerkmuis in die huis wat deur die plaasbestuurders van Flaminke-eiland bewoon is.

Скачать книгу