Rykie: 'n lewe met woorde. Lizette Rabe

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Rykie: 'n lewe met woorde - Lizette Rabe страница 10

Rykie: 'n lewe met woorde - Lizette Rabe

Скачать книгу

dieselfde brief skryf Bouwer oor die plaas se verkoop aan M.E.R.: “Nou ja, ek dink Rykie begin nou meer helderheid kry oor haarself ook, as Nell tog net lank genoeg wil wegbly! Maar, sê sy my, sy was verlede Sondag met mense op die plaas (daar is nog goedjies van haar in die huis) en sy gaan tog iets in die spens haal en in die gang moet sy behoorlik gaan staan om haarself reg te ruk toe dit haar tref dis nie meer haar huis en grond nie. Erger as haar pa se dood, want sy het dit bewerk. Maar sy weet nou dit was die beste en ons hoop die pad word vir haar verder vorentoe ook duideliker. Intussen het Nell my net aaneen vertel hoe moeilik sy dit met Rykie gehad het in die tyd van besluit en Rykie sê weer dit was vir haar makliker juis omdat Nell haar nie op die plaas kom steur het nie en Rykie meen dis die vrug van TaMiem se brief.”

      Van Reenen se stiefma was in dié tyd vir haar steeds ’n groot verantwoordelikheid, en saam met Van Reenen se komplekse persoonlike verhoudingslewe is sy aan erge stres blootgestel.102 Op 11 Mei 1966, toe Van Reenen op besoek aan die Kaap was ná haar verplasing na Johannesburg, skryf Bouwer aan M.E.R.:

      “Rykie het ’n tyd van kwaai spanning agter die rug. Was die meisie [’n Hollandse kuiergas] nie hier nie, het ek verlede Saterdag met haar Swellendam toe gekom. Sy kon nie my motor neem en kom nie, dan was dit moeilikheid,103 maar as ek nou kon, nou ja, dit kon nie en nou is sy gister weg en Nan, oortuig daarvan dat Rykie nie alleen moet wees nie, is saam. Miskien bly sy nie te lank nie. Dit word elke dag meer pateties om te sien hoe Nan se besorgdheid oor Rykie toeneem en op verkeerde manier en plekke uiting vind. En op die agtergrond is altyd Freddie [Heseltine, ook ’n nabye vriendin van Van Heerden], die skaduwee, wat nie gesien of gehoor word nie en sorg dat die kos op tafel kom, die pille langs die bed en die bliksems betyds afgelei. Die Engelse stiff upper lip het ek nog nêrens beter gesien as daar nie.”104

      Van Reenen se heeltydse terugkeer na die joernalistiek in 1957, ondanks die feit dat sy toe nog deeltyds met die boerdery voortgegaan het,105 het blye reaksie ontlok. Ook Erika Theron106 het ’n mening daaroor gehad. Op 24 Januarie 1957 skryf sy aan redakteur Piet Cillié: “Baie bly oor W.E.G. Louw se artikels, maar net so bly is ek dat Rykie van Reenen weer by Die Burger is. Sy is ’n joernalis honderd – pas haar mooi op!”107

      Van Reenen het haar as heeltydse joernalis só gevestig dat sy in 1965 een van ’n “uitverkore” groepie was wat in ’n verdeelde Suid-Afrika, ook tussen wit Afrikaner noord en suid van die Vaalrivier, ’n nuwe taak gekry het. Sy was onder die met-die-hand-uitgesoekte joernaliste wat Die Beeld, Nasionale Pers (nou Naspers) se eerste Sondagkoerant, moes vestig. Ton Vosloo, voorsitter van Naspers, stel dit so: “Die omraming is: Die Burger in die vroeë sestigs. Aan die spits Phil Weber, Piet Cillié, Schalk Pienaar, J.J.J. Scholtz, P.A. Joubert, Willem Wepener, Aat Kaptein, W.O. Kühne, om ’n paar te noem. En dan Rykie, so formidabel soos kan kom. Hou vir hou kon sy terugkap in daardie manlik oorheerste wêreld.

      “Nie verniet nie is Die Burger in daardie jare deur sy internasionale eweknieë aangewys as een van die tien topkoerante in die wêreld. [Volgens ’n ander bron is Die Burger spesifiek in 1965 deur The Times van Londen ingesluit in ’n reeks oor die groot koerante van die wêreld, in dieselfde klas as die New York Times, die Neue Zürcher Zeitung en Le Monde.108] Hierdie Burger-redaksie het joernalistiek van ’n gehalte gelewer wat miskien altyd beskou sal kan word as die hoogwatermerk. Jy het die koerant gekoop vir die rubrieke van begaafde skrywers, soos Rykie.”109

      Saam met Piet Cillié en Schalk Pienaar kan Van Reenen beskryf word as lid van ’n uitnemende troika van Afrikaanse joernaliste wat dié beroep op ’n nuwe vlak bedryf het. Van Reenen sou veral vanaf 1965 as lid van die pioniersgroep joernaliste by Die Beeld – later Rapport – ’n huishoudelike naam word. Die Beeld het in 1970 as die geamalgameerde Sondagblad Rapport voortgegaan toe Dagbreek, die destydse Perskor-Sondagblad, en Die Beeld saamgesmelt het. Die naam Die Beeld sou later herleef in Naspers se noordelike dagblad, Beeld.

      Van Reenen was in 1970 lid van die stigtingsredaksie van Rapport, en is in 1973 tot assistentredakteur bevorder.110 Sy was die eerste vroulike joernalis by enige Suid-Afrikaanse media-instansie wat tot dié vlak bevorder is. Die daaropvolgende jaar reeds was sy vir vyf weke waarnemende redakteur – nog ’n eerste vir ’n vrou op daardie vlak in die Suid-Afrikaanse media.111 Daarna het sy etlike kere as redakteur waargeneem wanneer die redakteur uitstedig was.

      Elsa Joubert skryf dat dit “destyds ongehoord” was vir ’n vroulike joernalis om tot die vlak van “senior assistentredakteur” van ’n koerant te vorder.112 Volgens ’n koerantberig met die aankondiging van Van Reenen se eredoktorsgraad was dit ’n “ope geheim dat, as sy maar wou, sy die eerste vroulike redakteur van ’n belangrike koerant in Suid-Afrika sou gewees het”.113 Haar statuur in die joernalistiek is onder meer erken deurdat sy in 1975 genooi is deur ’n leierskapsprogram om ’n uitgebreide reis na die VSA te onderneem.114

      Van Reenen, wat nie bewustelik vir vroueregte ’n kampvegter was nie, anders as byvoorbeeld M.E.R., het onbewustelik ’n belangrike bydrae gemaak tot die vestiging en aanvaarding van vroue in die nuuskantoor en die professionalisering van vroulike joernaliste. ’n Mens kan die afleiding maak dat haar kritiese ingesteldheid teenoor die samelewing ’n vroueregtebewussyn by haar gekweek het waarvolgens sy dit eintlik as vanselfsprekend beskou het dat vroue as gelykes behandel moet word. Reeds as agttienjarige, as eerstejaarstudent op Stellenbosch, onderstreep sy ’n reël in ’n boek oor “extending the rights of women” en voeg ’n uitroepteken in die kantlyn daarby.115

      In 1995 kon Caryn Voigt, as studentejoernalis, twee uur lank met Van Reenen ’n onderhoud voer vir haar diepteprojek in haar honneursjaar. Sy skryf later Van Reenen het haar “baie sterk die indruk gegee dat sy net haar werk wou doen en dit goed wou doen, en dat sy haar nie elke liewe dag die vraag afgevra het hoeveel glasplafonne sy moes deurbreek om haar dagtaak te vervul nie. Sy wou bloot ’n goeie joernalis wees. En in daai jare het dit noodwendig beteken dat sy die tradisionele professionele grondgebied van die man sou moes betree en inneem, maar my indruk van haar was dat sy nie willens en wetens daarop uit was om uitsluitlik dít te doen nie … Ek dink nie sy sou wou hê dat die feit dat sy ’n vrou is haar prestasies of nalatenskap moes definieer nie.”116

      Die egpaar Audrey Blignault en Attie de Villiers noem in ’n onderhoud in 2006 dat haar werk wel ’n “element van feminisme” gehad het, en dat sy deur haar besonderse vriendskap met die “uitgesproke feminis” dr. Petronella van Heerden, en M.E.R., wat ’n “sterk feministiese streep” gehad het, beïnvloed is.117 Vir Van Reenen was dit blykbaar egter nie nodig om uitgesproke feministies te wees nie – daarvoor was vrouesake en vrouekrag vir haar eenvoudig te vanselfsprekend. Sy self het heelwat later oor haar mede-Kaapse kind Hendrien Lambrechts geskryf dat sy ’n “besielende geloof in vrouekrag” gehad het,118 nes Emily Hobhouse, die menseregte-aktivis uit die Anglo-Boereoorlog en onderwerp van twee boeke uit Van Reenen se pen.

      Dieselfde kan van Van Reenen gesê word. ’n Mens kan dus eintlik tot die gevolgtrekking kom dat vroueregte vir Van Reenen so natuurlik was soos asemhaling: nie iets wat bewustelik gedoen word nie, maar noodsaaklik vir oorlewing. Eenvoudig normaal.119

      Van Reenen was ’n “anderste mens”, skryf uitgewer Koos Human: “As ’n mens verhuis, dan stuur goeie vriende dikwels ’n ruiker blomme of kom lewer ’n lasagne af vir die aandete. Wie anders as Rykie sal opdaag met ’n spekvet werfhoender van haar plaas?”120

      Heelparty ander was ook die ontvangers van sulke “anderste” soort tasbare gawes. Só skryf M.E.R. byvoorbeeld in 1956, op 6 Maart, toe Van Reenen se “hoofberoep” dié van boer op Waterkloof was: “Reken dat die hoender en die mandjie druiwe so by ons ingestap kom! En Van Zyl121 sê nee, dit gaan goed op Waterkloof, en dat julle nou pars: Ek het uitgevra oor alles.”122

      Hierdie avontuurlustige persoonlikheid het as bonus daardie geseënde kwaliteit gehad van iemand wat met konings kon wandel en met bedelaars kon praatjies maak, met grasie en gemak tuis in alle geselskappe. Danie van Niekerk som die persoonlikheid só op: “’n spontane

Скачать книгу