Rykie: 'n lewe met woorde. Lizette Rabe

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Rykie: 'n lewe met woorde - Lizette Rabe страница 11

Rykie: 'n lewe met woorde - Lizette Rabe

Скачать книгу

in so ’n mate dat sy ’n motorfiets gehad het in ’n tyd toe selfs gefrons is oor mans wat op twee wiele ry. Bouwer skryf dat Van Reenen “by gebrek aan vinnige vervoer van Clifton af kantoor toe, ’n motorfiets gekoop en lank daarmee rondgery het totdat dit ingegee het en sy gelukkig ander rygoed moes soek. Almal in die Kaap het Rykie-op-die-motorfiets geken.”124

      Van der Vyver verwys ook na die “buitelug”-indruk wat sy geskep het: “Wat ek verder onthou, as ek aan haar dink, is haar ongekunstelde, amper kinderlike, ‘buitelug’-voorkoms (by gebrek aan ’n beter woord), ’n soort sjarme wat Ingrid Jonker ook op baie van haar foto’s gehad het, miskien iets te doen met kort windverwaaide hare en ’n gesig wat nie bang is vir son of reën nie. En dat haar kombinasie van ’n groot hart en ’n skerp verstand almal geïmponeer het wat met haar te doen gekry het, oor die breedste moontlike politieke en kulturele spektrum. Dit het ek deur die jare, ná ek daardie onderhoud met haar gevoer het, oor en oor besef.”125

      Juis uit ’n brief in 1959 blyk Van Reenen se genot aan die natuur en die buitelewe. Sy skryf aan Danie en Anneke van Niekerk tydens hul Amerika-verblyf hoe heerlik haar “trippie op Namakwaland toe” was: “Die Volkswagen het amper kan ’n mens sê gelukkig gelol, sodat ek ses hele dae weg was. As julle weer in die land is – wanneer is jul ballingskap oor? – skiet ek julle vir ’n lente-ritjie deur die Kamiesberge. Ek dink amper dit was daar die heel mooiste. Daardie wit sporrie lê soos kapok in die bergvalleitjies en daartussen is daar dan elke keer so ’n smeer blou, en ’n smeer geel, en ’n smeer astrante oranje – so met sulke driftige hale deur die wit geverf; en dan roer die wind so effentjies en die blomme gaan so tekere soos ’n pawiljoen met intervarsity, mens kan hulle amper hoor cheer, heeltemal bandeloos baldadig. And oft when on my couch I lie, julle weet? Hulle dans nou nog voor my oë, en dis al meer as 3 weke dat ek terug is.”126

      Dié buitelugmens was ’n ywerige stapper en het volgens haar aangetroude niggie Sannie van Reenen selfs “strandlangs van Saldanha tot in Kaapstad” gestap.127 En as entoesiastiese bergklimmer het sy eenkeer selfs haar eie koerant se voorblad gehaal. Bouwer vertel: “Goeie bergklimmer was sy altyd en hartstogtelik lief vir Tafelberg. Eenkeer (dit was so by 1946, ’47, ’48 se kant) het sy en ’n vriend en vriendin gaan stap teen Tafelberg uit. Sy gaan toe alleen op een roete en sou hulle by ’n sekere punt kry. Toe hulle daar kom, daag Rykie nie op nie en omdat dit begin mistig word, moes hulle naderhand afstap. Later die Sondagnag word hulle so onrustig dat hulle die polisie bel en daar begin gans die wêreld na Rykie soek.

      “Groot konsternasie en Die Burger het haar die Maandagoggend voorbladnuus: Bekende joernalis vermis op die berg. Hier teen die middag kom Rykie in die syspan van ’n polisiemotorfiets aangery. Al wat gebeur het, was dat daar ’n digte mis opgekom het waar sy was en dat sy toe die verstandigste ding gedoen het, sy het in ’n grot gaan wag totdat dit lig genoeg word vir haar om af te kom. Toe hoor sy die polisie soek haar … [S]o het sy vroeg in haar lewe voorbladnuus by haar eie koerant geword.”128

      Haar pa het glo gevra of sy angstig was so alleen in ’n grot: “Ryk (soos hy haar genoem het), waarvoor was jy in die nag bang?”

      “Net vir ’n knopiespinnekop in die grot,” was die antwoord.129

      Dit is dié groothartige, spontane, lewenslustige, onverskrokke Van Reenen-persoonlikheid wat die joernalistieke uitnemendheid gekompleteer het, en wat saam waarskynlik bygedra het om die lore rondom die gul “Rykie”-persoonlikheid en die unieke professionele mens te skep:

      Rykie die avonturier, wat ’n nag in ’n Spaanse tronk deurgebring het omdat sy vergeet het om haar vuurwapen te verklaar;130

      Rykie die dappere, wat as jong joernalis ’n grypdief op haar motorfiets ingejaag en gevang het;131

      Rykie die rabbedoe en ontembare natuurkind met haar liefde vir bergklim en die buitelewe;

      Rykie die diereliefhebber, veral ook Rykie die hondemens, ’n ganse boek op sigself (kyk die rubrieke op bl. 334 en 339);

      Rykie die onkonvensionele, wat toe sy opdrag kry om ’n “hooggeplaaste Afrikanerleier” se begrafnisdiens in die Groote Kerk by te woon, eers by die destydse OK Basaar, so te sê langs die kerk, moes inhardloop om ’n hoed te gaan koop want sy het nie een besit nie – in ’n tyd toe vroue dit nie hoedloos in ’n kerk gewaag het nie;

      Rykie die kreatiewe – waarvan haar hele joernalistieke loopbaan getuig;

      Rykie die intellektueel – waarvan daar ontelbare voorbeelde is, onder haar dieptewerk as kerksakeverslaggewer, maar ook as rubriekskrywer;

      en, les bes,

      Rykie die geheel “anderste” – waarvan haar hele lewe getuig.

      Among all the professions, that of journalism offers perhaps the most impressive example of women’s intrepid persistence in the face of professional hostility1

      TWEE

      Voor Rykie en ná Rykie

      IN DIE ERA voor Rykie, was die joernalistieke aarde woes en leeg?

      Nee tog, hier en daar is verwysings na vroeë vroulike joernaliste. Die groot naam is Miemie Rothmann (1875-1975), beter bekend as M.E.R., wat algemeen beskou word as die eerste professionele Afrikaanse vroulike joernalis. Van Reenen is tweede, en die een wat ’n standaard gestel het waaraan joernalistiek ná haar gemeet kon word. Maar vóór M.E.R. en Van Reenen was daar ook ander wat op hul beurt wegbereiders was. In die Suid-Afrikaanse mediageskiedenis het vroue ’n rol gespeel, hoewel klein weens die kulturele en sosiale onderdrukking van hul tyd. En hoewel hierdie publikasie op een vroulike joernalis en haar “wesenlike bydrae”2 tot die Suid-Afrikaanse joernalistiek fokus, is dit tog nodig om vir konteks eers effens wyer te kyk na die rol van vroue.

      Die joernalistiek is al beskryf as die “first rough draft of history” – ’n geskiedenis wat boonop deur die eeue hoofsaaklik deur mans geskryf is. Soos Robert W. Desmond in 1978 skryf: “In the performance of its function, the press provides a service to the public and at the same time is recording what will become history … The history of the press itself is a part of the social history of mankind [sic] in his search for information and understanding. As such, it deserves to be recognized – along with its publishers, editors, and reporters … as governments, statesmen [sic], and military leaders are remembered.”3

      “Yet,” skryf Desmond, “little has been set down, except in uncoordinated bits and pieces, to make clear the importance of the pen and the reporter in man’s [sic] advance from the primitive existence.” Sy studie is bedoel om dié “omission in the social history of man [sic]” te herstel.

      Uit slegs dié enkele bron – daar’s vele meer – is dit duidelik dit gaan om ’n manlike perspektief op geskiedskrywing, ook een wat die mediageskiedenis van “mankind” reflekteer. Diegene wat “history in a hurry” skryf, skryf boonop nie dikwels hul eie geskiedenis nie, en wanneer wel, is dit meestal die “brose” uitdrukking van wit, manlike historici se beperkte perspektiewe.4

      Die mediahistoriografie het maar eers die afgelope paar dekades begin aandag kry en in Suid-Afrika is dit steeds ’n onderbestudeerde veld in die mediastudie. Die Afrikaanse media moes voorts saam met die Afrikaanse taal ontwikkel en dié wedersydse invloed is vroeg reeds erken. In 1933 het ’n navorser oor taal en media geskryf: “Ek wil nie trag om te beslis of die een die oorsaak van die ander was nie. Dis genoeg vir my doel om te sê dat die twee saam hand aan hand gegaan het.”5 Die gedagte word ondersteun deur Schalk Pienaar se mening dat ’n “stuk politieke joernalistiek”, naamlik Meurant se gedig oor Klaas Waarzegger en Jan Twijfelaar, die “eerste werklike stuk Afrikaans”

Скачать книгу